Uittreksel | Haar grootmensliefde

Een
“Ag liewe genade, moet ek dan alles vandag met ’n lepel vir julle ingee? Kamera vier, is jy aan die slaap? Jy gaan al die aksie mis . . . Daar’s hy, dis beter! Kamera vyf, uit fokus! Waar is jou oë?! Hou op kyk vir die poppies langs die veld, hou jou oog . . . ag, verdomp!” Vererg pluk sy die gehoorstuk van haar ore af, net om dit blitsvinnig weer terug te plaas. Sy kan nie bekostig om vir ’n sekonde konsentrasie te verloor nie, anders is sy net so erg soos haar kameramanne op die oomblik.
“Kamera een, dankie tog! Ja, ja, já! Right, kamera vier, volg die bal . . . yes! Het hom! Vyftien sekondes oor, hou dit, kamera vier . . . Daar blaas die eindfluitjie, dankie tog! Dankie, manne, kry julle hier by die beheerkamer.” Moeg pluk sy die gehoorstuk weer van haar ore af en gooi dit op die lessenaar voor haar neer. Sy neem ’n diep teug water uit haar bottel en vryf haar hande deur haar kort swart hare en teen haar nek af tot by haar skouers. Alles is skoon stram van die spanning.
Sy buk vooroor en haal twee hoofpynpille uit haar rugsak wat op die vloer lê.
“Wat ’n lang uur en ’n half was dit nie,” brom sy. Dis nie die eerste keer dat sy ’n belangrike sokkerwedstryd regisseer en die kameramense bestuur nie, maar vandag het dit werklik taai gegaan. Dit het nie gehelp dat dit nie ’n besonder opwindende wedstryd was nie, seker die dat almal se aandag nie ten volle by hulle werk was nie. Dit is wel vreemd, want die manne is almal professioneel.
Om haar is almal besig om take af te handel en op te pak. Marnus en Don is reeds buite, seker besig om te rook. Die deur van die beheerkamer gaan weer oop en die kameramanne kom een vir een in om hul kamerakaarte in te gee sodat hulle ook huis toe kan gaan om hul moeë voete te laat rus. Hulle swaar kameras word behendig hanteer en vasgehou; vir hierdie videograwe is hulle toerusting bloot verlengings van hulle hande.
“Juta, jy’s taai vanmiddag,” mor Giel in sy dik stem. “Ek was nie uit fokus nie, waar kom jy daaraan?”
“Ja, ek ook nie,” kla Werner. “Jy was heeltyd op my case, wat gaan aan?”
Vir ’n oomblik is Juta stil. “Ek wil nie verder met julle baklei nie, maar ek het tog duidelik gesien dat julle kort-kort uit fokus was. Nogal vreemd, ek weet, veral vir jou, Giel.” Hy mag dalk soos ’n bosbewoner lyk met sy groot baard en wilde hare, maar hy is die beste kameraman wat sy ken.
“Dit het dalk nie vir julle so gelyk nie, maar ek weet wat ek gesien het. Toe, maak klaar, dat ons hier uitkom. Ek het klaar betaling ontvang vir vandag se werk, ek sal julle netnou betaal.”
’n Volle uur later is Juta uiteindelik klaar en verlaat die stil gebou. Dit het reeds donker begin raak, merk sy op toe sy na haar motor toe loop. Dankie tog die seisoen is besig om te draai, dit was weer ’n besonder warm somer. Marnus, die klankingenieur, is ook op pad uit.
“Ons klomp gaan ’n bier drink by Papa’s, wil jy join?” vra hy.
“Dankie, maar nee dankie,” antwoord sy sonder aarseling.
“Nes jy wil, maar dit sal dalk goed wees – die manne se spoed is ’n bietjie laag, jy was taai met almal vandag.” Hy trek sy skouers op. “Maar jy weet seker wat jy doen – jy is nie verniet die beste sokkerregisseur in die land nie. Het jy ’n date met jou rugbyheld vanaand?”
“Nee, hy is na sy ouers toe op die plaas. Ek is net moeg. En jammer as ek moeilik was, maar ek kan nie help as almal vandag nie op standaard was nie. Ek voel net nie . . . myself nie. Dink ek gaan bad en maar vroeg inkruip.” Hulle groet, en sy klim in haar RAV4 en ry so vinnig moontlik by die sportstadion uit.
Vandag was inderdaad ’n baie lang dag. Vanoggend was dit rugby, nou wel net klubrugby, maar nietemin. Sy is uiteindelik stadig besig om daardie sport binne te dring, maar dit bly steeds ’n manlik gedomineerde, ietwat chauvinistiese wêreld. Wat weet ’n vrou nou eintlik daarvan om rugby behoorlik af te neem, volgens die bestuursraad. Sekerlik is ’n vrou in staat om die program te produseer en beheer? Sy sal hulle wys, sy wat Juta is . . . sy sal hulle wys.
Sy stop gou by die Woolies Quick Shop om melk en iets vir aandete te kry. Normaalweg is sy stormhonger ná so ’n lang dag waarin daar nie tyd is om te eet nie, maar vanaand laat die gedagte aan kos haar maag onverwags draai. Nee wat, ’n koppie lekker soet tee en ’n stukkie van Lydia se semelbeskuit sal maar die ding moet doen.
Uiteindelik is sy tuis, en Wally is soos gewoonlik uit sy kassie uit om haar te sien. “Ja, jou simpel ding,” groet sy liefdevol, en ruk onthuts haar hand weg toe hy weer onverwags na haar hap. Hy byt haar nie hierdie keer stukkend nie, dis meer ’n knyp, want sy het betyds gekeer. “Nee, man, Wally, wat de hel gaan deesdae met jou aan? Jy’s moeilik! Die pleisters van laas keer sit nog, jy het my laat bloei!”
Hy staan sy man en knor onverwags, en Juta voel hoe die skrik soos elektrisiteit teen haar rug afloop. Sy retireer, maak geen oogkontak nie en loop dan ’n wye sirkel om hom om by die kombuis uit te kom. Wat gaan met haar hond aan? Sy het hom nou al ’n hele paar jaar, maar die laaste paar weke begin hy al hoe vreemder optree. Sy oë blink ook anders as gewoonlik wanneer hy so vir haar knor of na haar hap.
Sy skink vir haarself ’n lang glas koue water, en besluit om eers in die bad te gaan ontspan. Sy skakel musiek aan, en die diep klanke van Theuns Jordaan se donkersjokoladestem maak dadelik alles beter. Die badwater is heerlik, en skop vir skop herleef Juta die laaste wedstryd van vanmiddag in haar kop. Waar kon sy verbeter het? Ingedagte trek sy die nat pleister van haar arm af waar Wally haar vroeër in die week gebyt het. Nee wat, dit blyk heel goed te genees.
’n Uur later sit sy rustig en tee drink en beskuit eet toe haar foon lui. Dis Rudi, haar kêrel. “Hi, my ding, hoe gaan dit met jou?” vra hy opgeruimd. “Hoe het dit met die sokker gegaan?”
“Nee, heel goed, dankie, behalwe vir die kameramanne wat so gesukkel het om te fokus, ek weet regtig nie wat het met hulle aangegaan nie,” mor sy. “En hierdie blerrie Wally het my sowaar as vet weer probeer byt. Ek pos hom nog saam met die kameramanne!”
“Sonder provokasie? My ding, jy moet ondersoek instel, hy gaan nog vir jou seermaak. Trouens, hy het jou al klaar beseer. Iets is nie reg daar nie – hy doen dit nooit met my nie, net met jou.”
“Ja, wel, hy is seker ook maar ’n chauvinis soos die meeste mans,” sug sy. “Hy sal nie vir jou gaan nie, want jy’s ’n outydse ses voet drie in jou sokkies en hy ’n wollerige . . .”
“Cocker-dinges,” lag Rudi. Dit is ’n ou grap tussen hulle.
“Cockerdoodle. Is dit lekker op die plaas? Hoe geniet jou ma haar verjaarsdag?”
“Ja, dis altyd lekker hier. In party opsigte wens ek ek was al klaar met rugby en kon voltyds kom boer; my pa word oud. Al die kontrei se mense is hier, en ons kuier ’n hond uit ’n bos uit. Almal wou weet waar jy is.” Weer die effense beskuldiging, die olifant wat deesdae kort-kort in die vertrek kom staan.
“Ja, wel, ek moes werk, jy het dit sekerlik vir hulle gesê?” Sy sukkel om die styfheid uit haar stem te hou.
“Ja, ja, ek het.” Skielik droog hul gesprek op, en sy hoor behoorlik hoe hy rondtas vir nog iets om te sê.
“Ek moet gaan, ek voel nie baie lekker nie,” gee sy vir hom glipkans.
“Goed. Goed, my ding, ek hoop jy voel gou beter,” sê hy verlig. “Ek is Maandag terug. As jy af is, sal ek jou kom haal, dan gaan slaan ons ’n bietjie voet daar in Hartbeespoort se berge. Ons het lanklaas iets lekkers saam in die buitelug gedoen.” Hulle groet en sy gooi haar foon geïrriteerd langs haar op die bank neer. Ai, as hy tog net wil ophou neul oor die plaas! Sy weet eintlik nie meer wat om vir hom te sê nie. Hy praat kort-kort van haar wat saam met hom plaas toe moet gaan wanneer hulle oor ’n jaar of twee trou.
“Jy weet jy is ook nie meer ’n jong bokkie nie, Juta. As ons kinders wil hê, kan ons nie te lank wag nie.” Of: “Jy weet ek is mal oor jou. Ek kan vir jou sorg, jy kan iets anders doen en hoef nie so hard te werk nie.” En: “Ek kan nie verstaan hoekom jy so hard werk om jouself te bewys in ’n mansberoep nie.”
En so aan, en so aan. Sy, ’n plaasvrou? ’n Mammie-met-’n-Fortuner wat heeldag met die kinders heen en weer ry en Saterdagaand bontstaan vir ’n braai saam met die bure, soos wat sy ma nou doen?
Eintlik kan sy aan niks erger dink nie. Sy is tog ’n loopbaangeoriënteerde vrou, kan hy dit dan nie sien nie? Hy moes dit tog van die begin af geweet het. Sy het nooit gemaak of sy enigiets anders is nie. Het hy werklik gedink dat hy haar gaan verander? Sy moes seker nie by hom betrokke geraak het nie, maar sy het nooit verwag dat hulle verhouding ernstig sou word nie; dit was nooit deel van haar plan nie.
Maar as sy aan Rudi dink, word haar hart tog sag. Groot, mooi Rudi van Biljon, blitsvinnige vleuel vir die Stormers. Met bos amper swart hare en donker oë . . . Hy is moeilik weerstaanbaar vir al wat vrou is, haarself inkluis. En boonop is hy ’n outydse gentleman en het ’n regte malvalekkerhart. ’n Perfekte kombinasie. Sy moet sekerlik haar kop laat lees. Die meeste van die vrouens wat sy ken – nie dat sy eintlik vriendinne het nie, daarvoor is daar nie tyd nie – sou hul oogtande gee vir ’n man soos Rudi, veral een wat wil trou ook!
Maar sy is te moeg en seer om nou daaraan aandag te gee, sy sal môre of volgende week weer daaroor tob. Nou gaan sy vir Wally kos gee en in die bed klim. Haar foon lui weer, en afgetrokke kyk sy daarna – Bella. Sy is tog nie nou lus vir haar sussie nie, sy wil seker net weer vertel oor ’n partytjie wat sy vanaand bywoon. Bella neig om oppervlakkig te wees, sy het nie nou krag vir haar nie, sy sal haar môre bel. Die battery wys net een strepie en sy prop die kragkabel langs haar bed in en klim onder die duvet in.
Haar kop wil bars. Sy hoop nie sy is besig om koors te ontwikkel nie, dit voel nogal so.
Iewers in die vroeë oggendure word sy wakker. Alles, maar alles pyn. Dit voel of haar kop te swaar is om op te tel, en die sweet tap haar af. Iets is fout, maar wat dit is, kan sy nie verklaar nie. Haar kop draai, dit is makliker om net te . . . te . . .
Dit is lig buite toe sy weer wakker word, en hierdie keer weet sy sy is in die moeilikheid. Iets is radikaal verkeerd. Maar toe sy haar arm uitsteek om haar foon te vat om iemand te probeer bel, voel dit of iemand haar kop en nek aan die kussing vasgespyker het. Sy lê daar, hygend van pyn, en raak bewus daarvan dat die lakens om haar deurdrenk is van die sweet. Vir ’n ruk lê sy net so, en hoop dat die pyn sal vervaag, maar dit gebeur nie. Uiteindelik skuifel sy na die kant van die bed toe om haar selfoon op die verste punt van die bedkassie in die hande te kry – die draad is net te ver van die prop af. Maar sy strek net te ver en tuimel van die bed af net toe haar hand om die apparaatjie sluit. Sy kap haar kop teen die laai en bly net daar op die mat lê, haar bene vasgedraai in die lakens, en dan sak die donkerte weer op haar neer.
Toe sy bykom, is haar keel kurkdroog en seer. Sy moet iemand bel. Sy is selfs te pap om paniek te ervaar. Rudi sal eers teen vanaand agterkom dat iets nie pluis is nie. Gelukkig is die selfoon se draad naby haar, en met bewende hande sleep sy dit nader. Sy kan nie mooi sien nie, en druk die knoppies, hoopvol. En dan hoor sy dit, Bella se stem.
“Hi, Sus, hoe gaan dit? Is dít nou tyd om my terug te bel? Sus? Juta?”
“Help my,” fluister sy skor, en dan is sy weer weg.
Sy kan mense om haar sien beweeg, maar kan hulle nie hoor nie, daar is net ’n dringende suising in haar ore. Haar kop is steeds ondraaglik seer en haar nek stokstyf. Juta probeer haar hand optel, maar kan nie, en kom dan met ’n skok agter daar is ’n naald in haar hand en haar hand is vasgemaak. Wat gaan aan?
Dan buk iemand met ’n masker aan oor haar – seker ’n dokter, so, sy is darem in die hospitaal, hopelik sal sy netnou beter begin voel. Maar die man het handskoene en ’n kleed ook aan; het hy dan op haar geopereer? Is sy in die teater? Hy skyn ’n liggie in haar oë, en sy probeer terugdeins vir die nuwe pyn wat dit bring, maar kan nie. Genadiglik neem hy die lig weg. Dit lyk of hy praat, want sy kop beweeg, maar sy kan niks hoor nie.
Die volgende keer toe sy wakker word, voel sy effens beter. Alles pyn steeds, maar sy voel nie meer so opgeswel dat haar vel letterlik daarvan wil bars nie. ’n Verpleegster staan langs haar, besig om ’n drup na te gaan. Sy maak klaar en merk dan op dat Juta wakker is. Sy smeer iets aan haar pasiënt se droë lippe, en haar kop met die masker aan beweeg, maar weereens kan Juta niks hoor nie. Sy tel haar regterhand op, en tot haar verbasing reageer dit, en sy beduie na haar ore om te wys dat sy nie kan hoor nie. Die verpleegster wys met haar duim. Klaarblyklik verstaan sy. Hierdie keer bly Juta langer wakker. Die verpleegster verdwyn by die kamer uit en kom ’n paar minute later terug met nog ’n verpleegster en twee mans, seker dokters.
Wat gaan aan? Hoekom kan sy hulle nie hoor nie? Sy draai haar kop – sy kan dit steeds nie optel nie – en sien die venster wat op die gang uitkyk. Tot haar verbasing staan Bella daar, en Lydia, haar ander sussie. Rudi is ook lewensgroot in die agtergrond. Hulle lyk almal doodmoeg en bekommerd, skoon vaal in die gesig. Beteuterd waai hulle vir haar, en sy roer haar vingers in erkenning. Lydia begin sommer huil.
Die dokter vat aan haar skouer en sy kyk na hom. Hy hou ’n vel papier op, en daarop staan in groot swart letters: Jou gehoor is aangetas, maar ons kyk na jou. Probeer slaap.
Hoe kan haar gehoor wat aangetas is haar so vrot laat voel? Gehoorsaam maak sy haar oë toe. Dit is baie makliker as om te probeer verstaan wat de hel hier aangaan.
Elke keer wat sy wakker word, is sy bewus daarvan dat sy darem nie erger voel nie, maar ook nie veel beter nie. En sy weet steeds nie wat gebeur het nie. Uiteindelik – sy het lankal tred verloor met tyd – kom sit die dokter weer langs haar op die bed, steeds geklee in sy volle mondering, nes al die ander personeel wat haar kamer besoek. Hy sit met ’n klomp papier in sy hand, en ’n pen, en hy begin skryf.
Jy het bakteriële meningitis opgedoen. Dit is baie gevaarlik, maar jy is besig om te herstel. Jy was baie gelukkig.
“Hoekom het julle al hierdie klere aan?”
Jou toestand is hoogs aansteeklik. Jy is onder kwarantyn.
“Hoekom kan ek jou nie hoor nie? My ore suis net.”
As gevolg van die siekte. Hopelik word dit beter soos jy herstel.
Sy frons. “Dis baie lastig.” Hy knik. “Hoe lank is ek al hier?”
Nege dae.
“Nege dae? Dis onmoontlik! Nege dae?” Hy knik weer. Sy kyk na die gangvenster – daar is niemand nie, net ’n verpleegster in ’n gewone uniform sonder Hazmat-mondering wat verbystap.
Jou familie was elke dag hier, hulle is pootuit. Hulle sal seker vanaand weer kom. Jy sal seker môre klaarmaak met kwarantyn, dan kan hulle inkom om jou te sien.
“Maar . . . maar waar sou ek so iets opgetel het?”
Ons probeer nog uitvind. Rus nou eers, ons praat later weer. Ek los die pen en die papier hier as jy verdere vrae het of iets benodig.
Hy staan op om te loop, en sy is te verdiep in haar eie gedagtes om hom te groet of kennis te neem van sy vertrek. Haar kop begin weer erg pyn. Nege dae? Dis onmoontlik, hy maak sekerlik ’n fout.
Toe sy weer haar oë oopmaak, sien sy vir Bella, Lydia en Rudi weereens buite haar venster staan. Hulle waai almal vir haar, en hierdie keer is sy blyer om hulle almal te sien. Tot haar verbasing sien sy haar pa ook daar – sy moet baie siek wees as hy gekom het! Hy lyk nie goed nie. Die drank begin nou regtig sy tol eis aan ’n eens aantreklike gesig. Sy wonder of Lizette, sy blonde vroutjie, ook daar is, maar gee nie genoeg om om te probeer vasstel nie.
Sy raak bewus van al die pype wat aan haar gekoppel is, en ’n kateter wat brand. Liewe hemel, sy was nog nooit in haar lewe eens in ’n hospitaal nie, nou dit.
Bella hou ’n papier op. Ons is so bly om jou te sien! Sy glimlag stram. Hoe voel jy?
“Goor, dankie. Of ’n trein my getrap het.” Maar hulle kan haar natuurlik ook nie deur die dik glas hoor nie, en Juta hou maar haar duim omhoog. Lydia se groot groen oë swem weer in die trane; sy was nog altyd die sagste een van hulle drie susters. Bella lyk verlig, en Rudi . . . Rudi lyk ook of ’n trein hom getrap het. Sy donker oë het diep swart kringe daaronder en opeens kry sy hom jammer. In sy wêreld as ’n bekende rugbyheld is daar nie veel rede tot kommer nie behalwe die moontlikheid dat ’n ontydige besering sy sportloopbaan vroegtydig kan kelder. Hy glimlag en vee dan vervaard na sy oë wat klaarblyklik brand.
Vir ’n ruk staan hulle almal hulpeloos vir haar en kyk, maar dit raak vinnig ongemaklik omdat hulle nie kan kommunikeer nie. Juta draai haar kop weg, dit sal makliker wees om te slaap, om hulle nie te sien nie. As die dekselse gesuis in haar ore net wil weggaan!
Toe sy weer wakker word, is die hospitaal se ligte gedemp vir die nag en haar familie is weg.
En die donnerse gesuis is steeds daar.
Juta is met tye nou helder wakker, en kan vir kort tye haar kop regop hou sonder dat dit voel of dit wil afval. Een van die pype is uit haar arm verwyder, maar sy lê steeds plat op haar rug. Sy word deur ’n fisioterapeut versorg, en kort-kort vervoer hulle haar in rolstoel na ander afdelings toe vir verskeie toetse. Daarvan was daar genoeg! Sy is smoorkwaad en hap na almal. Toe die dokter vroeër daar was, het sy hom probeer vaspen vir antwoorde, maar voordat hy kon antwoord, het ’n baasspelerige suster hom kom wegswiep na iemand anders toe.
“Kry daai dokter hier, asseblief,” gebied sy die rooikopverpleegster wat by haar kamer inkom. Sy is nie meer so baie hier by haar nie, sy beter maar haar kanse vat as sy antwoorde wil hê. Haar eie stem klink vir haar vreemd; sy hoor dit binne haar kop, maar nie met haar ore nie. “Julle gaan nou, vandag vir my sê wat hier aangaan!” Vir ’n oomblik huiwer die verpleegster en lyk of sy na die lyntjiespapier wil reik om vir haar ’n boodskap te skryf, maar Juta pluk dit voor haar weg met haar goeie hand. “Gaan!” gebied sy, en die verpleegster skuifel soos ’n bang hond by die kamer uit.
Wat soos ’n ewigheid later voel, is sy terug met die dokter. “Hallo,” vorm sy mond die woorde. “Ek hoor jy soek na my?” Hy sit sy masker weer terug.
“Ja, jy kan dit weer sê. Ek wil weet wat aangaan! Niemand kyk my in die oë nie, niemand antwoord my vrae nie. Weet julle nie wat verkeerd is met my nie, of wat? My kwarantyn is tog verby, wat is volgende? En hoekom kan ek steeds niks hoor nie?”
Hy trek ’n stoel nader en vat die foliopapier by haar. Sy gee vir hom die pen aan wat nou permanent op haar bedkassie lê.
Ons weet wat is fout, juffrou Enslin. Ons was net besig om die skade te probeer bepaal, sodat ons vir jou behoorlike antwoorde kan gee.
Die waarheid is dat jy bitter, bitter siek was. Die meeste mense maak dit nie met hierdie siekte nie, of verloor ledemate omdat die bloedtoevoer afgesny word.
Haar hart klop soos ’n fladderende voëltjie binne haar borskas. “Wat probeer jy eintlik sê?” onderbreek sy hom ongeduldig. Sy weet sy is altyd geneig tot ongeduld, maar nou is dit nog erger as gewoonlik. Dit voel asof iemand al die senuwees in haar liggaam met ’n rasper geskraap het.
Jy het heelwat skade, juffrou Enslin. Ek is baie jammer. Jou vestibulêre stelsel kan nie herstel nie. Maar jy het darem al jou ledemate behou.
“Wat . . . wat beteken dit . . . vir my?” Opeens pak vrees soos onweerswolke binne haar saam sodat sy wil opgooi daarvan.
Jy het jou gehoor verloor, jy het dertig persent in een oor, die ander een het niks. En jou balans is daarmee heen. Jy sal waarskynlik nooit weer normaal kan loop nie.
Skok skiet soos ’n elektriese straal deur haar en haar kop en nek begin opnuut pyn. Onwillekeurig ruk haar bene en sy skop teen die beddegoed. “Maar . . . maar dis onmoontlik. Kyk, ek kan hulle beweeg,” stotter sy.
Jou bene makeer niks. Dit is in jou brein waar die skade lê. Jou brein glo nie meer dat jy kan loop nie.
“Maar – maar wat van my werk? Hoe sal ek geld kan verdien? Ek het my gehoor nodig vir my werk . . . En wie sal na my kyk?” vra sy met afsku.
Ek is baie, baie jammer, juffrou Enslin. Ek wens ek het beter nuus vir jou gehad. Raak gewoond aan die idee, dan praat ons weer môre en kyk na die pad vorentoe. Baie mense kom heel goed oor die weg, ’n mens pas tog aan. Ons gaan môre vir jou ’n voorlopige gehoorstuk insit, en kyk of dit help. Wanneer jy herstel het, sal ons kyk of jy ’n geskikte kandidaat vir ’n kogleêre inplanting is, maar ek moet jou waarsku, die kanse is skraal. Hy druk saggies haar skouer, en draai dan om om te loop.
“Dokter!” roep sy benoud en hy steek in sy spore vas by die saaldeur. “Is jy seker?”
Hy knik, en die jammerte in sy oë is vir haar amper te veel om te verduur.
Sy, Juta Enslin, ’n invalide? ’n . . . Gestremde? Wat van haar loopbaan? En Rudi? Wat van arme Rudi? Hy sal mos nooit regkom met ’n vrou wat nie eens regop kan staan nie, laat staan nog draf of bergklim, of gym . . . Wat nog te sê kinders grootmaak!
Watwou, hy kan nie eens meer ’n behoorlike gesprek met haar voer nie, want sy kan nie donners hoor nie.
Net ’n ewige, solitêre suising. Sy is in ’n tronk van stilte. Dit sou baie beter gewees het as sy dood was. Wat bly daar oor?
Twee dae later daag Giel onverwags by haar op tydens besoektyd. Dit is die eerste keer dat een van haar werksmense haar besoek, en verlangs wonder sy watse tipe draak sy dan was dat niemand gekom het nie.
Sy het haar tydelike gehoorstuk ontvang, en dis aaklig. ’n Groot, lomp oumenstoestel vir almal om te sien. Sy kan effens beter hoor daarmee, maar die bykomende geluide is baie erg.
Giel lyk erg ongemaklik, sy oë gaan kort-kort terug na die vaal masjientjie in haar oor. Juta is seker as hy ’n hoed gedra het, sou hy dit in sy hande gehou en om en om gedraai het. Die gesprek kan ook nie vlot nie aangesien Juta steeds nie mooi kan hoor wat hy sê nie. Uiteindelik trek hy die papier nader.
Jou hare het lank geword, dit lyk mooi.
Sy trek selfbewus aan haar hare wat al halfpad oor haar lomp gehoorstuk gegroei het. “Nog ’n entjie, dan maak dit die dekselse ding toe.”
Juta, ek weet nie of nou die regte tyd is nie, maar ek dink nie daar is ooit ’n regte tyd vir die gesprek nie . . .
“Watse gesprek?”
Jy het ’n goeie besigheid opgebou, en daar is ’n hele paar mense wat die deur nog oophou vir jou om terug te kom, maar dit gaan nie vir ewig oopbly nie.
“Ja, en?”
Wel, nie een van ons weet wanneer jy terugkom werk toe nie, en of jy selfs in jou vorige kapasiteit sal kan werk nie.
“Wat probeer jy sê, Giel? Kom tot die punt.”
Ons – ek – wil jou besigheid koop. Ek het geld geërf toe my pa ’n paar maande gelede oorlede is, en ek dink dit kan goed werk.
“Wat, dat jy soos ’n aasvoël intree en my besigheid probeer steel terwyl ek in die hospitaal lê?” Sy is van voor af woedend. Nee, sy is nog steeds woedend.
Vir die eerste keer vandat sy Giel ken, vererg hy hom vir haar. Hoekom bly jy nie net vir een keer in jou lewe stil dat ’n man net kan klaar praat nie? Jy loop haal altyd die bobbejaan agter die berg! Nee, Juta, ek probeer nie jou besigheid steel nie, maar ek dink dis ’n oplossing vir ons albei. Ek betaal jou twee miljoen rand vir jou besigheid, toerusting, naam, alles, maar dit word myne, jy kry geld om mee te lewe en om jou mediese uitgawes te betaal. Wanneer jy herstel, kom jy terug en bestuur die produksiekant vir ons, teen vergoeding, natuurlik. Ek ken niemand wat kan cut-en-mix soos jy nie, Juta.
“Dan werk ek vir jou?” vra sy smalend.
Het jy ’n beter oplossing vir jou probleem? Oor nog ’n paar maande is jou besigheid niks werd nie dan kry jy niks – mense vergeet gou.
Opeens sypel die veglus uit haar. “Vir daardie werk het ’n mens jou gehoor nodig,” antwoord sy tam. “En ek is nou so doof soos die spreekwoordelike kwartel. Permanent.”
Giel staan op, klaarblyklik ook sat vir die gesprek. Dink daaroor, Juta. Die aanbod staan tot volgende week. Ek kan Blue Starr Productions vir minder koop, maar sal verkies om saam met jou te werk, al is jy die meeste van die tyd blerrie onmoontlik! Sonder om te groet draai hy om en stap uit.
Paniek bons in Juta se hart. Dit maak nie saak hoe naar sy is nie – Giel het ’n punt beet.