Skip to main content

Uittreksel | Gebed vir elke geleentheid: Vergifnis

Mistakes are always forgivable, if one has the courage to admit them. - Bruce Lee

Vergifnis

Here Jesus, ons Heiland, soos ’n Petrus van die Bybel worstel ons met die vraag, hoeveel maal moet ons ons naaste wat ons beledig, vergewe?

Diegene wat ons emosioneel gekrenk het, het ons wel om verskoning kom vra, maar hulle liefdeloosheid kom telkemale na vore en hul herhaalde optrede het in ons ’n versadigingspunt van vergiffenis bereik.

Ons voel ons kan nie diegene wat herhaaldelik kwetsend teenoor ons optree, sonder meer vergewe nie; ons dink ons is daarop geregtig om so ’n verhouding met hulle wat ongemaklik in hul omgang is, summier te verbreek.

Here Jesus, ons Heiland, pleitend staan ons voor U, en smeek U dat U ons sal help om ons medemens sewentig maal sewe keer te vergewe soos U vir Petrus geantwoord het op sy vraag na vergiffenis.

Here Jesus, leer ons deur middel van die gelykenis van die Koning wat rekenskap van sy slawe wou eis, dat U ons sondes genadiglik vergewe het en daarom mag ons nie van u hoopgewende voorbeeld afwyk nie, en moet ons wel ons medemens sewentig maal sewe en met ’n blye hart vergewe.

Here Jesus, ons Heiland, ons bely dat dit vir ons moeilik is om ons medemens wat ons te na gekom het, volgens u voorskrif te bly vergewe. Ons bid dat u Heilige Gees wat as trooster, helper en bystandverlener in ons aanwesig is, op ’n wonderbaarlike wyse ons sal leer om ons onvergewensgesindheid te oorbrug sodat ons wel u voorskrif van vergiffenis na kan kom.
Amen.