Uittreksel | Finlay
Een
’n Jaar gelede
Vies kyk Fleur af na die lieflike ruiker van klein, bloedrooi, miniatuurrose in haar hande voor sy die vol glas vonkelwyn voor haar sommer met een sluk drink. Ella is blomme-betotteld en teen dié tyd weet Fleur rooi rose beteken liefde.
Sy het egter baie mooi vir Ella gevra om nié haar bruidsruiker vir haar wat Fleur is, te gooi nie. Dis ook hoekom sy nié by die single girls wat opgewonde vir Ella gewag het, gaan staan het nie. En toe land die flippen ding tog op haar skoot.
Ella weet hoe sy oor mans en trou en gelukkige eindes voel. Ella en sy is van skooldae af pelle. En Ella was haar kamermaat op universiteit toe Fleur uitgevind het Reinier Niemand, Maties se eerste rugbyspankaptein, wat haar laat glo het sy is die enigste girl vir hom, het dieselfde belofte aan menige ander meisies gemaak. Dis nadat sy haarself gereeld dom gehou het om hom nie te laat sleg voel omdat hy gewoon onnosel is nie. Dit was die laaste keer.
Ja, sy is intelligent en nee, sy is nie skaam daaroor nie en g’n man gaan haar ooit weer oor haar intelligensie laat sleg voel nie. Dis nie haar probleem as hy onnosel is nie, dis syne. Die meeste mans, het sy oor die laaste paar jaar uitgevind, voel geïntimideerd as hulle uitvind sy is ’n geoktrooieerde rekenmeester. Hulle reaksie is een van twee: óf hulle maak hulle uit die voete óf hulle probeer haar afkraak. So, dankie, maar nee dankie – sy is nie in die wieg gelê om mans se eggo’tjies heeldag lank te streel nie.
Sy vat haar handsak en staan op. Die bruidspaar het pas gegroet, sy het al haar strooimeisiepligte nagekom, sy gaan nou huis toe.
En hopelik loop sy nie weer in Finlay Sutherland vas nie.
Dis duidelik Ella is dolgelukkig by Quinn, die jongste van die vyf Sutherland-broers van die Paarl, en Fleur is regtig baie bly vir haar part, maar sy is nie ook van plan om vir ’n man te val nie, maak nie saak hoe Finlay Sutherland haar hart laat galop nie.
Al vyf Sutherland-manne is onmoontlik aantreklik. Met ligte rooi hare, blouselblou oë en killer smiles wat telkens ’n paar kuiltjies te voorskyn bring, is hulle onweerstaanbaar.
Ella het gereeld geswymel oor hoe dodelik aantreklik die vyf broers is, maar Fleur het net haar oë gerol. Ja, oukei, sy hou van ’n mooi man, maar hoe aantreklik kan ’n man nou wees?
Vroeër die week tydens die laaste reëlings vir die troue het sy uiteindelik die broers ontmoet. Ella is reg, hulle ís onmoontlik aantreklik, maar haar oë het een spesifieke broer uitgesonder om op in te zoom: Finlay Sutherland. Op daardie oomblik was dit eenvoudig boem! en haar ingewande het omgedolwe. Om-ge-dol-we.
Sy’t nog nooit, ooit voorheen so iets beleef nie. Kompleet soos in ’n romcom movie het alles om haar vir ’n hartslag stilgestaan en sy het álles van hom raakgesien – sy breë skouers, gebeitelde kakebeen en daai blou oë wat sy sweer vir ’n oomblik tot in haar siel kon kyk, en natuurlik, die flippen kuiltjies. Gelukkig het sy uiteindelik bewus geword van die rooi ligte wat om haar flikker. Sy’t net geweet – van dié man moet sy so ver as moontlik wegbly.
Lank voor Ella met Quinn Sutherland deurmekaar geraak het, het die stories van die vyf hartebreker Sutherland-broers van die Paarl selfs op Stellenbosch die rondte gedoen. Sy het gereken dis oordrywing totdat sy die vyf Sutherland-manne in hulle Skotse rokke by Ella se troue gesien het.
’n Mens moet dood wees om nie iewers in jou lyf ’n krieweling te kry as jy een van dié mooi manne raakloop nie, en wel, sy is nie dood nie. Waarvoor sy net glad nie voorbereid was nie, was haar reaksie op Finlay. Seker ook nie so vreemd nie – hy is net eenvoudig drop-dead gorgeous.
Die ene sjarme, het hy natuurlik dadelik met haar geflirt soos wat pretty boys mos maar doen, maar sy het haar hart se simpel geklop eenvoudig geïgnoreer. Reinier Niemand was ook ’n mooi man en mooi mans, het sy ontdek, is nooit tevrede met die bewondering van net een vrou nie.
Met ’n vinnige kyk om haar om seker te maak sy oë is nie weer op haar soos wat dit al heel aand is nie, begin sy in die rigting van die groot deure stap. Ná twee tree moet sy egter die naaste stoel se rugleuning vasgryp. Sjoe, maar nou tol die aarde vreemd om haar.
Half benoud skep sy ’n diep teug asem. O, aarde, daai laaste glas vonkelwyn was dalk nie ’n goeie idee nie.
“Fleur?” vra ’n stem wat sy dadelik herken agter haar.
Ai. Finlay. Natuurlik sal dit hy wees wat haar raakloop wanneer sy onvas op haar voete is.
’n Warm hand sluit om haar elmboog. “Is jy oukei?”
Sy ruk haar arm weg. “Los . . . my.” Die volgende oomblik struikel sy, maar voor sy kan val, vou ’n sterk arm om haar lyf.
“Kom ek help, ons wil nie sien hoe die strooimeisie voor almal neerslaan nie,” terg hy terwyl hy haar in die rigting van die groot deure stuur.
Buite slaan die vars lug amper haar asem weg. Sy trek haarself los uit sy arm. “Ek is fine.” Sy stap ietwat wankelrig weg. Van dié man moet sy wegkom. Waar op aarde het sy parkeer? Sy kan glad nie onthou nie. Dit maak ook nie saak nie, sy wil net wegkom van Finlay.
“Fleur, skattebol,” sê hy en vat weer haar elmboog. “Jy kan nie eens reguit stap nie, wat nog te sê huis toe ry. Kom ek vat jou. Ek sal later jou motor vir jou bring.”
“Ek sê mos ek is fine,” raas sy en ruk weer los. Hierdie keer knoop haar voete en die aarde kom vinnig nader. Net voor sy die teer ontmoet, tel twee sterk arms haar op.
Met Fleur styf in sy arms stap Finlay asof sy niks weeg nie. “Magtig, vroumens, laat my toe om jou te help. Hardegat kry ’n heel nuwe betekenis wanneer jy by is. Soos vroeër toe ek aangebied het om jou motor te parkeer. Jy kan maar af en toe ander mense toelaat om jou te help. Jou adres?”
“Ella se skakelhuis,” kry sy uit. “. . . by haar gekoop.” Haar hand lê ewe tevrede teen sy breë borskas. Wel, sy hét gewonder, nou weet sy – hy is toe sowaar die ene spiere. Haar oë gaan toe en haar kop val teen sy skouer. Mmm, heerlike, sagte kussing.
Daai laaste glas vonkelwyn was beslis nie ’n goeie idee nie. Gewoonlik is een glas wyn so rof soos wat sy raak, maar uit pure frustrasie oor Finlay Sutherland wat haar die hele aand dophou – en sy weet, want haar oë was ook die hele tyd op hom – weet sy nie eens hoeveel vonkelwyn sy gedrink het nie.
Al troos is, ná vanaand hoef sy hom nooit weer te sien nie.
Teen die tyd dat Finlay voor Fleur se huis stilhou, is sy vas aan die slaap. Dis nou nie heeltemal soos hy gehoop het die aand sal verloop nie. Van die oomblik wat hy haar vroeër die week ontmoet het, het sy hom bekoor – skraal, lieflike kurwes, haar goudblonde hare vasgemaak in ’n stywe bolla, smaraggroen oë en lang, lang bene. Maar dit was haar ken wat sy doer in die lug gedruk het toe sy hom sien, wat hom reg onder sy knieë afgekap het. Nie een wat oor haar voete vir hom gaan val nie, was die boodskap. Hy was dadelik gefassineer.
Hy’t geflirt, soos wat hy altyd doen wanneer ’n mooi girl in die rondte is, probeer grappies maak, maar sy was glad nie beïndruk met hom nie. Dis in elk geval wat hy gedink het totdat hy ’n paar keer bewus geword het van haar groen oë op hom. En hy weet, want hy kyk vir haar ook. Die hele tyd. Dis nie asof hy dit so beplan nie, maar telkens beland sy oë sonder enige boodskap van sy brein kort-kort op haar.
Oulike girl, het hy gedink. Prikkelrig, maar niks wat hy nie kan hanteer nie. En toe stap sy vroeër vandag saam met die ander strooimeisies by die klein kapel in waar die seremonie gehou is. Sy kaak het amper op die grond beland. In ’n sagte pienk rok wat perfek oor haar pragtige borste vou en in lae kant ondertoe uitskop, haar hare in los, goue krulle oor haar skouers, het sy hom vir ’n paar oomblikke heeltemal laat ophou asemhaal.
“Fleur,” prewel hy en kam haar hare uit haar gesig. “Sleutel?”
Haar oë gaan stadig oop. “Finlay?” frons sy. “Ek droom van jou . . .” Sy steek haar hand uit en druk teen sy bolyf. “Hou nie daarvan nie . . . jy’s moei. . . moeilikheid.” Haar oë val weer toe.
“Fleur, skattebol,” glimlag hy. “Sleutel?”
“Handsak,” prewel sy met toe oë. “Moenie pla nie. Ek droom. Van Finlay. So, so sexy . . .” Met haar oë steeds toe, frons sy. “Mooi mans is moeilikheid.”
Met ’n lag sit Finlay die dakliggie aan. Hy hou van die “sexy” maar “mooi”? Hy tel haar klein handsakkie wat op die vloer lê op en maak dit oop. Lipstiffie, kam en haar sleutels. Die motorsleutel haal hy af en sit dit in sy sak. Hy sal later haar motor kom aflewer. Sy roer nie. Hy vou sy hand om haar gesig. “Fleur? Ons is by jou huis.”
Sy draai haar gesig in sy hand, maar sy word nie wakker nie. Al die bloed in sy lyf sak tot ver onderkant sy middel. Met ’n onderlangse swetswoord klim hy uit en stap vinnig na die voordeur. Demmit, sy het te veel vonkelwyn gedrink, hy moet hom gedra, nie sit en perv oor haar nie.
Hy sluit die voordeur oop en sit die ligte aan voor hy terugstap motor toe. As sy so vas slaap, sal hy haar maar moet dra.
Versigtig tel hy haar uit die motor. Sy is skraal en so lig soos ’n veer. Haar kop val teen sy borskas, die een bandjie van haar rok gly af oor haar skouer. Sy lyf reageer weer. Al knersend op sy tande stap hy vinnig met haar tot in die huis en maak die deur toe.
Waarnatoe nou? Soek-soek stap hy in die gang af na die grootste van die twee kamers. Hy sit die lig aan in die hoop dat sy sal wakker word, maar moenie glo nie, sy slaap vas.
Vir ’n oomblik kyk hy af na haar. Bliksem, sy mond water behoorlik. Hy hou van vroumense, het nog altyd, en hy flirt maklik, maar dis nooit ernstig nie. Die oomblik wanneer ’n girl oor “gevoelens” wil praat, slaan hy sommer in koue sweet uit en maak hom vinnig uit die voete. Hy kou eerder glas.
Dalk, as hy eendag iemand ontmoet by wie hy kan hê wat sy pa en ma het, sal hy daaraan dink om ernstig te raak. Sy pa en ma is lief vir mekaar – dis nie iets waaraan hy ooit in sy lewe getwyfel het nie, al was daar vurige verskille tussen hulle. Die meeste ander paartjies wat hy ken, se lewe het verval in ’n vervelige roetine – baie beslis nie sy idee van pret nie.
Sy ma se gesig verhelder nog elke keer wanneer sy haar man sien, en sy groot en sterk pa soek na sy vrou se hand selfs wanneer hulle eet, maar dis nie iets wat hy baie sien nie. Oukei, sy broers, Doug, Quinn en Alan is ook kennelik baie gelukkig getroud, maar van wat hy om hom sien gebeur, is dit nie die norm nie.
Die meeste van sy vriende wat reeds getroud is, is vinnig ontnugter deur die eise wat die getroude lewe stel en baie van hulle is reeds weer geskei. Wat hom net weer laat besef het, die soort liefde wat tussen sy pa en ma is, is skaars. Nee wat, hy geniet sy bachelorstatus. Hy hou van alleen wees en die bonus is, hy kan doen wat hy wil, wanneer hy wil.
So, wat is dit van hierdie vroumens wat hom so fassineer? Hy date gereeld en dis gewoonlik mooi girls, alhoewel hy nooit dieselfde een meer as twee keer uitneem nie. Ná een kuier voel dit elke keer soos werk, en dis net daar wat hy hom uit die voete maak.
Fleur is ook glad nie soos die girls wat hy gewoonlik uitneem nie. Eiewys en vol prikkels is nou nie juis eienskappe wat hom aanstaan nie. Tog . . .
Sy oë gly oor haar gesig. Wat hom wel effens uitfreak as hy eerlik is, is die manier waarop sy haar tuisgemaak het in sy gedagtes en drome die laaste paar dae. G’n vrou het al ooit sy brein so oorgevat soos wat Fleur doen nie.
Wat beteken dit? Beteken dit hoegenaamd iets? Fronsend kyk hy af na haar. Hy ken die girl ’n paar dae, dis tog nie asof sy . . .
Nee, o, magtig, waarheen hardloop sy gedagtes? Half uitgefreak druk sy lippe sag teen haar slape voor hy haar op die bed neersit. Sy trek-trek rusteloos aan haar rok, die bandjie wat afgegly het, druk in haar arm. Demmit, wat is hy veronderstel om te doen?
Sy draai op haar sy, maar bly trek-trek aan die rok. Is sy ongemaklik in die rok? Oukei, miskien wil sy ontslae raak daarvan. Versigtig trek hy die rits af en glip die rok oor haar skouers. Sy asem raak weg. Die dun bandjies van ’n helderpienk bra kom te voorskyn.
Moedeloos laat sak hy sy kop. Dié vroumens gaan nog wragtig sy einde beteken.
Met sy kake styf opmekaar, trek hy haar rok teen haar lyf af totdat nog ’n helderpienk stukkie kant vir hom loer. Vinnig trek hy die kombers wat aan die voetenent van die bed lê oor haar lyf voor hy die rok heeltemal uittrek.
Teen die tyd wat die rok oor die stoel hang, bruis sy bloed so hard deur sy lyf, hy is verbaas sy word nie wakker van die geluid nie.
Hy buk oor haar en trek die kombers oor haar skouers. Vir ’n oomblik huiwer hy, maar toe buk hy af en soen haar op haar mond. Hulle lippe ontmoet slegs vlugtig, maar hy voel die aanraking regdeur sy lyf.
Haar oë gaan stadig oop en sy glimlag. “Fin. . . gewonder . . . hoe jy soen,” prewel sy voor sy weer wegraak.
“Fleur?” roep hy sag, maar sy hoor hom nie. Dis duidelik sy is uit vir die nag, dit gaan nie help om met haar te probeer praat nie.
Gefrustreerd vryf hy oor sy gesig. Hy sal haar motor gaan haal. Miskien kan hulle môre praat. Hy wil haar baie graag weer sien.
Fleur word met ’n kreun wakker. Haar hand vlieg na haar kop waar honderde mannetjies met beitels doenig is. Sy probeer regop sit, maar die pyn agter haar oë is so fel, sy val terug teen die kussings.
Waar is sy? Met ’n groot gesukkel kry sy haar een oog oop. Dis haar kamer, so sy moet in haar eie bed wees, maar . . . Sy draai haar kop te vinnig, die mannetjies kap al hoe heftiger, die pyn is ondraaglik.
Verlig sak sy terug teen die kussing. Dankie tog, sy’s alleen in die bed. So, haar droom oor Fin was net ’n droom . . . Maar . . . Vinnig lig sy die kombers wat oor haar is, op. Haar asem raak weg. Sy’s net in haar onderklere! Hoe het dit gebeur?
Terwyl die mannetjies en hulle beitels sonder ophou kap, probeer sy laas nag se gebeure herroep. Sy was op pad huis toe. Dit kan sy onthou. Wat daarna gebeur het, is baie vaag. Finlay. Hy was beslis by haar.
Met moeite beur sy regop. ’n Naarheid stoot in haar keel op en sy skarrel uit die bed en hardloop badkamer toe. Minute later hang sy moeg oor die toiletbak. Haar foon lui. Wel, dit moet maar lui, sy is nie in staat om regop te kom nie, wat nog te sê ’n foon te antwoord.
Baie later kruip sy vloerlangs terug bed toe. Op die bedkassie is ’n glas water en ’n botteltjie hoofpynpille. Sy het geen idee wie dit daar gelos het nie, maar sy is diep dankbaar. Haar foon raas.
Sy sluk eers die pille weg voor sy haar foon optel. Daar is ’n stemboodskap van Mieke, haar suster, en nog een van ’n vreemde nommer. Mieke se boodskap is laaank, sy sal later daarna luister. Sy maak die ander boodskap oop.
Jy oukei? Jou motor is voor jou deur. Bel my? Finlay
Haar asem raak weg. Driehonderd gedagtes jaag deur haar. Finlay. Hy’t haar huis toe gebring. Haar klere uitgetrek en . . .?
Van voor af naar, strompel sy na die badkamer. Wat het gebeur? Hoekom kan sy nie onthou nie? Hy’t haar opgetel . . . Sy was in sy arms, dit onthou sy, maar daarna is alles net ’n blank. Of nee . . . hy’t haar gesoen, of het sy dit gedroom?
Sy sak af op haar knieë voor die toilet net toe haar foon weer begin lui.
Een ding is in elk geval baie duidelik – vir Finlay Sutherland wil sy nooit, ooit weer sien nie.
Finlay druk sy foon dood. Fleur gaan nie antwoord nie. Wel, dis dan dit. Hy kry die boodskap. Daar is mos darem baie ander visse in die see. Hy vryf oor sy borskas waar ’n dowwe pyn klop. Hy’t dalk weer te vinnig geëet.