Uittreksel | Gouelokkies en die professor
Een
“Connie, kan jy asseblief kom kyk wat gaan in die kombuis aan?”
Die spanningsknoop in Connie Verster se maag trek stywer terwyl sy die telefoon stadig op sy mikkie neersit. Sy het geweet hier kom moeilikheid toe Basil kastig geduldig in die deur kom staan het.
“Moet asseblief net nie sê iets het gebreek nie.” Sy klink vir haarself so benoud soos sy voel.
“Uhm . . . darem nie ’n masjien nie.” Basil gee een van sy skaars glimlaggies.
Gespanne stap Connie agter die lywige sjef aan deur die ontvangsvertrek na die kombuis. In die spensdeur steek sy verstom vas. Nia lê op haar rug in ’n poel koekmeel. Terwyl sy kliphard sing, waaier sy haar arms en bene in en uit, dolgelukkig in haar eie wêreld.
Lam van verligting leun Connie teen die kosyn aan. Sy moes geweet het gisteraand se sneeumanstorie sou ’n groot indruk op haar klein planmaker hê. En vir kreatiwiteit verdien die kind seker ’n paar punte. Maar die vermorste sak meel beteken ongelukkig ook geld uit die gasteplaas se boomskraap rekening. Want daar is hoenderpastei en malvapoeding op vanaand se spyskaart en Basil wyk nie sommer van sy uitgewerkte spyskaart af nie. Beslis nie vir ’n vierjarige se speletjies nie.
Dit duur ’n rukkie voor Nia van Connie bewus raak. Met ’n stralende glimlag kyk sy op. “Kyk, Mamma, ek maak ’n sneeu-engel.”
Connie gaan buk by die kind. “Dis baie mooi, my liefielyf, maar onthou jy jy moet altyd eers vir oom Basil vra voor jy iets in die kombuis vat?”
Nia sit beteuterd orent. Haar vet vingertjies waaier strepe deur die meel en sy loer onderlangs na die uitdrukkinglose sjef. “Oom Basil was nie hier nie,” mompel sy.
Wat verklaar hoe sy ongesiens verby daardie arendsoë kon glip. Basil se kombuis is sy koninkryk.
“Dit was seker toe ek badkamer toe was,” sê Basil verdedigend.
“Natuurlik, ek neem jou nie kwalik nie. Niemand verwag jy moet heeltyd hier wees nie. Ek sal meel koop as ek Lexi by die skool gaan haal. Sal jy vir Fransien vra om hier skoon te maak, asseblief?”
Basil knik stywelip en draai weg.
Connie trek Nia aan haar arm tuin toe. “Lig op jou arms,” sê sy ferm terwyl sy die bewende onderlippie ignoreer. Vir kleuterdramas is daar nie nou tyd nie, nie met die gastehuis halfvol en nog sewe gaste op pad wat ’n week gaan bly nie. Boonop met ’n tekort aan hande met die dat Isa nie hier is nie. Sonder seremonie trek sy die rokkie oor Nia se kop en sleep die tuinslang nader.
Alle tranerigheid verdwyn toe Connie die sproeier oopdraai. Sy glimlag kopskuddend terwyl sy die springende, jillende lyfie skoonspuit. Waar is die tyd toe alles vir haar ook pret was? Voor Covid-19 en die twee jaar lange inperking wat haar pa se lewe geëis en hulle finansieel geruïneer het. Die tyd voor Armand besluit het hy sien nie meer kans vir ’n swaarmoedige vrou en ’n veeleisende huwelik nie. Voor sy die een geword het op wie se skouers al die verantwoordelikheid rus. ’n Leeftyd gelede, al is dit maar ’n bietjie meer as drie jaar. Dit voel of sy oornag stokoud geword het.
“So, dís nou die Sodom waar jy grootgeword het?” Denise trek spottend grootoë vir Stef.
“Ja, sien jy daardie rooibaksteengeboue daar links voor? Dis nie die tronk nie, hoor, dis my ou hoërskool,” skerts hy terug.
Vanoggend het Denise langs hom staan en wag dat almal in die maatskappy se minibussie klim voor sy op die laaste oop bank ingeskuif het. Stef het geen ander keuse gehad as om langs haar te gaan sit nie. Nie dat hy kla nie, Denise Lemmer is ’n pragtige vrou, bekwaam in haar spesialisveld en prettige geselskap. Sy is in alle opsigte ’n aanwins vir sy maatskappy, soos trouens elke ander spanlid wat op pad is na Donderpoort om met sy nuwe bouprojek te begin.
Trots stu deur hom. SN Ontwikkelaars, sy maatskappy! Partykeer sukkel hy self om dit te glo. Min mense sou dit van die vaalseun kon voorspel wat twaalf jaar gelede in hierdie ewe onindrukwekkende dorpie gematrikuleer het.
’n Hol kol poel oop in sy maag terwyl die skoolgeboue nader kom. Hoeveel herinneringe lê nie hier nie, weinig aangenaam.
“Donderpoort Hoërskool,” proes Denise terwyl die bussie stadig verby die ingang ry. “Ag nee, jy’s nie ernstig nie, Stef! So, wat het julle julself genoem, die Dondertjies? Ek sien al julle atletiekspan: Hier kom die Donders, ja, man, ja!” Sy klap stuitig op haar bobene.
“Ek sou liewer stilbly as ek jy is, juffrou Klofie,” sê Stef droog. Denise is ’n trotse Waterkloof-oudleerling. Denise skater en sit haar hand op Stef se voorarm.
“Jy speel vuil, meneer Neetlingh. En waar was julle huis, Dondertjie, ook in hierdie straat?”
“Nee, ek was in die koshuis. My ma woon in Boksburg.” Tans. Maar haar adres kan enige oomblik verander. Soos hy sy lewe deur gewoond was.
“’n Koshuisbrak, né? Was dit lekker?” Mark Keyter leun van agter af oor die sitplek en gee haar lang swart hare ’n plukkie. “Dom vraag, blondie, koshuis is altyd ’n jol.”
Nie vir hom nie, dink Stef, maar hy glimlag net terwyl almal mekaar begin vermaak met staaltjies uit hulle skool- en studentedae. Ingedagte kyk hy na die bakens wat verbyglip: Bester Bouers se verbleikte advertensiebord langs die kafee waar die koshuiskinders gekoop het; nie die goedkoopste nie, maar wel gerieflik naby aan die koshuis. Mopanie-supermark wat intussen in ’n OK omskep is, die ou vulstasie wat met ’n moderne Viva-baadjie pronk. Net ’n hand vol van die ou besighede is oor, sommige geboue staan leeg en die paar nuwe winkels is meesal franchises.
Die staalhek voor Wolkenburg Value se parkeerterrein is met ’n ketting en slot gesluit en die gebou se vensters is donker. Stef kyk verbaas om toe die bussie verbyry. Hoe is dit moontlik? Destyds was WV die grootste sentrum op die dorp en al die gewildste winkels was in die gebou. Maar die afgelope paar jaar het die ekonomie wêreldwyd swaargekry weens die Covid-pandemie en Donderpoort sou dit nie vryspring nie.
Denise trek hom entoesiasties aan sy arm nader en beduie deur die voorruit: “Oe, wow, kyk hoe mooi is die boomlaning! Ek wonder hoe oud is die bome.” ’n Aangename rilling trek deur Stef toe haar hare oor sy arm vee.
Org Potgieter draai op die voorste sitplek om en loer oor sy bril na Denise. “Ouer as jy, meisiekind.”
“Hei, is dit nasionale Pik-op-Denise-dag?” protesteer sy pruilend. “Ek is so jammer ek was nie saam met jou in die ark nie, oupa Pottie.”
“Ou dorp, maar mooi versorg,” merk Lenta bedaard op waar sy agter Stef en Denise langs Mark sit. “Dit lyk so rustig. Dis die perfekte plek om te kom aftree.”
“Ek het ook so gedink.” Stef draai om en glimlag vir sy middeljarige assistent. “En dis minder as twee uur se ry van Gauteng af, nog ’n goeie rede waarom ek die aftreeoord hier wil bou.” Al het hy destyds gesweer hy sit nooit weer sy voete in hierdie dorp nie. Wys jou net, jy moet nooit sê nooit nie.
“Ken jy nog mense op die dorp?” vra Denise.
“Nee, nie regtig nie.”
Maar hy onthou hulle. Mense soos die skatryk Wolkenburgs by wie se onthale hy en van die koshuisseuns soms kelner gespeel het. Meer vir die voorreg om die dorp se mooiste en gewildste meisies te bewonder as vir die sakgeld, al het Karl Wolkenburg goed betaal.
Onmiddellik spring Connie Wolkenburg se beeld voor hom in: blond, godinmooi en sprankelend. Al wat broek dra, was destyds op haar verlief. Wat sou van haar geword het? Sy het meer in sport en kultuur as in akademie uitgeblink, maar met haar pa se geld is sy sekerlik universiteit toe waar die een of ander high flyer haar opgeraap het. Sy is die soort meisie wat oral sou uitstaan, nie net op ’n dorpie soos Donderpoort nie.
Die enigste Donderpoorters met wie hy kontak behou het, is Johnny Dreyer, die Ingenieursgrafika-en-ontwerp-onderwyser en sy vrou, Heila. Nog al die jare koshuisouers en baie afskeepkinders se enigste ervaring van ouerliefde. Die twee kom oornag steeds by hom wanneer hulle ’n draai by die mediese spesialiste kom maak. Dis ook by Johnny waar hy gehoor het sy ou vriend Gert de Bruin wil sy plaas verkoop. Sy maag trek op ’n knop. Hopelik was dit die regte besluit om die plaas te koop.
“Is jy seker die dorp brei uit, Stef? Ek sien ’n hele klompie geboue wat leegstaan.” Willem Botes se bekommerde vraag van die heel agterste sitplek af eggo Stef se onsekerheid.
Stef draai om en glimlag gerusstellend. “Doodseker, Willem, ek het my huiswerk gedoen. Hier is al jare gelede koper in die omgewing ontdek, maar om mynlisensies te bekom is maar ’n uitgerekte proses. Die eerste myn het uiteindelik ’n paar maande gelede begin produseer en ek glo Donderpoort gaan binne die volgende paar jaar uit sy nate bars.”
Met die terugdraai vang Stef se oog die verlate Victoriaanse huis waar Isa Wolkenburg se boetiek was. Die prentjiemooi tuin waar die ryk vrouens gekoek-en-tee het, is verdroog en die stoep lê kniediep vol blare. Sou die Wolkenburgs weggetrek het?
’n Paar kilometer uit die dorp verminder Faantjie, die bussiebestuurder, spoed en skakel die flikkerlig aan. “Immergroen-gasteplaas, mense,” kondig hy onnodig aan, want niemand kan die groot naambord miskyk nie.
Stef rek sy nek. Hoe dan nou? Dis waar die afdraaipad na die Wolkenburgs se plaas was. Voorspoed was die plaas se gepaste naam. Sou hulle die plaas verkoop het en het die huidige eienaar dit in ’n gasteplaas omskep? Hy het Johnny nooit oor enigiemand op Donderpoort uitgevra nie en met sy instinktiewe wysheid het Johnny ook nooit enige inligting aangebied nie.
Denise snak toe hulle voor die gastehuis stilhou. “Jene, baas, maar jy bederf ons mos met die grênd verblyf.”
“Inderdaad,” beaam Mark, “dit lyk soos ’n wynplaas in die Kaap. Al wat nog kort, is die wingerde.”
“Julle moet Lenta bedank, dis sy wat die bespreking gedoen het,” sê Stef ongeërg, maar sy hart klop teen topspoed. Ook hier lê ’n magdom herinneringe. Die groot huis en die uitgestrekte tuin lyk nog net soos hy dit onthou, behalwe vir twee nuwe, kleiner huise links van die hoofhuis. En die perdestalle aan die regterkant wat blykbaar in gastekamers omskep is met voertuigafdakke langsaan.
In sy gedagtes sien hy Connie op die breë stoep voor die huis uitkom. Nie dat sy ooit op die stoep uitgekom het wanneer Johnny die klomp koshuisseuns met sy bakkie kom aflaai het nie. Vir haar was hulle seker bloot deel van die logistiek vir die partytjie. Haar ma, Isa, was die een wat die seuns ontvang en hulle pligte uitgedeel het.
Connie was altyd elders. Besig om perd te ry saam met haar vriendinne, of aan die baljaar in die swembad, of in haar kamer, besig om op te tof vir die aand se partytjie. Hy onthou die dowwe doef-doef van musiek en die jillende meisiestemme agter die toe kamerdeur, geluide wat hom selfs nog eensamer en meer uit plek as gewoonlik laat voel het.
Ongeduldig druk Stef die handvatsel af en laat die bussie se deur oopgly. Hy vries met een voet op die grond toe ’n vrou op die stoep uitstap. Is dit wensdenkery? Nee, dit ís Connie, en soos jare gelede tref die blote sien van haar hom soos ’n vuishou in sy wind.
“Gouelokkies,” adem hy ongelowig toe ’n windvlagie haar lang blonde hare skep en oor haar gesig waai.
“Ekskuus?” vra Denise verbaas agter hom. Hy ruk hom reg en klim haastig uit. “Nee, ek het nie gepraat nie.” Hy hou sy hand vir Denise om haar uit te help.
“Jong,” lag sy met blink oë terwyl sy verspot sy hand neem, “jy moet ophou so ’n gentleman wees, netnou gooi ek my loopbaandrome oorboord en maak vir jou ogies.”
Asof sy dit nie reeds doen nie. Stef glimlag ekstra breed vir haar. Hy meng nooit werk en plesier nie, maar op hierdie oomblik het sy ego die hupstoot broodnodig.