Skip to main content

Uittreksel | Eggo's van die hart

Een

JJ klim in sy bakkie, sit sy kamerasak versigtig langs hom op die sitplek neer en skakel die enjin aan. Sy buurvrou staan in haar tuin op haar foon en praat en lag terwyl sy ’n blinkbruin haarlok al om haar een hand se vingers draai. Sy is vir hom mooi. Hy onderdruk die prik van bewondering en snuif sinies. Jane Roos. Dis sekerlik met die een of ander van haar talle bewonderaars wat sy so staan en flikflooi. Hy het haar by Rick en Elani se troue ontmoet. Oulike brunet, lewenslustige meisie. Hulle het nogal lekker gedans en gesels totdat hy haar dieselfde met talle ander mans sien doen het. ’n Opperste flerrie, nes sy ma was, was sy gevolgtrekking. Dus, iemand om te vermy.

Driftig stamp hy die hefboom in trurat en trek weg uit die rylaan voor die ouerige huis wat hy onlangs op Bietjiebaai gekoop het. ’n Harde slag en die skuurgeluid van metaal teen sement ruk sy bakkie tot stilstand teen die hekpaal tussen die twee huise. Hy uiter ’n kragwoord wat hy tussen die soldate op die slagveld aangeleer het toe hy tot onlangs oorlogskorrespondent in Oos-Europa was. JJ voel hoe ontsteltenis onverwags deur hom skiet, sy vel laat prik, sy asemhaling rukkerig maak.

’n Flitsherinnering aan ’n dag toe die voertuig in die konvooi reg voor hulle deur ’n missiel getref is, ontplof in sy kop. Hy knyp sy oë toe en hou sy hande oor sy ore om die eggo’s van knetterende geweervuur en gekerm van beseerdes te probeer doof. Here, hoekom noudat ek veilig tuis is? Hoekom neem U nie hierdie bitter beker voor my mond weg nie? Hoekom moet ek oor en oor daarvan drink? Wanneer gaan die oorlog in my kop eendag ophou?

“JJ? JJ!” Dit neem ’n rukkie voor hy registreer dat iemand dringend aan sy motorvenster klop. “JJ, is jy oukei?” vra ’n ligte vrouestem.

Versigtig maak hy sy oë oop en die bekommerde gesig van die flerrie van langsaan verskyn in sy gesigsveld. “Ja, wat traak dit jou?” vra hy bars, steeds vasgevang in die nadraai van die terugflits.

Sy frons en skud haar kop. “Wat? Hoekom reageer jy so aggressief? Dis net ’n hekpaal en jou bakkie se buffer is effens gebuig. Maklik om te herstel.”

JJ voel hoe die effek van adrenalien stadig afneem en hom effens bewerig laat. Die geraas in sy kop raak stil. Alles kom weer in fokus. Die hekpaal. Genade tog, kon hy nie kyk wat hy doen nie? In sy ergernis teenoor sy buurvrou het hy blindelings weggetrek. Genugtig, hy moet leer om te kalmeer; hy is veilig, duisende kilometer van die wrede werklikheid van die slagveld af. Hy druk die knoppie om die ruit te laat sak. “Natuurlik is ek oukei. Moenie bekommer nie, ek sal die hekpaal laat regmaak,” antwoord hy, nou heelwat rustiger.

Die frons bly egter tussen haar mooi oë. “Die hekpaal is die minste van my bekommernis. Is jy seker jy’s oukei?”

“Soos ek sê, dis nie jou probleem nie. Ek sal die hekpaal herstel.” Hy ignoreer haar verder, laat rol die ruit weer toe, skakel sy bakkie aan, en ry om die beskadigde hekpaal die straat in.

JJ krimp innerlik ineen oor sy hom so moes sien. Ai, Here tog, hoekom moes die oorlog hom nou juis so affekteer en nie een van sy vriende wat dieselfde meegemaak het nie? Die psigiater wat hy op aandrang van sy dokter gaan sien het, reken dis heel waarskynlik omdat hy meer sensitief en empaties is as ander. Hy het homself nog nooit as een van die twee beskou nie. Sy moeilike kinderjare het hom mos rateltaai gemaak, nie waar nie? Blykbaar nie taai genoeg om meer as een oorlog sonder letsels te deurstaan nie.


Jane kyk haar vreemde buurman se viertrekbakkie agterna en gaan by haar eie voordeur in. “Weird ... baie weird,” brom sy en skud haar kop.

Haar foon piep in haar hand. Dis ’n WhatsAppboodskap van Elani, haar beste vriendin. Werk jy, of is jy lus vir ’n koffiekuier?

’n Kuiertjie saam met Elani is presies wat sy nou nodig het. Sy glimlag en antwoord met flink vingers. Sien jou nou-nou by Cuppa Dreams. Binne enkele minute is sy in haar motortjie op pad na hul vriendekring se gunstelingkoffiewinkel.

“Hallo,” groet sy toe sy oorkant Elani op ’n leunstoel in ’n gesellige kuierhoekie van die koffiekroegie in die klein winkelsentrum aan die seefront neersak.

“Jy lyk goed. Die getroude lewe pas jou blykbaar uitstekend.”

Elani glimlag stralend. “H’m ... Rick is die beste, maar vertel my eers – hoe gaan dit met jou en jou sexy kameraman?” Sy sit gemaklik agteroor vir ’n lekker geselsie.

“Hy’s nie mý kameraman nie. Hy is baie weird en vermy my deesdae soos die pes. Weet jy wat netnou gebeur het?” Sy vertel van die insident in die oprit.

Elani bestel vir hulle koffie en kaaskoek toe die kelnerin naderstaan. “Jy’s reg, dit is baie vreemd.”

“By julle troue was hy so gaaf en het nogal interessant gesels, maar sedert hy jou ouma Janie se huis gekoop en sy intrek langsaan geneem het, vermy hy my en groet net as dit nie anders kan nie. Ek sien hom dikwels af strand toe stap met ’n kamera om sy nek, maar hy is altyd alleen en voer verder skynbaar ’n soort kluisenaarsbestaan.”

“Snaaks, Rick ken hom van hul universiteitsdae af en hy dink nie hy’s weird nie ... Maar kom ons vergeet nou eers van hom. Hoe vorder die werk aan jou volgende uitstalling?”

“Ek is besig met ’n reeks abstrakte doeke wat ek ‘Oseaan’ noem.”

Elani glimlag. “Abstrak? Dis ook net jy wat die see abstrak kan uitbeeld.”

Jane sit nou ook gemaklik agteroor op haar leunstoel, haar knorrige buurman vergete. “Ek was meer net geïnspireer deur die buie van die oseaan, die wisseling van kleur en die verskillende emosies wat dit by my ontlok.” Kuns is haar passie en sy geniet dit om daaroor te gesels.

“Ek kan nie wag om dit te sien nie. My maat, jy is ’n genie met ’n verfkwas, weet jy?” Elani bekyk haar vriendin met deernis in haar oë.

Jane lag dit weg met ’n waai van haar hand.

“Allesbehalwe. Jy weet mos hoe emosioneel ek is en my kuns gee my ’n wonderlike uitlaatklep. Ek beplan ook ’n paar stukke wat geïnspireer is deur skulpe, seeperdjies, seesterre en ander seediertjies. Ek is só bly julle het my oorreed om hier te kom bly. Die see is ’n eindelose bron van materiaal vir my werk. Dit inspireer my om ook ander mediums as verf te ondersoek.”

Elani glimlag vir die kelnerin wat hul bestelling bring. “Ek en Rick het ’n uitstalling van JJ se swart-en-wit foto’s van die konflik tussen Rusland en die Oekraïne, veral die inval van die afgelope jaar, bygewoon. Ek was behoorlik ontroer deur wat hy deur sy kameralens vasgevang het. Oorlog bly maar vernietigend. Die gesigte van die mense in sy foto’s vertel hartverskeurende verhale sonder enige woorde. Dis jammer jy was nie saam nie. JJ is net soos jy ’n briljante kunstenaar; hy gebruik net ’n ander medium. Julle twee behoort goed oor die weg te kom.”

“Allesbehalwe. Hy kyk na my asof ek hom persoonlik iets aangedoen het.”

“Die aand by sy uitstalling het ek en Rick die indruk gekry dat hy diep gelowig is. Hy het al die winste van daardie uitstalling geskenk aan die noodfonds vir oorlogswesies.”

“Sowaar? Dis nuus vir my. Ek weet nie so mooi nie, ek kry deesdae vreeslike negatiewe vibes van hom. Dis asof hy byna minagtend teenoor my is,” antwoord Jane skepties terwyl sy haar koffie stadig roer.

“Waaroor kan dit wees?”

“Ek het nie ’n idee wat ek gedoen het om die man soveel aanstoot te gee nie. Ek sê mos hy tree vreemd op. Sy reaksie vanoggend toe hy per ongeluk die hekpaal raakgery het, het my ’n heel ander insig in sy persoonlikheid gegee. Ek dink ek moet so ver moontlik van hom af wegbly.” Dit sal die beste vir haar sielevrede wees. JJ krap haar om.

“Jane, ek wil nog die man sien wie se knieë jy nie lam kan maak nie. Hy’s nogal sexy op ’n ruwe, manlike manier. Fladder bietjie jou wimpers vir hom. Ek wed jou hy sal nie staande bly teen jou vroulikheid nie.”

“Nee wat, dis nie die moeite werd nie. Hy’s immuun, sê ek jou, ek sal liewer my aandag op Kobus fokus.”

“Rick se vriend Kobus, die misdaadskrywer?” vra Elani verbaas.

“Einste. Hy het my vanoggend gebel. Rick het glo my nommer vir hom gegee. Met my nare buurman se performance oor die hekpaalinsident, het ek so byna daarvan vergeet.”

“Rick het my gesê Kobus en Elmie is uitmekaar. Ons het gedink die twee sou afhaak, maar Kobus sê hulle was nie regtig ernstig nie. Miskien is julle twee vir mekaar bedoel. Het hy jou vir ’n date gevra?”

“Nee, maar hy sê hy oorweeg dit om hom ook hier te kom vestig.”

Elani se wenkbroue wip op. “Wow, as dit só aanhou, is al ons vriende een van die dae hier op Bietjiebaai.”


JJ stap met die strandpaadjie af see se kant toe. Net voor sonsopkoms is die beste tyd vir die soort foto’s wat hy beoog. Dié tyd van die oggend is die kwaliteit van lig net reg vir nabyskote daar by die rotspoele. Later is die weerkaatsing van sonlig te helder op die water. Die sonsondergang bring weer ander nuanses wat net so goed werk vir die foto-illustrasies wat hy vir sy volgende boek benodig. Die een oor die oorlog is reeds by die drukkers.

Hy snuif liggies en stap oor die los sand na ’n rotsbank se kant toe. ’n Paar maande gelede het sy dagtaak heel anders daar uitgesien. Tonele van verwoesting en ellende was aan die orde van die dag. Sy werk was om die storie van die oorlog digitaal vas te vang en aan te stuur na die tydskrifte en koerante wat geld maak uit die swaarkry van die mense in oorloggeteisterde gebiede. Ná jare van die gejaag na die tragedies wat in die voorste linies afspeel, het hy besef dis tyd om weg te breek en terug te keer voordat dit sy hele menswees verander; meer nog, voordat dit sy geloof aantas. Dis nou te sê as dit nie reeds het nie. Hoe kan ’n God van liefde soveel wreedheid en ellende toelaat? Dis die vraag wat telkens by hom opkom.

Hy skud die donker gedagtes af en geniet dit gate uit terwyl hy in rotspoele snuffel vir seediertjies en skulpe vir nabyfoto’s. Hier kan hy ten minste die skepping waardeer sonder vrees dat ’n bom enige oomblik kan ontplof. Soms lig hy sy kamera om ’n brander net voor die breekslag deur die lens vas te vang; of die son se eerste strale wat oor die horison breek. Ander kere klik sy kamera wanneer seeskuim deur die lug trek en op die nat sand neerplons. Ja, God se hand is sigbaar in elke, unieke stukkie skepping in die natuur. Hy is opnuut dankbaar dat hy die oorlog oorleef het om die vrede hier op Bietjiebaai te kan beleef; die nare nagevolg waaraan hy ly, ten spyt.

Dan val sy oog op ’n eensame figuur op ’n rots daar naby. Dis sowaar sy flerrie van ’n buurvrou wat daar sit. Vir ’n verandering is sy nie besig om met die een of ander man te flirt nie. Dit lyk of sy sit en skryf. Nee, die lang hale van haar potlood oor die bladsy van ’n tekenblok lyk meer of sy skets. Sy’s mos ’n kunstenaar. Nou is sy belangstelling geprikkel. Sonder om te dink stap hy nader. Impulsief lig hy sy kamera om haar beeld te verewig. Met haar los hare wat liggies in die seebriesie wapper, lyk sy soos ’n meermin daar op die rots.

Die klikgeluid van sy kamera toe hy naby haar kom, laat haar gesteurd opkyk. “Hei, wat maak jy?” vra sy.

“Ek kiek meerminne,” antwoord hy ongeërg.

Sy maak haar hare bymekaar en glip ’n rekkie van haar pols af om dit in ’n poniestert agter in haar nek vas te bind. “Meerminne woon onder die see in Atlantis, nie hier nie.”

Nou is haar hoë wangbene en mooi seegroen oë net meer prominent en sy vinger druk onwillekeurig weer en weer die knoppie van die kamera. Is die kyk wat sy in sy rigting mik, agterdogtig? Seker oor sy snaakse optrede laas week toe hy die hekpaal verwoes het. Hy moet meer selfbeheersing toepas. Maar die terugflitse en nagmerries is buite sy beheer; die weet hy mos. Die psigiater het gesê dit sal tyd neem om te vervaag.

Sy draai haar kop weg. “Vra jy nie mense se toestemming voor jy hulle afneem nie?”

“Nie die van flerries wat enigiets doen om mans se aandag te trek nie.” Hy hou sy kamera gereed vir haar reaksie en word nie teleurgestel nie. Haar kop ruk op en haar mond val oop. “Wat?! Wat sê jy daar?” Hy verkneukel hom in die stilligheid. Daardie giftige kyk sal ’n man se velle kan afstroop.

Hy grinnik selfvoldaan en hou aan foto’s neem.

“Dit werk elke keer. Eerlike, spontane reaksie maak die heel beste foto’s.”

“Stop dit!” Sy vlieg op en begin kop onderstebo haar sketsblok en potlode in die sak wat sy by haar het, druk.

“Relax. Kameraskote is nie geweerskote nie.”

“Daar waar jý vandaan kom, gaan die twee hand aan hand, nie waar nie?” Sy haak haar rugsak se bande oor haar skouers.

“Jy’s vroeg hier op die rotse,” verander hy veiligheidshalwe die onderwerp. “Is kunstenaars nie veronderstel om lui wesens te wees wat laat slaap nie?”

“Nie so lui soos kameramanne wat soos kluisenaars lewe nie. Ek is verbaas om jou buite te sien,” snip sy terug.

Nie op haar bek geval nie, nè? “Touché!”

“Wat neem jy af, buiten vroue met vissterte? Wat ek, terloops, nie het nie.” Sy lig ’n kaal voet met toonnaels wat soos pienk, blou, pers, groen en geel skulpies lyk. Elkeen is sowaar in ’n ander pastelkleur.

Hy glimlag, mik en druk vir nog ’n foto of twee van haar bont tone.

“Hoekom dra jy verflenterde jeans? Kry kunstenaars deesdae só swaar?” vra hy met sy oë op haar knieë wat tussen materiaalflenters deur loer.

“Dis nie verflenter nie, dis ontwerpersjeans.” Verontwaardiging laat haar oë blits. ’n Vonk daarvan resoneer in hom.

“Genade, wat sal julle generasie nou nóg uitdink?” Sy lyk vir hom nogal oulik daarmee.

“Van watter generasie dink jy is ek?”

“Generasie Z, of nee wag, jy’s te jonk daarvoor. Jy is seker ’n millennial.” Kliek-kliek, gesels sy kamera saam.

“Jip, ek’s nie só oud nie. Ek dink eerder jy’s van generasie Z. Hou op voor ek jou kamera in die see gooi, Metusalem.” Sy kom dreigend nader.

Hy hou sy kosbare kamera buite haar bereik. Metusalem nogal. Hy is darem nie té lank voor die draai van die eeu gebore nie. Hy weet hy lyk effens ouer as wat hy is ná sy ontberinge in die oorlog, maar hy gaan haar nie reghelp nie. “Nie voor jy belowe om saam met my ontbyt te gaan eet nie.” Is dit woorde wat uit sy mond gekom het? Genugtig, waar is die beskermengel wat voor sy mond wag moet hou sodat hy nie onbesonne dinge sê nie? Sy is ’n opperste koket en as hy weet wat goed vir hom is, behoort hy myle ver van haar af weg te bly.

Jane begin aanstap huis se kant toe. “Ek is versigtig vir trigger-happy kluisenaars.”

Dink sy hy is snellermal net oor hy jare op die front was? Die enigste sneller wat hy nog ooit getrek het, is dié van sy kamera. “Ek belowe ek sal my kamera by die huis los as jy saam met my gaan eet.”

Daar gaan sy mond al weer op loop met hom.

“Ek weet darem nie of dit veilig is saam met jou nie.”

Haar poniestert swiep heen en weer toe sy haar kop skud. Is flerries nie veronderstel om oorgretig ja te sê nie? Sy ma was altyd die een wat voorstelle gemaak het aan haar bewonderaars. Blykbaar nie hierdie een nie. Sy speel ’n ander speletjie.

“Ek sal versigtig wees en geen pale omry nie,” belowe hy.

Hoekom probeer hy so hard om haar te oorreed? Hy het mos nie juis respek vir haar soort nie.

Sy glimlag beterweterig. “Ek is nie so seker daarvan nie.”

JJ se kop sak skeef en agterdogtig beloer hy haar vanonder sy wimpers. Speel sy hard to get? Is dit net nog ’n flirtasietegniek? Hy trek sy skouers op. Hoe moet hy nou weet? Hy was jare laas regtig in nabye kontak met vroue, veral mooies soos hierdie een. Sal hy haar sê dit was eintlik haar skuld; geheel en al háár skuld dat hy die paal omgery het?

“Nou maar goed. Op voorwaarde ons gaan eet by daardie plekkie op die strand sodat ek nie nodig het om te gaan skoene aantrek nie,” verras sy hom.

“Nou praat jy mý taal. Oukei, kom. Pasop, die rotse is nogal skerp.” Hy vat haar hand en help haar hoflik oor die laaste paar rotse. Hy mag oorlogvoos wees, maar hy weet darem nog hoe om ’n vrou te behandel, al is haar karakter volgens hom so ietwat aan die bedenklike kant.


Toe hulle teenoor mekaar op die dek van die strandrestaurant sit, loer Jane onderlangs na haar buurman. Met sy breë skouers, smal heupe en sterk, songebruinde voorkoms is hy seker een van die manlikste mans wat sy al teengekom het. Die jare in die voorste linies het hom blykbaar rateltaai gemaak. Sy gelaatstrekke is nie eweredig genoeg om hom ’n filmstervoorkoms te gee nie; sy donker hare is langer as die norm. Niemand sal dit ooit waag om hom ’n mooi man te noem nie, maar daar is iets uitsonderlik aan hom wat haar weer en weer laat kyk. ’n Regte Camel Man. Sy giggel innerlik. Elani sal vir haar lag as sy hom só beskryf. Sigaretadvertensies is mos lankal nie meer ’n maatstaf vir manlikheid nie. Nietemin, hierdie man het dit.

“Wat is dit wat jy so amusant vind?” Toe sy opkyk, is sy broeiende blik agter die lense van sy sonbril stip op haar gerig.

Jane probeer sonder veel sukses om haar uitdrukking niksseggend te maak. Haar mondhoeke dreig steeds om in ’n glimlag te lig. Vinnig laat sak sy haar kop sodat haar spyskaart die grootste gedeelte van haar gesig verskans. “Sommer niks nie.” Hoekom kry sy die indruk dat hy haar weeg en te lig bevind?

Gelukkig daag die kelner op daardie oomblik op om hul bestelling te neem. Sy besluit op ’n gesondheidsontbyt van vrugteslaai, jogurt, muesli en vrugtesap. Hy kies ’n allegaartjie en koffie. “Waaraan werk jy op die oomblik?” vra hy toe die kelner wegstap om hul bestelling uit te voer.

“Son. Sand. Skulpe. See.”

Hy skuif sy sonbril op oor sy hare wat syerig blink in die son en sy helderblou oë verras haar soos telkens tevore. “Bietjiebaai, met ander woorde. Eintlik ek ook. Gaan jy weer ’n uitstalling hou?”

“Ek sal moet as ek wil oorleef. Vlooimarkte doen nie die ding vir my nie.”

JJ leun vorentoe met sy elmboë op die tafel. “Weer by dieselfde kunsgalery in die stad waar jou eerste uitstalling was?” vra hy.

“Moontlik. Ek kyk nog rond. Daar is glo ’n galery op ’n wynplaas in Franschhoek wat uitstallings vir onbekende kunstenaars reël.”

“Ek weet van hulle, ja, ek was al daar. Hul uitstalruimte is net te groot vir ’n solo-uitstalling.”

Sy trek haar skouers op. “Ek sal nie omgee om dit met iemand anders te deel nie.”

“Ek hou nie van deel nie.” Hy kyk uit oor die see.

Hoekom verbaas dit haar nie? “Ek glo jou nie. Het jou ma jou dan nie geleer om met ander te deel nie?”

“Miskien moes ek in my lewe te veel dinge deel,” is sy kriptiese antwoord terwyl hy sy sonbril weer teen die skerp strale van die opkomende son oor sy oë skuif. “Ons was vyf kinders en geld was skaars.”

Jane kry die gevoel dis beter om nie verder daaroor uit te vra nie. Sy verander dus die onderwerp.

“Waarvoor staan JJ?”

“Niks, dis net JJ,” is sy kortaf antwoord. Die boodskap is hard en duidelik: los liewer uit.

Enigmaties, dis wat hy is, besluit sy. Die kelner bring hul drinkgoed en die gesprek verskuif na meer algemene dinge. Miskien is dit beter as hulle mekaar in die toekoms heeltemal vermy, dink Jane. Hoekom hy haar vir ontbyt genooi het, is totaal onverklaarbaar. Haar nuwe buurman bly maar ’n raaisel.