Skip to main content

Uittreksel | Gebed vir elke geleentheid: Berou

Wie sy oortredinge bedek, sal nie sukses behaal nie; maar hy wat dit bely en dit laat vaar, ervaar ontferming. - Spreuke 28:13

Berou

Here Jesus, ons wil ons sonde bely, want ons het teen U gesondig.

Here Jesus, ons gewetens pla ons. Ons kan nie tot rus kom nie. Nagte is vir ons soos ’n verskrikking, want ons gewetens kwel ons.

Here Jesus, ons het U teleurgestel, en voel te skaam om U te nader. Binne-in ons brand dit soos ’n kool vuur en dit kan nie geblus word nie. Ons het ’n diepe berou oor ons sonde want indien ons sterf, is dit te laat om die saak met U uit te klaar. Ons is wanhopig in ons eie pogings om ons sondes te verplaas, en of ander daarvoor te blameer.

Here Jesus, ons sondes het ’n nadelige effek op ons liggame en op ons gewetens. Sondes soos die werke van die vlees, oorweldig ons. Ontrouheid teenoor U en minagting van u gebooie soos met owerspel, onreinheid, ongebondenheid, afgodery, towery, vyandskap, twis, en jaloesie.

Here Jesus, u Heilige Gees het ons gelei tot by u Woord wat sê, as ons ons sondes bely, is U regverdig om ons sondes te vergewe en ons van alle onreinheid te reinig.
Ons wil hartgrondig en in diepe berou bely dat ons die werke van die vlees liewer gehad het as die vrugte van die Gees. Ons is skuldig, en strafwaardig.

Here Jesus, ons dank U omdat ons weet dat ná ons hartgrondig ons sondes bely het, die bloed van Jesus Christus, u Seun, ons van elke sonde sal reinig. Só sê u Woord.
Amen.