Skip to main content

Uittreksel | Geheime op Philadelphia

1

Reghardt maak sy oë op skrefies oop. Alles is nog stikdonker om hom. Dis vroeg, seker drieuur of vieruur. Hy hoef nie op die horlosie te kyk om dit te raai nie. Gisteraand elfuur het hy kom slaap en gewoonlik kry hy niks meer as vier ure se slaap in nie.

Hy het rus nodig en sy liggaam smeek daarvoor. Die maanlig skyn deur die halfoop gordyn en val op sy gesig. Hy draai op sy linkersy, weg van die venster af. Kan hy nie maar asseblief weer aan die slaap raak nie? Hy gaan ’n besige dag by die winkel hê en kan nie bekostig om nie genoeg rus in te kry nie.

Sy brein wil nie afskakel nie en sy gedagtes spring rond totdat die afgelope sestien jaar se gebeure weer helder voor hom afspeel. Hy wil nie aan die motorongeluk dink nie, want dan moet hy onthou hoe ingrypend dit sy lewe verander het. Moet hy onthou van die stilte. Stilte waaraan hy al sestien jaar probeer gewoond raak.

Hier en daar tel hy ’n geluid op sonder sy gehoorapparaat, maar niks wat sin maak nie. Wat help dit tog om te probeer luister, want dit is net geluide? Ook net soms. Doelbewus draai hy op sy regtersy. Dalk kan hy só sy gedagtes ook wegdraai. Sy oog vang die horlosie op sy bedkassie. Ses-en-twintig minute oor drie. Hy sal weer moet slaap. Moedeloos vryf hy oor sy gesig. Sal hy maar opstaan en gaan koffie maak of sal hy verder lê en hoop Klaas Vakie kom maak tog nog ’n draai? As hy nou koffie drink, kan hy maar weet slaap is nie op die agenda vir die res van die oggend nie.

Kwetter daar voëltjies buite? Is daar motors wat op die hoofpad verbyry? Net as hy daai verdekselse gehoorapparate insit, kan hy hoor, maar ook nie honderd persent nie. Hy verpes die goed. In een dag het stilte sy beste maat geword. Sonder dat hy daaroor beheer gehad het.

Terugflitse van daardie dag speel deur sy geheue. Fronsend staar hy na die strale van die maan wat oor sy bed speel. Hy kan nie onthou wanneer laas hy regtig gelag het nie. Daar is nie baie om oor te lag nie. Eintlik is hy tog gelukkig met sy lewe soos dit tans is. Hy het sy huis, San wat hom in sy restaurant help, tant Gerda en ook sy lieflinghond, Torra. Eintlik kla hy met die witbrood onder die arm. Maar hier in die vroeg oggendure is dit weer een van daardie kere waar die herinneringe hom soos ’n spook jaag.

Hy was op ’n tyd ’n aantreklike man. ’n Mooi man. Daardie Reghardt bestaan nie meer nie; hy is al sestien jaar weg. Die man wat hy was, is daardie aand saam met die motorwrak weggesleep. Nou lê hy met ’n bosbaard op ’n enkelbed in ’n huisie op Philadelphia. Oor ’n paar weke is hy veertig. So baie dinge het met hom gebeur. Daar was baie hoogtepunte en uiteraard baie laagtepunte. Dit is juis die laagtepunte wat hom nou weer soos ’n jakkals jag en onrustig laat rondrol.

Vies vir homself draai hy op sy linkersy. Dit help nie om aan die verlede te dink nie. Dis ’n besige dag wat voorlê. Hy is gelukkig op Philadelphia. In hierdie klein dorpie het hy vir hom ’n lewe kom bou. Weg van dit wat hy geken het. Weg van herinneringe wat nou seermaak. Weg van die mense wat daardie Reghardt geken het. Weg van die ligte, die klank, die skare. Weer probeer hy luister of hy iets hoor. Hy sal seker altyd nog probeer. Maar daar is niks. Boggerol. Net as hy sy “ore”, soos hy die gehoorapparate noem, insit. Uiteindelik kom die slaap weer.


2

Klokslag halfagt is Reghardt wakker. Dit is al lig. Met ’n lang gaap staan hy op en strek sy lang lyf uit. Koffie, maar eers badkamer toe. En kombuis toe. Na sy eerste koppie koffie trek hy aan en trek ’n kam deur sy hare en baard. Dalk moet hy sy baard bietjie knip? Nee wat, daarvoor is hy nie nou lus nie.

Hy maak die tandeborsel se steel droog en laat val dit per ongeluk. En vries. Het hy gehoor toe dit die grond tref? Kan wees. Vir sestien jaar al kan dit wees. Met toets na toets na toets kon geen spesialis vir hom ’n reguit antwoord gee nie en hy het soort van aanvaar hy gaan nooit weet nie. Hy probeer so normaal as wat normaal kan wees, lewe. Hy het darem sy “ore” wat hy kan insit om ten minste ’n gesprek te volg, maar meestal lees hy lippe. Dit het hy goed leer doen oor die jare.

Hy het eintlik nie rede om so mismoedig te voel vanoggend nie. In hierdie Wes-Kaapse dorpie het hy ’n goeie lewe en hier is mense wat vir hom lief is. Mense wat verstaan en nie die verlede herroep nie. Hy maak ’n bestaan met sy winkel in ’n plek waar die meeste mense toeriste is. Sy vriende kan hy op sy een hand tel, die res is kennisse. Hy sit sy gehoorapparaat in en skakel dit aan.

In die kombuis spoel hy sy tweede koppie koffie in die wasbak uit en sit die koppie op die afdroograk. Die kombuis vloei in die gang uit. Op die kombuisstoel staan sy rugsak, wat hy in die verbygaan gryp. Hy is eintlik al bietjie laat. Sy winkel moet negeuur oopmaak maar hy het te lank gedraai vanoggend. Torra draai al in die rondte; die cocker spaniel weet hulle gaan nou loop.

Net voor hy die deur oopsluit, kyk hy in die spieël teen die muur. Sy baard lyk maar woes, miskien moet hy dit tog maar afskeer. Torra blaf egter ongeduldig. Die deur moet nou oop. Liewe Torra. As dit nie vir hierdie hond was nie, sou hy dit seker nie gemaak het nie.

Op pad tuinhekkie toe val sy oog op die posbus. ’n Wit koevert steek uit. Al wat daarop geskryf staan, is sy naam, maar hy herken die handskrif. Hy skud sy kop en skeur die koevert oop.

Sien jou later by die winkel. Ek het gou kom hallo sê.
Liefde. Charlotte.

Enigste kind van Philadelphia se dominee De Ru. Wat maak sy hier, sy woon mos in Kaapstad? Sy los gereeld vir hom briefies al het hy haar al ’n keer of wat gesê sy kan mos eerder ’n selfoonboodskap stuur. Sy het al baie jare gevoelens vir hom, maar hy voel nog nie dieselfde nie. Trouens, hy voel nog al hierdie jare byna niks. Charlotte is ’n beeldskone en bekende model.

Hy verkyk hom altyd aan haar lippe en blonde krulhare wat sy gewoonlik na die regterkant van haar kop toe gooi. Sy is enige man se droom. Met sy gedagtes nog by Charlotte, sit hy die brief terug in die koevert en roep Torra wat ’n by probeer jaag in die tuin. Die hond volg fluks en hulle stap oor die pad na die winkel toe. Gelukkig is sy winkel loopafstand van sy huis. Eintlik is alles loopafstand van mekaar in hierdie dorpie.

Die liewe tant Gerda langsaan bly al vir baie jare in die dorp en was die afgelope paar jaar vir hom ’n groot hulp. Sy kan baie praat as sy hom sien in die oggende wanneer hy werk toe stap. Gelukkig is sy nie vanoggend hier nie. Hy geniet altyd haar tuin. Sy het vir hom soos ’n ma geword hier in Philadelphia.

Van ’n ma gepraat, hy gesels gans en al te min met sy eie ouers. Die skuldgevoel pak hom weer beet. Vandat hy in Philadelphia bly, het hy maar min kontak met mense uit sy verlede. Hy kan gerus meer moeite doen met sy eie ouers; hy verlang na hulle. Daar is reeds ’n motor voor die winkel geparkeer. Wie kom soek so vroeg koffie? Hy sluit Die Nostalgie oop en Torra hardloop eerste in. Die Nostalgie se koffie is alombekend en baie gewild. Net toe hy sy sak op die toonbank sit, stap ’n man in.

“Jammer, die koffiemasjien is nog nie aan nie; ek is bietjie laat vanoggend.”

Die man glimlag. “Geen probleem nie, ek is geduldig.”

“Die spyskaart is op die muur geskryf maar ek neem aan ’n sterk koppie koffie sal vir nou die ding doen?”

“’n Latte, asseblief, as jy kan.” Die man kyk op toe San instap. Haar oë is so groot soos pierings. Sy is uitasem. Seker bekommerd want sy is al weer laat. Eintlik is sy elke oggend laat. Liewe ou San Drommedaris. Sy werk al die afgelope dertien jaar vir hom in sy boetiekrestaurant. Sy hou baie van praat en die dag wat sy lostrek, sal sy vir jou presies alles kan vertel van elkeen in die dorp se sake.

Reghardt sit die koffie voor die man neer. “Net die latte of gaan jy ontbyt ook bestel? San maak die lekkerste ontbyt in die wêreld.” Hy sê dit in alle eerlikheid.

Die man knik. “Dankie, gee maar vir my Die Nostalgie-dagbreker, asseblief.”

“Ek maak so.” Met die gehoorapparaat kan hy hoor wat die mense sê, maar die lipleesgewoonte is nou maar deel van sy lewe. Hy steek sy hand uit. “Ek is Reghardt. Aangenaam en welkom by Die Nostalgie.” Hy moet darem seker die man ordentlik groet.

“Stefan Vermaak. Aangenaam.” Hy skud Reghardt se hand.

“Alleen met vakansie?”

“Nee, ons – dis nou ek en my vrou en my seun – trek volgende maand hiernatoe. Ek het kom huis soek.”

Nou wat op aarde sal die mense op hierdie toeristedorpie kom maak? Seker iets met TV-werk te doen want vandat Karen Zoid haar Mothership Studios in Philadelphia opgerig het, kom hier gereeld nuwe vreemdelinge.

“Ek en my vrou het besluit om hierheen te verhuis om meer kwaliteittyd saam met ons seun deur te bring.” Asof Stefan sy gedagtes gelees het. “Ons is van Malmesbury, maar my vrou het ’n liefde ontwikkel vir die klein dorpie. Weet jy dalk wie is die eiendomsagent hier?”

“Ja, natuurlik.” Hy gaan skryf tant Gerda se naam en nommer neer en gee dit vir Stefan. “Philadelphia is maar klein, maar as daar ’n huis beskikbaar is, sal my buurvrou jou kan help. Hier is haar nommer, maar as jy net oor die straat stap, sal jy haar huis op die hoek kry.”

San sit die ontbyt voor Stefan neer. “Het ek nou reg gehoor? Meneer sê Meneer kom hier by ons bly in Philadelphia? Meneer het seker ook iets met die tiewiewêreld te doen hier met Karen Zoid se besigheid?”

“San, los Stefan. Laat die man in vrede sy ontbyt geniet,” probeer Reghardt keer.

Stefan lag. “Ek is ’n dokter op Malmesbury en my praktyk is daar. Ek en my vrou en seun kom hier bly om net bietjie van die werk af weg te kom.”

Hy is ’n aantreklike man. Donker hare, blou oë, sterk kakebeen en netjies aangetrek. Reghardt hou van die man se oop gesig. Gewoonlik ’n goeie teken dat dit iemand met inbors is.

San maak keel skoon. “Stefan, Reghardt het dit reg. Ta Gerda sal weet van ’n huis as hier een is. Sy sal ook vir jou kan sê wie daar gebly het, hoeveel bakstene die huis het en of daar fout is met die plumbing.”

Reghardt gryp vinnig in. “San, ek dink dis tyd om die aartappels te skil vir die skyfies.” As sy eers wegtrek, maak die gesprek ’n draai duskant die Jukskei.

“O ja, dis mos Dinsdag. Koop ’n burger en kry tjips verniet. Ek gat weer skil dat my hanne pyn. Lekker eet, Stefan. Kom stel die vrou en kind voor wanneer julle ingetrek het.”

Kopskuddend kyk Reghardt haar agterna. Sy gaan nou dadelik vir tant Gerda bel. Saam is die twee Philadelphia se koerant en weet hulle van alles en almal. “Verskoon maar vir San. Maar julle sal gou leer al hou sy baie van gesels, sal mens iemand met ’n mooier hart en karakter nie sommer gou teëkom nie.”

Stefan eet sy ontbyt so tussen die selfoon deur wat dan en wan lui. Later betaal en bedank hy Reghardt vir die lekker ontbyt en hulp met tant Gerda se inligting.

“Ta Gerda wag vir jou, Stefan,” laat San uit die kombuis hoor. “Ek het nou net met haar gepraat.”

Hy glimlag en Reghardt skud net sy kop.

“Jy sal gou agterkom tant Gerda en San is soos boom en bas, maar vreeslike liewe mense. Sterkte vir die huis soek en kom maak maar weer ’n draai.”

Reghardt sien ’n beweging uit die hoek van sy oog. Charlotte. Stefan knik sy kop in haar rigting voor hy uitstap. Torra begin blaf toe hy haar sien. Reghardt probeer hom stilmaak maar die hond is nie van plan om gou op te hou nie.

“Toe nou, Torra, dis net ek, Charlotte, jou lawwe hond.”

“Hallo, Charlotte, dankie vir my brief. Wat maak jy hier?”

“Dis mos nou nie hoe mens ’n goeie vriendin groet nie, Reghardt.” Sy soen hom op die wang en gee hom ’n drukkie. Soos altyd voel hy ongemaklik. Hy wil nie vir haar aanleiding gee nie, maar hy wil ook nie ongeskik wees nie. Weer vee hy oor sy gesig en besef die oggend het nog nie eers begin nie en hy is reeds moeg. Die rondrollery deur die nag begin hom inhaal.

Charlotte glimlag koketterig. “Ek het bietjie by my pa-hulle kom kuier vir so ’n week en gedink ek verras jou met ’n briefie. Ek het geklop maar aangeneem jy hoor my nie.”

Torra blaf weer en Reghardt jaag hom kombuis toe voor hy weer na Charlotte kyk. “Sit gerus. Dit is lekker om jou te sien, Charlotte. Jy lyk goed.”

“Net goed? Ek het omtrent ’n uur voor die spieël spandeer vanoggend om jou te beïndruk.”

Hy reageer eerder nie op die flankeerdery nie. “Die gewone om te drink?”

“Jy ken my te goed.”

Sy het ’n mooi glimlag en vanoggend is haar lippe rooier en blink. Duidelik het sy moeite gedoen. Charlotte is ’n pragtige vrou. Vanoggend is haar lang blonde hare styf in ’n poniestert vasgemaak. Die onderste gedeelte krul oor haar skouer. Haar blou oë sprankel stout. Lieflike oë, iets wat hy al die dag toe hy haar ontmoet het, raakgesien het. Hulle het vinnig vriende geword, maar sy soek al van dag een af meer. Hy nie. Hoekom, weet hy nie. Sy het die hele pakket want sy is mooi, onafhanklik en ’n wêreldbekende model. Hy sit die chaitee voor haar neer.

Sy streel saggies oor sy hand. “Dankie, dit gaan heerlik wees.”

“Ons sal moet brood bestel, en die tamaties lê ook op hulle einde en ...” begin San toe sy van die kombuis af ingestap kom.

“Môre, Charlotte. Ek is glad nie verbaas om jou so vroeg te sien nie. Ta Gerda het my juis gister gesê jy is hier.”

“Môre, San, dit is lekker om jou ook te sien.” Die sarkasme in haar stem is duidelik. Mens kan die atmosfeer tussen die twee met ’n mes sny. Reghardt moes al vantevore walgooi of San het vir Charlotte haar fortuin vertel. Hoekom die twee so haaks is, weet hy nie. Hy moet maar altyd die atmosfeer ontlont wanneer die twee bymekaar is.

“Ek sal sommer die brood bestel en laat aflewer, San, want ek gaan nie tyd hê om dit te gaan oplaai nie.”

San kyk weer vir Charlotte voor sy omdraai en terugstap kombuis toe.

“Nou wat maak jy hier?” Reghardt trek ’n stoel uit en gaan sit.

“Dit is mos eerskomende Saterdag die basaar en ek kom help maar altyd vir Paps en Mams. Hierdie jaar is die basaar baie groter omdat Paps sy vyf-en-twintigjarige ampsjubileum vier. Daar is so baie wat gedoen moet word.” Charlotte gee die chaitee so twee roere met die lepel. “Ek wil juis kom vra of jy eerskomende Vrydag sal kan kom help met ’n paar dinge.” Sy lig die koppie en vat ’n slukkie.

“Natuurlik, ek help graag. Jy weet mos. Ek is juis besig om die rommeltafel se goed stadig maar seker te organiseer.”

“Jy’s dierbaar, dankie, Reeg.” Sy streel met haar linkerhand oor sy vinger.

Jare terug het sy hom al die bynaam Reeg gegee. San sê dis omdat sy niks tussen die ore het nie en daarom nie sy naam reg kan uitspreek nie. Charlotte maak haar mond oop om iets te sê, toe laat hoor San vanuit die kombuis: “Reghardt, jy sal moet spring. Daar is baie om te doen en ek kan nie alleen hier gelos word om als te doen nie. Dit gaan begin besig raak.”

Reghardt glimlag. San is nou net moedswillig. “Ek sal later vanaand ’n draai by die pastorie maak?”

Charlotte knik en glimlag toe Reghardt sy hand onder hare uittrek en opstaan.

“Die chai is op my as jy beloof jy gaan vanaand vir my van jou lekker warm sjokolade maak.”

Charlotte se glimlag skitter. “Sien jou vanaand, Reeg, ek sien uit.”

Dit was ’n taamlike bedrywige dag by Die Nostalgie. Die hele Philadelphia was ongewoon besig en die burger en gratis skyfies is altyd ’n gunsteling. Reghardt gaan sit nadat hy die deur gesluit het en vra San om vir hom ’n koppie koffie te bring.

Torra kom lê onder die tafel en sy oë val toe. Die toeriste is gelukkig mal oor die hond. Al die aandag put hom so uit dat hy gewoonlik teen die einde van die dag net wil lê. Daar is ’n klop aan die deur. Reghardt wil-wil opstaan en wys hulle is toe, maar dis tant Gerda. Hy gaan maak die deur vir haar oop.

“Middag, Reghardt, ek gaan nie lank bly nie. Ek wil net kom sê ons dorp het ’n nuwe dokter gekry. Ek het vir hom ’n mooi huis oorkant die kerk gaan wys en dit klink of hy dit gaan koop. Wat ’n aangename man! Hy en sy vrou saam met hulle jong seun kom hier woon. Hy’t glo ’n praktyk in Malmesbury, maar wil hier kom bly om van die werk af weg te kom en glo meer kwaliteittyd saam met sy gesin deur te bring. Het ek al gesê hoe aangenaam hy is?”

Reghardt glimlag. “Tante het, ja. Hy was juis vanoggend al vroeg hier, toe gee ek vir hom Tante se nommer. Maar San het Tante dadelik gebel, as ek dit nie mis het nie?”

Sy glimlag verleë.

“Maar ek dog mos dis ta Gerda se stem wat ek hoor!” roep San uit die kombuis.

“Ja, San, dis ek. Maak gou vir ons ’n koppie tee, asseblief, dan maak ek weer aanstaltes. Daar is baie wat nog gedoen moet word voor die basaar Saterdag.”

“Gaan Tante weer van daardie voortreflike melktert maak vir die koektafel?”

“Veertig terte, my liewe kind, veertig. Dominee sê dis almal eintlik reeds uitverkoop.”

Reghardt sluk sy lag. Sy maak die pap nou bietjie dik aan want die bestellings maak eers Woensdag oop. Liewe tant Gerda. Op ses-en-sewentig is sy nog op en wakker en ’n voorslag. Haar hande staan vir niks verkeerd nie. Die storie doen die rondte dat sy op haar dag al drie-en-dertig babas gevang het. Wanneer jy haar daaroor uitvra, se sy net ’n mens praat nie oor grootmenssake nie. Sy vertel jou wel minute later hoe moeilik van die geboortes was, en as dit nie vir haar was nie sou die dorp se populasie baie kleiner gewees het.

Terwyl hulle so sit en oor die basaar en ander dinge gesels, is daar weer ’n klop aan die deur. Reghardt draai vies om want die Gesluit-bordjie is reeds op die deur. Dis egter weer Stefan. By hom is ’n korterige vrou en ’n seun. Dis seker sy gesin. Nog voordat hy kan opstaan is tant Gerda al by die deur.

“Genade, Dokter, ek was juis besig om vir Reghardt en San van Dokter te vertel en, so by my kool, hier staan Dokter by die deur. Is dit nou jou vrou en kind? Kom, Reghardt, San, kom groet die mense.”

Tant Gerda wink hulle nader.

“Dit is nou dokter Stefan Vermaak. Dit is Reghardt en San. Aangename kennis, Mevrou, ek is tant Gerda. En jy, seun? Jy is seker Dieter,” stoom tant Gerda voort sonder om enigiemand ’n kans te gee om ook iets te sê. Die ma en seun glimlag en is duidelik baie skaam.

“Ja, tant Gerda, dit is my vrou, Annelize, en my seun, Dieter. Ek wil gou vir hulle die huis kom wys, as Tante nie sal omgee om weer saam met ons soontoe te gaan nie?”

“Maar natuurlik nie. Reghardt en San, julle sal my moet verskoon. Ek sal die tee môre kom betaal.”

Tant Gerda het nog nooit vir haar tee betaal nie. Hy en San los dit al vir jare so en glimlag maar net elke keer.

“O ja, ek wil julle ook graag voorstel aan ons au pair. Sy woon by ons en help Dieter met sy huiswerk en buitemuurse aktiwiteite.”

Stefan wink die vrou wat eenkant bly staan het nader.

“Angelique, ontmoet Reghardt, San en tant Gerda.”

’n Vrou van so in die dertig jaar kom ingestap. Sy glimlag, maar toe sy Reghardt sien, rek haar oë en sy word spierwit. Reghardt kyk haar stip aan. Sy lyk baie bekend. Het hy haar iewers gesien? Was sy ’n fan? Sy is ’n mooi meisie. Ja, hy het haar definitief al iewers gesien. Maar waar?

Voor hy kan vra, spring tant Gerda hom voor. “Is jy oukei, Angelique? Genade, kind, jy is spierwit. Kom sit.”


Angelique gaan sit. Die wêreld om haar kantel gevaarlik. ’n Half histeriese lag wil-wil uitglip. Die mense sal dink sy was een van Reghardt se aanhangers. Die oomblik is oorweldigend. Die laaste mens wat sy gedink het sy gaan raakloop, is Reghardt du Toit! San bring vir haar ’n glas water. Dit kan nie wees nie. Mens moet mooi kyk om hom agter die baard te herken, maar sy sal sy gesig nooit vergeet nie. Hoe op dees aarde sal sy nou vir Reghardt in Philadelphia raakloop? Sy het in die koerante en tydskrifte gelees hy is iewers in die Kaap, maar hier?

“Is jy oukei, meisie?” vra Reghardt.

“Ja, ja, ek is fine. Ek het net duiselig geword, dis al.”

Die besef neem ’n paar sekondes om tot haar deur te dring: Hy weet nie wie sy is nie. Sy neem die glas met bewerige hande en drink dit met amper een sluk op. Stefan neem haar polsslag en Annelize kom sit langs haar.

“Gebeur dit gereeld?” wil Stefan bekommerd weet.

Angelique trek haar asem diep in. Niemand mag weet hoe ontsteld sy is nie. “Nee, dis die eerste keer. Ek dink al die opwinding van die trek was net te groot en toe val my bloedsuiker. Ek is nou fine, regtig.” Sy probeer so kalm as moontlik lyk. Dit verg egter baie moeite want sy wil eintlik net met alle mag uit die restaurant storm. Haar oë ontmoet Reghardt s’n en sy kyk vinnig weg.

’n Mooi vrou kom ingestap. “Reghardt, waar op aarde is jy? Ek wag al amper ’n halfuur. Moes die winkel nie al toe gewees het nie?”

Sy afspraak met Charlotte het hom heeltemal ontgaan, besef Reghardt.

“Jy gesels so lekker, jy’t van ons afspraak vergeet, nè? En waar is jou maniere, stel jy nie jou meisie voor nie?” vra Charlotte met ’n stoute glimlag. Reghardt is onmiddellik vies. Charlotte kan die grootste klomp nonsens kwytraak, en dit voor wildvreemde mense.

“Jy’s g’n sy meisie nie,” laat val San nog voordat Reghardt ’n woord kan inkry. Duidelik die josie in, gee San pad kombuis toe.

“Ag, jy weet ek grap net, San!” roep Charlotte en draai na die res van die geselskap. “Goeiemiddag, ek is Charlotte de Ru.”

Reghardt verduidelik sy is die dominee se dogter en ’n goeie vriendin.

“Ja, Reghardt is maar ’n moeilike een om ’n strop om die nek te kry, maar aanhouer wen.”

Weer die ongemak. Vir wat sal Charlotte nou so karring voor Stefan Vermaak en sy vrou? Sy kyk ook heeltyd in die rigting van die Vermaaks se au pair.


Om haar gesels die mense, maar as Angelique haar kom kry, draai haar oë na Reghardt. Toe sy weer in Charlotte se rigting kyk, is die se oë heelwat koeler. Stefan sit ’n koppie tee voor Angelique neer en wag tot sy dit klaar gedrink het. Minute later glimlag hy, duidelik verlig.

“Daar’s weer kleur in jou wange.”

Toe hulle ’n rukkie later almal saam met tant Gerda stap, sien sy Charlotte se oë steeds op haar rus.