Skip to main content

Uittreksel | Haar hart se ware tuiste

Proloog

Emosioneel gedreineer glip Liané ongesiens by die agterdeur uit. Sy moet wegkom uit die neerdrukkende atmosfeer in die huis. Daar is soveel stemme, almal met dieselfde simpatieke toon. Dit begin op haar rou geskaafde senuwees werk en vererger die drukkende hoofpyn wat haar al vir die laaste week sonder ophou teister.

’n Week vantevore is haar man, Heino Rauten­bach, onverwags in ’n motorongeluk oorlede. Van­dag het die koue, reënerige weer perfek ingepas by die morbiede atmosfeer van sy begrafnis. Die laaste week het sy soveel emosies ervaar: Van skok en on­geloof na hartseer, histerie, en weer terug na die be­gin. Nou is sy net leeg. Leeg gehuil, moeg gedink om te probeer sin maak van sy dood. Al wat nou oorbly, is uitputting en onsekerheid oor wat vorentoe gaan gebeur.

Sy masseer haar slape met haar vingerpunte. As haar hoofpyn net wil oorgaan, sal sy dalk kan dink. Hulle twee seuns, Darius en Lihan verstaan nie mooi wat aangaan nie. Lihan is nog te klein om te weet Heino is weg. Darius, aan die ander kant, weet sy pappa kom nie huis toe nie. Heino het nie veel tyd saam met die kinders spandeer nie. Hy sou nooit die pa-van-die-jaar-prys gewen het nie. Ook nie eggenoot-van-die-jaar nie. Hy wou ’n vrou en kinders hê, maar hy het nooit geweet wat dit regtig behels om ’n gesin te hê nie.

Liané loop oor die stil donker erf, weg van die huis met soveel vreemde mense. Sy ken nie eens die helfte van hulle nie. Heino se kroegvriende, dink sy droog. Dieselfde vriende wat nie sy motorsleu­tels by hom kon wegvat nie, en vandag kom hulle met nat oë en vertel hoe baie hulle hom gaan mis. Sy vryf oor die honde wat nes getroue lyfwagte al die pad saam met haar loop se koppe. “Julle twee is baie beter geselskap as al daardie mense.” Sy gaan sit op ’n omgevalle boomstomp en staar die donkerte in.

Heino se familie was nog net goed vir haar. In die afgelope week was sy broer, Mauritz, haar steun­pilaar en sy is baie dankbaar daarvoor. Hy was maar nog altyd daar vir haar wanneer sy hom nodig gehad het. Die bure se dogter hou egter nie baie daarvan nie. Sy bly nog steeds hoop dat hy háár sal raaksien. As hy nie alreeds het nie. Liané skud haar kop toe sy besef waaraan sy dink. Om oor Mauritz se lief­deslewe te bespiegel, gaan nie vir haar antwoorde op haar dilemma bring nie.

Die naglug laat haar koulik oor haar arms vryf. Sy moes haar baadjie aangetrek het, maar sy was te haastig om van al die mense af weg te kom en sy gaan nie net daarvoor terugloop huis toe nie. Om hier buite in die donker te wees, is eintlik nie baie wys nie, maar sy wil net vir ’n rukkie alleen wees. Die honde sal haar wel waarsku as daar fout is.

Liané kyk af toe die honde skielik opspring, en voel hoe ’n tikkie vrees haar beetpak. Sy sal dit nooit betyds terug maak tot by die huis as iemand haar sou oorval nie. Met gespitste ore luister sy en wag, haar blik op die honde. Hulle begin egter nie blaf nie, maar waai hulle sterte opgewonde; dus nie ’n skelm nie. Verlig blaas sy haar asem uit. Dalk, as sy maak asof sy die persoon nie sien of hoor nie, sal wie dit ook al is, weggaan. Dan herken sy die figuur wat woordeloos langs haar kom sit. Mauritz. Selfs in die donker kan sy nie sy lang, atletiese liggaam miskyk nie. Sy wonder of enige vrou kan. Getroud of nie, sy kan steeds ’n aantreklike man raaksien. Selfs nou as weduwee . . .

“Ek het gewonder wat van jou geword het.”

“Ek het vars lug nodig gehad. Die atmosfeer in die huis is besig om my te versmoor.”

“Ek kan nie met jou daaroor stry nie, maar dis reeds donker. Jy moenie alleen hier buite wees nie.”

“Seker nie.”

“Jy kry koud,” merk hy op, trek sy baadjie uit en hang dit om haar skouers.

Liané glimlag effens. “Dankie.” Sy sug sag toe die hitte van sy baadjie haar koue ledemate verwarm.

“Is jy oukei?” vra hy besorg.

“Nie regtig nie,” antwoord sy eerlik. “Wat van jou, Mauritz? Is jy oukei?” Hy en Heino was nooit na aan mekaar nie en het met tye baie vasgesit, maar hulle was steeds broers en Heino se dood moet vir hom net so moeilik wees.

“Nie regtig nie, maar dit sal mettertyd beter word.”

“Mettertyd,” herhaal sy en vou die baadjie stywer om haar. Dit klink op die oomblik soos ’n ewigheid. Sy draai haar kop en kyk met traangevulde oë op na Mauritz. “Wat is ek veronderstel om nou te doen, Mauritz? Alles voel so deurmekaar. Lihan is nog ’n baba, maar Darius weet sy pa kom nie terug nie. Die mense wat vandag hulle oë hier kom uithuil het, het meer tyd saam met hom spandeer as sy vrou en kinders.”

“Liané,” sê hy paaiend en vou sy arm om haar skouer, maar sy skud dit af en kom orent.

“Nee, Mauritz. Ek mag maar kwaad wees. Hy was selfsugtig,” val sy hom vererg in die rede. Sy is hartseer, kwaad, maar ook bitter. Heino het baie beloftes aan haar gemaak en nooit een van hulle nagekom nie. Ook nie aan hulle kinders nie. En dít maak haar die kwaadste.

“Hy was,” gee hy sag toe, kom orent, en laat rus sy hande op haar skouers.

“Ek is jammer.” Berouvol. Hy treur ook oor sy broer en nou gaan sy so te kere.

“Ek neem jou nie kwalik nie,” stel hy haar gerus, en tot haar verbasing trek hy haar in sy arms in en hou haar teen hom vas. Sy sug sag, vou haar arms om sy middel en gee haar oor aan die vertroosting wat hy haar bied. As hy maar net weet hoe nodig sy hierdie eenvoudige gebaar van hom het. Maar dis hoe sy hom leer ken het: meelewend en bedagsaam.

“Ek en die kinders gaan saam met my ouers terug Johannesburg toe. Ek moet net vir ’n rukkie wegkom,” sê sy gesmoord teen sy bors.

“Ek verstaan.” Hy laat haar hopeloos te gou gaan. Sy voel so veilig by hom en sou graag die oomblik wou verleng, maar dis seker onvanpas. “Moenie hui­wer om te bel as jy iets nodig het nie.”

“Dankie, Mauritz. Kan jy my asseblief ’n groot guns doen en daardie klomp mense uit my huis gaan verjaag?”

Hy lag sag. “Enige tyd.”


Een

Met ’n halwe oor luister Liané na haar twee kinders se vrolike geklets oor hulle dag by die skool. Hier en daar hoor sy iets van ’n partytjie en lekker koek en antwoord net ja, as hulle iets vra. Hopelik sê sy nie ja op iets wat eintlik nee moet wees nie. Dit klink darem of haar kinders hulle dag geniet het. Sy, aan die ander kant, is doodmoeg. Sy wil nou haar skoene gaan uitskop, koffie drink en net sit. Haar dag was vol probleme en moeilike kliënte. Wat het haar ooit laat dink om huise te verkoop sou ’n mak­like werk wees?

Die hysbak het skaars tot stilstand gekom, toe is die kinders by die deur uit.

“Lihan! Darius!” roep sy agterna terwyl sy rondskarrel om hulle rugsakke, haar handsak en skootrekenaar, die inkopiesakke en alles bymekaar te kry. Die deure begin toegaan en sonder om te dink, druk sy een van die rugsakke in die opening. Sy kreun sag toe sy die gekraak van plastiek hoor. Daar gaan nog ’n kosblik.

“Swaar dra al aan die een kant,” brom sy en volg haar kinders. Nugter alleen weet hoekom hulle in die eerste plek vooruit hardloop. Hulle gaan in elk geval vir haar voor die deur moet wag. Liané kreun weer, hierdie keer toe sy haar buurman, die woon­stelblok se opsigter, by die kinders sien staan. Sy het nie nou krag vir hom nie. Die man is nes ’n lastige vlieg wat al om ’n mens se kop draai.

Sy dwing ’n glimlag na haar lippe. “Middag, Os­car,” groet sy nietemin vriendelik.

Hy kom vinnig nader. “Wag, ek help jou met al daardie goed,” sê hy en begin sonder meer alles uit haar hande neem. Dankie tog! Haar arms pyn al van die gewig. Sy hou nou wel nie van die man nie, maar hy het goeie maniere en is behulpsaam teenoor al die vrouens. Een van die min goeie eien­skappe wat hy het.

“Dankie, Oscar. Jy kan dit sommer daar op die tafel neersit,” sê sy toe sy die deur oopstoot.

“Jou kinders is besig om vir jou ore aan te sit, Liané.”

Sy sug. En hier kom een van sy gereelde preke.

“Hulle is kinders, Oscar, van onderskeidelik ses en drie jaar oud,” herinner sy hom.

“Jy’s te sag met hulle, Liané. As kinders van jongs af geleer word om verantwoordelik te wees gaan hulle eendag baie goeie mans wees. Hardwerkend en pligsgetrou.” Sy glo nie noodwendig dit is waar nie, maar om met Oscar te stry, is sinloos. Haar opinie is dat kinders toegelaat moet word om kind te wees. Solank hulle weet hulle moet opruim waar hulle gemors het en hulle maniere onthou, is sy gelukkig. Soms bly die maniere egter vergete, maar hulle leer nog. Soos hulle ouer word, sal sy hulle meer verantwoordelikhede gee, maar nou is hulle nog te klein.

“Ek is ’n enkelouer, ek doen die beste wat ek kan.” Sy wens hy wil nou loop voordat sy haar humeur verloor. Iewers agter hulle hoor sy hoe die kinders die speelgoedkas op die vloer omkeer en sy sug weer.

“Seuns kort ’n pa se hand,” hou hy vol en sy voel lus om haar oë te rol. Dit het hy al tot vervelens toe gesê. Sy weet hy glo hy is die regte man om haar kinders op te voed.

“Ja, wel, hulle pa is oorlede, dus het hulle ongelukkig net vir my.”

“Ek is jammer, dit was nie my bedoeling om jou te ontstel nie,” sê hy vinnig en sit sy hand oor hare. Die gebaar laat haar koud. “Ek wil jou net help.”

Sy trek haar hand onder syne uit, loop na die deur en hou dit vir hom oop. Sy was lank genoeg gasvry. “Dankie, maar ek kom reg. My ouers is ook hier om my te help. Ek wil nie ongeskik wees nie, maar dit was ’n lang dag.”

“Natuurlik. Dalk kan ons twee oor die naweek iewers gaan uiteet? Ek is seker Petro of jou ouers sal nie omgee om na die kinders te kyk nie.”

Sy glimlag effens. Dit gaan nooit, ooit gebeur nie. “Ons sal sien.”

“Ons gesels dan later weer. ’n Geruste nag, Liané.”

“Dieselfde vir jou.” Met ’n sug van verligting sluit sy die deur agter hom. Nou gaan sy eers haar pantoffels aantrek voordat sy enige iets anders doen.

Sy loop in die gang af en klim kopskuddend oor die blokkies en karretjies wat haar pad versper.

“Ons sal weer alles optel, Mamma!” roep Lihan van iewers agter die bed.

“Waar het ek dit al vantevore gehoor,” brom sy. Sy gaan sit op die kant van die bed en trek haar pantoffels nader. Sy wil net haar skoene uittrek, toe daar ’n klop aan die voordeur is. Sy kyk verlangend na haar pantoffels voordat sy weer oor die speel­goed klim om die deur te gaan oopmaak. Hoekom moet mense jou altyd kom pla op die dae wat jy die moegste is? As dit Oscar is, jaag sy hom sweerlik weg.

Sy frons toe sy die vreemde blondine voor die deur sien. “Goeiemiddag. Kan ek help?” vra sy beleefd.

“Ek hoop so. Is u mevrou Liané Rautenbach?”

“Dis reg. Waarmee kan ek help?”

“Ag, dankie tog. Ek was so bang ek het weer die verkeerde adres.” Sy hou haar hand na Liané toe uit.

“Charmaine de Beer,” stel sy haarself al kouend voor.

Verward staar Liané na die vroumens. Hoe ken die vrou haar?

“Ken ons mekaar?”

“Nee, maar ek het al baie van jou gehoor. Heino het my van jou vertel. Maar weet jy wat, jy lyk glad nie na die ou heks waarvoor hy jou uitgemaak het nie.”

“Ekskuus?” vra Liané geskok.

“Ja, jong. Heino het my baie dinge van jou ver­tel. Pillow talk, jy weet mos.” En steeds beweeg haar kake onverpoos voort.

Onbegrypend kyk Liané na die blondine voor haar. Sy is nou baie deurmekaar. Waar kom die vrou­mens nou skielik vandaan?

“Ek . . .” begin sy en maak haar keel skoon, nie seker wat sy daarop moet sê nie. “Is jy seker jy is by die regte adres?”

“Doodseker,” antwoord die vrou, grou in haar handsak en hou ’n foto na Liané toe uit. Liané moet aan die deur vashou om haar balans te hou terwyl sy na die twee mense op die foto staar. Dis on­miskenbaar Heino.

“Was julle in ’n verhouding?”

“Ja.” Net die een woordjie laat haar hart in haar skoene sink. Sy het geweet Heino was ontrou, maar duidelik was daar baie meer vrouens in sy lewe as waarvan sy bewus was. Om van aangesig tot aangesig met een van hulle te kom, maak sy ontrouheid net ’n groter werklikheid, dink sy bitter. Hoeveel an­der was daar dan nie nog nie?

“Mamma!” dring Darius se stemmetjie tot haar deurmekaar gemoed deur. Liané kyk vinnig om na waar die kinders grootoog na die gesprek staan en luister. Sy ruk haar met moeite reg en kry dit selfs reg om vir hulle te glimlag.

“Wil julle twee nie vir ’n rukkie by tannie Petro gaan kuier terwyl ek en die tannie gesels nie?”

“Ons wil eerder buite speel,” kla Lihan.

“Dis reeds laat en koud buite, liefie. Ons kan môre buite speel,” belowe sy en wend haar weer tot die vrou. “Verskoon my net ’n oomblik, asseblief.”

“Natuurlik.”

Liané neem die kinders tot by Petro se deur en stap dan terug na haar woonstel. Sy haal ’n slag diep asem toe sy die vroumens steeds buite die deur aantref.

Sy hou die deur oop. “Ek dink jy moet eerder inkom. Die bure hou van skinder.”

“Jy het ’n lekker plekkie hier.”

“Dankie.” Liané beduie met haar hand vir die vrou om te sit voordat syself ook op die punt van die rus­bank gaan sit.

“Was dit jou kinders?”

“Ja.” Haar kinders het niks met hierdie vrou te doen nie. “Hoekom is jy hier?”

“Heino het gesê hy gaan met my trou,” begin sy. “Dis nou nadat hy van jou sou geskei het. Ek het daarop aangedring.”

Liané wil vir die vrou sê dat Heino nooit met haar sou getrou het nie, maar hou die gedagte vir haar­self. Hy was hopeloos te selfsugtig om enigiemand anders geluk te gun. Dit het hom gepas om getroud te wees, al was hulle albei bitter ongelukkig. As sy geweet het wat sy nou weet, het sy jare gelede van hom geskei.

“Hoe lank het julle ’n verhouding gehad?”

“Nege maande. En toe is hy so skielik dood. Ek wou baie graag na sy begrafnis toe gegaan het, maar my ouers het gevoel dat dit onder die omstandighede beter sou wees as ek eerder nie gaan nie.”

Liané knik en kan nie help om te wonder of die vrou regtig so dig en dof is as wat sy voorgee nie. Sy gee beslis nuwe betekenis aan “dom blondine”. Blond, kurwes op al die regte plekke en beeldskoon. Presies die tipe waarna Heino altyd gekyk het. Die tipe waarmee hy keer op keer verhoudings gehad het. Tot sy frustrasie het sy geweier om haar hare vir hom blond te kleur. Hy moes maar vrede maak met haar donker lokke. Hy het duidelik toe sy ple­sier elders gaan soek.

“Heino is al twee jaar terug oorlede. Wat bring jou nou hierheen?” vra Liané weer.

“Wel, aangesien ek en Heino so te sê verloof was ten tyde van sy dood, en ons saam ’n kind gehad het . . .”

“Ekskuus?!” val Liané haar geskok in die rede. Net toe sy dink dat die voorbarige vroumens nie nog iets kan sê wat haar kan skok nie, los sy hierdie bom.

“Ja. Ook ’n seuntjie,” antwoord die blonde vrou opgewek. Weereens word die groot handsak oop­gemaak en word daar gegrawe vir nog foto’s.

“Is hy nie pragtig nie? Hy’s nou twintig maande. My ouers maak hom groot. Jou seuns het nog ’n boetie.”

’n Boetie waarvan sy hulle nie gaan vertel tensy dit absoluut nodig is nie. Hoe gaan sy dit in elk geval aan hulle verduidelik? Ek is jammer, maar julle pa was nie tevrede met een vrou nie?

“Ek sien. Is dit hoekom jy hier is? Oor die kind?”

“Jy sien, ek het onlangs my werk verloor en my nuwe vriend is ook sy werk kwyt, so ons is ’n bietjie in die knyp. Ons het geld nodig; toe dink ek, aangesien my kind wel ’n ryk pa gehad het, maak dit hom seker ook geregtig op die weelde waaraan sy ander kinders gewoond is? As jy net vinnig ’n tjekkie kan skryf of ’n inbetaling vir my kan doen wat my huur en leefstyl sal akkommodeer, sal ek dit baie waardeer. Ek skat so twintigduisend rand ’n maand sal genoeg wees.”

Liané gaap die vrou oopmond aan. Sy voel lus om die kougomborrel wat sy sit en blaas, in haar gesig te laat inplof. “Waar dink jy moet ek daardie klas geld vandaan kry? Ek werk vir my inkomste so­dat ek vir my kinders kan sorg. Dink jy regtigwaar vir een oomblik ek sou in dié klein woonstelletjie gebly het as ek iets beters kon bekostig?”

“Maar Heino was dan ’n ryk man!” Heftig. “Hy het altyd vir my duur juwele en klere gekoop. En die hotelle waarin ons gebly het wanneer ons met vakansie gegaan het, was net van die beste.”

Liané staan met wankelrige bene op. “Alles wat hy besit het, is verkoop om sy skuldeisers te betaal. Ek is jammer, maar ek is bevrees ek kan jou nie help nie.”

“Maar wat van sy spogplaas?” hou die vrou vol. “Dis tog seker net reg dat ek ’n deel van die inkomste kry? Ek moet my kind onderhou. Heino was sy pa.”

“Ek weet nie waar jy aan al jou inligting kom nie, maar Heino het nog nooit in sy lewe ’n plaas besit nie. Die spogplaas waarvan jy praat, behoort aan sy pa en broer. Jy sal met hulle in kontak moet tree. Nou sal jy my asseblief moet verskoon, my kinders moet kos kry.”

Die vrou het laas nog gesit en borrels blaas. Nou druk Liané die deur in haar gesig toe en leun vir ’n oomblik met haar rug daarteen. Sy vryf met haar hande oor haar gesig en wens alles wat so pas ge­beur het, kon as ’n droom afgemaak word. Die vrou se skerp, goedkoop parfuumreuk wat nog in die vertrek hang, maak haar skielik naar. Sy moet hier uitkom.

Sy loop vinnig in die gang af en pak vir haar en die kinders ’n tas. Sy sal vir Mauritz moet bel. Die vrou sal nie ophou totdat sy gekry het wat sy wil hê nie. Dis beter as hy voorbereid is op wat kom.

Liané haal haar selfoon uit haar handsak en ter­wyl sy die ligte afskakel en die deur sluit, skakel sy Mauritz se nommer vir die eerste keer in twee jaar. Sy sug toe die foon net aanhou lui en lui. Hy is seker nie naby sy foon nie. Dan maar ’n boodskap los.

“Mauritz, dis Liané. Bel my sodra jy die boodskap kry. Dis baie dringend. Daar het vandag iets gebeur wat ek voel jy moet weet.” Sy hoop hy bel haar terug voordat ene Charmaine de Beer voor sy deur opdaag.


“Liané?” groet Gerhard verras toe hy vir hulle die deur oopmaak.

“Hallo, Pa.”

“Oupa!”

Laggend hou hy sy arms oop en druk die seuntjies styf vas. “My twee aapsterte! Gaan kyk, Ouma is in die kombuis. Sy maak vir ons lekker aandete.”

“Wat wed ek Pa sy gaan vir hulle koekies gee?”

Gerhard lag en vat die tas by haar. “Sonder twyfel. Gaan jy my vertel wat fout is?”

“Moet daar iets fout wees voordat ek kan kom kuier?” antwoord sy met ’n teenvraag.

“Nee, maar jy’s doodsbleek en jou oë is so groot soos pierings.”

“Pa laat my klink soos ’n spook,” brom sy.

“Dis bloot my eerlike opinie.”

“Ek sal julle later vertel. Nou moet ek eers my twee woelwaters in die bad kry.”

“Nou goed. Gaan gesels jy met jou ma, dan sal ek die kinders skoon kry voor aandete.”

“Lekker warm Milo,” kondig Elmarie aan, en hou die beker na Liané uit voordat sy langs haar man gaan sit.

“Dankie, Ma.” Sy vou haar bene onder haar in en maak haar koue hande teen die beker warm. Dis net jammer daar is op die oomblik niks wat die koue ge­voel in haar binneste kan verwarm nie.

“Gaan jy ons vertel wat fout is?”

Liané haal ’n slag diep asem. Wat sy vandag vir haar ouers moet vertel, gaan hulle skok. Sy het nog al die jare Heino se ontrouheid vir haarself gehou. “Daar het vanmiddag ’n vreemde vrou by my op­gedaag. Ene Charmaine de Beer. Sy was een van Heino se minnaresse.”

“Wat?!” vra Elmarie geskok.

“Die vark!” Gerhard praat deur saamgeperste lippe.

“Ek wens ek kon sê dis nie die tipe man wat hy was nie, maar Charmaine was nie die enigste een nie. Sy is egter die eerste een wat ’n kind saam met hom gehad het. Ook ’n seuntjie.”

“Laat ek raai? Sy soek geld.” Haar pa vra dit nie, hy sê.

Liané knik. “Twintigduisen rand ’n maand be­hoort te voldoen aan haar eise. Sy soek dit vir haar­self, nie vir die kind nie. Nou glo sy ek steek miljoene iewers weg waarop sy ook geregtig is.”

“Ek is jammer, my kind,” sê Elmarie simpatiek. “Hoekom het jy ons nie vertel wat aangegaan het nie?”

Sy trek haar skouers op. “Ek was skaam en ont­nugter. Ek was die een wat met sterre in my oë geglo het ek sou hom kon verander. ’n Jakkals verander egter van haar, maar nie van snaar nie.”

“Dis ongelukkig waar. Hy was baie sjarmant, maar ek het dit nie van hom verwag nie. Hoe het sy jou opgespoor?”

“Ek weet eerlikwaar nie. Ek was so geskok, ek het nie eens daaraan gedink om haar te vra nie. Ek het vir Mauritz gebel en nou wag ek maar om van hom te hoor. Ek het ’n spesmaas sy gaan binnekort haar opwagting op die plaas maak.”

“Sonder twyfel. Wat gaan jy nou doen?”

“Ek weet nie,” antwoord Liané en vee oor haar oë. “Ek is te moeg om te dink. Die week was net te lank. Al waarvan ek wel seker is, is dat ek nie die kinders hierby wil insleep nie.”

“Liané, indien die vroumens die waarheid praat, het Darius en Lihan ’n boetie.”

Sy sug beswaard. “Ek weet. Ek kan nie nou daaraan dink nie. Ek dink ek gaan ook nou maar inkruip. Môre in die daglig sal my brein hopelik weer begin werk. Lekker slaap, julle.”


In haar kamer skop sy haar pantoffels uit en kruip onder die warm komberse in. Sy tel haar selfoon op, maar steeds is daar geen oproepe óf ’n boodskap van Mauritz nie. Sy weet nie eens of dit nog die regte nommer is nie. Ná sy van die plaas af weg is, het sy stelselmatig kontak met hom verloor. Sy bel gereeld haar skoonouers en die kinders praat elke Sondagaand met hulle. Soms het sy Mauritz se stem in die agtergrond gehoor en dit het ’n vreemde gevoel van verlange na hom ontketen; iets wat tot gevolg gehad het dat sy hom begin vermy het. Sy sug en sit die selfoon op die bedkassie neer. Dan wikkel sy dieper onder die komberse in en wag vir die slaap om te kom.