Skip to main content

Uittreksel | Haar Italiaanse Prins

Een

“Nee, Luca!” skree Claudette en rek haar treë om uit die Italianer se grypende hande te bly.

Hy lag triomfantlik toe hy haar in sy arms opraap en met haar in die swembad spring. Haar gil weergalm totdat sy onder die water verdwyn.

Sy spartel om los te kom en neem ’n diep asemteug. Sy kry hom aan die skouers beet, lig haarself hoog op en druk hom met mening onder die water in. Bang vir weerwraak, swem sy vinnig na die rand van die swembad. Laggend nael sy vir ’n vale weg. Sy kyk om en sien hom kort op haar hakke. Sy uiter ’n skerp gil en versnel haar pas.

Met ’n hik hardloop sy trompop teen ’n gespierde lyf vas. Sterk hande kry haar aan die boarms beet en druk haar summier weg. Sy kyk op in ’n ontevrede gesig. Die verskoning stol op haar lippe toe sy in die bekende, broeiende oë vaskyk.

Wat maak Vittorio hier? Drie jaar gelede het daardie einste paar donker oë haar so begogel, dat sy al haar morele waardes oorboord gegooi het. Haar brein weier aanvanklik om te aanvaar wat sy sien.

Toe sy Luca ’n week gelede ontmoet het, het dit haar opgeval dat hy nogal baie trek op die Italianer wat haar drie jaar gelede met sy mooipraatjies verlei het. Dit het glad nie by haar opgekom dat hulle moontlik familie van mekaar is nie. Bloot omdat sy aanvaar het dat sy hom nooit weer sal sien nie.

Vittorio herken haar duidelik nie, trek net sy nat hemp vies van sy lyf af weg. Hy sê egter nie ’n woord nie.

“Jammer, broer,” sê Luca en sluit sy arms stewig om Claudette se middel. Met ’n sadistiese lag spring hy weer met haar in die swembad.

Dan is hulle broers, dink Claudette voordat die water weer oor haar kop spoel.

“Ek gee op,” sê sy na ’n ruk uitasem. “Jy wen.” Sy klim uit en gaan sit by Jolene en Bianca.

Van Vittorio is daar geen teken nie. Sy voel verlig, maar tog ook teleurgesteld. Sy verstaan nie haar gevoelens nie, want hy is een van die redes waarom sy nie meer in romantiese liefde glo nie.

“Ystee?” vra Bianca en skink vir haar toe Claudette knik.

“Nee!” gil die drie vroue gelyk toe Luca homself soos ’n hond afskud en die druppels oor hulle spat.

“Luca, ek maak jou dood!” gil Bianca nog ’n keer en vee oor haar hare om seker te maak haar kapsel is nie beskadig nie. “Lorenzo vat my vanaand uit vir ete.”

Hy lag net en gaan sit tussen Claudette en Jolene. “Wat het van Vittorio geword?” wil hy weet terwyl hy vir hom ystee skink.

“Besig met werk. Jy ken hom mos, daar is altyd dringende sake om af te handel. Terloops, die krisis is afgeweer. Mancini Bank gaan nie een van sy gewaardeerde kliënte verloor nie,” antwoord Bianca.

“Die ewige verantwoordelike broer,” spot Luca.

“Hy weet darem ook hoe om pret te hê. Ek is seker dit het ’n groot rol gespeel om die Rossi’s te oortuig om by Mancini Bank te bly. Jy weet self hoe sommige kliënte verwag die bank moet aan hul geringste gier voldoen.”

“Besit julle tog nie jul eie bank nie?” wil Jolene verbaas weet en raak doenig op haar foon.

“Dis net ’n familiebesigheid. As ’n mens wil eet moet jy werk, soos my pa altyd gesê het,” lag Luca.

“Nee, my ou. Nou is jy baie beskeie.” Jolene hou haar foon op en lees: “Mancini Bank, ’n eksklusiewe bank vir die superrykes onder die room van Italiaanse biljoenêrs. Ons kliëntebasis strek so ver terug as die negentiende eeu. Ons motto is, familie eerste. Toelating tot die bank se fasiliteite is onderhewig aan streng keuring.” Sy kyk op. “Beteken dit om ’n biljoenêr te wees, is geen waarborg om outomaties toegang tot die bank te verkry nie?”

“Daar is kriteria waaraan ons kliënte moet voldoen,” antwoord Luca. “Maar genoeg van werk. Hoe lyk dit? Gaan ons Milaan môreaand rooi verf?”

“Dis definitief op my doenlysie,” stem Jolene entoesiasties in. “Vandat my bestie ’n ma geword het, het sy mos nie meer tyd om saam met my te party nie.” Sy kyk verwytend na Claudette. “Kyk, ek is baie lief vir my peetkind, maar siende dat hy veilig by sy ouma is, het jy geen verskoning nie.”

Claudette voel nogal skuldig, want dis waar. Sy gebruik haar seuntjie as verskoning om haar uit enige partytjie of nagklubkuier te wurm. Ná haar ondervinding met Vittorio drie jaar gelede, is sy baie lugtig vir die teenoorgestelde geslag. Haar verhouding met hulle hou sy platonies, soos met Luca, hoewel hulle twee dadelik gekliek het toe Bianca hom ’n week terug aan haar en Jolene voorgestel het.

“Nee, Claudette. As jy so lank vat om te antwoord, is jy besig om weer ’n verskoning uit te dink. Komaan, nou!” por Jolene haar ontevrede aan.

“Ja, komaan, jy gaan nie ’n pretbederwer wees nie,” gooi Luca sy gewig agter Jolene in.

“Ek sal Lorenzo se broer vra om ook saam te gaan. Niemand sal ’n vyfde wiel aan die wa wees nie,” laat Bianca van haar hoor.

“Lyk my nie ek het veel van ’n keuse nie.” Claudette voel genoop om in te stem. Sy staan op en bind ’n sarong om haar heupe. “Verskoon my, asseblief.”

Sy stap deur die patiodeure na binne. Op pad badkamer toe, merk sy die Mancini-matriarg op waar sy besig is om hier en daar ’n blom in ’n rangskikking reg te druk.

“Mamma Mancini!” roep Claudette bly uit en stap haar met uitgestrekte arms tegemoet.

Met hul eerste kennismaking het Maria Mancini aangedring dat hulle haar as Mamma Mancini aanspreek, soos al haar kinders se vriende doen. Claudette beleef die Mancini’s as mensliewende en charismatiese persone. Hulle trek mense na hulle toe aan soos blomme bye nader lok.

Die ouer vrou draai om en glimlag breed vir haar.

“Hallo, Claudette,” groet sy en hulle gee mekaar ’n soen op elke wang. “En toe? Kry julle darem gewerk ook, so tussen die gekuier deur?” wil sy tergend weet.

“Natuurlik. Die meeste van ons aankope is gelukkig afgehandel. Die modes is hierdie jaar vir my ekstra spesiaal.” Dis miskien omdat sy vir byna drie jaar nie Milaan kon besoek nie. Dit was ’n hoogtepunt toe sy vier jaar gelede vir die eerste en enigste keer, persoonlik uit die nuutste ontwerpe kon kies vir Bellissima, die reeks boetieks wat Jolene se ma, tannie Joanne, daardie jaar begin het.

“Dan gaan jy Vrydagaand se modevertoning baie geniet,” sê Mamma Mancini.

Een van die huishoudsters trek haar aandag en sy maak verskoning.

In die badkamer gaan staan Claudette voor die spieël en borsel haar bos blonde krulhare uit. Sy draai dit behendig weer in ’n bolla en steek dit met knippies vas. Sy bekyk haar spieëlbeeld goed; die groot blou oë, reguit neus en gul mond.

Hoekom het Vittorio haar nie herken nie? Is dit omdat haar hare nat was? Dit vertoon effens donkerder as dit nat is. Die aand van hul ontmoeting het haar hare lank en golwend oor haar skouers en rug gehang.

Met hul herontmoeting vroeër langs die swembad, het sy hom onmiddellik herken. Is dit omdat hy haar drie jaar gelede met ’n verrassingspakkie gelos het? Dit was ’n nag om te onthou, maar die realiteit het haar soos ’n emmer koue water getref toe sy die volgende oggend alleen wakker geword het.

Blykbaar het die vorige nag nie dieselfde betekenis vir hom gehad nie, want hy het net ’n nota gelos: Arrivederci per ora. A presto bella, met drie kruisies onderaan.

Sy het dadelik na haar selfoon gegryp en dit by Google ingetik om te vertaal: Totsiens vir nou. Sien jou gou weer, mooiste.

Hy was nie eens mans genoeg om haar reguit te sê hy stel nie verder belang nie.

Sy is sommer laf om opnuut daaroor te pieker. Na alle waarskynlikheid sal hy steeds niks met haar te doen wil hê nie, al vind hy uit van Max. Tien teen een sal hy vaderskap ontken. Nee wat, sy gaan liewer doodstil bly, al het sy van haar seun se geboorte af gewens dat hy nie, soos sy, sonder ’n pa hoef groot te word nie.

Ingedagte stap sy by die badkamer uit. Weer loop sy in ’n manlike lyf vas. Voor sy opkyk, weet sy dis Vittorio. Hoekom moes hy juis nou hier verbygaan? Sy beweeg nie, byt net hard op haar onderlip en kyk na haar voete. Haar toonnaels kort ’n nuwe laag naellak, merk sy half afwesig op.

Gelukkig weet hy nie hy het destyds haar voete onder haar uitgeslaan nie. Vir hom was sy klaarblyklik net ’n los gelukkie, wat nie die moeite werd was om te onthou nie. Sy het haar les hard en deeglik geleer ná daardie insident. Die mansgeslag is nie te vertrou nie. In elk geval nie met haar hart nie.

Sy tree terug en kyk hom in die oë. “Jammer,” maak sy verskoning.

Sy loop om hom, maar hy vat haar aan die arm en hou haar terug. “Claudette, ons kan seker soos beskaafde mense teenoor mekaar optree, of herken jy my regtig nie?”

Haar oë vlieg weer op na hom. Daar is ’n harde uitdrukking in sy oë en sy lippe is in ’n spotlag vertrek. Wat de heck is sy probleem? Sy is die verontregte een. “Natuurlik weet ek wie jy is. Ek was egter nie seker of jy my onthou nie.”

Hy sit ’n hand op sy heup en met toe oë masseer hy sy voorkop, asof hy ’n hoofpyn ontwikkel. Dan gee hy ’n siniese laggie. “Jy het uitsonderlike oë, Claudette. Ek wil my verstout om te sê, nie baie mense wat eens op ’n tyd daarin gekyk het, sal dit maklik vergeet nie.”

Dit het sy nie verwag nie. Sy weet nie hoe om daarop te reageer nie, want die kruks van die saak is – hy kon nie wag om spore te maak ná hul nag saam nie.

Claudette word ’n antwoord gespaar toe die voordeur oopvlieg en ’n donker skoonheid op Vittorio afpyl. Sy gooi haar arms om hom en groet hom met ’n soen op elke wang. “Jy’s terug! Ek het jou so gemis,” jubel die vrou.

Vittorio maak haar arms om sy nek laggend los. Die toneeltjie wat voor Claudette afspeel, veroorsaak ’n vlietende steekpyn naby haar hart. Sy verstaan nie hoekom nie. Haar verliefdheid van destyds het vinnig verdwyn toe sy ’n maand later uitgevind het sy is swanger. Sy draai blindelings om en maak haar uit die voete.

Wat sy nou nodig het, is Luca-doepa. Sy ongekunstelde tergery sal haar aandag weer op koers kry, weg van Vittorio Mancini af.