Skip to main content

Uittreksel | Grenselose genade

Inleiding

Toe ek begin skryf het oor die genade van God, het ’n tweede, teenstellende begrip gou by my opgekom, naamlik “geregtigheid”. Hierdie twee begrippe, wat in die Bybel verbind word, lyk of hulle mekaar uitsluit. Genade impliseer dat ’n mens kry wat jy nie verdien nie; geregtigheid beteken dat jy (moet) kry wat jy verdien. Albei word in die Bybel positief waardeer – geregtigheid miskien sterker in die Ou Testament en genade in die Nuwe Testament. Hoe hulle in die Christelike geloof met mekaar verbind word, is ’n sentrale tema in hierdie boek.

Die boodskap van die Nuwe Testament is dat Jesus die straf vir die mens se sonde op Hom geneem en vryspraak verwerf het vir diegene wat in Hom glo. Hierdie geloof in die plaasvervangende lyding van Jesus laat vrae by baie mense ontstaan. Was die wrede dood van Jesus nodig? Waarom vergewe God nie onvoorwaardelik en sonder om ’n offer te eis nie? Is God die Vader beperk in sy vergewensgesindheid? En: Watter soort Vader is dit wat so wreed is dat Hy sy seun na ’n kruis stuur? Nie eers ’n aardse vader sal so iets bedink nie. Boonop is dit uiters onregverdig dat ’n onskuldige mens vir ander se sondes moet boet.

Hierdie tipe vrae het ook by Christene opgekom. Chris Ahrends, in ’n omsendbrief van die Centre for Christian Spirituality (27 April 2018), verwerp die konvensionele siening van die Kerk oor Jesus se dood. Hy skryf onder andere: “God has never required punishment or sacrifice for sin. Atonement – the act of becoming at-one-with-God – is not about paying a debt. Forgiveness doesn’t require a ransom.” Vir hom is dit onlogies om in een asem te praat van ’n God van liefde én ’n God van wraak.

Christian Wiman skryf, nadat hy gehoor het dat hy terminaal siek is, indringend oor sy geloof in ’n boek getitel My Bright Abyss: Meditations of a Modern Believer. Hy dink na oor die donker tyd in sy lewe: “God was gone, and not simply in an intellectual sense, [. . .] not in the God-is-dead style of coffee-shop existentialists, but really gone.” By hierdie totale indompeling in die leegte en die niet, waar die sin van vroeër na on-sin klink, kan Wiman nie meer alles glo wat aan Christene verkondig word nie: “I don’t know what it means to say that Christ ‘died for my sins’ (who wants that? who invented that perverse calculus?)” (2013:134). Al wat hom nou nog kan troos, is die wete dat Jesus deur sy lyding intieme kennis dra van die mens se pyn en eensaamheid. Maar vele oorgelewerde gedagtes, soos dat Jesus vir die mens se sondes gesterf het, maak vir hom geen sin meer nie.

Die Bybelse idee dat die mens in sonde ontvang en gebore is, het ook kritiek ontlok. Dit is ’n neerdrukkende siening en skep ’n slegte selfbeeld. Die Christelike geloof maak mense somber en depressief, so meen baie mense. Die geloof in hemel en hel wek angs en twyfel by vele – angs vir die hel en twyfel of hulle die hemel sal “haal”. Dit is ’n harde en onregverdige leerstelling. Die hemel word gereserveer vir mense wat “reg glo” en die hel is bestem vir diegene wat nie Jesus se redding aanvaar nie. Sal die biljoene mense wat nie in Jesus glo nie, ook dié wat nooit van Hom gehoor het nie, in ’n ewige vuur gemartel word? Kan ’n God van liefde, die God wat deur die Christelike Kerk verkondig word, so iets oor sy hart kry? Christene glo in elk geval onderling so verskillend dat dit moeilik sal wees om te bepaal wie “reg genoeg” glo om die hel te ontvlug. Hemel en hel – dis begrippe met ’n vreemde geregtigheid en weinig genade! Dit is die tipe vrae wat gestel word deur mense wat krities staan teenoor die Christelike godsdiens.

Hierdie boek handel oor bogenoemde kwessies. My strewe is om Christelike leerstellings wat vir eeue lank verkondig is, uit ’n vars perspektief te bekyk en te formuleer op ’n manier wat vir moderne mense meer aanneemlik is. Sentraal in die boek is die nadenke oor die betekenis van die sterwe en opstanding van Jesus.

Ek skryf as gelowige twyfelaar, een wat glo in die reddende krag van Jesus Christus, maar nie met ’n alwetende, veroordelende houding teenoor diegene wat anders as ek dink en glo nie. Ek het geen pretensie dat ek die finale antwoord op al die bogenoemde vrae het of dat ek die ryke betekenis van die lewe, sterwe en opstanding van Jesus kan uitput nie, maar ek hoop van harte dat die gedagtes wat volg tog lig sal bring vir mense wat met hierdie vrae worstel.


Hoofstuk 1

In die begin

“In die begin het God die hemel en aarde geskep”. So begin die Bybel met ’n vertelling wat die grootheid van God as Skepper van die aarde en die hemele verkondig. Die aarde was woes en leeg, en toe het God orde in die chaos geskep. Die aarde was in donkerte gehul, en die Gees van God het lig in die duisternis laat skyn. Soos ’n refrein klink die woorde, “Dit het toe so gebeur”, wat aandui dat dit die Woord van die Skepper is wat alles tot stand bring.

In hierdie skeppingsverhaal word die leser se oë geopen vir die rykdom en wondere van die skepping wat ’n mens so maklik as vanselfsprekend kan aanneem: die verskeidenheid plante en diere sowel as die son, maan en sterre. En uiteindelik die mens – manlik en vroulik – as kroon van die skepping. ’n Gedagte wat herhaal word, is dat God gesien het dat dit wat Hy geskep het, goed is. Hoofstuk 1 eindig soos volg: “God het na alles gekyk wat Hy gemaak het, en kyk, dit was baie goed.”

Die skeppingsverhaal in Genesis 1 is nie ’n wetenskaplike betoog gegrond op empiriese navorsing nie, maar ’n verhaal gevul met betekenisvolle waarhede. Die hemele en die aarde het nie maar toevallig ontstaan nie. God het dit geskep. Sy wysheid en mag kan uit die skepping afgelei word.

Die vreugdevolle stemming aan die begin van Genesis duur nie lank nie. God het die mense geskep om Hom in vryheid te dien en te gehoorsaam, maar juis dié vryheid bied aan hulle die moontlikheid om teen Hom te rebelleer. Dit gebeur dan ook. Die Bose maak sy intrede in die Paradys en verlei die mensepaar om God se gebod te oortree. Dit klink na ’n bra naïewe verhaal wat in Genesis 3 vertel word: Van ’n paradys in die verre verlede, bewoon deur die enigste twee mense op aarde; van ’n slang wat met hulle praat en listig genoeg is om hulle te verlei; van ’n God wat in die tuin van Eden gaan wandel as die aandwind opkom; en van ’n egpaar wat in groot moeilikheid beland omdat hulle ’n verbode vrug geëet het.

Ook hierdie vertelling moet nie as ’n historiese relaas beskou word nie, maar as ’n mite – nie ’n mite in die populêre betekenis van die woord (as ’n onware verhaal) nie, maar as ’n verhaal wat handel oor die aard van die mens en die sin van die menslike bestaan. Die mite van die sondeval bevat waarhede wat vandag nog baie relevant is. Dit gaan oor die verantwoordelikheid van keuses en die verlies van onskuld; oor verkeerde keuses wat rampsalige gevolge het. Dit dui op die werklikheid van die Bose en op onbeteuelde begeertes; dit handel oor die mens wat verkeerde dinge doen omdat hy god van sy eie lewe wil wees. Dit gaan oor oortredings wat tot skuldgevoelens lei en skeiding bring tussen mens en God. Ek brei in hoofstuk 11 meer uit oor die belangrikheid van mites. Ook verbind ek Jesus se sterwe en opstanding met eeueoue mites wat deur Hom bevestig en getransformeer word.

Sonde is aansteeklik, dit versprei van die een na die ander, van die een generasie na ’n volgende. Dit blyk uit die verdere verloop van die gebeure in Genesis. Die ouers se opstand teen die gebod van God gaan oor na die volgende geslag en lei tot rusie en moord. Daar ontstaan struweling tussen Kain en Abel, die twee seuns van Adam en Eva. Kain maak vir Abel dood. Hy word ’n vervloekte en het soos sy ouers “uit die HERE se teenwoordigheid weggegaan”. Die ouers het ’n slegte voorbeeld gestel en die kinders volg dit na. Die aansteeklikheid van die sonde blyk ook uit die geskiedenis van die wêreld. Keer op keer steek mense mekaar aan en volg bose leiers wat groot skade verrig. Dit lei met verloop van tyd tot ’n groot las van kollektiewe skuld op die mensdom.

Gelukkig is die genade van God ook aansteeklik. Dit laat ’n fontein ontspring op Golgota en versprei vandaar steeds verder deur die volgelinge van Jesus as ’n teenmiddel, om ’n “helende pandemie” teen die vernietigende effek van die sonde tot stand te bring. (Ek brei in hoofstuk 19 uit oor die beker wat oorloop.) Die sondeval ná die skepping lei tot die herskepping in Jesus Christus en die uitstorting van die Heilige Gees in sy dissipels.

Die Evangelie volgens Johannes sluit aan by die beginwoorde van Genesis: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. […] Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het selfs nie een ding wat bestaan, ontstaan nie. In Hom was lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis kon dit nie uitdoof nie.”

Soos wat God die hemel en die aarde deur sy Woord geskep het, so vind die herskepping plaas met ’n woord – maar nou is die Woord ’n God wat mens geword het. Op die oerknal van die eerste skepping volg ’n tweede “knal” wat die eerste skepping transformeer en ’n nuwe wêreld tot stand bring. Nes God met die eerste skepping beveel het dat daar lig moet wees, bring die Woord met die herskepping lig na die aarde, die lig van die kennis van verlossing. En soos God met die skepping lewe laat voortkom het, bring die lig van Jesus ook lewe – maar nou ’n lewe wat tot in ewigheid duur. Die ewige lewe waarvoor die sondige mens nie gereed was nie (Genesis 3:22), word vir die mens aangebied deur die koms van Jesus. In Jesus was daar lig en lewe, lees ons in Johannes 1:5, en die lig wat Hy in die duisternis van die aarde laat skyn het, sal niemand ooit kan uitdoof nie, hoewel die duisternis steeds sal probeer om die lig te oorweldig.

Ons lees in Johannes 1:14 en 17 dat genade en waarheid deur Jesus na die aarde gekom het. Die waarheid wat Jesus bring, het meer as een faset. Hy het die heiligheid van God geopenbaar, maar ook die sondigheid van die mens wat Hom verwerp het: “Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en tog het die wêreld Hom nie erken nie. Hy het gekom na wat syne was en tog het sy eie mense Hom nie aanvaar nie.”

Die kruisiging sou laat blyk dat die meeste mense nie die lig van die sondelose Seun van God kon verduur nie. Hulle het met alle mag probeer om dit uit te doof en wou nie die lewe ontvang wat Hy aan hulle gebied het nie. Maar Jesus se koms het ook die waarheid van God se genade geopenbaar wat groter is as die mens se sonde. Slawe van die sonde het aangenome kinders geword, herbore deur die werking van die Gees van God en ontvangers van ’n ewige lewe. Daar is ’n nuwe begin gemaak.