Skip to main content

Uittreksel | Hawe vir haar hart

Een

Wendy draai nog ’n koffiebeker toe in borrelplastiek, en druk dit onverskillig in die boks wat op die kombuistafel staan. ’n Paar borrels bars. Sy trek ’n stoel uit, plof neer en laat sak haar elmboë op die tafel. So het die borrel waarin sy die laaste paar jaar geleef het, ook gebars.

Die maklike deel is om haar goed in bokse te pak, maar dan waarheen daarmee? Waarheen met haar lewe? Hoekom het sy dit nie raakgesien nie? Watter tekens was daar wat sy geïgnoreer het? Was sy te dom of te blind of net te gemaklik in haar verhouding met Marno?

’n Sleutel knars, die deur swaai oop en Jessica kom ingestap. “En as jy nou so sit?” Sy laat val haar handsak op die kombuistoonbank en sit haar arm vertroostend om Wendy se skouers. Gee haar ’n drukkie. “Dis Vrydag, ek’s vroeg by die huis en hier’s ’n bottel wyn in die yskas.”

Jessica haal die bottel wyn uit en draai om. Versteen toe sy behoorlik na Wendy kyk. Die vetterige hare en dieselfde vaalgroen trui as twee dae gelede. As daar nou ooit ’n kleur was om moedeloos en verslae uit te druk, is dit hierdie skakering van groen. “Wanneer was jy laas uit die huis uit?”

“Ek kan nie onthou nie.” Wendy bly stil. “Seker eergister toe ek die borrelplastiek en bokse gaan koop het.” Dis deesdae moeilik om die dae en nagte te onderskei.

“En voor dit?”

Wendy se skouers sak. “Ek weet nie, ek het ’n paar dae gebruik om al die troureëlings te kanselleer.”

“Dit was twee weke gelede! Dis tyd dat jy ’n slag uitkom.” Jessica sit die wyn terug in die yskas. “Jy het ’n halfuur om reg te maak. Ons gaan stap by Seepunt, drink ’n glas wyn by Sotano en eet sommer iets daar.”

“Nie in hierdie reën nie.”

“Dit het gister al ophou reën, en vandag is een van daardie raar vonkelwyndae wat die Kaap ons in die winter gun.”


Die briesie wat van die see af waai, ruik na seewier en sout en is vreemd verfrissend. Ja, sy het te veel in die huis gesit die laaste paar dae. Of was dit weke? Marno se aankondiging was ’n geweldige skok. Hy is jammer, daar is iemand anders. ’n Ander man. Hy sal haar vergoed vir kontrakbreuk en die koste wat sy aangegaan het vir die troue. Sy moet net hierdie ooreenkoms van geheimhouding teken.

Piep-piep het haar selfoon die reusebedrag geld wat ’n dag later in haar bankrekening oorbetaal is, aangekondig. Net so. Die einde. Geld was nooit vir Marno ’n probleem nie. Hy kom uit ’n welgestelde familie en in sy derde jaar het hy ’n fortuin by sy oom geërf.

“Ons moet seker omdraai,” onderbreek Jessica haar gedagtes.

Wendy stop. Die son skuif agter die horison in. “Ja, seker.”

Hulle draai terug en stap in die rigting van Groenpunt se vuurtoring. Die wind het opgesteek en jaag wit perde op die branders rond. Onstuimig, soos haar gemoed. Motors ry in die straat en al die mense is op pad iewers heen. Almal weet waarheen hulle gaan. Dis net sy wat so totaal sonder doel of rigting is. Oor ’n paar dae het sy nie meer ’n vaste werk, ’n blyplek óf ’n toekomsplan nie.

Ná Marno se skokkende nuus was die eerste ding wat sy gedoen het, om haar bedanking in te dien. Sy kan nie in dieselfde hospitaal aanhou werk waar Marnus sy internskap as ortopediese chirurg doen nie. Sy sien nie kans om van sy pasiënte te behandel of hom raak te loop nie. Hulle het mekaar in haar eerste jaar op universiteit ontmoet. Hy, die blonde rugbyspeler, groot en sterk, en glad nie geïntimideer deur haar lengte nie.

Sy, die eerstejaar van die platteland. Die een wat graag gehelp het. Wat gewoond was om die minste te wees en om te gee. Vroeg in hul tweede jaar het hulle vas begin uitgaan. Drie jaar gelede verloof geraak, en nou, minder as ’n maand voor die troue, erken hy daar is iemand anders. Die skok. Die vernedering. Die ontnugtering. Sy is nie meer goed genoeg vir hom nie – veral nie as vrou nie. Wegkom. Dit raak ’n al hoe dringender begeerte. Veral uit die Kaap waar hulle ’n bekende paartjie was. En as dit kon, heeltemal uit die land uit, of sommer van die aardbol af. Maar dis nie so maklik nie.

By Sotano verwelkom die kelner hulle soos ou bekendes. Glimlag en stap na die tafeltjie op die sypaadjie waar hulle graag sit.

Wendy se blik dwaal oor die see waar ’n hele paar skepe lê en wag vir die sleepboot om hulle die hawe binne te sleep. Wat sou sý nie wou gee om te weet waar die hawe is waar sy weer haar anker kan laat sak nie. “Ek wens ek was nou op daardie passasierskip,” spreek sy die volgende gedagte wat in haar kop kom, hardop uit.

Jessica is ’n rukkie stil. “Hoekom gaan jy nie op ’n lekker lang seereis nie?”

“Dis nie wat ek bedoel het nie.”

“Nou wat dan?”

“Ek wil wegkom van alles en almal af. Weer voel of ek weet waarheen ek op pad is, geanker voel. Ek dobber nou rond.”

Jessica rek oor die tafel. Gee haar hand ’n drukkie. “Ek is so spyt ons het die huis se huur opgegee. Maar met die ander twee wat nog nie weet waar hulle hul gemeenskapsjaar gaan doen nie, en niemand wat op die advertensie reageer het nie, kon dit nie anders nie.”

Wendy glimlag. “Ek weet jy het tot op die laaste uitgehou voordat jy kennis gegee het, Jessica, maar die meeste mense van ons ouderdom bly nie meer in ’n kommune nie. Hulle begin nes skrop.”

“Ja, soos jy en Marno van plan was om te doen.” Jessica doop haar vinger in die wyn, vryf om die glas se rand. “Is jy heeltemal seker jy wil nie maar in ons praktyk aanbly nie? Ek sal die skofte so uitwerk dat jy die minimum met Marno te doen het.”

“Nee. Nie nou nie.” Sy sien nie kans om nou in bekendes raak te loop en die lastige vrae te probeer ontduik nie. Ook vir die simpatie, al is dit hoe opreg bedoel, sien sy nie nou kans nie.

’n Stilte daal tussen die twee vriendinne. Hulle drink slukkies wyn, kyk na die mense om hulle. Hierdie aande gaan sy mis indien sy besluit om op Roodezand waar sy grootgeword het en haar ouers nog bly te gaan vestig. So kom alle goeie dinge tog maar tot ’n einde. Sommige daarvan net baie onverwags.

“Ek dink daar’s nog van die vragskepe wat ses weke neem om tot in Europa te vaar. Hulle het gewoonlik ’n paar plekke vir passasiers. Dit behoort jou tyd te gee om ander werk en blyplek te kry,” onderbreek Jessica haar gedagtes. “En dis nie asof jy te min geld het nie.”

“Nee, daarvoor sien ek nie kans nie. As ek heeldag ledig moet rondsit, sal ek mal word. Boonop is ek nie nou lus vir ’n spul oumense se geselskap of gesinne met jillende kinders nie.”

Die kelner gooi die laaste bietjie wyn in hulle glase.

“Hoekom doen jy nie aansoek om op een van die skepe te werk nie?”

“Hulle neem seker nie fisioterapeute in diens nie?”

“Nee, maar jy het die kursus in skoonheid en massering ook gedoen. Op al die skepe is daar spa’s en skoonheidsalonne, én dit gee jou kans om die wêreld te sien, ’n bietjie weg te kom. Ander mense te ontmoet. Wat meer kan jy vra?”

Wendy sit en kyk hoe die druppels teen die glas se kante kondenseer. “Ek is nie lus om ander mense te ontmoet nie.”

“Jy sal iewers moet begin, want behalwe vir my en nog een of twee vriendinne, was jy en Marno al die jare in dieselfde vriendekring.”

“Ja. En almal lag seker lekker vir my.”

“Nee, hulle is eerder vies vir Marno. Julle twee was goeie vriende, maar ek het altyd oor hom gewonder.”