Skip to main content

Uittreksel | Ek jy en Hawaii

Een

Die golf spoeg haar sonder seremonie uit. Die branderplank trek eenkant toe en Hanna tuimel iewers tussen op en af. Uiteindelik laat die kolkende water en sand haar gaan en sy beland hande-viervoet op die strand. Sy spoeg die seewater uit, kruip ’n bietjie hoër op en rol op haar rug.

Nog een vir die branders van Hawaii. As dit nie was dat sy so te sê op ’n branderplank gebore is nie, sou sy ’n kompleks begin ontwikkel het. Sy buig haar knieë en kreun van die brandpyn op haar regterknie. Nog ’n litteken in wording.

Adrenalien lek weg in die sand en Hanna se lyf ontspan dieper in die sagte wit sand in. Bo haar begin wolke die helder blou lug volprop. Spierwit cumuluswolke. Hemelvaartwolke.

Here, wil U nie maar terugkom nie. Ek is moeg.

Die wolke bly egter leeg. Vorm net in stilte kolossale monsters. ’n Nat snoet is skielik in haar gesig en ’n warm tong lek die sand en see van haar gesig af.

“Hokaai, ou grote!” Hanna sit regop en probeer die opgewonde Dobermann kalmeer. Uiteindelik gaan sit hy op sy hurke en kyk haar met trots en afwagting aan.

Sy vryf haar hande oor sy blinkswart pels. “Ja, jy het my gekry. So, wat nou? Waar kom jy vandaan?”

Daar is niemand anders te bespeur nie en die strand is veronderstel om eksklusief te wees. Of so het die heen-en-weer-e-posse haar verseker.

“Magnum!”

Die tropiese plantegroei langs die strand ritsel en dan draf ’n fors man uit. Sy drafklere span oor sy gespierde lyf maar dit is sy interessante gesig wat Hanna se aandag trek. Die strak lyne is ver van aantreklik af en ’n litteken strek oor sy linkerslaap, maar sy mond is gemaak vir lag. Die hond spring dadelik op en met ’n agterlyf wat saam met sy stert swaai, wag hy sy baas in.

“Jammer, die rakker is op sy eie missie vandag. Ek hoop nie hy het jou gepla nie.”

Sy Skotse aksent rol swaar en ryk oor Hanna se ore.

“Nee wat, anders as Higgins se helsems is hy vriendelik.”

Hanna trek die vergete branderplank nader en stut die bord voor haar in die sand. ’n Skans, want die stormblou oë kyk reg deur haar.

“Ja, hy het ongelukkig sy waghondroeping gemis.”

Magnum se slanke lyf verdwyn snuffelend in die bosse en Hanna gryp na woorde.

“Hy is ’n lieflike hond. Dit is goed om te sien sy ore en stert is nog soos wat God dit bedoel het.”

Innerlik kreun sy, haar veeartsstem tweede natuur maar té professioneel. Sy dwing ’n glimlag in haar volgende woorde: “Bly jy ook hier?” Sy was onder die indruk dat die huis wat sy al vir ’n week en ’n bietjie huur, die enigste een langs die strand is.

“Hier?”

Sy wys na die strand wat net groot genoeg is vir ordentlike golwe en die baai wat omarm word deur vingers oeroue lawarotse. Haar handgebare sluit ook die digte tropiese woud agter hulle in. Sy het die vorige middag die woud ingedraf maar het nog nie kans gesien vir die bosryke kranse wat alles omring nie. Dit lyk kompleet of dinosourusse enige oomblik vanuit die vulkaniese berge gaan verskyn.

Die blou oë volg haar hand voor hy breed vir haar glimlag. “Hierdie is my familie se landgoed. My huis is verder op teen die hang.” Hy moes die teleurstelling op haar gesig gesien het want hy gaan onverpoos verder: “Moenie so bekommerd lyk nie, ek bly gewoonlik uit die vakansiegangers se hare. Magnum moes jou spoor opgetel het. Ons was besig met ons daaglikse drafsessie toe hy net skielik ’n lyn gesny het strand toe.”

Sy het gewonder oor die goed uitgetrapte paadjie deur die tropiese plantegroei.

“Jammer, waar is my maniere? Ek is Hanna.” Sy steek haar hand uit en hoop hy aanvaar haar vredesoffer. Haar hand verdwyn in syne.

“Richard, my vriende noem my Rick.”

Hy kyk af na haar knie waar ’n straaltjie bloed ’n pad deur die sand op haar been gebaan het.

“Jy sal daarna moet kyk, ’n mens kan lelike infeksies optel van hierdie korale. Daar behoort ’n noodhulpkassie in die strandhuis te wees.”

“Dankie, ek sal.”

Net die brekende branders vul die ongemaklike stilte.

“Nou ja, dit was goed om jou te ontmoet.”

Rooikoper blink in sy skouerlengte hare toe hy dit uitskud en dan weer met die rek bo-op sy kop vasmaak. Hy kyk vir ’n oomblik uit oor die see voor hy byvoeg: “As die wolke al so vroeg in die oggend begin saampak, kom daar ’n groot storm. Maak seker die vensterluike is dig toe wanneer dit begin reën.”

Hy fluit vir Magnum en voor sy kan skaam voel oor haar stomheid, verdwyn man en hond die bos in.

Die helder turkoois waters nooi haar weer in, maar een kyk na waar die son sit en sy draai na die witgeverfde houthuis wat net bokant die swart rotse gebou is. Sy wil nog haar pa bel voor dit te laat raak. Die twaalfuurtydsverskil maak kommunikasie effe moeilik.

Sy bêre die branderplank onder die afdak langs die huis en spoel die sand en see onder die koel lafenis van die buitestort af. Buiten die branderplanke is daar ook twee kajakke. Sy brand om op die see uit te gaan, maar Richard se woorde was wys. Die dreigende wolke voorspel meer as net die gewone laatmiddagreënbui.

Pligsgetrou maak sy die sny op haar knie uit haar eie noodhulptassie skoon voordat sy haar nat swembroek verruil vir ’n kortbroek en T-hemp. Ná ’n vinnige ontbyt uit haar leeglopende voorraad, gaan sit sy op die rusbank voor die groot venster in die sitkamer. Sy sal binnekort moet gaan inkopies doen maar sy sien nog nie kans vir mense nie. Richard se intense oë flits deur haar gedagtes toe sy haar foon optel. Sy sal seker vir hom moet dankie sê vir die onbeperkte internet.

“Ek het amper gedink jy gaan nie vandag bel nie, my kind.”

Haar pa se liefdevolle gesig vul die slimfoon se skerm.

“Jammer, die branders was vanoggend baie uitdagend. Hoe was Pa se dag?”

Dit is sy eerste Hemelvaart sonder haar ma.

“Die tweeling is hier vir die week. Hulle was saam kerk toe en Joshua is besig om vir hulle ’n laataandpeuselhappie te maak.”

“Mm, hoe water my mond nou. Daai ouboet van my weet wat die pad na ’n tienermeisie se hart is.”

Hy lag. “Jou ma sou die horries gekry het. Wafels en roomys is nie bevorderlik vir ’n goeie nagrus nie.”

“Ek hoop hy het nie die stroop en sjokolade vergeet nie,” dik sy ’n bietjie aan. Haar pa weet goed wie sy seun geleer het om laataandwafels te maak. “Hoe het die preek verloop?”

Dit is hulle gewoonte om sy preke te bespreek en Hemelvaart is altyd ’n spesiale geleentheid vir haar pastoorpa.

Hulle gesprek vloei deur sy boodskap, wat sy sover van O’ahu dink, haar oudste broer se moeilike egskeiding en kom dan by die onvermydelike.

“Ek het jou ma vandag gemis.”

Hanna se hart trek saam en sy wens sy kon haar pa se ou lyf in haar arms toevou. “Elke dag.”

Daar is ’n oomblik stilte voor haar pa vra: “En jy, Ligkind? Voel jy al beter?”

Sy wens hy wil haar nie so noem nie, God se lig in haar voel dof. Wat kan sy sê? Nie naastenby nie, is nie die antwoord wat hy wil hoor nie.

“Ek slaap darem al deur.”

Skrik nie wakker van elke geluid en dink dit is ’n nauurse oproep nie.

“Neem jou tyd, my kind. Jou lyf het jare se rus om op te vang. Ons is oukei hier.”

Sy weet hy voeg net die laaste sin by sodat sy nie skuldig voel nie. Hy weet sy voel asof sy hulle in die steek laat. As dit nie was dat hy haar omtrent tot op die vliegtuig gedra het nie, was sy nie nou hier nie.

Hulle gesels ’n tydjie verder oor ditjies en datjies voordat hulle saambid en dan groet.

Met ’n dankgebed in haar hart vir ’n pa wat ten spyte van sy eie pyn vir haar ’n steunpilaar is, stap sy na die moderne kombuis vir ’n koppie koffie. ’n Koffiemasjien wat spreek van geld en die nuutste tegnologie staan trots op die toonbank. Gelukkig was dit verbasend maklik om te leer hoe om dit te gebruik – selfs al moet sy ’n bietjie langer wag vir die koffiebone om gemaal te word. Saam met die indrukwekkende masjien was daar ’n pakkie eg Hawaiiese koffie en sy was aangenaam verras. Die sterk, unieke geur is ver verwyder van die kitskoffie waaraan sy gewoond is.

Ondanks haar pa se gerusstelling dat sy die rus nodig het, sukkel haar kop om gewoond te raak aan die skielike niksdoen. Selfs genoeg tyd om ordentlike koffie te maak is vir haar vreemd.

Haar laaste lang vakansie was toe sy en haar man vir hulle wittebrood Tanzanië toe was. Sedertdien het haar praktyk haar nie net haar huwelik gekos nie, maar amper ook haar siel. Haar besluit om tydelik die praktyk in Marina, haar kollega en nuwe vennoot, se hande oor te gee en weg te stap van haar kliënte en hulle dierekinders, voel nog soos verraad maar was onteenseglik nodig.

Koffie in die hand gaan maak sy haarself weer op die rusbank tuis. Buite het seeperde op die onstuimige branders begin ry. Sy sê elke dag dankie dat sy op die advertensie vir die vakansiehuisie afgekom het – sowat ’n uur se ry van Honolulu en sy besige strande af, modern ingerig en die belangrikste: afgesonder. Ná vanoggend se ontmoeting moet sy egter toegee dat die tropiese woud haar geflous het. Sy is nie so alleen as wat sy gedink het nie.

Sy trek haar tablet nader en begin nog ’n artikel in een van die veterinêre joernale waarvoor sy nooit tyd kry nie, lees. Die skrywer misluk egter daarin om haar aandag te hou en iewers tussen die patofisiologie van hiperadrenokortisisme en diagnostiese protokolle val haar oë toe.

Die klap van ’n luik teen die venster ruk haar wakker en Hanna spring verskrik op. Buite is die see ’n donker rollende massa en vlae reën bombardeer die groot venster. Haar horlosie sê dit is al laatmiddag en die vroeëre dreigende storm is nou ’n siedende monster. Stoeiend teen die wind maak sy die voordeur oop en probeer die luike voor die vensters toekry. Die palms langs die huis kreun in die wind en die hoë bome agter die huis krap onheilspellend teen die dak.

Sy is gewoond aan die Kaapse storms maar dié tropiese storm het sy eie verskriklike skoonheid. Papsopnat en belaai met osoon storm sy weer die huis binne tot onder die stort. Die ligskakelaar faal om lig te bring maar die geiser se water is darem nog warm.

In die spens is daar gelukkig ’n gaslamp en op die gasstoof maak sy vir haar sop warm vir aandete. Sy probeer verder lees maar die storm se onrustigheid bly haar gemoed vol. Gewapen met haar oorfone en aanbiddingsmusiek op haar selfoon, klim sy in die bed en raak uiteindelik teen middernag aan die slaap, die storm nog woedend buite.


’n Aanhoudende geklop aan die voordeur trek Hanna uit ’n droomlose slaap. Vir etlike sekondes probeer sy sin maak van wat sy hoor maar ’n bulderende ‘Hanna’ laat haar vinnig uit die bed spring. Sy ruk die voordeur oop net voor ’n groot vuis weer daarteen klop.

“Wat?”

“Aloha! Stekelrig so vroeg in die dag?” ’n Onnutsige glimlag breek die strakheid van Richard se gesig. Maak dit amper aantreklik.

“Wat maak jy hier, Richard?” Sy wil byvoeg dat dit te vroeg in die oggend is vir besoekers, maar een kyk na die son sê sy het hopeloos verslaap.

“Gisteraand se storm het verwoesting gesaai. Ek het net kom kyk of alles reg is hier. Het jy nog krag?”

Magnum wurm sy lyf deur die deuropening en maak homself op die rusbank tuis. Hanna skud net haar kop en maak die deur groter oop sodat Richard ook kan binnekom.

Oor haar skouer sê sy vir hom om self te kom kyk terwyl sy kamer toe stap om iets anders te gaan aantrek. Sy loop amper in die deurkosyn vas toe sy waarderende blik oor haar kaal bene in die kort slaapbroek gly.

“Hou jou oë vir jouself.”

Sy lae, warm lag maak iets vergete in haar wakker.

Sy borsel vinnig die slaap uit haar mond en koue water in haar gesig dryf die laaste newels weg. Die badkamerlig flits in die spieël, herinner haar dat Richard werklik hier is. Sy het hom nie opgedroom nie.

’n Kyk deur die venster vertel haar die see het nog nie die storm vergeet nie, en in plaas van haar swembroek trek sy ’n denimkortbroek en T-hemp nader. Die feit dat die mentgroen hemp haar son bruin vel komplementeer, het natuurlik niks te doen met die man wat sy nou in die kombuis kan hoor werskaf nie.

Hanna steek in haar spore vas toe sy die kombuis binnekom. Richard, met ’n voorskoot oor sy bont Hawaiiese hemp, staan voor die stoof, besig om roereiers te maak. Sy lang hare is weer met ’n rekkie agter sy kop vasgemaak, die onderkante stylvol geskeer.

“Is dit jou gewoonte om vir vreemdelinge ontbyt te maak?” Sy stap na die koffiemasjien en begin cappuccino’s maak.

“Roereiers is ver van ’n bevredigende ontbyt, maar dit is al wat jy in jou kaste het.”

Hy haal snye geroosterde ciabatta uit die oond en hoop die roereier bo-op. Haar laaste kersietamaties, geurig gebraai, beland langsaan.

Hanna gee sy koffie vir hom aan en gaan sit by die toonbank. Hy sit ’n bord voor haar neer voordat hy ook by die toonbank kom sit. Sy asem die heerlike geure van origanum en pietersielie in en kyk ongelowig na hom.

“Is jy ’n kok of ’n towenaar?”

Hy proes deur ’n sluk koffie. “Net ’n man wat hou van kosmaak. Toe, eet, dit lyk asof jy veels te min eet.”

“Lyk my jy het ook die gewoonte om vreemdelinge te beledig.”

Hy lig sy hande in ’n vredesgebaar op, sy blou kykers laggend.

“Dit het ek seker verdien. Jammer. Miskien is dit my eie honger wat my so voorbarig maak. Ek moes al douvoordag ’n omgevalle boom uit die pad sleep.”

Hanna kyk hom op en af. Daar is krapmerke oor sy hande en gespierde voorarms.

“Anders as wat daai ongelowige kyk van jou sê, het ek dit nie met my kaal hande gedoen nie. Ek is sterk maar my viertrek is sterker.”

Sy gee hom net ’n skewe glimlag en eet verder. Dié keer is dit hy wat haar ondersoekend aankyk toe sy nie vir sy grap lag nie.

“Hoe kry jy die roereier so lekker?” vra sy voor hy kan vra wat sy oë vol lê.

“Dit is ’n Richard Connor Grant- geheime resep. Ek sal jou eers beter moet leer ken voor ek jou sê.”

“Dankie dat jy die krag weer aangesit het. Het die storm ander skade aangerig?”

Hy neem ’n paar happe van sy eie kos voor hy ingee vir haar ontwyking, maar nie voordat sy intense blik haar siel deursoek het nie. Sy weet nie wat hy daar sien nie, maar hy knik en stoot sy leë bord weg.

“Detritus lê rond asof die apokalips gekom het maar behalwe vir ’n paar dakteëls wat los is, sal jou huisie staan. Dit is ten minste op rots gebou.”

Sy staan op en sit die leë borde in die wasbak. As hy maar weet hoe ’n huisie kan wankel, al is God jou rots.

“Dankie vir die heerlike ontbyt. Ek sal opwas.”

Hy staar vir ’n oomblik na haar voor hy antwoord: “Ek skuld jou. Skryf neer wat jy van die winkels af nodig het, dan kom laai ek dit later af.”

Sy kry die gevoel hy wou eintlik iets anders gesê het, maar sy skryf eerder die lysie as om uit te vra. Hy neem die lysie by haar, fluit vir Magnum en stap sonder ’n woord uit. Die hond strek homself traag van die bank af, kom druk ’n natneusgroet in haar hand voor hy flink agter sy baas aandraf.

Sy kyk hulle ongemaklik agterna. Sy was nie baie vriendelik ná al sy moeite nie. Maar sy roep hom nie terug nie. Te bang daardie doelgerigte stappe stap met verwagting haar lewe in. Verwagtinge waarvoor sy nie naastenby kans sien nie.