Skip to main content

Uittreksel | Hand aan hand

Een

Elzibi Nel byt behaaglik in die laaste stukkie van die roompoffertjie en vee haar mond af.

“En, wat dink jy?” vra Lillian Henderson, haar geskeide vriendin, wat ’n paar huise van haar af bly.

“Heerlik, ek wens ek het tyd gehad om sulke heerlike eetgoed te berei. Jy is ’n bobaaskok.” Sy sit nog ’n poffertjie op haar kleinbordjie.

“Dankie, ek wens net my eks het ook so gedink.”

Elzibi kyk rond. Daar is ’n lang, feestelik gedekte tafel in die straat. In die middel van die tafel staan ruikertjies met blomme, en die kerse sal later vanaand aangesteek word. Daar heers ’n heel aan­gename atmosfeer. Dis ook lekker om al haar bure weer te sien. Party sit by die tafel terwyl ander in groepies rondstaan en gesels.

“Ek moet jou komplimenteer, Lillian, die straat­braai was ’n wonderlike idee. Dit gebeur nie aldag dat ons tyd kry om so te kuier nie.”

“Dis omdat ons die enigste twee ongetroude vroue in die straat is. Ons word nie altyd na die ander se partytjies genooi nie. Vir ingeval jy nog nie weet nie, ons is ’n bedreiging vir die getroudes. Ek is geskei en soek skynbaar man en jy . . . wel, met jou bynaam as Mejuffrou Bene loop al die getroude mans kwan­suis agter jou aan.”

Gelukkig ken sy Lillian se droë humor en neem nie aanstoot nie.

“Terloops, Elzibi, het jy al met jou nuwe bure kennis gemaak?”

“’n Meubelwa het vanoggend voor die plek gestaan, maar ek kon nie sê wie is buurman en wie is werker nie. Ons sal hulle seker mettertyd ontmoet. Kom ons gaan kyk hoe ver is hulle met ons vleis. Jou poffertjies is miskien heerlik, maar dis nie kos nie.”

“Gaan vind jy solank uit. Ek sal vir ons drankies gaan skink.”

’n Klompie mans bondel om die braaivuur saam, en Elzibi wonder op die plek of daar ooit gebraai word. Gertjan, haar buurman van oorkant die straat, gesels met ’n vreemdeling. Al hoekom sy so dink, is omdat sy nie die man aan sy agterkant herken nie. Voordat sy by hulle kan aansluit, hoor sy Gertjan praat – hard en duidelik vir enigeen om te hoor.

“Ou maat, jy kan jouself gelukkig ag. Jy bly nou langs ’n voormalige model en skoonheidskoningin. ’n Paar jaar gelede was sy nie net die runner-up vir Mejuffrou Suid-Afrika nie, maar ook Mejuffrou Per­soonlikheid. O, en sy het die mooiste paar bene in die kompetisie gehad. Jy sal van haar hou.”

Elzibi glimlag, want vir Gertjan ken sy ook. ’n Grootpraterige en effens grillerige man wat maar alte graag ander mense se besigheid syne maak. Sy wil iets sê om hulle aandag te trek, maar terselfdertyd wil sy die vreemdeling se antwoord hoor. Dis duidelik hy is haar nuwe buurman.

“Ek dink nie so nie. My ondervinding is, sulke mooi meisies is gewoonlik high maintenance, self­gesentreerd en behep met hulle skoonheid. So, nee dankie, ek sal twee keer dink voordat ek ’n model ’n vriendin maak.”

Sy suig haar asem geskok in. Regtig? Het sy ooit reg gehoor? Van watter planeet af kom haar bure? Of altans haar buurman? En wie praat met so min respek van skoonheidskoninginne? En hoeveel modelle ken die man dan om tot so ’n gevolgtrek­king te kom? As sy dan ook ongegronde afleidings mag maak, is hy beslis ’n tipiese, oningeligte chau­vinis.

“Elzibi is gelukkig nie so nie. Sy is ’n baie nice girl. Maar wag tot jy haar bene sien, jy sal gou van plan verander,” hou Gertjan aan karring met haar bene. Sy voel lus om haar kop te skud. Asof mooi bene enigsins ’n persoonlikheidseienskap is.

“Ek dink regtig nie so nie.”

Sy kan nie langer stilbly nie. “Middag, Gertjan.”

Gertjan swaai om en sy sien die skok in sy oë. Hy hap in die lug na woorde en die vreemdeling kyk ook om.

“Stel jy my nie voor nie?”

“Natuurlik, Elzibi. Dis Luca Cronjé. Luca, dis El­zibi Nel, jou nuwe buurvrou.”

Sy steek doelbewus haar hand uit en hulle skud blad. “Soos jy gehoor het, is ek Mejuffrou Bene. Dankie, Gertjan, ek is seker Louise sal graag wil hoor hoe jy al wat leef en beef van my mooi bene vertel. Ek dink ek sal dit noem wanneer ek haar weer sien.”

Gertjan verbleek en sy weet sommer hy gaan nou die hasepad kies. “Verskoon my, Luca, ek dink Louise soek al na my.”

“Reg, ons praat anderdag weer.”

Daar is ’n ongemaklike stiltetjie terwyl sy besluit wat sy volgende vir die wildvreemde man moet sê. Hy wonder skynbaar ook wat hy wil sê, want die stilte rek uit. Al raak die oomblik ook hoe ongemaklik, kan sy nie anders as om sy voorkoms in te neem nie. Hy dra ’n strepiesdas by sy spierwit knopieshemp. Sy swart broek is netjies en selfs sy skoene blink asof hulle pas gepolitoer is. Dis duidelik hy het nie die memo gekry nie. Dis ’n straatbraai, nie ’n troue nie. Ten spyte van haar misnoeë is dit moeilik om nie sy aantreklike, manlike gesig te waardeer nie. Met sy sjampanjekleurige bruin oë, donkerblonde hare en sy sterk gelaatstrekke is hy loshande die aantreklik­ste man in hulle straat, en dit sê baie. Hulle straat spog reeds met twee tydskrifmodelle, ’n sportafrig­ter en ’n voormalige Meneer Wêreld in liggaamsbou. Dis almal buitengewoon aantreklike mans, maar die man voor haar is beslis kompetisie vir hulle.

“Het jy klaar gekyk, Juffrou?”

Sy het gewoonlik ’n goeie pokergesig, maar dit verg al haar selfbeheersing om nie geskok na haar asem te snak nie. Hoe arrogant van die man om haar dit te vra?

“Ek het, en as ek so mag sê, ek hou glad nie van wat ek sien nie.”

Dis sy beurt om sy wenkbroue te lig. Haar eerlike opinie verras hom beslis. “Wel, dan maak dit twee van ons.”

“Pappa! Pappa!”

Die tasbare spanning tussen hulle word verbreek deur ’n kind se stem. Sy kyk werktuiglik af en is net betyds om te sien hoe ’n seuntjie Luca om die been gryp. Sy gesig versag onmiddellik.

“Waar is jou boetie, Caleb?”

“By die koeldrank.”

Luca kyk rond en sy oë rek effens toe hy sy kind by die tafel met al die alkoholiese verversings raaksien. Sy skat die seuntjie so drie jaar oud, want hy staan op ’n stoel om vir homself iets te skink.

“Ek hoop dis net koeldrank in daardie glas,” dink sy hardop.

“Joshua!”

Luca maak nie eens verskoning nie, maar haas hom na die seuntjie toe. Hy neem die glas uit sy hand en ruik daaraan. Sy verligte gesig vertel alles. Sy loop werktuiglik nader, hoekom weet sy nie. Sy won­der waarom niemand die kind raakgesien of selfs probeer help het nie. As Lillian nog daar gestaan het, sou sy beslis iets daaromtrent gedoen het. Sy kyk rond. Ja, waar is Lillian met hulle drankies?

Luca skink twee glasies koeldrank wat hy vir sy seuntjies gee. Hy wag geduldig dat hulle klaar drink. Sy kry die gevoel dat hy haar teenwoordigheid aspris ignoreer. Eers toe hy die twee leë glasies op die tafel neersit, kyk hy na haar. “Ek weet nie vir wie ek moet sê nie, maar dankie vir die koeldrank.”

“Dis almal s’n. Ons het almal iets bygedra en dis ’n plesier.”

Tussen digte swart wimpers kyk sy bruin oë haar amper uitdagend aan. “So, jy is my nuwe buurvrou.”

“Dit wil so voorkom. Is jou vrou ook hier?”

“Vrou?”

Hy lyk verbaas en sy voel skielik ’n bietjie onseker. “Ja, jy weet . . . dis gewoonlik iemand met wie jy getroud is. Of . . . ekskuus, ek moes seker gevra het waar jou . . . e . . . lewensmaat is.”

Hy frons. “Wat sê jy nou eintlik? Enigeen kan mos sien dat ek nie vir mans gaan nie.”

“Ek is jammer, maar vir my is dit glad nie voor die hand liggend nie.”

Hy vererg hom. “Nie eens wanneer jy na my twee seuns kyk nie?”

Dié keer let sy beter op. Beide seuntjies het blonde hare, en hulle oë het hulle definitief van hulle pa gekry. Nie die mooi bruin kleur nie, maar wel die vorm. Die twee mooi seuntjies trek sonder enige twyfel na hulle aantreklike pa. Sy maak haar mond oop om iets van ’n moontlike surrogaatma te sê, maar sy kry nie kans nie. Die seuntjie wat hy as Joshua aangespreek het, trek hom aan sy broek.

“Ek is moeg. Ek wil huis toe gaan.”

Luca buk en tel dadelik sy seuntjie op. Hy kyk oor die kind se kop na haar. “Dit was gaaf om jou te ontmoet, Juffrou. Geniet jou aand verder.”

Sy knik en kyk hoe hy eers om die lang tafel en toe in die rigting van sy huis loop.

“Wie is daardie hunk?” vra Lillian agter haar en trek twee glase nader.

“Glo dit of nie, dis my nuwe buurman.”

“Jy speel.”

“En hy het twee klein seuntjies.”

“Hoe oud skat jy hom?’

“Wel, sy kinders is nog klein. As ek moet raai, so drie en dertig of daar rond. Terloops, waar kom jy nou vandaan?”

“Ek moes eers ’n badkamer gaan soek. Vervlaks, toe mis ek hom.”

Lillian klink so teleurgesteld dat sy lag. “Jy weet natuurlik dat sy twee seuns ’n ma moet hê.”

“Hoe ken jy my? Asof dit my gaan afskrik.”

Lillian terg sommer. Agter haar onverskillige fasa­de is Lillian eintlik ’n goeie en voorbeeldige siel. Met drankies in die hand loop hulle terug tafel toe. Elzibi se gedagtes weier egter om die befoeterde man se gesig uit te los. Sy dink kort-kort aan hom, hoekom weet sy nie. Hy mag miskien by aantreklik verby wees, maar arrogante mans soos hy maak nie haar knieë lam nie.