Skip to main content

Uittreksel | Grietjie se loutering

1

Vrydag

“Oe gonnatjiepiet, Maggie slag my lewendig af oor ek haar laat wag,” mompel Grietjie.

Sy begin drafstap, maar die swaar handsak hou haar terug. Vir die soveelste keer wonder sy hoekom sy alles saamdra terwyl sy weet sy nie die helfte van die goed in die sak sal nodig kry nie. Haar buurvrou wag al by die taxistaanplek, en sy gaan laat wees omdat sy ’n handsak vol net-ingevals saamsleep.

Die dorp wemel van die mense. Plaaswerkers wat maar een keer elke twee weke dorp toe kom om inkopies te doen, gryp die kans aan om sommer ’n geselsie in die winkelgange of op die winkelstoep in te werk. Van die plase lê diep in die Groenland. Kans vir kuier is maar min, veral as mens nie jou eie vervoer het nie en staatmaak op die boer se lorrie. Grietjie verstaan dit, maar sy sukkel nou al ’n halfuur om by die taxi te kom. Elke tweede mens wil groet en ’n woordjie of twee inkry, of so voel dit.

Mense staan in groepies en gesels net waar hulle mekaar kry, in ShopRite se smal gangetjies, by die ingang van die viswinkel, op die markie waar die groentesmouse en kleresmouse hulle goedjies uitstal, oral. Sommige is nog in werksklere. Van die vroue het die moeite gedoen om ’n kerkrok of ’n “vir beste”-rok te stryk, deodorant aan te smeer en lippe rooi te maak. As daar nie deodorant is nie, soos wat baie gebeur wanneer mense wil bespaar, word ’n stukkie gesigseep natgemaak en onder die arms gesmeer.

Die plaaslorries staan in rye geparkeer in die stuk oop veld wat nie spesifiek vir busse, taxi’s of motors gemerk is nie. Drywers staan in ’n kring en vertel luidkeels grap op grap om die tyd te verwyl. Hulle mag nie die lorries onbeman laat nie. Gewoonlik is daar darem ’n familielid wat namens hulle inkopies kan doen.

Iemand het ’n halwe stuk deur met deurknop en al gebring, nog iemand het ’n vullisdrom nader gesleep en die halwe deur daarop gesit om ’n speeloppervlak te maak. Van die mans speel domino’s op die mankolieke oppervlak, tot groot vermaak van die omstanders. Tussendeur vertel hulle grappe. Elke nou en dan slaan iemand ’n domino hard op die wankelrige “tafel” dat dit hobbel, terwyl hulle entoesiasties skree en mekaar aanmoedig of uitjou. Hulle mag nie eintlik nie, maar een of twee verdwyn stilletjies om ’n slukkie bier agter die lorries te gaan drink. Met elke terugkom lag en gesels hulle net daai ekstra bietjie harder, hulle wange is net ’n klein bietjie rooier. Niks wat uitstaan nie, maar iemand wat fyn kyk, sal dit oplet. Daar is altyd iemand wat dophou en keer as dit lyk of die manne hulle perke begin oorskry.

Kinders hardloop opgewonde van stalletjie tot stalletjie. Een gewilde stalletjie waar die mense toustaan, verkoop groot doughboys en koesisters. Die kerriemaalvleis prut in ’n groot pot op die gasstoof. Langsaan knie een vrou deeg, ’n tweede vrou bak die vetkoeke af. ’n Derde vrou skep die mengsel in die vetkoek. Haar broer, die een wat die vetkoeke afbak se man, hanteer die geld. Hulle werk saam soos ’n goed geoliede masjien en ruil tussendeur skertsend stories uit met die geduldig wagtende ry mense en verneem na familie en vriende se gesondheid.

Vir ’n kort rukkie is die swaarkry en die rugbreekwerk vergete, totdat die werkers by die kassiere kom en sien hoe min hulle geld kan koop. Meel, kookolie, lensies, soja en droëbone is in feitlik elke inkopiesak, enigiets om die kos te rek. Groente kom maar uit elke tuin. Dit wat hulle nie self kan kweek nie, word maar sonder klaargekom. Juis daarom is elke oomblik van samesyn kosbaar, elke vlietende oomblik van vreugde rede tot feesviering.

“Net die stationery aisle in ShopRite is safe, Mamma, al die ander aisles is dit net mense waar jy kyk,” lag Lienkie altyd. “Maar shame, die mense kan ook net socialise as dit nat naweek is en hulle inkom dorp toe. Ons kan annertyd ons shopping doen.” Lienkie verseg om op die Vrydag van so ’n naweek inkopies te doen.

“Koewie, Grietjie, hoe is djy dan soe deurie blare? Ek praat en praat, maa djy hoorie. Een oor in, anne oor yt.”

Grietjie was so besig om die mense dop te hou dat sy nie gesien het Maggie waai met albei arms hier voor haar om haar aandag te trek nie. “Sorry, Maggie, ek staan verkyk my aan al die mense. Is soos miere.”

“Uh, kykie, die taxi is noggie hie nie, soe as djy nog shopping moet doen, kan djy gou try.”

“Oe jislaaik, nee, dis te vol. Mens kan skaars in die aisles loop. Maar is goed jy praat, ek’t amper my doughboys vergeet.” Sy het lankal haar doughboys bestel en gaan tel dit nou by Paul op. Vrydagaande se doughboys of partykeer ’n gatsby is ’n groot bederf vir Lienkie en Heinie. Daar is nog steeds g’n teken van die taxi toe sy uitasem weer by Maggie aansluit nie.

“Nou hoe gan djy maak vi groceries?” vra Maggie bekommerd.

“Lienkie werk mos nag vanaand. Op die Vrydagaand, kan jy glo? As sy uitklok môreoggend klim sy in die dorp af, en ek vat die six thirty taxi, dan is ons klaar geshop teen die tyd dat die lorries en busse beginne inkom.”

“Maa sy’s mos op dag, of is ekke nou confused? Wag, wag, ek skuiwe op lat djy kan sit. Djy was heeldag op djou biene.”

Grietjie skuif dankbaar in op die houtbankie.

Die sitplek hier onder die afdak is eintlik vir die mense wat bus ry, maar al die ouer vroue sit en wag hier vir hulle vervoer. Grietjie hou haar handsak en die sakkie met die doughboys op haar skoot. Hulle is al klaar vyf vroue, ingeryg soos sardientjies op die smal bankie.

Rondom hulle beweeg taxi’s, busse en nou en dan ’n modderbesmeerde lorrie wat donker dieseldampe uitlaat. Die musiek raas, deure skuif krakerig oop om mense af te laai en ander op te tel. Soos die deure oop- en toemaak, raak die musiek ook harder en dan weer sagter. Die rook van uitlaatpype meng met die reuk van walkietalkies, askoek en worsrolletjies wat op oop vure braai.

“Uh, Maggie, jy’s reg. Sy’t uitgeruil met Wilma. Dié kind en daai Ryan-boyfriend van haar wil glo die weekend iewers spend, toe vra sy vir Lienkie om skofte te ruil.”

“Sy’t nogals ’n fine cheek, ná die way sy vi ôsse Lienkie getreat het.” Maggie is eintlik hulle buurvrou, maar sy is so beskermend asof Grietjie se kinders hare is. “Wag, hie kô die taxi oek net mooi an. Just as well djy’t ie innie winkels ingegan nie.”

“Ek wil nou net by my huis kom, die gewoel maak my skoon benoud.”

“Is wee daai rou guardjie, ek wiet ie vi wat hy elke weekend oppie taxi is ie. Elke twiede wood is ’n vloekwood. Ek lus somme om sy mond met siepwate yt te spoel. Of cayenne pieper.”

“Hou maar verby, Maggie, daai gaan hom net erger laat vloek. Los hom, is nie die moeite werd nie.”

“Ek sit my mask op, daai venstes kan ga oepmaak ie, en hy overload soe lat mens somme op mekaa se skote sit.” Hulle sit nie heeltemal op mekaar se skote nie, maar die voertuig is altyd oorvol.

Grietjie haal met ’n sug haar masker ook uit en pas dit oor haar neus en mond. Sy voel altyd of sy nie genoeg asem kry as sy die ding ophet nie, maar een kyk na Maggie se kwaai gesig en sy skuif dit maar gelate stewig oor haar neusbrug. Tussen Maggie en Lienkie het sy nie ’n oomblik van vrede sonder die masker nie.

Maggie klim brom-brom in die taxi en hou haar geld uit sonder om te groet. Ten minste was sy nie die guardjie die kop soos Grietjie gevrees het nie, maar met elke vloekwoord wat hy uiter – en hy ryg hulle blykbaar vir die lekker in – word Maggie se gesigsuitdrukking net donkerder.

Hulle hoef gelukkig glad nie lank te wag voor die taxi vol is en kan ry nie.

Grietjie leun met haar kop teen die ruit en sug. Dis soos Maggie gesê het, die vensters kan nie oopskuif nie en niemand het maskers op nie, net sy en Maggie. Van die ander passasiers kyk hulle skeef aan, maar niemand sê iets nie. Sy skuif haar masker verder teen haar neus op.

“Wat is djy dan soe sel vedag?”

“Ek is op, Maggie. Siek en sat van worry.”

“Oo wat?”

“Als. Wat van die kinders gaan word, die huis, werk. Hoe ons gaan uitkom met ons geld.” Die laaste was eintlik nie eens nodig om te sê nie, almal is bekommerd oor geld. “Jy weet self, mense vat nie meer domestics aan soos voor die pandemic nie. Almal moet maar hulle riempies dunner sny.”

“Maa djou char-wêk is vas mos?”

“Ja, dis vaste geld. Sit brood op die tafel.”

“Maar nie altyd jam nie,” gesels ’n vrou agter hulle saam.

“Huh, nie altyd jam nie.” Almal in die taxi weet waarvan sy praat; hulle is in dieselfde bootjie. “En is maar moeilik, almal is nie eenders nie. Dié een wil gemadam wees, die ander een wil tjommies wees, want sy’s kamstig skaam oor haar white privilege. Lienkie se mond trek altyd op ’n bitter plooi as sy daai woord sê.”

Een van die ander vroue in die taxi lag saam. Hulle ken vir Lienkie.

“Maa hulle stiek ammel op die sameste selle manier yt wanne mens sick leave soek, of as hulle op ’n Saragaand party en wil hê djy moet Sondag yt ie kêk bly om hulle se kombuiste skoon te maak.”

’n Koor van vrouestemme beaam Maggie se woorde.

“Die madam type is easy, mens weet waar jy met hulle staan,” voeg ’n vrou in die sitplek agter Grietjie by. “Jy’t jou aparte bord en beker, jy sit by die kombuistafel as die weer sleg is en buite op die agterstoep as die son skyn. Sy praat eintlik net om jou orders vir die dag af te gee of as jy iets doen waarvan sy nie hou nie.”

Weer instemmende geluide van ander vroue.

“Moenie vegiet vannie overall ie. Sy expect dat djy overall dra met ’n voorskoot en ’n doekie net soelat nieman moet dink djy visit daa nie.”

Meer stemme wat met Maggie saamstem. Kleredrag is ’n teer punt.

“Dan like hulle om daai lielike pienk of blou overalls met ie blommetjies op by Pick n Pay te loep koep.” Maggie kom nou behoorlik op dreef. “Is soe styf djy pop, crackle en snap soes djy loep totlat djy it ingedra het. Die madams expect djy moet djou plek ken.”

Grietjie kyk by die venster uit. Hulle is gelukkig nie meer ver van die stop waar sy en Maggie moet afklim nie. Vir Maggie of vir Lienkie sal sy dit nooit sê nie, maar sy gee nie om om die uniform te dra nie. Sy wat Grietjie is, ken haar plek.

Dis die woke brigade, soos wat Lienkie hulle noem, wat haar laat struikel. Hulle wat so vinnig is om te vra dat jy hulle op die naam noem, wat soggens eers saam wil koffie drink voor jy begin werk. Nog steeds by die kombuistafel, mind you. Nog steeds nie uit dieselfde bekers as waaruit hulle vriende drink nie. Dis waar hulle equality begin en eindig, by die kombuisdeur. Om jou glo meer op jou gemak te laat voel, asof jy nie ’n voorhuis ken nie. Maar meantime is dit om hulle meer op hulle gemak te maak. Hulle het mos nou met die hulp vriende gemaak, maar is ook nie te familiêr nie. Grietjie is soos deel van die familie, altyd gesê in die soetste, vroom stem. Familie se voet in ’n geroeste visblik.

Die taxi stop met skreeuende bande. Sy gryp aan die sitplek voor haar om te keer dat sy haar kop stamp.

“Nei man, driver, djy’s mossie op Kyalami nie, vi wat djaag djy soe?” kla iemand van heel agter in die voertuig, maar goedig, laggend.

“Moetie ôsse liewe risk vi mee trips ie.”

“Uh, but at least wiet ôs nou die brieke wêk,” antwoord Maggie.

Die ander passasiers groet vrolik toe Grietjie en Maggie uitklim. Hulle is gewoonlik maar dieselfde klompie wat die sesuurtaxi vat Heights toe.

Die taxi se deur is nog halfoop toe die bestuurder weer vinnig wegtrek. Hoe meer ritte hy heen en weer dorp toe kan inkry, hoe meer geld vir hom.

“Oukei, bye, Grietjie. Lekke aand.” Maggie stryk aan na haar huis. Die tuinhekkie kraak toe Grietjie dit oopstoot.

“Djy moet onthou lat Heinie wee bietjie visolie innie skaniere gooi,” herinner Maggie haar van anderkant die draad af.

“Ek staan dink nou dieselle.”

Hulle kyk na haar tuintjie. Dis klein, maar sy hou haar hand daarop. Die posseëltjie van ’n grasperk is netjies gesny. G’n onkruid kry vatkans in haar blomtuintjie nie.

“Djou tea roses groei mooi, en ie yesterday-today-tomorrow, ie rose geraniums en ie varkblomme.”

“Nogal, nè? Die sweet peas sal eers later rank, maar die daisies begin al hulle koppies wys. Om te dink dis al Augustus en die reën was maar skraps. Dié somer gaan droog wees.”

“Uh.” ’n Oomblik van gemeensame stilte. “Wag, lat ek loep kyk of ie hys nog staan.” Maggie groet en loop hand in die sy met die uitgetrapte voetpaadjie na haar huis.

Grietjie kyk haar buurvrou agterna en loop om na die agtertuin. Soms help dit om net stilte in haar gemoed te kry voor sy by die huis instap.

Hulle het hard gewerk om die tuin reg te ruk. Toe haar Ben nog in die lewe was, het hy elke naweek in die tuin deurgebring. Dis waar hy op sy gelukkigste was, besig om beddings af te baken, hoendermis wat hy van die plaas af gebring het in te spit en komposhoop te maak met hulle groenteskille, eierdoppe, teesakkies en blare. Sy groot ruwe hande het vir niks verkeerd gestaan nie.

Op warm somerdae kon sy die klankie wat onder die kompos se dik seil uitkom, nie hanteer nie. Ben het net gelag en getrou die hoop kompos natgespuit en warm gehou. Heinie was toe nog klein, maar hy het saam met sy pa kamma komposhoop omgekeer met sy klein geel plastiektuinvurkie. Lienkie wou nie naby kom nie, oor die erdwurms in die komposhoop. Sy het veel eerder in die skaduwee teen die huis gesit en haar boekies gelees.

Hulle was gelukkig sonder dat hulle dit geweet het.

Dit het jare gevat, maar nou is die grond pikswart van vrugbaarheid. Sy het haar tuintjie vir medisyne: wildeals, wildedagga, kannablare, kankerbossie en spekboom. En die koskruie: mint, basil, tiemie en lemon balm teen die slapeloosheid. Van kleins af het Lienkie gesukkel met slaap. Sy trek haar die goed wat gebeur of wat sy in die koerante lees te veel aan.

Dan is daar die pietersielie, mielies, groenboontjies op hulle ranke, beet, pampoen en spinasie. Verder weg staan die hoenderhok vir haar drie henne en die voorbarige haan. Ben het nog self die penne ingeslaan en die ogiesdraad gespan met Heinie wat fyn dophou, spykers aangee en tang vashou. Dis ’n stewige hok, gemaak om vir ’n lang tyd te hou. Twee van die henne, Emmie en Pam, skrop tussen die groente. Frikkie die haan kloek-kloek baasspelerig agter hulle aan.

Lienkie en Frikkie het ’n konstante baklei aan. Elke oggend as Frikkie douvoordag kraai, sweer Lienkie hulle hoef nie dié week hoender te gaan koop nie, sy slag sommer skrophoender vir die Sondagpot. En elke oggend klink dit vir Grietjie of Frikkie meer aspris is wanneer hy begin kraai, asof hy Lienkie uitdaag om naby hom te kom.

Sokkies lê en gaap in die wintersonnetjie, min gepla van die hoenders wat so rondom hom skrop. Grietjie weet die derde hen, Sophie, lê graag in die hond se hok; hoekom, sal net sy weet. Hulle het nou al geleer om eers in Sokkies se hok te kyk vir eiers voordat hulle by die ander lêplekke ’n draai maak.

Sonder die groente, die eiers en dit wat sy ruil met haar bure, weet Grietjie nie hoe sy elke maand sou uitkom nie. Als raak duurder, maar die geld wat sy en Lienkie inbring, bly dieselfde. Sy draai terug huis toe. Een of ander tyd moet sy ingaan, en dan moet haar kinders net haar beste kry. Sy haal diep asem, vee haar hare uit haar gesig en plak haar grootste glimlag op.

Grietjie stoot haar huis se agterdeur oop. Die jaart moet nog gevee word. Sy skraap haar skoene eers skoon op die rubbermatjie voor sy instap. Vrydae is altyd moeilik, by die werk en by die huis.

Een kyk na die toestand van die kombuis en haar skouers sak sommer. Die glimlag verdwyn soos wispelturige mis voor ’n warm son.

Die wasbak is vol vuil skottelgoed. Brekfis se papbakkies het nou ’n taai, harde kors. Nou moet dit eers in warm water week voor dit gewas kan word. Daar is ringe in die koffiebekers. Sy vee oor die vrolike geel Formica-tafel met die vier stoele in verskillende kleure. Broodkrummels, seker nog van middagete af. Of fyn stukkies Weet-Bix van brekfis af. Sy wil nie weet nie. Sy haal ’n paar keer diep asem. Miskien moes sy nog eers bietjie onder die lukwartboom bly sit het voor sy inkom.

Onder haar voete knars die grond. Die bruin-en-groen Novilon wat sy met soveel trots net voor Krismis laat insit het, is vaal van die stof. ’n Deeglike uitvee is wat die kombuis kort.

“En ’n once-over met ’n mop, lou water en ’n bietjie Handy Andy,” mompel sy vir haarself.

Ten minste is hier nie miere nie.

Die Lienkie-kind is so erg soos die wit kinders by die huise waar sy skoonmaak; hulle maak nie eens hulle eie beddens op nie. Staan net op en stap aan. Hulle klere lê op ’n streep soos hulle net uittrek en neergooi. Grietjie is mos daar om op te tel.

“Lienkie, kyk hoe lyk die plek? Varkhok verby. Lienkie. Lienkie!”

Die kind lê sweerlik weer met daai oorgroot headphones op, neus in ’n boek. Praat mens, dan begin sy met die politics of labour.

Die sleepvoetlopery soos die kind aangeslof kom, laat haar op haar tande kners. Soos sy gedink het, is die earphones om haar nek. Lienkie se hare is netjies in kort braids wat net om haar gesig hang.

Haar fyn bou en die sproetjies oor haar neusbrug en wange laat haar jonger as haar twee en twintig jaar lyk.

“Ja, Ma, die skottelgoed moet gewas word, ek weet. Is mos anyway Heinie se turn.”

“Nee, dis jou turn. Kyk op daai rooster in jou eie handskrif.” Grietjie tik-tik teen die rooster wat lewensgroot teen die yskas geplak sit, Lienkie se idee van fair division of labour. Die kind dop wragtag haar oë om.

Grietjie kan voel sy gaan haarself weer vergeet. Ná ’n dag se harde werk het sy nie krag vir attitudes nie. Net toe sy ’n tree vorentoe wil gee, voel sy die windjie soos die agterdeur oopswaai. Heinie kom vinnig in met ’n arm hout vir die houtboks.

“Ek het sommer vandag en môre se hout klaar gekap. Hallo, Mamma.” Hy soen haar in die verbygaan op haar wang.

Haar hart raak sommer sag. Ten minste kan sy nou die koolstoof aansteek en bietjie elektrisiteit spaar. Dan kan sy ’n groot pot sop opsit en deeg knie vir brood bak. Die dae begin warm raak, maar saans is dit nog koel genoeg dat sy die koolstoof kan gebruik.

“Klaar hout gekap. Middag, Mamma,” kom Lienkie se stem spottend.

“Kry end, Lienkie. Vat eerder ’n besem en vee die kombuis uit.” Grietjie kyk kwaai na haar oudste.

Heinie steur hom nie aan sy suster nie. Die seunskind van haar se kop is reg aangeskroef. Sy het nie favourites nie, sy’s lief vir al twee, maar Heinie is net baie makliker. Hy is lank soos wat sy pa was, met skouers wat begin breed raak van al die sport en hout kap en tuinwerk doen vir sakgeld. Op agtien begin hy in sy groot hande en voete ingroei. Lienkie is fyn, soos syself. Mense sien hulle baiekeer vir susters aan, tot Lienkie se groot ergernis.

“Ek sal die skottelgoed was. Coach wou met ons praat voor môre se match, anners het ek dit lankal gedoen.”

Hy wil altyd die vrede bewaar, veral wanneer Lienkie in een van haar moods is. Lienkie is gereeld in een van haar moods.

Die meester by die skool het laat weet hy moet aansoek doen vir ’n onderwysbeurs. Heinie wil eerder plumbing doen. “Niemand wil hulle hande vuil maak nie. Dis waar die opportunity lê. Ek kan my eie business begin as ek klaar getrain is as ’n appy. En mens kry pay terwyl jy leer.”

Dis die bottomline, altyd. Geld groei nie aan bome nie. En al sê die government hulle sal betaal vir al die studies, sien hulle buurt se kinders nie daai geld nie. Elke jaar sien hulle op die teevee hoe die kinders die universiteite se hekke aftrap om net te kan apply.

Hoe apply jy as daar tien plekke is en vyf honderd hopefuls?

Dan loop hulle vir kwaadgeld rond, te skaam of te proud om by ShopRite oppie till te loop werk, of om by die fabriek in te val. Night shift maak olraait geld, maar dit breek elke keer haar hart as sy nog ’n matriekkind sien in hulle te groot nuwe overall wag vir die lorrie om hulle te kom optel. Die overalls is so nuut, die kreukels sit nog soos dit in die plastic gevou was.