Uittreksel | Hartklop in kakie
Een
Megan stuur haar luukse motor tussen die snelwegverkeer deur na die regterbaan en versnel. Sy het nie tyd om rond te speel nie en moet binne enkele ure by haar bestemming wees. Haar handlose foonsisteem is opgestel en sy maak ’n aantal oproepe terwyl sy bestuur.
Die verkeer is erger as wat sy verwag het en sy verminder spoed. Die padaanwysings dui aan dat sy moet draai en dit is presies wat sy doen.
Sy gee vinnige instruksies telefonies deur aan haar persoonlike assistent.
“Jo, kanselleer my vergadering van Donderdag. Volg op aangaande die produksiespan se beskikbaarheid vir ’n opvolgvergadering. Herskeduleer die aanlyn vergadering, die tydgleuf is in die nag in Amerika.”
Haar assistent se stem kom flou deur die luidsprekers. “Oukei. Uhm . . . oukei. Jammer.”
Megan wil weer voet in die hoek sit toe daar opeens ’n opeenhoping van motors voor haar is. Sy verminder dadelik spoed en kom oomblikke later geheel en al tot stilstand. Hoekom sal daar hierdie tyd van die dag in hierdie area soveel verkeer wees?
Gefrustreerd tik sy met haar goed versorgde, lang naels op die skerm om na die navigasietoestel te kyk. Dit dui aan dat daar ’n oponthoud van ongeveer ’n uur en ’n half is weens die laagwaterbrug wat oorspoel het. Dit kan tog nie wees nie! Daar moet ’n ander roete wees. Sy kyk op haar GPS, maar dit blyk daar is geen alternatiewe roete beskikbaar nie.
Megan kyk om haar rond. ’n Bakkie wat op die sypaadjie opgetrek het, trek haar aandag. Lyk soos ’n boer wat die area goed sal ken. Sy gaan hom vra.
“Jo, ek bel jou later terug. Hier is een of ander oponthoud. Ek wil gou by een van die locals uitvind wat aangaan.”
Sy wag nie vir ’n antwoord nie. Druk die foon dood, lig dit van die staander af en klim flink uit haar motor. Megan trek haar noupassende romp reg en stap met klinkende hakke oor die hobbelrige pad en stop langs die bakkie se venster.
Die man aan die binnekant se gesig is weggedraai van haar af. Sy ruit is effens oop, maar sy wil nie net skielik praat nie. Sy huiwer ’n oomblik, maar besluit dat haar omstandighede ’n klop sal regverdig.
Sy klop sag aan die ruit. Die man wip soos hy skrik, hy ruk in haar rigting.
“Bliksem, vroumens! Amper gee jy my ’n hartaanval.”
Megan frons skerp. Sy kan sommer sien sy gaan spyt wees oor haar besluit. Hy druk sy deur oop en sy tree vinnig agteruit. Die man is boonop onbeskof. Dit lyk asof hy in sarsies uitklim en sy keer haarself om te staar.
’n Baie lang, aantreklike man klim voor haar oë uit. Sy hare is ’n dowwe blond en sy oë lig. Die bruin gebrande vel getuig van ure in die son. Sy kyk hom vinnig op en af. Dan snak sy na haar asem. Hy het die kortste, kleinste kakiebroekie aan wat sy in ’n lang tyd gesien het. Sy hoef nie eens na te lees om te weet dis ’n Boerboel-broek nie. Haar oë val amper uit haar kop soos die spiere op sy bobene haar aandag trek.
Die broek laat min aan die verbeelding oor en dit maak dit nog moeiliker vir haar om weg te kyk.
Sy skeur uiteindelik haar oë weg van die man se kortbroek en tree effens terug. Ongelukkig veroorsaak dit dat sy haar balans verloor. Sy struikel en trap in ’n hoop blare en gemors. Megan ril sommer aan die gedagte van wat daarbinne kan wees. Sy balanseer op haar een been en trek ’n blaar van haar dun spykerhak af.
Sy trek haar klere reg en kyk op. Geamuseerd staan die man na haar en kyk. Sy vervies haar sommer en trek haarself regop.
“Jy kom seker nie van hier af nie . . .”
Sy klap haar tong en praat vir die eerste keer in ’n lang tyd Afrikaans. “Wat laat jou so sê?”
“Ek ken niemand wat dit met daardie skoene op hierdie paaie sal waag nie.” Haar mond hang letterlik oop. Hoe weet die man watter maak skoene sy aanhet? Of is dit bloot ’n snedige opmerking oor haar hoëhakskoene? “Jy klink ook soos ’n Pommie.”
“’n Pommie is Brits.” Sy wuif hom af. “Anyway, ek wil weet of jy ’n ander pad ken. Ek moet dringend hier uitkom.”
Sy hou haar foon uit na hom toe. Hy staan effens terug en vernou sy oë.
“Mmm . . . Daar is ’n alternatiewe roete, maar jy sal dit nooit maak nie.”
Die verskriklike mooi man beduie met sy hand na ’n grondpad wat tussen die mielielande deur loop. Megan kyk in daardie rigting en terug na hom.
Sy vou haar arms voor haar bors. “Hoekom miskien nie?”
Hy grinnik. “Daar is modderpoele dieper as wat jou kar hoog is. Sedert die Vaalrivier afgekom het, is die meeste van die paaie verspoel.”
Sy sug gelate. Wat gaan sy doen? Megan trap op een plek rond. Hierdie is ’n baie belangrike ontmoeting, sy kan nie nié opdaag nie. Sy verpes dit ook om laat te wees. Dis onprofessioneel.
Dit lyk asof die man haar verknorsing verstaan, want hy glimlag bemoedigend voordat hy verder praat.
“Ek kan jou gaan aflaai as jy wil.”
Megan se kop ruk om twee redes. Eerstens vir die ongelooflike mooi man, veral wanneer hy glimlag, en tweedens vir die idee om in vandag se tyd saam met ’n vreemdeling in ’n motor te klim. Sy weet nie wat om te antwoord nie.
“Wat van my kar?”
Sy loer na haar voertuig. Hoekom sy meer besorg is oor haar besittings as haarself, weet sy nie. Sy voel nie onveilig naby die man nie.
“Ons parkeer dit daar oorkant by die motorhawe. Dit is een van my vriende se plek en hy sal seker maak dit is veilig totdat jy terugkom.”
Sy loer agterdogtig na die plek ’n ent van daar af. Dit lyk redelik veilig. Sy het immers ook ’n opspoorapparaat in haar motor geïnstalleer en versekering uitgeneem. Nou nog net die probleem met haar eie veiligheid.
Hy leun gemaklik teen sy bakkie en wag vir haar om te besluit. Duidelik dink hy sy het ekstra motivering nodig, want hy tree nader.
“Ek wag in elk geval vir iemand anders wat ek ook moet gaan aflaai, so dit is geen moeite nie. As jy skrikkerig is, sit jou live location aan en stuur dit vir iemand wat jy vertrou. Dan weet hulle immers waar is jy.”
Megan kyk na haar foon en huiwer met haar vinger bo die skerm. Daar is nie iemand vir wie sy haar ligging kan stuur nie.
Die alarm op haar foon herinner haar opeens aan die geskeduleerde afspraak. Sy lyk desperaat, maar trek haar skouers vasbeslote agteroor.
“Nee, dankie. Ek sal regkom.”
Hy lig sy skouers en vou sy arms voor sy bors. Die armspiere bult op al die regte plekke.
Megan draai op haar hak om en stap weg met doelgerigte treë. Sy klim in haar motor, skakel dit aan, en draai haar motor van die pad af en ry tussen die mielielande in.
Megan klou so aan die stuurwiel dat haar kneukels wit word. Dit voel asof die motor oor die pad swaai. Sy besef baie gou sy het ’n groot fout gemaak. Sy ry skaars vyfhonderd meter voordat haar motor vasval in die modder. Gefrustreerd slaan sy die stuurwiel en ruk haar foon uit, maar natuurlik is hier geen sein nie.
’n Voertuig se dreuning trek haar aandag en sy kyk in die truspieëltjie. Dieselfde bakkie van vroeër ry agter haar verby en stop aan haar regterkant.
Megan rol haar oë en sug hard. Sy voel verneder en geïrriteerd. Dieselfde man draai sy linkerkantse ruit af, leun oor en glimlag breed.
“Ek neem aan ek kan jou nou gaan aflaai.”
Hy grinnik, leun oor en druk die deur vir haar oop. Megan neem haar persoonlike items, druk haar deur oop, gee dit aan vir hom aan, en kyk dan na die reusagtige modderpoel waarin haar motor staan. Sy swaai haar bene na die kant toe, kyk na haar skoene, en weer na die pad. Hierdie gaan interessant wees.
Sy gryp die motor se bokant, lig haar regop en staan eers op die kant van haar motor. Versigtig tree sy oor en staan basies met een been in haar eie motor en die ander een in die bakkie. Megan haal diep asem, gooi haar gewig oor en verloor haar balans. Sy trap een skoen heeltemal weg in die modder.
“Ah, great! Net blerrie great!”
Sy slaan haar motordeur toe en val onvroulik met haar boude in die bakkie in. Sy het geen ander keuse as om haar skoen uit te trek nie. Sy skud die modder van haar voet af, en swaai haar bene in sy bakkie in. ’n Glimlag pluk aan die man se mondhoeke.
Megan loer vinnig na hom en dan na haar motor. “Wat nou van my kar?”
“My vriend sal dit nou kom uitsleep en daar by hom hou. Miskien sommer was ook.”
Dan bars hy uit van die lag. Ongemaklik kyk Megan na hom, dan lag sy ook maar saam. Sy draai na hom en steek haar hand uit. “Megan Darwin, by the way.”
Hy glimlag en steek sy hand na haar toe uit. Sy sit haar kleiner hand in syne en keer haarself om te ruk onder sy aanraking. “Eckhardt Kellerman, aangename kennis.”
Sy trek die deur agter haar toe. Behendig trek hy weg en stuur die bakkie gemaklik oor die nat, glibberige pad. Megan haal ’n wet wipe uit haar handsak en begin haar skoen skoonvee. Ná ’n paar minute loer hy na haar.
“Afstammeling van Charles Darwin?”
Sy kyk geskok na hom. Hoeveel mense weet ooit wie is Charles Darwin? Sy skud haar kop. “Nie waarvan ek weet nie.”
Hy grinnik. “Ek wou sê, dan was evolusie baie gunstiger aan sy kant as wat hy verwag het dit sou wees.”
Megan frons. Is dit ’n kompliment? Sy is so deurmekaar soos ’n geklitste eier en swyg eerder as om haar naam plank te maak. Hy gaan doodluiters voort: “Jy moet seker dan gedeeltelik Amerikaans wees?”
Hierdie keer is dit ’n vraag en sy knik. Die man is baie meer belese as wat sy hom voor krediet gegee het. “My pa se familie is van Amerika af. Dus is my pa eintlik Amerikaans.”
“Dit is waar die swaar aksent vandaan kom.”
Sy gee hom ’n vuil kyk. “Luister, ek het bloot baie lanklaas Afrikaans gepraat. Ek sal dit afleer. Nie dat ek myself aan jou hoef te verduidelik nie.”
Hy glimlag ’n ongelooflike sexy glimlag en sy sluk. Van wanneer af raak sy omvergegooi deur mooi gesiggies? Of is dit die stywe broekie wat haar heeltemal ontsenu?
“En tog verduidelik jy . . . Ek neem aan jy’s op pad na die modehuis toe?”
Sy knik. “Ja. Alhoewel dit my verstand heeltemal te bowe gaan hoekom iemand hier ’n modehuis sal vestig.”
Hy grinnik. “Dit is seker nie die gewone keuse nie. Ek hoor die herehuis is omskep in die modehuis en dat dit glo ongelooflik mooi is. Duidelik het die ontwerper ’n plan gehad.”
Megan kyk verbaas na hom. Hierdie man weet meer as wat hy sê. Sy trek haar skouers op. “Ek sal seker sien wanneer ons daar is.”
“Ek dink jy gaan aangenaam verras wees. Dit is ook ’n winkel, venue, restaurant en oornagplek.”
Sy is verras. “Dit het ek nie geweet nie. Ek het eerlikwaar net op die pin wat ek ontvang het, gedruk, en gery. Glad nie vooraf my huiswerk gedoen nie.”
Hy kyk na haar. “Jy hou daarvan om in beheer te wees.”
Dit is nie ’n vraag nie en hy klink ook nie aanvallend nie, tog voel sy op haar hoede. “Daar is seker niks mee verkeerd om voorbereid te wees nie.”
Hy glimlag. “Ek het nie gesê daar is nie.” Eckhardt se uitdrukking raak ernstig. “Jy sou in elk geval nie kon voorsien het dat die pad verspoel is nie. Die stortvloed van reën wat die laaste ruk geval het, het die rivier met ’n spoed laat afkom en baie mense het skade gely. Baie gesinne sit sonder heenkome.”
Megan kyk vinnig na hom. Daar is simpatie in sy stem, ’n deernis wat sy nie gereeld by die mans in haar lewe hoor nie. Haar Amerikaanse pa is weer besig met sy nuutste jong vrou, hierdie keer selfs jonger as wat sy is. Die res is nie noemenswaardig nie.
“Ek is jammer om dit te hoor. Ek hoop die water sak vinnig en dat die gemeenskap weer sal kan herbou.”
Hy glimlag vir haar. “Dankie.”
Sy stamp amper haar kop toe hulle te vinnig oor ’n hobbel in die pad ry. Megan gee hom ’n vuil kyk. “Hemel, is dit nodig om so te jaag? Dis ’n grondpad, hoor.”
Eckhardt begin kliphard lag. “Jammer, hoe moes ek nou weet jy’s so lig dat jy in die lug sal opskiet.”
Sy vernou haar oë, maar kry nie ’n kans om hom iets toe te snou nie.
“Ons is hier.”
Megan kyk op en snak na haar asem. Die gebou waarvoor hulle tot stilstand kom, is absoluut asemrowend. Al is dit duidelik in ’n vorige era gebou.
Eckhardt klim haastig uit en voordat sy tot verhaal kom, maak hy die deur oop vir haar.
Sy trek haar skoen aan, klim stadig uit en maak haar items bymekaar.
“Dankie dat jy my kom aflaai het, Eckhardt.”
“Plesier. Ek moet weg wees; ek wil nie die persoon vir wie ek eintlik sit en wag het, mis nie.”
Sy knik en begin wegstap. Eckhardt se stem dra oor die area. “Stuur groete vir Erick K-man.”
Sy ruk om en kyk fronsend na hom. Hoekom sal sy vir Erick K-man groete stuur as hulle mekaar nie eens ken nie? Hy reageer deur eenvoudig te begin lag.
“Hy sal verstaan. Dis ’n klein gemeenskap.” Dan draai hy om en klim in die bakkie. “Moenie vergeet nie!” roep hy haar agterna voor hy die enjin aanskakel.
Sy vervies haar sommer weer en storm die gebou binne. Die man is omtrent ’n pyn met sy arrogante houding en belaglike kortbroek. Hoe moet enigiemand konsentreer as daar soveel spiere onder ’n bruingebrande vel speel? Soos sy sê: belaglik.