Uittreksel | Hart onder arres
Een
Cecile staan voor die kantore van die Kromkloof Moord-en-Roof-afdeling. Sy het ’n afspraak met ene speurder-kaptein Ruan de Wet.
Hy is seker net so vaal soos hierdie gebou wat beslis ’n kwas en ’n kan verf kort, gemeet aan die kortaf manier waarmee hy haar oproep beantwoord het. Beslis van nature ’n buffel. Hy het haar uit die staanspoor baie duidelik laat verstaan dat sy tyd beperk is en dat hy nie gretig is om ’n onderhoud op hierdie stadium aan haar toe te staan nie.
Eie aan haar onverskrokkenheid het sy eenvoudig ’n dowe oor gedraai. Kaptein De Wet sal haar nog leer ken. Cecile Jakobs is nie meer ’n groentjie in die wêreld van joernalistiek nie en op sewe en twintig staan sy ook vir geen man terug nie. Sy is gewoond aan speurhoofde wat hulle rang gebruik om haar in die uitvoering van haar pligte te kortwiek. Sy het nog altyd geglo dis ’n ego-ding; hulle moet mos altyd wys wie die septer swaai.
Sy trek haar vingers deur haar lang rooi hare wat vlamvat in die oggendson. ’n Paar astrante krulle dans net so vurig soos haar humeur in die wind. Vir oulaas rem sy aan haar romp se soom.
Dit kon ’n bietjie langer gewees het, maar met hierdie verbeeldinglose grys kantoorpakkie kan hy haar ten minste nie beskuldig dat sy hom met haar lang bene en slanke lyf wou begogel om antwoorde te bekom nie. Sy het ook op die minimum grimering besluit. Net genoeg om die sproete op haar neus te verbloem, want die sproete het ’n gewoonte om die plooitjies op haar neus te aksentueer as sy op ’n sekere manier frons. Haar gunsteling- dieprooi lipstiffie het sy vervang met ’n subtiele pienk wat steeds haar mooi vol lippe beklemtoon.
Haar groen oë skuil ewe onskuldig onder donker wimpers wat ook nie juis grimering nodig het om nie misgekyk te word nie. Tot menige man se konsternasie skuil daar ’n vindingryke vrou agter al dié onskuldigheid. Net onskadelik totdat haar humeur vlamvat en hierdie einste groen oë vuur begin spoeg.
“Nou ja, kaptein De Wet, laat ek jou onverwyld stormloop,” grinnik sy.
Die kantoordeur waarheen ’n polisieoffisier haar vriendelik beduie, staan op ’n skrefie oop. Ten minste is almal hier nie so betjoins soos De Wet nie. Sy klop, maar wag nie op ’n uitnodiging voordat sy die deur verder oopstoot nie.
Vir ’n oomblik staan Cecile vasgenael. Sy kyk grootoog na die man wat agter die lessenaar sit en haar asem stok in haar keel. Haar bravade van vroeër het sommer vanself die hasepad gekies.
Al is die kantoor net so vaal soos die gebou aan die buitekant, vul die onbehoorlik aantreklike man die karig gemeubileerde ruimte met sy teenwoordigheid. Die rokerige blou oë wat vraend na haar opkyk, veroorsaak dat die vloer onder haar dreig om mee te gee.
Sy retireer dadelik en begin rondkyk. Sy moet by die verkeerde kantoor wees. Hierdie mooie man kan beslis nie die onbeskofte kaptein De Wet wees nie.
“Kom binne, mejuffrou Jakobs,” klink die stem saaklik vanuit die kantoor.
Dalk moet sy eenvoudig omdraai en by die gebou uitvlug. Op hierdie oomblik is sy allesbehalwe in beheer van haar brein. Nou voel sy byna onbeholpe om die rede vir haar besoek deur te voer, maar daar wag ’n ongeduldige redakteur by die koerant se kantoor en hoe gaan sy haar optrede verduidelik? Jammer, Meneer, maar die aantreklikste man wat ek nog gesien het, het my voete onder my uitgeslaan . . . In die proses het ek summier vergeet wat die rede was vir my afspraak met kaptein De Wet.
Sy trek haar skouers regop en haal diep asem. Nee, niks gaan haar van stryk bring nie, nie eens ’n ongelooflik aantreklike buffel nie.
Sy kyk hom reguit in die oë en hou hom dop terwyl hy van sy stoel opstaan. Hy is nie veel langer as sy nie. Ook maar net te danke aan haar sesduimtiekiehakke. Iets wat nog altyd gehelp het dat mans haar nie met hulle lengte intimideer nie. Sy het vinnig agtergekom dat die meeste mans nie daarvan hou as hulle nie vanuit ’n hoogte na ’n vrou kyk nie. Dalk ly hulle almal onbewustelik aan kleinmannetjiesindroom.
Cecile stap nader en steek haar hand uit na hom.
“Cecile Jakobs van Die Snippet, aangename kennis.”
Deksels, hoekom sou sy dit nou wou doen? Hy weet mos reeds wie sy is.
Daar pluk ’n glimlag aan die lieflike mond wat omring word deur ’n kortgeknipte baard en snor. Sy hand sluit om hare en sy voel hoe die hitte daarvan teen haar arm opkruip en ’n kortsluiting in haar binneste veroorsaak.
“Speurder-kaptein Ruan de Wet. Kom sit, asseblief.”
Ná wat vir haar soos ’n ewigheid voel, laat los hy haar hand en sy gaan sit vinnig op die naaste stoel. Haar bene voel skielik soos jellie. Hopelik net omdat sy vanoggend ontbyt oorgeslaan het.
Sy volg Ruan met haar oë toe hy weer agter sy lessenaar gaan sit. Daar is sonstrepies in sy kuif wat agtertoe gekam is. Sy hare is netjies en kort aan die kante met meer lengte bo. Dan vat sy die pad oor sy voorkop tot by die sagte blou oë, omraam deur donker wimpers onder welige, reguit wenkbroue. Sy volg die kontoere van sy neus tot waar dit aan die snor raak voordat haar oë vashaak op die mooi, manlike lippe wat beweeg.
“Ek vra, juffrou Jakobs, waarmee help ek jou?”
Cecile ruk liggies. Verdomp, wat gaan aan met haar? Hier sit sy en bewonder die man skaamteloos, en gemeet aan die uitdrukking op sy gesig is hy deeglik bewus daarvan. Sy veg om haar stem so neutraal moontlik te hou.
“Ek is, soos jy reeds weet, die misdaadverslaggewer by die oggendblad en ek dek die saak rondom die verdwyning van die blou diamante.”
Sy hou hom dop toe hy terugsak tot teen sy stoel se rugleuning en sy elmboë op die lessenaar stut. Sy linkerhand vou oor die regter een en sy loer onwillekeurig na sy ringvinger. Óf hy dra nie ’n trouring nie, óf hy is nie getroud nie. Haar oë kuier op die tatoe van ’n wolf wat van sy pols tot by die elmboog strek en onder die opgerolde hempsmou verdwyn. Sy stem kom van ver af.
“Jy besef seker dat die ondersoek nog aan die gang is, en dat ek geen inligting bekend kan maak wat die saak sal belemmer nie.”
Sy stemtoon laat haar vies na hom kyk. “Ek besef dit, Kaptein. Ek is nie ’n groentjie in die bedryf nie, maar daar moet seker al iets wees wat ek in ’n aanloop kan gebruik?”
Hy skud sy kop. “Niks wat ek glo jy nie reeds weet nie. Die diamante is uit die kluis op ’n privaat perseel gesteel. Daar is geen getuies nie omdat die veiligheidskameras daardie nag weens onvoorsiene kragonderbrekings nie gewerk het nie. Dit is al wat ek op hierdie stadium bereid is om oor die saak te sê, juffrou Jakobs.”
Haar oë vernou. “Eerstens sal ek dit waardeer as jy my op my voornaam noem aangesien ons oor die volgende paar weke heelwat met mekaar te doen gaan kry, Kaptein. Tweedens, nee ek het nie geweet dat die veiligheidskameras buite werking was nie.”
Ruan glimlag geheimsinnig. Geen wonder hy het ’n wolf vir sy tatoe gekies nie.
“Dit kan interessant raak, maar nou . . .” Die skel gelui van sy telefoon onderbreek sy sin.
Cecile hou die hand dop waarmee hy die telefoon optel en na sy oor toe bring. Selfs sy ore sit op die regte plek. Nie te groot óf te klein nie. Sy volg vaagweg die eensydige gesprek.
“Dankie, Kolonel. Ek vertrek dadelik. Nee, ek stem saam. Dit is net te toevallig dat dit uit dieselfde kluis geroof is. ’n Mens sou verwag dat sekuriteit nou hulle eerste prioriteit sou wees. Goed ek maak so.”
Hy sit die telefoon neer en staan dadelik op. “Jammer, juf. . . Cecile. Jy moet my ongelukkig nou verskoon.”
Die joernalis in haar is dadelik op aandag. “Ek neem aan jy het van dieselfde kluis as die een waaruit die diamante gesteel is, gepraat?”
Ruan glimlag skeef. “Ek moes geweet het jy het net ’n halwe woord nodig om jou eie afleidings te maak.”
Sy knik. “Noudat jy dit besef, Kaptein, sou dit dieselfde persoon of persone wees wat die eerste klomp diamante gesteel het? Ek meen, hulle weet mos nou presies waar alles is. Is daar hierdie keer ten minste iets op die veiligheidskameras, of het dit weer gerieflikheidshalwe nie gewerk nie?”
Ruan hou sy hande omhoog. “Nee, nou moet jy wag met al die vrae. Ek moet dadelik ry, maar jy kan weer ’n afspraak maak. Dalk kan ek dan meer inligting vir jou gee.”
Sy frons liggies. “Ek het ’n beter idee. Ek nooi jou vir ete vanaand by die restaurant in Bostraat. Jy weet seker waar dit is?”
’n Glimlag pluk aan sy mondhoeke. “Jy laat nie gras onder jou voete groei nie, juffrou Jakobs, maar ek hou daarvan. Kan ek jou iewers oplaai?”
Sy knip haar oë vinnig. Wat het haar besiel om dit te doen? Nou is dit egter te laat vir omdraai sonder dat Ruan de Wet agterkom dat haar moed haar klaar begewe het.
“Nee, dankie. Ons ontmoet mekaar daar. So ongeveer halfagt as dit jou pas?”
Die mooi mond glimlag nou breed, sy oë versag, en haar hart mis weer ’n paar slae.
“Ek sien uit daarna, maar nou moet ek regtig laat spaander.”
Cecile knik en draai om. Met lang treë stap sy by Ruan se kantoor uit. Solank sy haar aandag by die saak bepaal, behoort sy meer ontspanne in sy teenwoordigheid te wees. Sy was net onkant betrap omdat sy hom totaal anders voorgestel het.
Hopelik kom sy vanaand meer te wete. Haar redakteur gaan beslis nie ingenome wees met die onsuksesvolle onderhoud nie, maar daaraan kan sy nie nou veel doen nie.
Fronsend sit Cecile agter haar lessenaar. Nog nooit het sy op die ingewing van die oomblik ’n eteafspraak met ’n vreemde man gemaak nie. Sy was nog altyd daarop ingestel dat alle onderhoude vir haar koerantberigte op onpersoonlike terrein geskied. Beslis nie oor ’n glas wyn nie. Wat as haar joernalistieke vaardighede haar in die steek laat en sy sit daar met ’n mond vol tande?
Sy kon darem ewe manhaftig die redakteur meedeel sy het seker gemaak dat sy later vandag meer te wete gaan kom oor die verdwyning van die diamante. Sy weet egter dit was nie die oorweging vir haar voorbarige uitnodiging nie. Eerder die aantreklike Ruan de Wet wat lewe aan ’n gevoel in haar binneste gegee het waaraan sy nie gewoond is nie.
Hoe gaan sy die rokerige blou oë en mooi mond wat vir haar glimlag, weerstaan? Sy byt haar onderlip vas. Dit terwyl haar hart reeds wonder oor hoe dit voel om deur daardie einste lippe geliefkoos te word!
Cecile skud haar kop heftig en haar rooi weelde dans oor haar skouers. As sy só aanhou, hang sy vanaand al soos ’n verliefde tiener aan sy lippe. Dit is nie die eerste aantreklike man waarmee sy te doen kry nie, so wat het geword van die Cecile wat altyd in beheer is van wat sy voel en dink?
Sy kyk op die horlosie teen die oorkantse muur. Dit kondig luidkeels vyfuur aan. Tyd om haarself te gaan gereedmaak vir haar gewaagde afspraak. Sy kan hom natuurlik weer in haar preutse uitrusting ontmoet, maar sy vermoed sy gaan ’n stukkie van haar vroulike sjarme nodig hê om hierdie neut te kraak. Sy moet ook aan haarself bewys dat sy steeds die dieselfde vrou is wat weet hoe om haarself te laat geld.
Ná ’n heerlike warm bad, kan sy voel hoe haar spiere effens ontspan. Die kol op haar maag trek al hoe stywer vas as sy dink aan die afspraak, en dis beslis nie die oeroue cliché dat dit skoenlappers is nie.
Wat as haar oorywerigheid vanaand in haar gesig ontplof? Kom wat wil, sy sal doelgerig die gesprekke rondom die etenstafel moet beperk tot die versamel van alle moontlike inligting wat na vore gekom het in vandag se ondersoek. Hopelik verhoed dit haar om nog ’n groter gek van haarself te maak.
Sy vou haar lyf toe in ’n badhanddoek en stap na haar klerekas. Moet sy nie eerder weer ’n verbeeldinglose romp en bloes aantrek nie? Veral met die oog daarop dat dit slegs ’n verlengstuk is van hul aanvanklike onderhoud.
Sy talm met haar hand op haar geliefkoosde swart nommertjie en byt haar onderlip vas. Sy weet dat die sagte materiaal verleidelik om haar lyf pas en haar dun middel aksentueer. Dit steek ook niks van haar lang, mooigevormde bene weg nie. Die skouerlose halslyn laat die gleufie tussen haar borste net-net sigbaar. Net genoeg van haar lyf om ’n man se verbeelding aan te gryp. Nie dat sy dit nou vir vanaand met opset beplan nie.
Nou ja, Meneer, kom ons kyk wat is jou reaksie as jy my in hierdie rok sien, dink sy ingenome. Dalk is hy dan nie meer so seker van homself nie en borrel die inligting waarna sy soek, sommer vanself oor daardie paar verleidelike lippe.
Haar hare val in sagte blink golwe op haar skouers en sy steek die een kant hoog op vas met ’n goue knip. Dit ontbloot die een kant van haar gesig en hoë wangbeen. Sy kleur haar lippe met die dieprooi lipstiffie en pers hulle saggies saam. Die donker oogskadu dra by tot die mistieke afronding en die oogomlyner beklemtoon haar groot groen oë wat geheimsinnig onder haar wimpers uitloer. Nou nog net haar hoë tiekiehaksandale en ’n klein aandsakkie, dan is sy gereed vir kaptein Ruan de Wet.
Sy kyk grootoog na haar spieëlbeeld. En as sy die grootste fout van haar lewe maak? Wat as hy dalk haar eie achilleshiel is? Sy skud haar kop en trek haar skouers regop. Nie solank sy haar gedagtes op haar missie fokus en nie toelaat dat sy manwees haar sinne benewel nie. Sy weet ongelukkig reeds dat dit ’n titaniese stryd gaan wees.