Skip to main content

Uittreksel | Gebed vir elke geleentheid: Gelukkig

En gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie. - Matteus 11:6

Gelukkig

Ons Heer, en ons Heiland, U is die weg, die waarheid en die lewe.
Daar is geen ander pad, geen ander persoon, geen plan wat ons kan bedink, geen bedrag geld wat vir ons ware geluk kan betaal óf wat ons na die waarheid en die lewe kan lei nie.
Ons het die pad byster geraak, en ons het geluister na die raad van goddeloses; die pad van sondaars het ons bewandel, en ons in die geselskap van die spotters bevind.

Maar u versoenende ingryping het ons in ons sondige spore gestuit, want u Heilige Gees het ons harte wedergebaar sodat ons tot bekering gekom en U as ons enigste Verlosser aanvaar het.
Ons Heer, en ons Heiland, Ú het ons die onuitspreeklike vergunning en voorreg gegee om as u kinders bekend te staan en by U te mag wees, elke oomblik van ons lewe. Werk deur u Heilige Gees in ons sodat ons wat nou deur Jesus soos bome by waterstrome geplant is, sal gedy en die vrugte van u Gees in oorvloed sal dra, vrugte van liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

Ons Heer en ons Heiland, as kinders van ons hemelse Vader is die dra van die vrugte deur die krag van die Heilige Gees nou ons grootste vreugde. Nooit weer hoef ons bang te wees dat ons die vreugde en geluk wat Ú vir ons gee, weer prys hoef te gee nie, want keer op keer kan ons U nou ook in die samekoms van medegelowiges aanbid en vereer.

Ons Heer, en ons Heiland, in Ú vind ons ware, egte, én blywende en volkome geluk.
Amen.