Skip to main content

Uittreksel | Frieke se beskermengel

Een

Frieke sit krom onder haar vriendin se besorgde arm. Selfs tien dae ná Rickus se dood voel dit of tyd stilstaan, asof skok en afgryse haar hart versteen het saam met die trane wat heling kan bring, maar wat verseg om te vloei. Rickus se begrafnis ’n week gelede was uitmergelend, sy ouers en familie se bitterheid en verdriet oor die kaping en sy skietdood ’n bykomende las op haar gewete. Haar pa dra self swaar aan selfverwyt omdat hy nie die buitehek betyds bereik het om Rickus se lewe te red nie.

“Rickus was reg, ek gaan myself vir die res van my lewe verwyt omdat ek ons verlowing daardie aand verbreek het,” erken sy.

“Maar Frieke, jy kan Rickus mos nie so letterlik opneem nie,” dring Nadia aan, haar stem simpatiek, maar beslis. “Jy weet self hoe dikwels mens spyt is oor die dinge wat jy kwytraak as jy vies is.”

Frieke sug heimlik, teleurgesteld dat nie eens Nadia, die enigste mens wat weet wat kort vóór die skietery daardie aand gebeur het, verstaan hoe sy voel nie.

“Dis presies wat ek vir jou probeer sê: Ek moes gewag het tot die volgende oggend ná ontbyt voordat ek met Rickus gepraat het,” wroeg Frieke.

“Jimmel vriendin, vir ’n slim kind wat B.Sc. geswot het en nou in genetika spesialiseer, is jy darem bleddie dom. Jy verstaan my aspris verkeerd, soos jy gewoonlik maak.” Nadia is hoorbaar ontstig. “Luister ’n slag wat ek sê voordat jy reageer op dit wat jy dink jy hoor.”

Dis ’n feitlik woordelikse herhaling van wat sy vir Rickus gesê het. Frieke trek haar asem instinktief in om haar emosies te kalmeer. “Ek luister, praat maar.”

“As jy nog steeds glo mans dink met hulle verstand, moet jy weer ’n slag dink. Hulle hanteer verwerping glad nie goed nie. Die verbreking van jul verlowing was vir Rickus ’n skok, veral vir sy ego. Hy sou ná ’n dag of wat kalmeer het, ’n mooi meisie raakgesien het wat vir hom ogies maak, en op die ou end besef het jy het die regte ding gedoen.”

“Jy is seker reg.” Maar Frieke weet dis nie die waarheid nie. Rickus se kop was anders gerat: Al het sy ego herstel, sou hy haar nooit vergewe het nie. Hy was nie ’n vergewensgesinde mens nie. Sy sal eenvoudig met haar gewete moet leer saamleef, want niemand behalwe Nadia gaan uit haar mond van die verbreekte verlowing hoor nie. Sy gaan dit nie eens met die berader wat haar pa aangedring het sy moet sien, bespreek nie.

Sy moet dit vir haarself hou, want die waarheid sal te veel mense seermaak. “Doen jouself ’n guns en gaan kuier by Marco in Italië sodat jy kan wegkom van alles wat jou aan die kaping en aan Rickus se dood herinner.” Nadia klink in haar noppies met haar idee. “’n Ander omgewing en nuwe belewenisse sal die ergste pyn help versag. Jy en Marco was nog altyd baie geheg aan mekaar, hy sal jou kan troos.”

Frieke se kop ruk op. “Rickus het my daaroor verwyt, gesê ons broer- en-susterverhouding is onnatuurlik. Was hy reg, vriendin?”

Nadia se oë rek. “Moenie simpel wees nie, Frieke. Dis nie onnatuurlik nie, net opmerklik, jy weet dit tog. Rickus het hom seker te veel gesteur aan ou Botmies se getjommel in lewensoriëntering.”

“Rickus het mos eers in sy matriekjaar weer teruggekom Laeveld toe.”

“Presies.” Nadia lig haar vinger. “Dit was die jaar nadat Marco weg is varsity toe en ou Botmies was toe besonder giftig.”

“Wat bedoel jy, giftig?” Frieke frons. “Hoe kon juffrou Bothma sy kop so deurmekaar krap?”

“Sy’t mos op ’n stadium vreeslik tekere gegaan oor ’n dogtertjie wie se stiefpa of iemand haar misbruik en later vermoor het.” Nadia maak ’n vae gebaar. “Een of ander nuusstorie. Grillerige besigheid, onthou jy nie?”

“Net vaagweg. Ek het gewoonlik by enige grillerige detail opgehou luister,” erken sy. “Rickus moes mos geweet het sy maak sulke sluwe stories op, want dis al wat die seuns laat stilbly het.”

“Ja wel, miskien. Dit was volgens haar op ’n stadium in die nuus en als, maar dit het vir my meer geklink asof dit iemand was wat sy geken het.” Haar gebaar vee die insident van die tafel af. “Anyway, almal het geweet jy en Marco is onafskeidbaar. Hoeveel van ons ander tienervriende het by sokkies en fliekaande saam met hul kleinsus opgedaag? Die meeste brekers was ongewillig om op enige plek saam met hulle familie gesien te word.”

Frieke dink ’n oomblik na. “Daar was ook nie soveel ouens met jonger sussies in ons skool nie.”

“Nè? En het dié wat daar was, hul sussies sokkies toe gevat?” vra sy. “Nee, beslis nie. So jy kan my maar glo: Gaan, kuier by Marco. Dit sal jou goed doen.”

Nadia bedoel dit opreg, daarom glimlag Frieke.

“Dit sou lekker gewees het, maar ek dink nie dit gaan gebeur nie.”

“Vir wat nogal nie?” Nadia lig haar hand en begin op haar vingers aftel. “Jy kry mos ’n salaris en is geregtig op menslikheidsverlof. Marco sal jou gratis verblyf gee en as jy te min geld het vir jou vliegkaartjie, sal jou pa jou seker haak?”

“Dis waar, maar gisteraand se nuus het gewys die hele wêreld wil vir Paasfees in Rome of in Jerusalem wees. Hoe dink jy gaan ek in hierdie laat stadium plek op ’n vliegtuig kry?”

“Dit gaan miskien nie maklik wees nie, maar jy sal wel regkom want jou pa het die magic touch.” Nadia straal asof Pa Benno alles reeds reg getoor het. “Dan gaan koop jy sommer vir jou ’n paar van Italië se famous leerboots. Die land lyk nie verniet soos ’n stewel kompleet met ’n hoë hak daar waar hy in die Middellandse See hang nie. Belowe jy sal ten minste jou bes probeer en my op hoogte hou?”

“Natuurlik sal ek. Dankie vir jou ondersteuning, vriendin. Jy’s ’n engel.” Een van die vele wat haar deur die afgelope dae gedra het. “En onthou, niemand behalwe jy mag weet van my en Rickus se rusie nie; veral nie van die verbreekte verlowing nie.”

Toe Frieke later die deur agter Nadia sluit, oorweeg sy, maar verwerp dan die kuier by Marco. Die wedloop vir vliegkaartjies het reeds in alle erns begin. Sy het beslis nie lus of krag om in die ry te val en saam te hardloop nie. Dit maak nie sin om te gaan nie, want al wou sy, kan sy nie haar kop en haar hart leegmaak óf by die huis los nie. Waarheen sy ook al gaan, sal enige emosionele bagasie saam met haar die vreemde invaar. Dis deel van haar, van die pakkie wat sy vir die res van haar pad moet saamdra. Om weg te hardloop, gaan net die kwessie uitstel. Wanneer sy terugkom, sal sy opnuut die werklikheid in die oë moet kyk.

Nadia se idee dat Marco haar sal troos en bystaan, is boonop ’n vals hoop. Toe Rickus haar begin uitneem het, was Marco die een wat haar gewaarsku het die verhouding sou ’n fout wees. Sy vermoed dit was juis uit dwarsheid dat sy daarmee voortgegaan en die eerste roerings van twyfel geïgnoreer het. Die nagevolge was ewe aaklig: Marco het hom van haar gedistansieer.

Noudat dit te laat is, besef sy as hy byderhand was om balans te bring, sou sy baie gouer vanself besef het haar en Rickus se verhouding werk nie.

Ten spyte van alles is sy tog hartseer oor die nodelose vermorsing van ’n jong lewe en verlang sy na hul vriendskap soos dit op skool was. Sy wil die berge in hardloop, ver van alles en almal wat die rowe met elke woord van simpatie opnuut van die wonde afruk. Die versoeking om uit die situasie te vlug, is ná ’n paar dae baie groot. Sy is tot sterwens toe sat vir alles. Om weg te wees van die gif van misdaad, selfs weg van goedbedoelde gesprekke en oproepe van kennisse en nuuskieriges, sal salig wees.

En Marco se stilte daaroor maak hom die ideale toevlugsoord. Daar sal sy weg wees van nuusberigte en koerante wat oor bloedvergieting en geweld berig asof dit normaal is. Juis omdat dit so alledaags is, loop vrees vir haar ouers se lewens nou ook elke dag saam met haar.

“Ek sit jou op die waglys, juffrou. Ons sal jou binne ’n week laat weet.” Dié reaksie van die reisagent bring haar vinnig terug aarde toe. Die kuier gaan nie gebeur nie.

Toe sy die laaste aand voor sy moet teruggaan werk toe saam met haar ouers nuus kyk, word alles skielik te veel vir haar. “Hierdie land vat alles wat die lewe die moeite werd maak: gemoedsvrede, veiligheid, geliefdes. Ek emigreer sommer Antarktika toe. Hier ploeter ek net koersloos voort.” Daar sal sy weg wees van misdaad en geweld wat lewens steel en ook haar lewe gekaap het.

Toe sy haar ouers se gesigte sien, is sy dadelik spyt. “Jammer. Vergeet dit asseblief.” Baie ander Suid-Afrikaners het versadigingspunt bereik, Frederieke Kannemeyer. Dis onregverdig om jou ouers met jou bitterheid op te saal.

“Dink jy nie dis ’n goeie idee om ’n rukkie by Marco te gaan kuier nie?” vra haar pa asof hy en Nadia die moontlikheid bespreek het.

“Ek dink dis ’n uitstekende plan, Frieke.” Haar stiefma sit haar arm om haar skouers en trek haar nader. “Marco verlang seker al huis toe en voel sleg dat hy nie vir die begrafnis kon afvlieg nie.”

Haar pa kyk vinnig na Ma Nienie, die woordelose gesprek tussen hulle so ooglopend soos gewoonlik. Die onmiddellike begrip, die instinktiewe aanvoeling tussen die twee mense wat mekaar oneindig liefhet, is die bewys dat sy die regte besluit geneem het oor haar en Rickus se verhouding.

Dit neem egter nie haar gevoel van verantwoordelikheid weg nie.

“Dan is dit afgespreek. Jy gaan ’n rukkie vir Marco in Italië kuier.”

Dalk het ’n deel van die gesprek by haar verbygegaan, want haar pa praat asof dit ’n uitgemaakte saak is. Die uitdrukking in haar stiefma se oë bevestig dat dit vooraf tussen die twee van hulle besluit is.

“Ek het probeer,” erken sy. “Al die vlugte is vol.”

“Ons sal sien.” Haar pa glimlag.

Onwillekeurig skep sy moed. Al is Marco voltyds op die opgrawingsterrein, sal sy hom tog etenstye en saans kan sien. Miskien kan sy help met die stofkrappery. Hoe moeilik kan dit nou wees om die grond laag vir laag weg te skraap, te sif en te soek na pylpunte en potskerwe?

Marco het sy werk voorgehou as verskoning hoekom hy nie by die begrafnis kon wees nie, maar sy weet dis omdat haar verlowing aan Rickus iets tussen hulle verander het. As sy daar kom, kan sy ten minste die lug tussen hulle suiwer en die breuk herstel. Hy is naas haar pa en Ma Nienie die mens wat haar die beste ken. As sy hom vertel van die verbreekte verlowing, kan sy die skuld van haar hart af kry. Dalk verstaan hy haar redes en kan hy haar selfs troos soos net hy nog altyd kon.