Skip to main content

Uittreksel | Hemel op aarde

Een

“Ek kan nie glo ek sit hier nie.” Celeste sluk, kom dan agter haar naels sny pynlik in haar handpalms in. Sy haal diep asem om te probeer ontspan. “Dalk gaan ek nie hierdie werk baie lank kan doen nie. Miskien net ’n jaar of so. Ek voel ek moet van die begin af heeltemal eerlik wees met jou.” Die stilte maak haar kriewelrig en sy verduidelik haastig verder. “Jy sien, ek het nodig om weg te kom van my familie en ’n ruk lank my eie ding te doen. Hulle maak my so effens mal.” Haai nee, dit kan sy nie sê nie. “Darem nie mál nie. Hulle is net so . . . ek weet nie. Ek is die jongste kind en hulle dink ek kan niks self regkry nie en dat ek rigting kort. Veral my suster. My ma eintlik ook. En my broer. Miskien dink my pa ook so, ek weet nie. Maar my suster is beslis die ergste. Sy is vas oortuig dat ek sonder my familie se hulp nou nog in my kamer met Barbie-poppe sou speel.” Sy byt haar lip ’n oomblik vas, kyk op en sug moedeloos. “Het jy ’n suster?”

Die vrou wat oorkant haar agter die lessenaar sit, kyk Celeste met groot oë aan. O aarde, dalk was sy nou ’n bietjie té eerlik. Miskien moet sy eerder haar mond hou en die tee drink wat langs haar op die tafeltjie staan.

Dan praat die ander vrou. “Ek het nie ’n suster nie. Ek hoor wat jy sê oor die werk wat jy miskien nie lank sal kan doen nie, maar ek is redelik desperaat. Ek werk voltyds hier van die huis af, en Beauty het eenvoudig nie tyd om vir almal kos te maak en nog by haar ander werk ook uit te kom nie. Die seuns het vandag al begin opdaag, die res kom môre, en ek het geen plan B nie. Regtig nie. My niggie Rika sê julle het gereeld in julle meenthuis mense vir ete genooi, jou kos is heerlik en jou ma is boonop ’n dieetkundige, wat beteken dat jy heelwat kennis van gesonde eetgewoontes het. Dis al wat ek wil weet.” Die vrou glimlag effens.

Sy wás te eerlik, dink Celeste en sluk. Anneke Hougaard wou nie die deel oor haar treurige familiesituasie aanhoor nie. TMI: too much info. Sy kan nie glo sy het alles sommerso voor ’n vreemdeling uitgeblaker nie!

“As jy dus vir ’n jaar of selfs net ses maande hier by ons kan bly, gee dit my darem tyd om ’n ander kostannie te soek, sou dit nodig wees,” praat Anneke weer.

Kostannie. Celeste sit liewer haar teekoppie neer voor sy dalk verstik. Allegra lag haar ’n papie as sy moet hoor haar twee-en-twintigjarige kleinsus word nou ’n kostannie genoem. “Kok” klink darem effens beter. En selfs dít het haar familie heeltemal laat uitfreak toe sy hulle Oujaarsaand vertel.

Haar suster het soos gewoonlik eerste en die meeste gepraat. “’n Kok by ’n koshuis! En oor twee, drie maande? Dan sluit jy seker by die sirkus aan en probeer die leeus toertjies leer. Eerlikwaar, Celeste, wat is volgende? Dis tyd dat jy rigting in jou lewe kry. Studeer iets ordentliks, dis nog nie te laat nie.”

“Dis so ver van die huis af!” was haar ma se reaksie.

“Wat’s fout daarmee om ’n rep te wees?” Haar broer het vir haar gefrons. “Daar gaan nie ’n week in die spreekkamer verby sonder dat ’n rep my vertel watter lekker werk dit is nie.”

Haar pa het net stil na die wynglas in sy hand gestaar.

“En kan jy ooit kosmaak, sustertjie?” Allegra het na die halfvol bakke kos op haar antieke imbuia-buffet gewys. “Watter dáárvan het jy miskien gemaak, h’m?”

“Niks.” Celeste het haarself gelukgewens omdat sy so kalm geklink het, al was sy innerlik aan die bewe. Haar broer en suster het al weer oor iets anders begin praat asof hulle nie die nuus dat sy weggaan ernstig opneem nie. Sy het haar lip vasgebyt om te keer dat sy hulle daaraan herinner dat sy, Celeste, van die begin af aangebied het om die hoofgereg vir die ete te maak. “Nee wat, ons braai sommer,” het haar ma gesê. Wat toe nie gebeur het nie omdat haar ma en Allegra weer gesels en besluit het ’n vingerete is die maklikste so op die Oujaar. En toe Celeste vra of sy ’n kaasbord kan bring om darem iets by te dra, hoor sy die spyskaart het intussen weer na koue vleis en slaaie verander. Celeste kan sommer net ’n bak roomys vir nagereg koop ingeval haar broer se kinders nie die pavlova gaan eet nie, en verkieslik Woolworths se Tin Roof, baie dankie.

“Gepraat van kos,” bring Anneke se stem haar weer terug na die hede. “Beauty het ’n pastagereg in die oond, so vanmiddag se ete is uitgesorteer, maar ek sal bly wees as ons môreoggend negeuur al met die ontbyt kan begin. En as die skool Woensdag begin, roer ons maar vroeg, want dit neem ons ’n goeie twintig minute om met die bussie tot op die dorp te ry, en my man wil nie op die nippertjie daar aankom nie. Jy sal hom later ontmoet, hy’t gou oorgestap daar na sy broer om ’n deur . . .” ’n Luide kraakgeluid laat haar stilbly.

“Anneke?”

“Praat van die duiwel.” Anneke tas vervaard oor die papiere wat voor haar op die lessenaarblad gesaai lê, lig ’n paar op en skuif ’n klompie boeke eenkant toe.

“Is jy daar?” klink die manstem weer op.

Die soektog lewer ’n tweerigtingradio op. “Swaerie? Ek hoor jou, praat maar.”

“Hendrik help my nog hier met die deur, die ding pas op een plek nie in die kosyn nie, en nou moet ons eers weer skuur. Hy sê hy gaan later kom eet.”

“Reg, Swaerie. Dankie dat jy laat weet.”

“Nog ’n ding,” kraak ene Swaerie se stem weer in die stilte. “Sal jy asseblief vir die seuns se ouers sê hulle moet die hek agter hulle toemaak wanneer hulle deurry? Anders is hulle welkom om my hond op die nasionale pad te gaan soek. Ek sien toevallig netnou van die stoep af die wit kar wat deurry en die hek net so laat ooplê.”

“Swaerie, hier is iemand by my, ek sal seker maak almal stoot die hek toe. Baai, hoor.” Anneke sit die radio neer en kug. “Waar was ons? Die kos. Alles wat jy sal nodig kry, is in die spens. Die vorige kok se kookboeke staan ook nog daar op ’n rak, miskien kan jy na haar spyskaarte kyk om ’n idee te kry wat ons gewoonlik vir die kinders voorsit.”

Celeste se wange voel warm en dit is nie net van die Januariehitte nie. Hoe moes sy weet sy moet die dekselse hek weer toemaak? Die ding het wawyd oop gestaan toe sy hier aankom. “Dankie, ek sal gaan kyk.” Sy sluk. “Jammer oor die hek, ek sal dit in die vervolg toemaak.”

Anneke glimlag effens. “Toemaar, nou weet jy. En . . . my swaer is darem nie altyd so kwaai soos wat hy pas geklink het nie. Hy het ’n hart van goud en die seuns is mal oor hom.”

“Hoeveel seuns woon hier by julle?” besluit Celeste op ’n veilige vraag.

“Veertien, sodat almal saam in die bussie kan ry, plus die bestuurder en nog een passasier. Ek ry soms saam in dorp toe, dan hoef ons nie dubbel te betaal vir brandstof nie. Genade, kan jy glo dit is nou so duur?”

“Dis erg,” stem Celeste saam. “Ek was ’n rep, dis hoe ek vir Rika leer ken het. En ’n rep ry mos permanent rond. As ek nie elke maand ’n brandstoftoelaag gekry het nie, weet ek nie.”

Anneke kantel haar kop. “Sal jy dit weer eendag wil doen?”

Celeste haal haar skouers op. “Miskien, ja. Die werk is nie sleg nie.” Die hol kol wat al vanoggend op haar maag begin vorm het, word by die minuut groter. Ag toggie, miskien het sy nou ’n baie dom ding gaan staan en aanvang. Hoekom het sy soms so ’n impulsiewe streep? Miskien is dit haar eie skuld dat haar familie haar nooit ernstig opneem nie.

Anneke kom orent. “Nou ja, kom ek gaan wys jou jou blyplek.”


Celeste sit haar tas, wat sy al meer kere as wat sy kan onthou, gebruik het wanneer sy vir werk in ’n gastehuis moes oorslaap, bo-op die bed. Hierdie woonstel lyk allermins soos ’n gastehuis. Trouens, dit is eintlik maar net ’n rondawel met ’n aangeboude badkamer. Geen kombuis nie; slegs ’n kas teen die muur met ’n ketel en koffiemaakgoed bo-op. Daar is darem so ’n halfmas yskassie ook om melk en water in koud te hou – veel meer sal nie daar kan inpas nie. In die middel van die vertrek staan ’n enkelbed met blommetjiesbeddegoed, en teen ’n ander muur is daar ’n boekrak met ’n groot ou hangkas langsaan. Iemand het ’n klein platskermtelevisie teen die muur gemonteer, en langs die bed is ’n bedkassie en ’n diep rottangstoel.

Celeste gaan spoel haar gesig in die badkamer af. Hier het iemand darem vloeibare seep neergesit en donsige wit handdoeke oor die reling gehang. Alles lyk blinkskoon en ruik na skoonmaakmiddel. Jip, sien Celeste toe sy by die stortdeur inloer, in die hoek staan die bottel Handy Andy binne-in ’n emmer, met ’n lap oor die emmer se rand gedrapeer. Van nou af sal sy seker self hier moet skoonmaak. Voor die badkamerspieël steek sy weer vas. “Nou te laat om na jou wit katoenbeddegoed en die skoonmaakdiens en die koffiemasjien te verlang,” sê sy saggies en trek sommer skewemond vir haar bleek gesig met die groot blou oë en die witblonde krulle wat glad nie meer baie netjies lyk nie.

Iemand het ’n organzasakkie gevul met laventeltakkies in die hangkas gehang. Celeste skuif dit eenkant toe en haal ’n paar hangers uit. Dit neem nie lank om die inhoud van haar tas in die kas te kry nie. Al haar mooi klere het in die Kaap agtergebly – haar werkspakkies, rokke, duur langbroeke en baadjies. Rika het gesê die paar bokse kan maar vir eers in die motorhuis bly staan tot sy wat Celeste is, dit eendag kom haal. Hier voor haar is jeans, T-hemde, twee denimkortbroeke, ’n warm top of twee, onderklere en slaapklere. Van al haar pare skoene het sy net die sandale aan haar voete, haar pantoffels en ’n paar moderne diksooltekkies saamgebring. Haar smuktassie is byna swaarder as wat haar kleretas was, en dit is ook al item wat sy deeglik volgepak het. Sy haal stortseep en sjampoe uit en skuif die tassie langs haar skoene in; later sal sy dit uitpak. Nou het sy ’n koel stort en skoon klere nodig en dan moet sy seker haar nuwe werkplek gaan bekyk.

Dit is darem effens koeler buite toe Celeste die paar tree van haar rondawel na die groot huis stap. Aan weerskante van die agterdeur staan plantbakke met laventel en allerhande soorte kruie. Beïndruk vryf sy ’n basielkruidblaar tussen haar vingers en snuif die geur behaaglik. Haar ma kook graag met vars kruie en sy het daardie voorliefde geërf, al weet haar ma dit dalk nie.

Celeste klop liggies aan die toe agterdeur en voel dan simpel. Sy werk nou hier, sy kan mos nie elke keer as sy hier moet ingaan, staan en klop nie.

Die vrou by die kombuistafel kyk op toe sy die deur oopmaak. Dit is Beauty wat vroeër vir hulle tee gebring het en toe vlugtig aan haar voorgestel is.

“Hallo.” Sy glimlag floutjies toe die vrou haar net uitdrukkingloos aankyk terwyl sy klaar kou. “Ek het net kom kyk hoe dit hier lyk.”

Beauty knik net en kyk weer af na haar bord kos.

Sy begin ’n sny brood tydsaam met konfyt smeer.

Nou nie juis ’n hartlike verwelkoming nie, dink Celeste. Wel, sy kan nie die hele aand hier staan nie. Sy gaan rondkyk, of Beauty daarvan hou of nie. Die kombuis is besonder ruim met ’n oorvloed outydse houtkaste en ’n lieflike groot gasstoof teen een muur. Op die vloer is rooibruin teëls, en die mure is bloot wit geverf. Bokant haar kop is ruwe dakbalke sigbaar en die vensterbanke is breed, met rye tamaties in verskeie stadiums van rypwording daarop uitgepak. Seker ’n tipiese plaaskombuis hierdie, dink Celeste. Enigiets met “plaas” vooraan is vir haar redelik onbekend, om die minste te sê. Die hol kol wil-wil al weer op die krop van haar maag begin vorm, maar sy trek haar skouers reguit en haal diep asem. Sy is hier om kos te maak, nie om dit te plant of te oes nie.

Sy wonder of Beauty haar met die konfytpotjie gaan gooi as sy begin kaste oopmaak om te kyk wat hier alles is. Wag, laat sy eerste in die spens gaan loer. Anneke het vroeër vlugtig daarheen beduie, maar daar was nie tyd om rond te kyk nie. Celeste se mond val oop. Hierdie spens is so groot soos Rika se meenthuis se hele kombuis. Teen een muur staan twee regop yskaste en twee lang kisvrieskaste, en die ander mure bestaan uit breë rakke waarop alles en nog wat gepak is. Meel, pakke suiker, blikkieskos, grys pampoene en swart skorsies, bottels tamatiesous en asyn, mandjies met kleiner items soos bakpoeier en koeksoda. Sy sien ook die resepteboeke waarvan Anneke gepraat het. Weer begin die hol kol pla. Sê nou alles wat sy probeer maak, eindig in ’n hengse flater? Het sy ooit mooi gedink wat dit behels om vir veertien hoërskoolseuns, plus ’n handvol volwassenes, kos te maak? Nee, sy het nie mooi gedink nie. Tipies Celeste, mos.

Agter haar kraak die spensdeur. “Jou kos is warm.” Celeste swaai om. Beauty het klaar weer in die kombuis in verdwyn.

By die kombuistafel is daar nou vir haar ’n plek gedek, ewe met ’n servet en ’n glas koeldrank. Daar is ’n bord met ’n pastagereg en tamatiewiggies. “Dankie, Beauty, dit gaan lekker wees,” sê sy ’n bietjie verbaas. 

Beauty antwoord nie, begin net haar eie eetgerei afdek.

Miskien is Beauty nie lus vir ’n nuweling onder haar voete nie, dink Celeste gelate. Of dalk is sy nie die geselstipe nie. Die macaroni-en-kaasgereg is geurig genoeg, maar sy sukkel om dit af te sluk. Van Beauty is daar nou geen spoor of teken nie en sy staan onseker met haar halfvol bord nog in haar hande. ’n Mens gooi nooit goeie kos weg nie, het haar ma hulle geleer. Sy maak kasdeure oop totdat sy plastiekbakkies sien en skep die oorskiet in een. Dit kan yskas toe gaan en later sal sy ’n plan daarmee maak. Anneke se Swaerie het mos iets van ’n hond gesê.

Terug in haar rondawel kry sy haar foon uit haar handsak. Net Rika het haar gesoek, sien sy met gemengde gevoelens. Celeste het vroeër vir haar ma laat weet sy het veilig aangekom en haar ma se standaardantwoord, ’n thumbs-up en ’n sonneblom, gekry. Niks anders nie. Hulle neem haar al weer nie ernstig op nie, besef sy vir die soveelste keer. Miskien sit hulle almal en wag dat sy oor ’n paar dae druipstert aan haar pa-hulle se voordeur klop. En vir haar broer vra of hy dalk vir haar ’n werkie in sy spreekkamer se kantoor het. Celeste ril by die gedagte en staan op om vir haar tee te maak.


“Ons gee nie vir die seuns nonsenspap nie, ons koop dit nie eens nie, want dis net wind. Ek praat nou van die soort wat die ene suiker en sjokolade is en per kilogram duurder as steak kos. Ons kook oats of mieliepap, en verder sit ons roosterbrood en eiers en kaas op die tafel. Sulke goed. Doen net wat jy wil, solank hulle ’n gesonde ontbyt inkry.” Terwyl sy praat, maak Anneke kasdeure oop en pak die items wat sy uithaal op die kombuistafel. ’n Groot blinkgeskuurde pot, borde, kleinbordjies, metaalrakkies vir roosterbrood. Uit die spens het sy reeds hawermout en ’n gesnyde bruinbrood gekry. “Daar is bacon in die vrieskas, maak maar so twee pakkies vir ons vanoggend, want ons is nie baie nie.” Sy tel op haar vingers. “Drie seuns, jy en Beauty en haar man, ek en Hendrik. Swaerie eet gewoonlik saam, maar hy moet vanoggend vroeg dorp toe. Sal jy die kleinbordjies vir ons bring?” Sonder om vir ’n antwoord te wag stap sy vinnig na die eetkamer, wat Celeste netnou vir die eerste keer gesien het. Dit is ’n groot, sonnige vertrek met ’n ellelange tafel in die middel en baie stoele rondom. Teen die muur staan nog twee tafels waarop die kos glo uitgepak word. Al die tafels het deurskynende plastiek bo-oor die tafeldoeke. Seker baie nodig waar ’n spul seuns eet, dink sy en sit die stapel kleinbordjies op die kostafel langs twee warmskinkborde neer.

“Middae net ná skool eet ons ons hoofmaaltyd. Saans eet ons iets ligs, en die seuns kry Milo of warmsjokolade as hulle wil hê. Hulle mag enige tyd van die vrugte hier in die eetkamer kom haal.” Anneke stoom terug na die kombuis en prop die broodrooster in. “Kosblikke vir pouse moet natuurlik ook gepak word. Die kinders word moeg vir brood elke dag, ons probeer dit afwissel. Die vorige kostannie het hulle soms met jaffels of muffins bederf. Sit ook ’n vruggie en iets lekkers in, loer maar wat daar in die spens is.” Sy kyk verskonend na Celeste. “Sien jy nou hoekom ons iemand hier nodig het? Dit hou net nie op nie, dis net kos van die môre tot die aand. Dit sal my nie verbaas as jy ná ’n week suutjies wegloop nie.”

Dit sal my familie ook nie verbaas nie, dink Celeste, maar sy glimlag net. “Ek kook solank die pap.” Op die rak bo die mikrogolf is groot glasbakke en sy haal een af. Aangesien hulle vanoggend net ’n paar mense is, gaan sy nie met ’n groot pappot sukkel nie. “Is die kraanwater veilig om te drink?” vra sy oor haar skouer.

Anneke knik. “Ons het ’n filter. O ja, voor ek vergeet, ons gee aanmaaksap ook by elke ete. Die bottels is in die spens en al die glase staan in die buffet in die eetkamer.”

Dit is byna agtuur, sien Celeste op die kombuishorlosie. Sy sal moet roer. Nie net sy nie, die pap ook! Gelukkig is die bak baie groot en borrel die hawermout darem nie oor die rand nie.

“Die seuns kom was ná elke ete hul borde en eetgerei hier by die wasbak. Die koffiebekers en glase pak ons in die skottelgoedwasser, en die groot skottels en dinge sal Beauty was,” praat Anneke ’n rukkie later weer. “Ons is streng oor hulle kamers ook. Soggens maak elkeen sy bed op, en alles moet darem redelik netjies gehou word. Daar is beurte vir wasgoed was, dit doen hulle ook self. ’n Seun moet weet hoe ’n wasmasjien werk. Beauty leer hulle hoe om die nat klere netjies op te hang sodat dit min kreukel, en dit wat regtig stryk nodig het, soos skoolhemde, stryk sy vir hulle. Die seuns se ouers verwelkom dit dat hulle hier so ’n bietjie moet werk.”

Celeste het nog nie die seuns se woonplek gesien nie. Sy neem aan dit is die lang gebou met die baie vensters links van die huis. Rika het al dikwels vertel van haar niggie-hulle wat ’n soort losieshuis op hul kleinhoewe begin het vir hul seun se skoolmaats wat ver woon en nie graag in ’n groot koshuis wil bly nie. Nooit het sy gedink sy sou self met ’n vreemde draai hier beland nie, o nee! Sy kyk onderlangs na Anneke. ’n Mens sou ook nie kon dink Anneke is al oud genoeg om ’n seun te hê wat klaar is met skool en al ’n jaar oorsee werk nie. Seker maar jonk getrou. Of goeie gene. Sy lyk nie na die botox-tipe nie. Maar jy weet nooit, deesdae is botox in elk geval so algemeen soos om tande te laat stop.

Skuins voor nege staan Celeste haar handewerk tevrede en bekyk. Die roosterbrood, gerasperde kaas en konfyt staan gereed op die tafel, die hawermout en spekrepies stoom op die warmskinkbord, en daar is kookwater vir koffie langs die bekers aangemaakte vrugtesap.

“Môre, môre, maar hier ruik dit mos lekker!” Anneke se man, Hendrik, kom by die eetkamer ingestap. Hy het die vorige middag vlugtig saam met Anneke by die rondawel ingeloer om kennis te maak.

“Môre, Tannie,” groet die seun wat agter Hendrik by die kostafel inval.

Tannie! Celeste hoop maar die afgryse wys nie op haar gesig toe sy teruggroet nie. Sy vlug kombuis toe, maak ’n beker kitskoffie en gaan sit by die tafel met een van die lywige resepteboeke uit die spens. Talle uitknipsels en handgeskrewe resepte is daarin geplak. Agterin is ’n paar spyskaarte. Maandagmiddag, lees Celeste, hoenderpastei met kitskors, kapokaartappels, rys en wortelslaai. Dinsdagmiddag: maalvleisbolle en sous, rys, soetpatats, ertjieslaai. Woensdag . . .

Sy skrik toe die agterdeur oopgaan.

“Môre,” groet Beauty sonder ’n glimlag en hang haar handsak aan ’n haak teen die muur.

“Môre, Beauty.” Haar oë volg die statige vrou waar sy gordyne ooptrek en vensters wyd oopmaak. “Word dit baie warm hier by julle?” probeer sy ’n geselsie aanknoop.

“H’m,” knik die ander vrou sonder om na Celeste te kyk. Sy skakel die ketel aan en ook die CD-speler wat langsaan staan.

“Hoeka toeka ja-ja!” sing ’n vrouestem so hard dat Celeste skoon wip. Beauty draai die musiek effens sagter en begin dan water in die opwasbak tap.

Dit klink soos die musiek waarna Celeste se ouma soms luister. Miskien is Beauty so oud soos haar ouma. Of nee, dan sou sy seker nie meer hier gewerk het nie. Celeste drink die laaste koffie in haar beker en kom orent.

“Beauty, hier is spek en oatspap in die mikrogolf, ek weet nie waarvan jy in die oggend hou nie. Anneke sê jou man eet ook saam.” Sy bly ’n oomblik stil. “Ek leer nog maar hoe alles hier werk.”

Beauty staak haar gewerskaf en kyk op. “Welcome kom ten o’clock. Ek vat ons kos na ons huis.”

Voor Celeste kan reageer, kom druk ’n warrelwind tussen hulle in en laat sy bord en beker in die warm water plons. “Hallo, Tannie, hallo, Tannie,” groet hy hulle onderskeidelik terwyl hy ’n sponsie gryp en begin was dat die skuim staan. “Eina, hel, dis warm.”

“Jy moet môi was, Stefan,” maan Beauty. “Skóón was.”

“Ja, tannie Beauty.”

Die seun is seker so vyftien, skat Celeste. Sy hare staan in alle windrigtings en hy is kaalvoet. Nog twee seuns kom geselsend by die kombuis in en “môre, Tannie” vir haar en Beauty. Sy sien hoe hulle haar onderlangs nuuskierig beloer.

Celeste gaan eerder spens toe as om ledig te staan en kyk hoe die seuns hul borde was. Sy lig die naaste kisvrieskas se deksel op en bekyk die inhoud. Bevrore groente en genoeg gesnyde brode om ’n honderd kosblikke mee vol te pak. In die tweede vrieskas is daar vleis en nogmaals vleis. Gelukkig het iemand alles mooi gemerk. Op die rak langs die vrieskas is drie groot, heel hoenders in ’n bak. Celeste hoop nie dis plaashoenders wat tot onlangs nog vrolik op die werf rondgeskrop het nie. Sy raak met ’n voorvinger aan die plastiek; die vleis voel koud maar nie meer hard gevries nie. Iemand het dit seker solank vir vandag se middagete laat ontdooi. Sal sy vir Beauty vra?

Sy gaan sit die bak op die kombuistafel en verlang meteens na haar ma. Hoe lekker sou dit nie nou gewees het om haar ma te bel en raad te vra oor spyskaarte en resepte nie! Vir ’n oomblik oorweeg sy dit om die hoenders en vir Beauty en die res van die mense net hier te los, in haar motor te klim en deur daardie groot hek te ry, reguit huis toe. Rika se niggie het seker nog nie in haar kamer in die meenthuis ingetrek nie, en as sy mooi met die menslikehulpbronbestuurder by die farmaseutiese maatskappy praat, kry sy dalk weer haar werk terug. Miskien is dit nog nie te laat om alles ongedaan te maak nie.

Nee, dink sy dan. Sy wat Celeste Angela Taljaardt is, het klaar moeilikheid gemaak. Sy het reeds te veel gestir. Haar broer en suster sal haar nooit van haar jongste mislukking laat vergeet nie, en Rika se niggie sal seker nie inderhaas weer ander blyplek wil soek nie. Anneke maak boonop nou staat op haar. Sy sal maar net moet slaap in hierdie deurmekaar bed wat sy vir haarself opgemaak het.


Celeste maak die oond toe en sak op ’n kombuisstoel neer. Sal twee oondpanne hoenderpastei ooit genoeg wees? Sy het nie ’n benul hoeveel die seuns eet nie. Terwyl sy ure lank hoender gekook en hoender ontbeen en hoendervelle afgesny het, het sy deur die venster gesien hoe voertuie op die werf kom en gaan. Seuns wat met groot tasse en bondels beddegoed afgelaai word en met stemme wat plek-plek nog breek, luidrugtig na hul maats roep. Anneke het gevra dat die kos asseblief halftwee gereed moet wees, en dit is nou net voor eenuur. Genoeg tyd om van daardie gemengde groente wat sy in die vrieskas gesien het gaar te maak en die koeldrank te meng, besluit Celeste en kom maar weer orent. Die mengelslaai staan gereed in die yskas. Sy is skoon moeg gewerskaf. As ’n mens nog nie jou werkplek lekker ken nie, is dit al vorentoe en agtertoe, en op die ou end maak die gesoek na alles jou moeër as die werk self. Om nie van haar warboel gedagtes te praat nie.
Sê nou die hele lot trek hul neuse vir haar kos op en Anneke-hulle vra dat sy maar liewer weer huis toe . . .?

“Beauty? Hier’s ’n present vir jou! Waar’s jy?”

Met twee pakke bevrore groente teen haar bors vasgedruk, staan Celeste versteen. Daardie stem ken sy nie.

“Beauty? Anneke?” Voetstappe klink oor die vloerteëls en deur die skrefie van die spensdeur wat oopstaan, sien sy die agterkant van ’n man wat in die gang se rigting stap. Kort bruin hare, swart T-hemp, kortbroek. Bene wat in ’n Boerboel-klereadvertensie sou kon pryk. Dalk die swaer wat sy nog nie ontmoet het nie, raai Celeste en kry ’n bottel Hall’s-aanmaaksap van ’n rak af. Sy maak haar hande op die kombuistafel leeg, kry ’n pot uit die kas en sit dit langs ’n stapel plat wit kartondose op die kombuiskas neer. Iets ruik hemels. Selfs lekkerder as haar hoenderpasteie daar in die oond, veral vir haar wat met al die rondhardloop nog nie juis vandag geëet het nie. Sy huiwer, lig dan die boonste deksel effens op. Nes sy vermoed het: pizza.

“Dis eintlik vir die seuns bedoel, maar jy kan seker ook kry as jy baie honger is.”

Celeste ruk haar hand weg. Sy het die man nie hoor terugkom nie. Of het hy haar gesien loer en met opset sag geloop? Sy trek haar asem in om iets te sê, iets soos “nee dankie” of “ek dink hier is iewers ’n misverstand oor die ete”, maar voor sy kan praat, trek die man voor haar sy oë op skrefies en steek sy wysvinger in die lug.

“Jou boetie is seker daardie nuwe graadaggie wat my netnou help aflaai het. Julle het dieselfde wit hare.” Celeste frons.

Die man frons ook, alhoewel sy stemtoon vriendelik bly. “Nie? Jammer dan. Maar kry gerus vir jou pizza, dis nog warm en daar’s niemand op aarde wat lekkerder pizzas as Luigi’s maak nie. Net om jou gerus te stel, my skoonsus-hulle gee gewoonlik gesonde kos vir die kinders, maar die kok het bedank en ons weet nie wanneer die nuwe tannie eendag hier gaan opdaag nie, en nou moet arme Beauty . . .” Hy breek sy sin stomp af toe die agterdeur oopgaan.

“A, Beauty, hier’s jy ook nou. Ek het vir jou ’n present gebring, jy hoef nie kos te maak vanmiddag nie. Pizza vir almal, vir jou en Welcome ook.”

Beauty se oë rek pieringgroot. Haar blik verskuif na Celeste.

“Verskoon my,” mompel Celeste en loop by die agterdeur uit. Toe sy die rondawel se deur agter haar toetrek, haal sy nog steeds heeltemal te vinnig asem. Dit is sowaar die eerste keer dat pizzas haar so kwaad maak, dink sy en snuif onvroulik. Maar sy is oormoeg en gespanne en nog baie vreemd hier op Hemel-op-aarde. Laas nag het sy glad nie goed geslaap nie. Vanoggend met die ontbyt en nou met die middagete het sy haar bes probeer om alles so lekker en mooi as moontlik te maak en boonop betyds te wees, en hier kom stap daardie mansmens met sy kortbroek so ewe met bokse pizzas by die kombuis in. Weet hy hoe flippen lank dit vat om drie hoenders te kook, te ontbeen, die uie te braai, die hoop aartappels te skil en te kook en fyn te druk, alles saam te meng en geur, en dan nog die kors vir die pastei ook te maak? En kan hy nie ruik daar bak reeds iets in die oond en ten minste vra wat aangaan nie? Vererg gaan spoel sy haar gesig met koue water af. Sy pluk die hangkasdeur oop en haal haar smuktassie uit. Haar vingers vee oor die bottels se bokante en vat die Coco Mademoiselle se bekende hoekige glasprop raak. Een spuitjie in haar nek en een aan haar linkerpols. Sy vryf haar twee polse teen mekaar terwyl sy diep asemhaal. So ja.

“Chillax, Celeste, hoenderpastei kan in die yskas gebêre en selfs gevries word,” sê sy vir haar spieëlbeeld. En sy beter nou teruggaan, anders verbrand al haar harde werk dalk nog daar in die oond.


“Anneke, waar’s daai broer van my? Hy het gevra ek moet kom help, en nou is hy nêrens.”

Anneke kyk vlugtig op van haar rekenaarskerm. “Hy was netnou nog hier. Waarmee moet jy hom help?”

Arno haal sy skouers op. “Nee, g’n mens weet nie. Ek sal maar later weer kom hoor.” Hy mik deur se kant toe, draai dan terug. “Middagete is gereed, hoor. Ek sal solank die seuns bymekaarkry.”

“Ag dankie, Swaerie, eet julle maar. Ek móét nou eers hierdie bedrae klaar intik voor die stelsel my weer afskop. Ek sukkel al die hele oggend om in te log en noudat dit uiteindelik reg is, wil ek nie kanse vat nie.”

“Sterkte.” Hy grinnik. “Ek sien hier hang nog familie van die seuns rond, ek sal hoor wie wil almal saam eet. Ek het een outjie se sussie glad in die kombuis gekry waar sy die kos staan en beloer.” ’n Sussie wat baie mooi gaan wees as sy oor ’n jaar of twee uit die skool is, dink hy en frons oor sy eie gedagtes. Wat de dinges, ou?

“Ag siestog, die kind is seker honger. Ja, hulle is meer as welkom om ietsie saam te eet, hoor.” Sy kyk op. “En die kwaai frons?”

Arno skud sy kop en kom in beweging. “Nee, sommer niks. Sien jou later.”

Hy is al by die sydeur uit toe hy sy skoonsuster weer hoor praat. “Wat sê jy van ’n soustannie?” gaan vra hy sommer buite by die oop venster.

Hy hoor haar lag. “Kóstannie, man, nie soustannie nie!” ’n Foon begin skril. “Ag, flippit. Toemaar, ek vertel jou later.”

“Right,” roep hy terug en kies koers na die seuns se slaapkwartiere om die spulletjie bymekaar te kry.


Terug in die kombuis sien Celeste geen teken van die kortbroekman óf sy verdekselse pizzas nie. Beauty staan by die opwasbak ’n paar vadoeke met harde klotsgeluide en uitwas. Met kalmte wat sy nog nie juis voel nie, skakel Celeste die oond af en haal die twee oondpanne hoenderpastei uit. Die kors is ’n volmaakte blink neutbruin, dis eintlik ’n jammerte dit gaan nie vars uit die oond geniet word nie. Maar nou ja. Die twee pakke groente lê nog net daar op die kombuistafel en sy gaan bêre dit weer. Die koeldrank is weg. Uit die eetkamer se rigting klink ’n gesellige gemurmel. Dit is nog nie halftwee nie, maar blykbaar kon niemand hulle verskriklike lus vir Swaerie se pizzas bedwing nie en is daar teen hierdie tyd seker net leë kartondose oor.

“Beauty, waar kan ek ’n net kry om oor die pasteie te gooi?” vra sy vir die vrou by die wasbak.

“Daai kas,” beduie Beauty met ’n hand vol seepskuim.

“Dankie.”

“Daar’s pizza vir jou in die microwave.”

“Baie dankie.” Byna het sy iets anders gesê. “Wat van jou en Welcome?”

“Welcome vat dit klaar by die huis. Ek is op lunch nou-nou.”

As Beauty net nie so langs haar neus af na haar gekyk het nie en ’n bietjie wou glimlag, sal dit ook al beter gaan, dink Celeste gelate. En aan die gewraakte pizza in die mikrogolf dink sy nie eers nie! Sy het haar hongerte skoon weg vererg. ’n Seun loer om die deur. “Tannie Beauty, ons kort vrugte in die eetkamer. Asseblief. Die oom vra.” Hy het ’n leë plastiekbak in sy hand.

As hierdie “tannie” kans gegun was om die eetkamer reg te kry voor almal soos miere op die ongenooide pizzas toegesak het, sou daar seker vrugte in die bak gewees het, dink sy. Hulle kan bly wees die tafel is darem klaar gedek. “Ek kry gou vir jou,” sê Celeste vir die seun.

“Ek wag sommer vir die bak,” bied hy aan en glimlag.

Celeste se hart word tóg ’n klein bietjie warmer. Die paar kinders wat sy tot dusver te siene gekry het, was darem vriendelik. Sy sug liggies terwyl sy ’n klompie perskes uit die yskas kry om onder die kraan af te spoel. Miskien gaan dit nie so sleg wees om hier te werk nie. Sy voel net vreemd, dis al. Gou-gou kry sy piesangs in die spens en gee die vol bak vir die seun terug.

“Dankie, Tannie!” En daarmee draf hy by die deur uit.

Sy kry vir haar ook ’n piesang en staar ingedagte na die venster terwyl sy die skil aftrek. Miskien raak sy selfs gewoond daaraan dat sy oornag ’n tannie geword het.

Later die middag, nadat sy ’n hele ruk met haar foon in haar hand op haar bed gelê en dit oorweeg het om vir haar ouers miskien ’n foto of twee van haar nuwe werkplek te stuur, besluit sy om vars lug te gaan soek. Al is dit byna vyfuur, is dit steeds vrek warm, daar is nie ’n beter woord nie, dink sy en maak die hangkas oop om ’n kortbroek uit te haal. Sy hou haar sandale aan haar voete, sluit die rondawel se deur en kies koers oor die werf. ’n Paar seuns hang buite op die grasperk rond en sy stap in die teenoorgestelde rigting. Sommer gou maak die sagte groen gras onder haar voete plek vir droër graspolle en bossies met rooierige grond tussenin. Hier is ook plek-plek geen bome nie. Die takkies krap haar enkels, en haar tone word genadeloos met stof bedek. Dankie tog sy het nie haar mooi wit diksooltekkies aangetrek nie.

Verder aan op ’n bult sien sy ’n huis en meer na regs nooi die koelte van ’n plaat groot bome. Net tot daar en terug, besluit sy, want vir aandete moet sy al weer iets gaan optower. Miskien toebroodjies. Toe die kombuis en eetkamer ná middagete opgeruim is, het sy na haar kamer gegaan en beskuit saam met ’n beker koffie geëet. Daardie pizza kan maar daar in die mikrogolf kleintjies kry.

Die waterstroom tussen die bome verras haar. Dit is nie diep nie, maar darem. Sy spoel haar stowwerige, warm voete in die koel water af en gaan sit dan versigtig op ’n groot klip. Dit is eintlik pragtig hier, dink sy. So vreedsaam. Hemel-op-aarde, het die naambord teen die pad gesê. Sy wonder hoe groot hierdie stuk grond is. As sy reg onthou, het Rika eenmaal gesê dis nie ’n plaas nie maar ’n groot kleinhoewe. Sou hier wilde diere wees? wonder Celeste meteens en kyk om haar rond. Miskien moet sy liewer terugstap, dit word in elk geval nou laat.

Sy gaan sommer direk by die agterdeur in kombuis toe, was haar hande en maak die mikrogolfoond oop. Iemand het die pizza geëet of gebêre, sien sy verlig. In die spens kry sy brood en uit die yskas haal sy die slaai wat sy vir middagete gemaak het. Gelukkig het sy nog nie slaaisous oorgegooi nie, en nou kan die blaarslaai, tamaties en komkommerskywe sommer op die toebroodjies gebruik word. Daar is kaas en ham ook, en ná ’n driekwartier kyk sy tevrede na die skinkborde keurige toebroodjies voor haar. Hierdie keer onthou sy ook om die vrugtebak vol te maak. Toe die eerste seuns begin nader kom, maak sy haar uit die voete.

“O, hier is jy!” Anneke kom by die kombuis in. “Maggies, dit bly ook so warm. Ek soek jou al heelmiddag en tussendeur moet ek so baie goed doen. Die seuns het dit en dat vir skool môre nodig, en dan werk ek ook nog.” Sy gaan sit moeg op ’n kombuisstoel en waai haar gesig met haar hand koel.

“Ek het netnou ’n entjie gaan stap,” begin Celeste skuldig verduidelik.

“Natuurlik, my mens, jy hoef nie die hele middag in die kombuis te sit nie. Tussen drie en vyf in die middae kan jy gerus leeglê, en saans ná ete ook, want die res van die tyd gaan jy hard genoeg hier werk. En soos ek gister vir jou verduidelik het, is daar af dae wat jy asseblief moet neem, dan maak ons ’n ander plan met kos. Ons braai ’n worsie of kry pizzas of so iets.” Sy kyk behoedsaam na Celeste. “En dis ook wat vanmiddag hier gebeur het. Beauty sê jy het klaar ’n hele ete gekook en toe kom Swaerie onwetend met die pizzas hier aan, ek is só jammer.”

“Dis niks,” sê Celeste en voel hoe haar wange verkleur oor die leuen.

Anneke sug. “Jy sien, as ’n man met ’n ding besig is, hoor hy nie altyd as iemand iets vir hom sê nie. Hulle kan mos nie multitask nie. En Swaerie hou vol ons het hom nie gesê ons het onverwags ’n nuwe kok gekry nie. Ek is seker ek het dit so tussen die gejaag deur darem minstens een keer vir hom genoem, maar kom ons gee hom die voordeel van die twyfel. Hy wou ook maar net help.”

“Ek het eintlik net hoenderpasteie gemaak, en dit kan ons môremiddag eet. Ek het dit in die yskas gesit.”

Anneke se gesig verhelder. “Nee, maar dis goed! Dan het jy môre minder werk.”

“Ek wou vra oor die kosblikke,” onthou Celeste.

“Oeg, die kósblikke. Die vorige vrou het dit juis so gehaat om kosblikke te pak.” Anneke staan op. “Kom ek wys jou waar bêre ons dit.”

Toe Celeste heelwat later in haar bed lê nadat sy vir veertien kosblikke toebroodjies gemaak en vrugte en aartappelskyfies ingepak en veertien bottels drinkwater in die yskas gesit het, voel sy behoorlik moeg. Dit is egter ’n lekker soort moeg. Dit was ’n goeie dag, besluit sy vakerig. Ten spyte van die hele pizzamisverstand.