Skip to main content

Uittreksel | Goue gloed

Een

Ná ’n deeglike ondersoek, buitengewoon deeglik, sit Erica vol afwagting voor haar huisdokter om te hoor wat sy bevinding is. Haar lyf voel seer soos met griep en dit is waarom sy dokter toe gekom het. Nou wil sy net haar liggaam op ’n bed kry en rus. Dit kan natuurlik die gevolg van al die spanning van die afgelope twee weke wees: Pierre se dood nadat hy in die hospitaal beswyk het ná die noodlottige botsing met ’n minibustaxi. Die verassing, reëlings vir sy roudiens, simpatiebetuigings, alles het sy tol geëis. Die moegheid is seker weens te min slaap. Haar kop voel of dit wil bars. Eintlik het sy haarself al klaar gediagnoseer. Die dokter moet dit net as griep bevestig.

Hy vou egter sy hande inmekaar en glimlag soos een wat goeie nuus het. Hoekom rek hy dit so uit? Sy wil net graag huis toe. “Nee, Mevroutjie, jy’t nie griep nie. Jy is swanger,” sê hy ingenome.

Wat? Sy het seker verkeerd gehoor. “Ekskuus? Swanger?” Haar hart ruk in haar binneste. “Dit kan nie wees nie! Jy maak ’n fout, Dokter! Ek’s ’n weduwee. Dit was verlede week my oorlede man se roudiens. Ek is steeds in rou gedompel. Ons het buitendien altyd voorbehoeding gebruik, want ons wou nie nou al met ’n gesin begin nie. Dis onmoontlik dat ek swanger kan wees.” Sy byt op haar tande en kyk hom desperaat aan. “Hoe seker is jy, Dokter?”

Hy kyk fronsend voor hom op sy lessenaar. Sê nie ’n woord nie. Ná ’n rukkie kyk hy op, direk na haar. “Maar tog . . . dalk het jy die pil ’n paar keer per ongeluk vergeet. Jy sê jy en jou oorlede man het intiem saam gelewe? Dan kon dit tog gebeur het. Of . . .”

Sy woorde wat so onuitgesproke in die lug hang, laat haar vermoed wat hy dink – ’n ander man? Sy voel hoe die bloed teen haar nek opstoot. “Nee! Nee, glad nie! Daar was geen ander mans nie. Ons was gelukkig getroud. Daarom kan ek dit nou net nie glo nie. Hoe seker is jy, Dokter?” Sy strengel haar vingers ineen, byt op haar tande.

“Honderd persent seker, Mevroutjie. Gaan koop maar ’n swangerskaptoets om dit te bevestig.”

Gmf! Mevroutjie nogal, asof hy haar bejammer. Nou is sy net nog ’n mevrou omdat sy steeds Pierre se van dra. Sy is ’n weduwee. Sy speel met die trouring aan haar ringvinger. Dit wil sy afhaal, dit is nie meer nodig nie. Sy het geglo hy is die liefde van haar lewe, sy was so verlief en hy so uiters aantreklik. Die ander meisies het haar deur die bank beny. Pierre, die vangs van die kampus, en hy was hare. Ag, Pierre, hoekom? Dit was die taxibestuurder se skuld. En nou lewe hy nog. Lê in die hospitaal, en van Pierre het net sy as oorgebly. Haar kop sak. Sy vee die trane met die rugkant van haar hand af. Hoe onregverdig tog. En nou hierdie nuus. Iewers is daar ’n fout in die dokter se diagnose. Hy’s maar net ’n algemene praktisyn; ’n ginekoloog sal beter weet.

Sy kyk op toe die dokter kug. “Ek glo jou. Innige simpatie met jou man se dood, Mevrou,” sê hy sag, byna vaderlik. “Ek kan sien jy is geskok oor hierdie nuus. Ek verwys jou na ’n ginekoloog. Sy sal jou swangerskap monitor en ook uiteindelik die bevalling behartig. Ek hoop jy het ’n ondersteuningsnetwerk: ouers, familie, vriende. Jy gaan dit nodig hê.”

Trane prik steeds in haar oë toe sy opstaan. “Dankie, Dokter.” Erica sit die verwysingsbrief in haar handsak. “Totsiens,” groet sy skor, staan op en loop uit. Sy is bewus van die nuuskierige geloer van die ander pasiënte in die wagkamer. Hulle wonder seker waarom die trane.

Sy ry reguit apteek toe en koop ’n swangerskaptoets. Sy wil dubbel seker maak. Tuis gaan sy dadelik badkamer toe en adem diep teue vars lug in voor sy die toets gebruik. Ag nee! Dit bevestig die dokter se bevinding: sy, Erica Ehlers, ’n weduwee, is swanger. En mense gaan nie glo dit is oorlede Pierre se kind nie. Hulle gaan haar van sedeloosheid verdink.

Tee. Sy moet dadelik vir haar soet tee maak. Daar is te veel skokke om te verwerk. Nie alleen is Pierre dood nie, hy het haar agtergelaat met geweldig baie skuld. Hoe op aarde sy dit ooit sal kan delg, weet nugter alleen. Sy het altyd gemeen hulle is welaf.

Die groot huis, byna ’n paleis, het rykdom uitbasuin. Sy was trots daarop om mevrou Ehlers te wees. Het gereeld uitnodigings na teepartytjies gekry. Ja, hulle het in die regte kringe beweeg.

Alles was net ’n sandkasteel, want sy sit met die skuld.


Twee

Verslae sien Erica hoe die meubelwa met die inhoud van haar huis wegry. Sy draai om, klim die stoeptrappies op en loop stadig binnetoe. Dolleeg. Al wat in die leë sitkamer staan, is die twee groot tasse met haar klere. Ook ’n kleiner smuktas met haar grimering, gesigrome en haarversorgingsgoed. Alles van bekende skoonheidshuise uit die tyd toe sy dit nog kon bekostig. ’n Tyd toe sy haar debietkaart na hartelus kon gebruik. Sy kon koop wat haar hart begeer.

“Dis nie nodig dat jy gaan werk nie, engel. Lyk jy maar net mooi en hou ons huis huislik. So help jy om my beeld na buite te bou,” het Pierre haar dikwels herinner aan haar plek in hulle huwelik.

Sy het so veilig gevoel. Beskermd.

Erica loop deur elke vertrek. Dis verbysterend. Bevind sy haar werklik in die realiteit, of is dit ’n droom? Hier is nie eens ’n enkele stoel om op te sit nie. Met ’n sug loop sy terug stoep toe en sak op een van die trappies neer.

Wat nou? Waarnatoe? Wat moet sy doen?

Deksels, Pierre, hoe kon jy my so met absoluut niks agterlaat? En verdomp, hoe kon sy hom so met hulle geld vertrou het? Sy het tog ’n B.Com.-graad. Sy is die een wat hulle geldsake moes behartig. Maar nee, hy was immers ’n suksesvolle prokureur, of so het almal, sy inkluis, gereken. Hy het alles in hulle huishouding beheer. En sy? Sy het hom die beheer toegelaat want hy was ’n macho man. Leier op elke gebied, het sy geglo. Sy weet nou sy moes sterker gestaan het.

Sy diep die begrafnisbrief uit haar handsak op en kyk na Pierre se foto. Wat ’n aantreklike man was hy nie. Maar later het sy verby sy uiterlike gekyk en ’n baie selfsugtige mens ontdek. ’n Narsis. Alles moes om hom draai. Om te dink sy het gehelp om sy beeld te poets.

Sy is bitter kwaad. Sommer vir hom wat nie meer lewe nie, maar ook vir haarself. Haar Chevvy kon sy darem hou, dankie tog.

Die kissie met sy as het sy reeds sonder enige teken van rou by die kerk se muur van herinnering in ’n nis gaan bêre. Sy kon nie eens huil tydens die roudiens nie. Sy was te kwaad. “Siestog, sy is so hartseer, sy kan nie eens huil nie,” het sy die fluisterstemme gehoor.

Sy kan haar ouers nie met hierdie gemors opsaal nie, hulle het geëmigreer en leef rustig in vrede in Engeland. Hulle het buitendien nooit van Pierre gehou nie; het haar gewaarsku dat sy op die bed wat sy opgemaak het, sal moet slaap.

Slaap . . . Waar gaan sy vannag slaap? Die dag is al vinnig besig om te groet met lieflike wolke in ’n goue gloed. Maar vanmiddag laat dit haar nie in vervoering nie.

Al persoon aan wie sy nou kan dink, is haar niggie Ronel wat ook hier in die stad bly. Miskien kan sy vir Ronel vra of sy vannag by haar kan crash. Hulle was nog altyd na aan mekaar, en Ronel sal haar nie verstoot nie. In haar gedagtes kan sy al die koerantopskrifte sien: Bekende advokaat se weduwee in armoede agtergelaat. En hoe sal die mense nie skinder en hulle hierin verlekker nie! Om nie eens te praat as hulle van die swangerskap moet weet nie.

Môre sal sy in alle erns aan ’n oplossing probeer dink. Nou is slaapplek vir vannag haar onmiddellike nood. Sy vroetel in die groot handsak. Gelukkig het sy nog haar selfoon. En haar handsak wat altyd aan haar skouer hang – dis nog nie van haar lyf afgeruk nie. Ronel is gelukkig nog op haar kontaklys.

“My jene, dis ’n verrassing! Herdertjie, Nig, hoe gaan dit nou met jou? Is jy nog oukei? Jammer ek kon nie by Pierre se roudiens wees nie, jong, maar anyway, innige simpatie,” babbel Ronel aanmekaar. “Ek wou jou al bel, maar jy het my nou voorgespring. Cope jy?”

“Dankie.” Meer as dit kry sy nie oor haar droë lippe nie. As Ronel maar kan weet sy voel geen emosie van rou oor oorlede Pierre nie. Trane spring in haar oë. Erica sug diep. Toe tuimel die woorde soos ’n waterval oor haar lippe soos wat die opgekropte pyn, vernedering en skok haar laat praat. “Dit gaan nie goed nie, Ronel. Ek’s in ’n yslike verknorsing!”

“Oe-oe, dit klink scary. Moet ek na jou toe kom, dan vertel jy my oor ’n koppie tee? Dit klink dan of jy huil?”

“As jy maar weet hoe scary, my niggie.” Erica snuit haar neus. “Ek kan nie eens vir jou tee gee nie, Ronel. Kom asseblief hierheen, dan kan jy self sien.” Sy kan ook maar na Ronel toe ry aangesien sy darem nog haar kar het, maar sy wil hê Ronel moet self kom sien hoe dit hier lyk.

“Jig, Nig, so erg? Wow! Oukei, ek kom.”

Moeg gaan sit sy op die voorstoep se trap en wag. Dit sal goed wees as Ronel self kan sien wat hier aangaan.

Het die liefde haar so blind en doof gehad dat sy nooit die rooi ligte sien flikker het nie? Pierre wou nie hê sy moes gaan werk nie. Sy woorde bly maal in haar kop. Sy het hom geglo, want sy het dieselfde woorde so baie kere gehoor. “Engel, ek kan vir jou sorg. Maak jy maar net ons huis ’n warm nes en lyk mooi.” Gek wat sy was om alles vir soetkoek op te eet.

Dankbaar sien sy hoe Ronel in die oprit stilhou en uitklim. Steeds met die dienlike plathakskoene en die kort bob. Sy staan op, stof haar sitvlak af en stap nader. Toe Ronel se arms om haar gaan, snik sy vir die eerste keer ná Pierre se dood haar hart uit. Huil en lag deurmekaar. Toe sy uiteindelik wegstaan, sien sy sy het Ronel se top papnat gehuil. Sy vee haar wange met haar hande droog. “Kom ek wys jou,” sê sy oplaas, leeg gewoed.

“Liewe mens, jy’s omtrént ontsteld. Dè.” Ronel prop ’n groot stuk donkersjokolade in Erica se hand. “Eet, dit help, dan vertel jy my wat is fout.”

“Nee, jy moet liewer self sien. Loop binne en kyk.”

Skok en ongeloof gly oor Ronel se gesig toe Erica haar deur die leë huis lei. In die kombuis staar Ronel met afgryse na die leë kaste. “Helsem!” Toe Ronel se arms weer om haar gaan, kom die trane weer en ruk haar skouers soos sy huil. Ronel hou haar styf vas tot haar snikke bedaar. “Jy kom bly by my totdat daar uitkoms is.”

“Nooit weer ’n man in my lewe nie, Ronel, hoor nou vir my. Hulle is almal onbetroubaar. Gelukkig sit my pa nou ver in Engeland. Hy hoef nie te weet nie, stiefma sal haar dalk net verlekker, so sy moet ook nie weet nie. Maar ek sal drasties en dadelik moet werk soek; ek kan nie onverwyld op jou nek lê nie.”

“Ek sal jou help soek, Nig. Jy kan by my bly tot jy weer op jou voete is. My plekkie is klein, maar daar is darem ’n spaarkamer.”


Sy ry agter Ronel aan na haar meenthuis toe. Ronel sleutel ’n kode vir die swaar ysterhek by die ingang in en die hek gly geluidloos oop. Toe hulle binne is, gaan dit weer outomaties toe. Hulle ry by verskeie huise met pragtige tuine verby en kom uiteindelik voor Ronel se meenthuis tot stilstand. Erica hou in die oprit stil. Ronel se huwelik het nou wel verbrokkel, maar haar eks versorg haar baie goed. En gelukkig is daar nie kinders nie. Kinders kry altyd seer met ’n egskeiding, maak nie saak hoe goed die ouers dit hanteer nie.

“Kom, jy kort nou ’n koppie lekker tee.” Ronel sluit haar voordeur oop en help Erica om haar bagasie in te dra. “Ons vat dit sommer dadelik na jou kamer toe.”

Die kamer is klein maar gerieflik. ’n Driekwartbed met ’n room-en-roeskleurige duvet met bypassende groot kussings lyk warm en huislik. Ingeboude kaste, ’n klein spieëltafel, ’n volvloermat in groen-en-roes op die vloer maak die somtotaal van die kamer uit. Geen foto’s of skilderye teen die mure nie. Op die bedkassie lê ’n Bybel. Veilige hawe.

“Jy bly hier so lank as wat jy wil,” verseker Ronel haar weer toe hulle klaar tee gedrink het. “Kom saam kombuis toe. Ek slaan vir ons ’n vinnige ete aanmekaar. Sit en ontspan, jy hoef nie te help nie.”

“Dankie, Ronel. Ek sal solank gaan uitpak. Moenie te veel moeite doen nie.”


Erica gaan kruip sommer vroeg in die bed ná ’n bord heerlike kos. Daar is nog dinge wat sy nie vir Ronel vertel het nie, maar dit moet wag tot later. Sy skram self weg daarvan, moet die skok nog eers self verwerk. Daar is vir haar nog geen logika daarin nie, want sy kan dit self byna nie glo nie. Haar liggaam het dit wel bevestig, maar haar denke wil dit nie aanvaar nie. Nie noudat haar hele bekende wêreld op haar ingetuimel het nie. Dit voel kompleet asof sy op ’n ander planeet in ’n ander wentelbaan beland het.