Skip to main content

Uittreksel | Hart van papier

Een

Kate vat tevrede ’n sluk van die hemelse koffie voor haar en gaan sit dan weer regop sodat Darren kan loer na haar hare in die foelie.

Hy glimlag ingenome. “Goed, vertel my nou eers alles.”

“Soos wat?” Kate kyk in die spieël vir die man ag­ter haar, maar vermy eerder haar eie weerkaatsing. Met die klomp foelie op haar kop is dit altyd vir haar moeilik om te glo sy gaan beter lyk.

“Elke stukkie sappige detail en moenie maak asof jy nie weet waarna ek verwys nie, Katherine Young. Vertel my hoe gaan dit met jou bekende vriendinne, enige nuwe skindernuus?”

Kate lag. “Dit gaan goed met die Steely Sisters, dankie. Amanda White het egter onlangs uitgevind sy is swanger.”

Darren slaan sy hande saam. “Nog ’n baba in die sprokiesland wat julle wat nou weer wat noem?”

“Ridgeway.”

“Ja, Ridgeway. Hoe gaan dit met die boekwinkel en het jy nog nie ’n sexy cowboy ontmoet wat jou voete onder jou uitslaan nie?”

“Dit gaan baie goed met die boekwinkel. Ek hoop om een van die dae ’n volledige koffiewinkel by te werk. En nee, daar het nog geen sexy cowboys hulle opwagting gemaak nie.”

Darren rol sy oë en sê oordramaties: “Hier is ek al die tyd en glo jy leef ’n Hallmark-fliek.”

Kate skud haar kop. “Hoe kan ek as my haarkap­per in New York is en ek in Ridgeway?”

“Ja, en niemand soek ’n heldin met uitgegroeide wortels in ’n romantiese film nie.”

Sy lag, dankbaar dat die onderwerp in ’n ander rigting beweeg. Vir Darren word persoonlike sukses gemeet in verhoudings, nie aan jou bankbalans nie. Volgens hom sal sy eers haar doel as mens bereik as sy weer iemand in haar lewe het. Tot dan is sy ’n mislukking in sy oë, en alhoewel haar jare lange haarkapper egskeiding as die natuurlike verloop van die huwelik sien, glo hy ook dit is net die begin van ’n nuwe een.

Kon haar pa nie maar ook vir ’n verandering so na dinge kyk nie? Dan sou sy dalk nie so opgesien het teen Kersfees saam met haar familie nie. Hy kan ongelukkig ná langer as ’n jaar steeds nie aanvaar dat sy en Gregory nie meer getroud is nie. Sy ver­moed Gregory se voorgenome huwelik met die baie belangrike Lydia Green, gaan nie juis help nie en soos sy haar pa ken, gaan hy haar met elke geleentheid daaraan herinner hoe teleurgesteld hy in haar is.

Kate stoot die gedagte aan haar pa en sy gedrag teenoor haar eenkant toe en luister na die nuutste skindernuus oor mense wat sy nie eens ken nie, ter­wyl Darren se assistent vir haar nog ’n koppie koffie bring. Sy het lanklaas die luukse van ’n oggend in die salon gehad, en sy gaan dit beslis nie ruïneer deur haar verder oor haar pa en sy sienswyse te verknies nie – sy gaan oor die volgende paar dae genoeg daarvan kry. Dit is in elk geval nie asof Mike Tucker al ooit die meester van gelukkige huwelike was nie, so sy opinie ontstel haar lankal nie meer nie.


John trek die moue van sy snyerspak se baadjie reg en probeer ontspan. Met Kersfees om die draai het hy werklik nie tyd vir hierdie vergadering by Tucker Inc. nie, maar Mike Tucker en die telekommuni­kasiemaatskappy waarvan hy die hoof is, is goeie besigheid. Daarom is hy hier. Betyds. Terwyl Mike nou al meer as tien minute laat is.

Hy wil net opstaan om te loop toe die hysbak se deur oopgaan en Mike saam met ’n laggende rooikop uitgestap kom. Aan die manier wat hulle al­bei dadelik ophou lag en verder van mekaar af stap, kan John aflei dat dit nie ’n terloopse ontmoeting van twee kollegas was nie, maar dat hy dalk die rooikop se naam iewers in die toekoms op een van die kon­trakte gaan sien wat hy as konsultant-regsadviseur vir Mike sal moet opstel.

“Hallo, John.” Mike groet hom met ’n stewige handdruk.

“Hallo, Mike, hoe gaan dit?”

“Goed, dankie.” Hy gaan sit op sy enorme leer­stoel agter sy lessenaar met New York se geboue agter hom. “Kan ek vir jou iets bestel om te drink?”

“Nee dankie.”

“Goed, ek het iets waarna ek wil hê jy moet kyk.” Hy staan op en stap na sy liasseerkabinet. John se oë gaan oor die foto’s op die vensterbank en rus op ’n spesifieke een. Hy was al genoeg in hierdie kantoor om elke detail van die foto vir altyd in sy geheue ingeprent te hê. Dit vang immers een van die oomblikke vas wat hy vir so lank as wat hy leef, sal onthou.

Kate op haar troudag.

Vreemd dat ’n man wat geen agting hoegenaamd vir sy eie huwelik het nie, amper twee jaar ná sy dogter se egskeiding steeds verkies om haar trou­foto in ’n raam in sy kantoor te hou. Maar hy moet erken, Kate met haar breë glimlag en helderblou oë wat straal van geluk, is absoluut beeldskoon op die foto, en dit sal seker ’n skande wees om dit iewers weg te bêre.

John stoot die gedagte aan die foto en die vrou daarop eenkant toe. Hy het al te veel tyd in sy lewe gemors op gedagtes oor haar.


Kate verwens die feit dat sy eers by Tucker Inc. se hoofkantoor moet stop voor sy huis toe gaan. Sy wil nie hier in haar pa se eie gebou in hom vasloop nie, maar sy wil graag die paar boeke en goed hê wat Gregory nog het. Hy het dit hierheen gebring omdat hy seker bang was sy loop in sy nuwe verloofde vas as sy dit gaan haal by die huis wat hulle vier jaar gedeel het.

Nie dat dit haar sou pla nie, moet sy tot haar eie verbasing eerlik erken.

Sy gun die nuwe vrou in haar eksman se lewe ’n sprokieshuwelik. Gregory is nie ’n slegte mens nie, hulle was net nie goed vir mekaar nie, en sy is dank­baar hulle het dit uitgevind voor hulle ouers geword het.

Kate haal ’n slag diep asem om van die laaste gedagte ontslae te raak en stap na die hysbak. Sy probeer nog om uit te pluis watter pad om na Gregory se kantoor te vat sonder dat sy haar pa sien toe die hysbak se deur oopgaan.

Vir ’n oomblik doen haar hart ’n vreemde dans in haar borskas en wil haar longe net-net nie genoeg lug inlaat nie. Dit is kompleet of elke senuwee-eind­punt in haar liggaam reageer op die donkerkopman wat voor haar tot stilstand kom.

Daar is geen teken van ’n glimlag toe hy opkyk en haar sien nie, net die gebruiklike geligte wenk­brou bo ysblou oë. “Kate.”

Die stem is genoeg om die herinnering aan hul laaste ontmoeting te roer, en met ’n stem wat die kilheid in syne mimeer, groet sy terug. “John.”

Hy steek sy hande hopeloos te selfversekerd in sy sakke. “Ek het nie verwag om jou hier raak te loop nie. Is jy hier om jou pa te sien?”

“Nee, ek is hier om ’n boks vol goed te kry wat die nuwe mevrou Young nie in die huis wil hê nie.”

“Watse goed?”

“Ek weet nie wat alles nie, maar ek sal vir jou ’n foto stuur sodat jy dit by die lys van tien items waar­mee ek uit my huwelik gestap het, kan voeg. Moet jou egter nie te veel daaroor ontstel nie. Ek is seker dit is ’n klomp gemors en sal niks wegvat van hoe suiwer jou oorwinning was nie.”

“Ek het nooit gesê julle egskeiding was vir my ’n oorwinning nie.”

“Jy het nie nodig gehad om dit te sê nie. Dit was duidelik oor jou en jou beste vriend se gesigte geskryf die dag toe ek uit jou kantoor gestap het.”

“Ek weet nie hoekom jy voel jy is ingedoen nie. Jy is finansieel goed gekompenseer.”

Sy kan nie glo sy het die gesprek in die ingangsportaal van haar pa se kantore nie, maar sy kry haar self nie gekeer nie. “Maar ek moes vyf jaar se lewe agterlaat. Vrek, ek kon nie eens die ketel vat nie.”

“Jy het nie ’n huis gehad nie en jy kon drie ketels gekoop het met dit wat hy vir jou daarvoor gegee het.”

“Wat van Smokie?”

“Smokie?”

“Die kat. Verdomp, John, Gregory het nie eens van die flippen kat gehou nie.”

“Jou ma is allergies vir katte en sover ek kan onthou, was jy ook nie regtig gek oor die dier nie.”

Sy blaas haar asem uit en skud haar kop. “Wel, ek gaan jou nie verder ophou nie, ek is seker daar is nog ’n hele klomp paartjies wat voor Kersfees geskei wil kom. Stuur groete vir jou ma en susters en watter nuwe poppie ook al nou jou lakens warm hou.”

Kate voel uiters kleinlik toe die hysbak se deur toegaan. Die laaste aanmerking was seker onnodig. John se persoonlike lewe het immers niks met haar uit te waai nie en sy het geen rede gehad om so ’n simpel ding te sê nie. Maar hier met die spieëls van die hysbak wat dit laat voel asof sy elke hoek en kant van haar wese sal kan sien, moet sy erken dit is moontlik dat sy die aanmerking gemaak het omdat sy dalk effens jaloers kan wees op wie ook al tans John se bed met hom deel.


John stap na waar hy sy motor parkeer het en met ’n vloekwoord klim hy in. Hy haat die feit dat sy die mag het om hom so te ontstel. Sy is reg oor die hoeveelheid werk wat hy het om af te handel. Daar is twee egskeidings wat hy gehoop het om vandag nog in te dien voor hy môre na sy ma toe gaan om sy week verlof daar te spandeer.

Daar is egter niemand wat sy bed warm hou nie. As daar was, het hy dalk nie die behoefte gehad om saam met haar in die hysbak te klim en haar te soen tot sy sterre sien nie.

Hy blaas sy asem uit. Hy kan dit nie doen nie, want sy is sy beste vriend se eksvrou. Tog weet hy nou al dat hy vanmiddag nog hierdie onaangename takie vir Mike gaan afhandel, want al is Katherine Tucker Young die olie op ’n baie gevaarlike vuur, kan hy om die een of ander rede nie ’n kans om haar weer te sien deur sy vingers laat glip nie.

John stuur sy motor in die rigting van sy kan­toor en gun homself die tyd om die ontmoeting met Kate te verwerk. Vir baie lank het hy homself probeer oortuig dat sy soos ’n suster vir hom is en dat die behoefte om haar weer te sien net is om­dat sy in die vyf jaar wat sy met sy beste vriend getroud was, soos familie geword het. Maar Katherine Young maak gevoelens in hom wakker wat hy in sy lewe nie vir een van sy susters sal voel nie. Gevoelens waarvan hy net nie ontslae kan raak nie.

Hopelik kry hy die boodskap die volgende keer as sy hom so koud soos vanmiddag behandel en hou hy op wens die munt het daardie eerste aand anders geval.