Skip to main content

Uittreksel | Gebed vir elke geleentheid: Betroubaar

Elke belofte van God is betroubaar; Hy beskerm dié wat by hom skuil. - Spreuke 30:5

Betroubaar

Ons hemelse Vader, Seun en Heilige Gees, U is al Een wie volkome betroubaar en regverdig is.
U belofte dat u Seun, Jesus Christus, as Verlosser sou kom, is vervul. U het u Seun na hierdie verloregaande planeet gestuur om in selflose liefde die hoogste prys, die kruisdood, as soenoffer te betaal vir die ganse mensdom se sondes – hulle wie was en op die oomblik is, en al die toekomstige geslagte.

U het u belofte van vergifnis van sonde nie net in woorde vervul nie, maar daadwerklik toe U Dawid, Paulus en Petrus vergewe het vir hul wederstrewige sondes, en hulle as u dienaars ná hul mistastings teruggeneem het.

Hemelse Vader, Seun en Heilige Gees, U het op Pinksterdag oor u kinders wat op een plek bymekaar was, die Heilige Gees uitgestort en tonge, asof van vuur, het aan hulle verskyn, verdeel en op elkeen van hulle neergedaal. Petrus het met die skare mense gepraat oor die buitengewone gebeure en gesê dat u beloftes nou soos deur Joël geprofeteer is, vervul is.

Ons gebed is dat U ons onder alle omstandighede betroubaar sal maak, veral wanneer ons in ’n ongemaklike posisie verkeer om die waarheid te praat, of wanneer ’n leuen ons uit ’n verknorsing sal help.

Wees U ons genadig en ons bid dat u Gees ons gewete sal opskerp sodat ons onder die ongemaklikste gebeurlikhede steeds betroubaar sal bly.
Amen.