Uittreksel | Herberg vir die hart
Een
“Ek het mos gesê dis nie nodig dat jy saamloop nie.” Die man is selfs aantreklik as hy met so ’n gevaarlike frons na haar kyk. Nie mooi nie, maar beslis aantreklik. Mooi beteken in Marike se boekies perfek. Aantreklik beteken dat iemand jou met sy voorkoms na hom toe aantrek. Nie dat Lodewikus Jacobus Johannes Calitz bedoel om haar na hom toe aan te trek nie. Inteendeel. Hy besef seker nie eens sy’s die persoon wat die meeste van die korrespondensie in verband met sy aanstelling hanteer het nie en dus allerhande goedjies van hom weet nie. Soos dat hy met drie doopname opgesaal is, dat hy oor ’n paar maande vyf en dertig word en dat hy voorheen as arbeidsterapeut hoofsaaklik met sportbeserings en traumapasiënte gewerk het. Sy wonder of hy ’n idee het hoeveel die uitdagings hier by die kliniek van sy vorige ervaring sal verskil.
Marike kan behoorlik voel hoe sy begin gloei van verleentheid. Dis nou maar eenmaal die lot van ’n blondine met ’n ligte vel. Haar verleentheid word genadeloos deur haar gelaatskleur vir almal uitgebasuin. “Jammer, ek het net bedoel om te help.” Sulke tye wens sy sy was donker en eksoties soos Paula, pleks van die blonde buksie wat sy maar altyd sal wees. Wel, tot sy oud en grys en waarskynlik ’n pokkel is in plaas van ’n buksie.
“Lyk dit of ek hulp nodig het?” Die frons word nog ’n titseltjie dieper. Hy moet pasop, netnou slaan ’n horlosie iewers en sy gesig bly net so staan. Soos haar liewe ouma Maria altyd gesê het as sy dikmond was oor iets. Nie dat sy dikwels gewaag het om dikmond te wees nie; daarvoor was sy veels te afhanklik van Ouma se goedkeuring.
Nee wat, aantreklik se alie. Hy’s sommer net plein onbeskof. Sy behoort hom in sy peetjie te stuur, maar natuurlik doen sy dit nie; sy is eerder haar gewone, sagmoedige self en mompel verbouereerd:
“Nee, jy lyk heeltemal bekwaam om self jou weg te vind. Ek wou maar net saamstap sodat jy kan sien waar die lokaal is wat jy saam met Paula gaan gebruik. Uit pure beleefdheid teenoor ’n nuwe werknemer.”
“Ek het die lokaal met my onderhoud gesien, dankie. Ek reken ek behoort weer die pad te kry.” Hy draai summier weg van haar in die rigting van die trap.
Verskrik staar sy hom agterna terwyl sy dieper en dieper in die moeras van verleentheid wegsak. Die moeras waarin sy haar só dikwels bevind; deur haar eie toedoen, natuurlik. Dit maak egter die modder nie minder klewerig nie.
“Jammer!” roep sy agter hom aan.
Hy draai stadig om, pen haar vas met kil grys oë. “Ek dog ons verstaan mekaar. Duidelik het ek vergeet wat Dog alles oorgekom het.”
“Ek bedoel net ek het nie besef jy is ...” Nou hap sy na die regte woord, kompleet soos ’n vis op droë grond. Sy haat die gedagte van ’n vis op droë grond soveel dat sy nie eens haar mond aan enige visgereg sit nie. Die vergelyking is dus nie ’n gunstige een nie.
Hy draai om, kom terug tot waar sy beetrooi van verleentheid agter haar ontvangstoonbank staan. Hy stap met opset stadig sodat sy die hink deeglik kan sien. “Kruppel is die woord waarna jy soek.”
“Jammer, ek het nie bedoel om ...” Sy’s nou só diep in die moeras dat sy net-net nog ’n bietjie asem bymekaar kan skraap voor sy dalk die gees gee van verleentheid. As dit tog maar moontlik was om eenvoudig weg te raak uit die soort situasies waarin sy haarself klokslag laat beland. Natuurlik is dit nie moontlik nie. Sy is ’n professionele persoon in ’n werksituasie en sy kan nie poef! in die lug verdwyn nie.
“Natuurlik het jy dit nie bedoel nie. Mense bedóél dit nooit nie. Hulle staar maar net.”
Meteens verstaan sy. Helder en duidelik. “Jy wil nie onnodig gehelp wees nie. Jy wil selfstandig wees.”
Voor haar oë verander sy gesig heeltemal. Die warmte van sy glimlag is soos die son wat oor ’n bleek winterlandskap opkom. “Jy hét dit! Knap gedaan.” Hy hou waaragtig sy hand vir ’n high five, alhoewel sy glad nie seker is of hy bloot sarkasties is nie.
Sy moet maar haar hand verby die COVID-skerm oor haar toonbank steek en vlugtig met haar palm aan syne raak. ’n Doodgewone aksie, maar nogtans nie een wat hier in die kliniek alte gereeld gebruik word nie. “Ek is j...” Die jammer-woord verdamp voor die besef dat sy hand teen hare ’n ligte skokkie in haar binneste veroorsaak. Sy skrik só groot dat sy haar hand soos ’n kind agter haar rug wegsteek. Liewe aarde, wat gaan aan? Sy’s mos darem nie meer veertien nie.
“Liewe dooie hel, juffrou ... e ... Ons het nog nie ontmoet nie, het ons? Jy was nie die dag met my onderhoud hier nie.”
Kennelik het hy geen aangename skokkies ervaar nie. Hy’s net plein befoeterd. “O, jene, jammer ...”
Pleks van ontplof gaan hy aan die lag. Die kliniek is ’n verbasend vrolike plek, maar só ’n uitbundige gelag word nie te dikwels tussen hierdie mure gehoor nie; veral nie hier by Ontvangs nie. Wanneer ’n nuwe pasiënt hier aankom, is lag gewoonlik die heel laaste ding waarvoor hulle lus het. As iemand se lyf beseer is, kan party mense nog regkry om te lag, maar wanneer jou gees ly, is dit uiters moeilik om te lag. “Besef jy hoeveel keer het jy al ‘jammer’ gesê?”
Dalk het hy al uitgevind wat ouma Maria graag gepredik het: Lag en die wêreld lag saam; huil en jy huil alleen. Sy lag dus maar verleë saam, al voel sy meer na trane. “Vyf keer.”
Sy lag breek net daar af. “Jy’t telling gehou?”
“Jip.” Nou gaan hy natuurlik vra hoekom. Hy lyk vir haar al hoe meer na iemand wat nie skrik vir vrae vra nie. Sy spring hom dus voor, steek haar hand weer by die skerm verby. Niemand steur hulle in elk geval meer aan COVID nie, sy weet nie vir wat die ding nog hier moet hang nie. Sy weet ook dit sal waarskynlik vir altyd hier bly hang, want ná die pandemie is almal skielik bewus van doodgewone goed soos verkoue en griep. “Ek is Marike Marais. Die meeste korrespondensie oor jou aanstelling het van my af gekom.” Hierdie keer is dit ’n ordentlike handdruk soos dit kollegas betaam. Wragtig, die vreemde sensasie is weer daar.
“O, natuurlik! Aangename kennis, Marike.”
Sy handdruk is ferm genoeg om haar vingers net effens seer te maak. Genadiglik is hy nie een van daai ystermanne wat hul manlikheid probeer bewys deur jou hand met ’n onskuldige groet te vergruis nie.
Sy moes egter steeds per abuis ’n piepgeluid gemaak het, want hy kyk haar skielik met nuwe belangstelling aan. “Het ek jou hand seergemaak? Nou’s dit mý beurt om jammer te sê!”
“Nee wat, dis jou verbeelding.” Sy probeer haar hande blitsig wegsteek, maar sy is klaar te laat.
“Gee, laat ek gou sien?”
Nou is sy al weer aan’t bloos. “Nee, man, ek het lelike vingers.” Haar vingers wat so lelik geword het, was nog altyd haar private frustrasie; Sy glo nie enigiemand anders het dit al raakgesien nie.
“Ek dink nie jy het bloot lelike vingers nie.”
Hy hou sy hand na haar uit, tot sy maar soos ’n skoolmeisie van ouds haar hande vir hom op die toonbank moet uitsprei. Genadiglik is meisies nie in haar skooldae meer met ’n liniaal oor die kneukels geraps nie. Louis Calitz dra sekerlik nie ’n liniaal saam met hom vir balhorige pasiënte nie. Gelukkig het sy darem gisteraand haar naels ’n mooi koraalkleur geverf. Hoe leliker haar hande word, hoe belangriker is dit vir haar om hulle goed te versorg. Dit help ’n bietjie vir die knaende kommer oor wat met hulle aan die gang is.
“Jy’t artritis in jou vingers, Marike. Daai knobbels staan bekend as Heberden se nodusse.”
Sy pluk haar hande weg onder sy ligte aanraking. “Genade, ek dog jy’s die nuwe arbeidsterapeut en nou moet ek uitvind jy’s ’n dokter ook!”
Vir één keer in haar lewe blaker sy uit wat sy dink en dan nog boonop sarkasties. Onmiddellik voel sy soos ’n luis maar sy bly tjoepstil. Miskien moet vandag die dag wees waarop sy gaan ophou jammer sê. Nie dat sy weet hoe ’n mens ’n gewoonte van ’n leeftyd sommer so skielik verbreek nie.
“Jammer, jammer, dit was voorbarig van my.”
Hy lyk glad nie jammer nie. ’n Mens kan jou selfs verbeel hy lyk effens besorg. “Dis net dat ek al met bejaardes met artritis in die hande gewerk het.”
“Ek’s g’n bejaarde nie!”
Dit laat hom glimlag. “Natuurlik nie. Ek bedoel maar net dit kom meer dikwels by ouer mense voor.” As hy glimlag, raak die grys oë ligter. Of dalk verbeel sy haar net? Sy moet in die vervolg onthou om nie in dié man se oë te kyk nie. Die neusbrug liewer. Ja, die neusbrug is glo ’n goeie plek om op te fokus as jy iemand se oë wil vermy sonder om agterbaks of skuldig te lyk. “Ek moet in elk geval opskud, Paula wag seker al vir my.”
Hy draai weg, kyk dan weer om. “Is daar mense in jou familie met artritishande? Knobbels op die litte, of skewe vingers?” Gelukkig wag hy nie op ’n antwoord nie, maar draai haastig weg en hink na die trap.
Sy gaan haar beslis nie bekommer oor hoe hy daagliks die trappe op en af gaan klim nie. Nog minder gaan sy haar bekommer oor ouma Maria se skewe vingers wat sy nou skielik helder onthou. Marike gryp liewer haar foon en tik haastig met haar duime wat darem nog hulle werk heel flink kan doen: Nuwe OT op pad. Aantreklik, kruppel, oorgevoelig, inmengerig en befoeterd.
Sy’s nie een wat haar tale meng nie, maar OT vir occupational therapist is net soveel vinniger as arbeidsterapeut.
Ek is reg vir hom! blits Paula terug.
Ja. Paula is altyd reg vir wat die lewe ook al na haar kant toe gooi. Self was sy beslis nie vanoggend reg vir die vreemde effek wat Louis Calitz sommer met die intrapslag op haar gehad het nie. Sy weet egter nou wat sy in verband met hom moet doen. Sy moet ligloop vir hom, dis wat. Eerstens beteken dit dat sy onder geen omstandighede weer aan hom moet raak nie.
“Shaun? Waar val jý uit?” Ja, dis ’n verrassing om hom hier by haar werk aan te tref. En ja, hy is steeds aantreklik op sy rowwerige manier. ’n Ongeskraapte aartappel, soos haar kammie op kollege van ’n effens onafgeronde persoon gepraat het, maar een met ’n goeie hart. Sy is verlig om te registreer háár hart gaan nie op loop nie. Haar hart maak een vinnige boksprongetjie, kry dan weer sy lê in haar borskas en klop heel rustig voort.
“Jis, jis, hoe lyk dinge hier?” Die vurige Olivia kon nog nie daarin slaag om Shaun se bos rooi hare te tem nie; sy sal waarskynlik ook nie probeer nie. Hulle twee pas soos twee ertjies in ’n peul. Sy bruin oë kyk skerp soos gewoonlik. Die man op wie sy ’n volle twee jaar van haar lewe gemors het. Soos die meeste van haar ellendes was ook dit haar eie skuld. Ten minste besef sy dit deesdae, en pak sy nie meer die skuld op haar grootwordjare of op ander mense nie. Hoog tyd, ja, dit besef sy. Liewer laat as nooit, probeer sy haarself maar troos. As ’n mens by ’n liefdevolle, maar onbehoorlik streng ouma grootgeword het, is die versoeking groot om al jou swakplekkies aan haar invloed toe te skryf.
“Dinge lyk goed, dankie, Shaun.” Sy is toe nie heeltemal so onaangeraak soos sy gedink het nie, want haar gedagtes hardloop só flink agtertoe dat sy niks meer as die niksseggende ou gemeenplasie kan uitkry nie. Daar was tog goeie tye; al het sy baie gou besef hy’s nie regtig ernstig oor haar nie. Hy het haar as vanselfsprekend aanvaar, haar op sy gawe manier selfs ’n bietjie misbruik – ’n gewillige metgesel na ’n funksie as hy nie kon kies tussen sy baie ander vriendinne nie; iemand by wie hy kon gaan afpak as sy dag nie goed verloop het nie. Iemand met wie hy op die ou end die afsêwerk moes doen omdat sy bloot nie die moed daarvoor kon bymekaarskraap nie. Ten minste het sy die genot gehad om daardie aand haar glas wyn oor sy kop om te keer. Daardie prentjie het haar deur die tye daarna gedra.
Shaun begin grinnik. “Ek onthou nou daai aand toe jy my so lekker bygekom het met jou wyn. Onthou jy nog?”
“Natuurlik onthou ek.” Sy is nie eintlik lus nie, maar sy kan nie haar glimlag keer nie. Dit het ’n tydjie geneem, maar sy het darem later besef hoe snaaks dit eintlik was. “Jy moet net nie dink ek gaan om verskoning vra nie.”
“Ek is die een wat om verskoning moet vra, Marike. Ek is regtig jammer, hoor. Sommer oor alles.” Dis min dat ’n mens hom so ernstig sien. Shaun Mouton is ’n man wat ligvoets deur die lewe gaan. So ook sy geliefde, Olivia October – as ’n mens dié twee in die dorp sien, is dit altyd ’n prentjie van vrolikheid en vreugde. As daar tussen hulle gewroeg word, doen hulle dit waar niemand hulle sien nie.
“Dis oukei, Shaun. Jy’t nie regtig iets verkeerd gedoen nie.”
“Ek het dinge hopeloos te lank laat voortsloer, Marike.” Die lagliggies begin al weer in sy oë dans.
“Jy moes lank voor daai aand jou wyn oor my omgekeer het.”
“Wel, liewer laat as nooit,” kan sy maar net glimlag. “Maar wat bring jou hier uit? Is hier ’n pasiënt wat jy ken? Dis nog nie besoektyd nie, hoor.” Natuurlik onthou hulle nou albei hoe sy destyds aan hom uitgelap het dat Elsbet Minnaar, bekende netbalspeler, haarself hier kom inboek het. Sy kon haar werk oor daardie stukkie indiskresie verloor het as Elsbet ’n kwessie daarvan gemaak het. Dat Elsbet ná een onsmaaklike bekgeveg besluit het om dit nie verder te voer nie, bly een van die genades in Marike se lewe. Sy het tuisgekom hier agter haar toonbank by die kliniek; sy het ’n rol om hier te vervul, al is dit nie so prominent soos dié van die verpleegpersoneel, die sielkundiges en psigiaters of arbeidsterapeute nie. Sy is die gesig wat die stukkende mense eerste sien as hulle hier instap, en sy is die een wat hulle laaste sien wanneer hulle weer hier uitstap. Dis háár verantwoordelikheid om hulle met vriendelikheid en empatie te ontvang en te ontslaan én om tussendeur alle reëlings en administrasie seepglad te laat verloop.
As hy ook onthou, laat hy niks blyk nie. In elk geval het haar indiskresie indirek daartoe gelei dat Elsbet en sy beste vriend Brent de Lange nou verloof is, al vat hulle ’n bietjie lank om tot trou te kom. “Nope, jy’s die een wat ek wil sien, Marike.”
“O ...?”
’n Effens verkreukelde koevert kom uit sy kniebroek se agtersak te voorskyn. “Jy is genooi, Marike. Met ’n partner, natuurlik.”
“Genooi? Waarheen?” Hy sal haar tog nie na sy verlowingspartytjie toe nooi nie. Hulle het ná die aand van die glas wyn nooit weer ’n woord gewissel nie, buiten ’n vinnige groet in ’n winkel of koffieplek waar hulle mekaar soms raakgeloop het.
Hy staan en glimlag soos ’n seunskind wat ’n moeilike som reggekry het. Of soos een van sy krieketspelers wat ’n ses geslaan het. “Maak oop!”
Wie stuur nog uitnodigings op papier? Deesdae gebeur alles mos aanlyn. “Oukei, oukei, ek maak oop.”
Sy staar effens verstom na die keurige letters op helderpienk papier. Brent de Lange en Elsbet Minnaar, Shaun Mouton en Olivia October. “’n Troue? ’n Dubbele troue?” Voor sy haar kom kry, glip dit uit: “Is dit nie ’n bietjie vinnig vir jou en Olivia nie?”
Hy glimlag die glimlag wat enige vrou op die plek laat vermurwe. “Nope, nie te vinnig nie. Net reg. Ek en Livvie is nie stadige mense nie.”
Dis reg, ja. ’n Stadige man is hy beslis nie. Is sy wat Marike Marais is, ’n stadige vrou? Miskien nie soseer stadig nie, maar beslis versigtig. Oorversigtig selfs. Skrikkerig vir verandering. Dis seker een van die redes waarom sy die soort van verhouding met Shaun so lank laat aankarring het. ’n Gemaksone bly ’n gemaksone, selfs al is dit nie so danig gemaklik nie. Die frustrasies saam met Shaun was vir haar op ’n manier beter as die vrees vir die lewe sonder Shaun.
“Hoe lyk dit? Sien ons jou?”
“Hoekom nooi julle my, Shaun? Weet die ander dit ooit?” As sy vanoggend se effens vreemde gesprek met die nuwe arbeidsterapeut kon oorleef, kan sy maar hierdie een ook meer waagmoedig as gewoonlik aanpak. ’n Slag reguit vrae vra, soos Louis Calitz vanoggend gemaak het. “Ek het nie regtig ’n goeie geskiedenis met jou en jou vriende nie.”
Sy moes geweet het hy sal nie skrik vir ’n reguit vraag nie. “Ja, hulle weet en hulle wil graag die strydbyl begrawe.”
“Strydbyl? Daar was darem nooit openlike vyandigheid tussen ons waarvan ek weet nie. Behalwe die enkele uitval wat ek en Elsbet gehad het oor ek vir jou vertel het sy’s hier in die kliniek vir behandeling vir die diep depressie waarmee sy uit Australië teruggekom het.”
“Nee, daar was nie, maar daar is ’n weird ongemaklikheid wat ons almal pla. As jy een van ons in die dorp raakloop, kan jy nie vinnig genoeg wegkom nie.” Hy lyk skoon verontreg; asof dit hom regtig raak dat sy hom nie om die hals val as sy hom iewers raaksien nie. “Laas keer in die coffee shop het ek nog gemik om Olivia aan jou voor te stel, toe is jy uit by die deur.”
“Ek is j...” Sy sluk die jammer summier terug, maak sommer ’n vinnige hoesie op. Ná die Calitzman vanoggend in hul heel eerste ontmoeting haar oor haar jammers gepraat het, is sy ook intens bewus dat sy dié woordjie veels te veel gebruik. Sy is ook bewus van Louis Calitz se besondere grys oë en van die aura van weerloosheid wat om hom hang. ’n Vreemde woedende soort weerloosheid. ’n Mens kry onmiddellik die gevoel daar is meer aan hom as wat hy graag wil wys. Nog ’n rede hoekom sy so gou moontlik moet vergeet van die ligte elektriese skokkies wat sy aanraking in haar ontketen het. Sy wil tog nie regtig by ’n verwonde man met ’n vrag emosionele bagasie betrokke raak nie. Sy het net mooi rustig geraak op haar eie; tuis in haar huisie met haar twee ongewone troeteldiere en heel gemaklik met haar solovlug deur die lewe.
“Niks om oor jammer te wees nie. Kom troue toe, kom jol saam met ons.” Shaun laat sy mooiste glimlag soos ’n koel luggie op hierdie bloedige Bolandse dag oor haar spoel. “Dan weet ons almal niemand is vir iemand kwaad nie.”
Stry sal tog nie help nie. “Oukei, ek sal dink daaroor.” Sy steek die kaartjie terug in die koevert, sit dit eenkant neer en druk die knoppie om hom by die voordeur uit te laat. As sy beter opgelet het toe hy die knoppie gedruk het om in te kom, het sy nie nou hierdie ongemaklike gesprek gehad om te hanteer nie. Sy kon bloot gemaak het of sy nie hoor nie en hy sou waarskynlik die kaartjie onder die deur deurgestoot en gewaai het. Nou ja, as is helaas verbrande hout; sy het hom ingelaat en nou sit sy met ’n tameletjie. Dié tameletjie bestaan uit twee dele: Die vraag of sy troue toe moet gaan én die vraag waar sy ’n metgesel gaan kry.
Wat doen sy? Sy doen wat sy gewoonlik doen as sy in die nood is: Sy whatsapp vir Paula. Shaun nou net hier uit. My vir sy troue kom nooi. Dubbeld – Brent-hulle ook.
Paula en Louis is waarskynlik met admin besig en nie met ’n groepsaktiwiteit nie, want die antwoord is blitsig terug: OMW! Wat sê jy toe?
Dat ek sal dink.
Just do it! kom dit terug met ’n prentjie van ’n gespierde arm om krag en vasberadenheid aan te dui. Sulke eenvoudige raad, en tog só teen haar natuur. Dis baie makliker om ’n werkslêer nader te trek en daarop te fokus. Haar werk was nog altyd vir haar ’n veilige hawe, soos die kliniek vir talle afvlerkmense ’n veilige hawe is. Nou het sy egter ’n probleem – ná ’n enkele ontmoeting met die nuwe arbeidsterapeut voel dit vir haar of haar veilige wêreldjie so ’n klein bietjie gekantel het.