Skip to main content

Uittreksel | Hoe om ’n hart te steel

Een

Milan sit die Taylor Swift-liedjie op die radio harder toe haar foon op die passasiersitplek vir die soveel­ste keer lui. Sy sing elke woord uit volle bors saam asof die man wie se naam tans weer haar foon aan die vibreer het, dit sal kan hoor.

’n Vloekwoord glip oor haar lippe toe ’n taxi voor haar indruk.

“Hei, wag jou beurt af!” skreeu sy bo Taylor se stem, al weet sy die drywer kan haar nie hoor nie. “Niemand van ons wil op ’n Vrydag in die verkeer sit nie.”

Sy skud haar kop toe hy by sy oop venster wys hy is jammer.

“As jy maar net weet watter aaklige dag ek sover gehad het, ou,” mymer sy, maar gee hom tog ’n kans om voor haar in te kom. Sy het in elk geval nêrens waar sy dringend moet wees nie.

Milan stel die lugversorger hoër en sluit haar oë vir ’n oomblik toe sy vir die soveelste keer botstil in die tou by die verkeerslig gaan staan. Dan lui haar selfoon weer en sy is lus en gooi dit by die ruit uit sodat een van die stringe motors daaroor kan ry. Sodat sy nooit weer Tommy se gesig op ’n selfoon­skerm hoef te sien nie.

Sy gril hardop toe die beeld van Tommy en die brunet saam ongenooid in haar geestesoog opkom. Hoekom hy haar nog probeer bel ná sy hulle kaal lywe gevleg soos ’n kerkbasaar-koeksister moes aanskou, sal net hy weet. En hy het nie net een keer gebel nie – sy kyk na haar selfoon se skerm – maar drie en twintig keer.

Die eerste note van ’n romantiese liedjie begin speel en Milan druk so vinnig as wat sy kan die vorentoeknoppie tot sy by nog ’n mans-is-almal-varke-treffer kom. Sy sit dit nog harder en die kras woorde waarmee die vrou die man se ma, sy sussie en sy werk in hulle peetjie stuur, is soos salf vir haar siel.

Terwyl die verkeer weer stadig aan die beweeg kom, laat Milan haarself toe om te dink aan al die mans vir wie sy vandag hierdie liedjie sou wou sing.

Natuurlik is Tommy heel bo-aan haar lys nadat sy hom in die bed, wat sy gekoop het, met een van sy modelle betrap het. Maar daar is ook Georgio Markis, die vet Griek wat vanoggend met sy neus-in-die-lug vrou reg voor haar kom sit het en weer gekla het dat sy koffie koud is. En Louis, haar baas, wat nie eens gevra het hoekom sy Georgio se koffie in sy gesig gegooi het voor hy haar ná drie jaar in die pad gesteek het nie.

Om die waarheid te sê die hele oggend het haar net te veel herinner aan wat destyds tussen haar en haar pa skeefgeloop het. Van die Griek se hand wat onder haar hemp probeer inglip het tot Louis wat nie eers na haar kant wou luister nie. Selfs die deel waar sy alles wat sy besit in haar kar moes pak sonder enige heenkome.

Maar hierdie keer is sy nie die naïewe jong meisie wat sy destyds was nie.

Sy het die eerste keer op haar voete gekom, sy sal dit hierdie keer weer kan doen.

Milan skud haar kop en kyk na haar selfoon. Sy oorweeg vir ’n oomblik om Risa te bel en haar te vertel wat gebeur het. Haar niggie en beste vriendin sal ’n simpatieke skouer en goeie raad hê en sy is ook seker dat Risa dit nie teen haar gaan hou dat sy haar maande laas gebel het nie.

Maar sy kan nie. Nie net omdat sy nie tans lug­tyd het nie, maar ook omdat Risa sal wil hê sy moet dadelik Johannesburg toe kom en by haar kom bly, en dit kan sy nie doen nie. Sy moet die stywelip poep­hol van ’n Albert du Randt se hond die naweek versorg. Haar broer, wat aangebied het om dit te doen, is saam met hulle pa, sy nuwe vrou en haar engel van ’n seun onverwags op pad Mauritius toe vir die week.

Dit pla haar nie, herinner Milan haarself toe sy by die hekke van die sekuriteitslandgoed inry. Sy het nog nooit van Frans verwag om kant te kies nie, sy gaan ook nie nou nie.

Dit pla haar ook nie dat sy weer namens hom sy vriend se hond moet versorg nie, dink sy toe sy voor die enorme dubbelverdiepinghuis stilhou. Sy het dit al genoeg kere in die verlede gedoen.

“Fokus op die silwer randjie, Milan,” praat sy haarself moed in terwyl sy wag vir die garagedeur om oop te gaan. Sy kan twee aande in hierdie on­gelooflike huis met sy groot televisie en sterk Wi-Fi slaap sonder ’n lamsakkêrel wat haar wakker snork of erger, styf teen haar kom lê met sy anatomie wat geen twyfel laat watter planne hy het nie. Sy hoef ook nie môreoggend vroeg op te staan om naweekskof te werk nie. Sy kan langs die swembad lê en met die hond gaan stap. “Dit gaan wees soos vakansie.”

En Maandagoggend as sy moet soek vir ’n nuwe werk en nuwe blyplek sal sy uitgerus wees.


Ná twee weke in die buiteland om ’n moeilike kliënt tevrede te hou, smag Albert om by die huis te kom, sy skoene uit te skop en die stilte van sy eie huis te geniet. Hy wik en weeg nog of hy vir Eloïse moet laat weet dat hy vroeër terug is. Op hierdie stadium dink hy dat hy meer vir haar sal kan beteken as hy eers ’n nag se rus agter die blad het. Hy sal wel vir Frans moet laat weet hy hoef nie vir Luna kos te gee nie. Hy het in elk geval sleg gevoel om sy vriend te vra om weer na sy hond om te sien, maar die noodlot het voorsien dat sy betroubare bure en sy ouers op dieselfde naweek uitstedig is. Nie almal sien kans om ’n hond wat so groot soos ’n kalf is kos te gee nie.

Hy frons toe hy die vreemde motor aan die kant van sy oprit sien. Hy ken die kar glad nie, maar hy neem aan dis Frans wat vir Luna kom kos gee.

Dit is egter nie Frans se stem wat hy uit die kom­buis met Luna hoor praat nie, maar ’n hees vaagweg bekende een. Die oomblik toe hy die lang, deurme­kaar blonde krulle, die hordes armbande aan haar fyn gewrigte en die perfekte sitvlak in die baie stywe jeans sien, weet hy egter presies aan wie die stem en die motor in sy oprit behoort. Sy hart klop meteens asof hy pas die Two Oceans voltooi het, en dit is asof sy stem net nie wil saamwerk nie. Tog kry hy haar naam uit. “Milan?”

Sy spring orent van die skrik. “Albert. O genade, jy sal my hart laat gaan staan.”

Luna gee ’n opgewonde blaf en kom spring teen hom op om te groet en Albert is dankbaar dat hy fisiek sterk moet staan omdat dit hom ’n kans gee om sy balans te herwin. Dit moet van die lang vlug en die skrik wees dat sy liggaam so reageer op sy vriend se suster, want die hemel alleen weet Milan Steyn is nie die soort vrou oor wie hy oor die alge­meen opgewonde sal raak nie.

Daarvoor is haar kop en haar lewe en haar hare heeltemal te deurmekaar. Of dit is wat hy gehoor het die laaste keer toe Frans gekla het oor sy ba­basussie en haar manewales. Maar mooi was nog nooit lelik nie en Milan Steyn is nog altyd een van die mooiste vroue wat hy ken.

Mooi, maar moeilikheid.

As skans teen die onverklaarbare aantrekking wat hy steeds voel, vou Albert sy arms voor sy bors. “Mag ek vra wat jy hier maak?”

Milan wys na Luna wat nou ewe soet voor haar gaan sit het. “Ek het vir Luna kom kos gee. Frans is Mauritius toe vir die week en het my gevra om dit te doen.”

Die advokaat in Albert bespeur onmiddellik ’n halwe waarheid en hy voel aan sy bas Frans se sus­ter steek iets weg. Ná ’n reis van amper vier en twin­tig uur is hy egter nie lus om haar te ondervra nie, daarom sê hy net: “Dankie dat jy bereid was om dit te doen, my ouers en buurvrou doen dit gewoonlik, maar hulle is almal die naweek weg.” Hy voel sim­pel oor hy dit aan haar verduidelik het. “Ek is geluk­kig nou terug en sal self vir haar sorg.”

Hy wil byvoeg dat sy nou maar kan teruggaan na haar nikswerd kêrel en die hele naweek doen net wat sy wil, maar daar is ’n weerloosheid in die see­blou oë wat hom sou keer, selfs as sy goeie maniere nie kon nie.

“Wonderlik.” Die glimlag om haar vol lippe is ge­forseerd en sy huiwer vir ’n oomblik voor sy haar selfoon en sleutels optel. “Dan gaan ek maar eers.”

By die deur huiwer sy weer en Albert oorweeg dit vlugtig om haar te nooi om te bly vir ’n glas wyn, maar sy buk en groet vir Luna voor hy die woorde kan vorm. Dit gee hom genoeg tyd om te besef dat hy eintlik nie wil hê sy moet bly nie. Hy wil alleen wees. Rus. Hy wil beslis nie nou ’n glas wyn deel met die grootste maltrap wat hy al in sy lewe ontmoet het nie.

Goeie maniere maak dat hy begin om saam met haar na haar motor te stap, maar sy keer hom dade­lik. “Jy hoef regtig nie saam te stap nie. Ek sal self regkom, dankie. Jy is moeg en wil seker rus.”

Die teleurstelling wat hy voel, is verregaande en daarom gaan hy haar nie teë nie. “Totsiens, Milan, dankie vir jou moeite.”

“Totsiens, Albert.” Haar glimlag bereik steeds nie haar oë nie. Dan vryf sy weer vir Luna, wat duidelik mal is oor haar. Die manier wat haar hand sag oor die groot swart kop vryf, maak dat sy broek meteens te klein voel.

Hemel, hierdie dag was te lank.

Gelukkig draai sy weg sonder om sy reaksie op haar te sien. Hy hou haar uit die deur dop en bly net so staan tot die wit motortjie uit sig verdwyn het. Dan maak hy sy gulp oop vir effense verligting en stap kamer toe. Hy het rus nodig. As hy wakker word sal hy vir Eloïse gaan kuier, want hy het duide­lik ’n tekort aan iets ná twee weke weg.

Hoekom anders sal hy wens Milan Steyn was nou saam met hom op pad bed toe?