Uittreksel | Eerste keuse
Een
Mia Roux duik by die swembad se diep kant in en swem energiek heen en weer. Sy het oefening nodig. Haar aanstaande skoonsussie Bea se kombuistee gisteraand hier by Bea en haar twee vennote se koffie-en boekwinkel was lekker, maar nou voel haar kop dof van een sambreeldrankie te veel. Sy is nie ’n drinker nie, maar die vrolike klomp Bosvelders weet hoe om fees te vier, en as organiseerder van die kombuistee kon sy natuurlik nie anders as om ’n hele paar van haar eie konkoksies te verorber nie. Dit was ’n aand vol pret en plesier, maar vanoggend betaal sy vir die oordaad. Miskien sal die koel swembadwater help.
Onverwags gryp ’n groot hand haar aan die voet. So byna-byna versluk sy haar aan die chloorwater. Verwoed skop sy om haar voet te bevry en spartel desperaat om kop bo water te hou. “Hei! Wat de . . .?”
Uiteindelik kom haar voet los en ’n donker kop verskyn naby haar uit die blou dieptes. “Ek wou net seker maak ek sien wat ek sien. Meerminne het gewoonlik stertvinne, nie tone met rooigeverfde naels nie. Wat soek jy so ver van die oseaan af, Lorelei?”
Dis sowaar Jaco, een van Bea se broers, wat haar so bekruip het. Sy kon geraai het hy sou ook die een of ander tyd hier opdaag. The Book Café is mos reg langs haar broer se praktyk in die huis waar die drie Botes-sibbe grootgeword het. Sy sukkel nog om mooi uit te pluis wie nou eintlik wie is in die saamgestelde gesin wat meer gekompliseerd geraak het met dié dat Jaco se broer Schalk aan hul stiefsussie Karien verloof is. “Mia. My naam is Mia.”
Hy vee water van sy gesig af. Twee kykers amper net so ysblou soos die swembadwater spot met haar. “Ek weet. Ons het mos ontmoet die dag toe jy ons klomp manne daar in die stad gehelp het om aandpakke vir volgende week se troue te huur.”
Sy onthou hom maar alte goed, maar hy hoef dit nie te weet nie. “H’m. Watter een van my broer se strooijonkers is jy nou weer?” In ’n poging om van sy intense blik te ontsnap, sak sy dieper in die water in en draai effens weg van hom af.
Hy glimlag alwetend en laat dwaal, natuurlik aspris, sy oë verder af oor haar figuur in die swart bikini met wit polkakolle. “Jy weet dat jy net so sigbaar onder hierdie helderblou water is as daarbo, nè?”
Mia klik haar tong vir hom. Sy moes eerder ’n eenstukbaaibroek gebring het vir die week hier by haar tweelingbroer. “Jy antwoord nie my vraag nie. Wie is jy?” hou sy haar steeds dom.
“Bea se ouer broer Jaco, tot u diens.”
Sy frons kastig verward. “H’m. Ek dog dan haar ouboet se naam is Schalk, die een wat aan Karien verloof is?”
“Hy is ook Bea se broer, maar ek is Jaco, die baie aantrekliker, veel interessanter een wat in die stad woon.” Hy maak weer ’n teatrale buiging.
“Ha! Die aansienlik verwaander een, sien ek. Wat is dit met julle mans en jul ego’s?” Egoïsties is hoe sy hom opgesom het toe sy die manne ongemerk dopgehou het die dag daar by die mansuitrusters toe hulle tuxedo’s moes aanpas.
Hy grinnik, geensins ontmoedig nie, duidelik ingenome met homself. “Einste. Aangename kennis.” Hy steek ’n hand uit.
Sy maak of sy dit nie sien nie en swem weg na die oorkant toe om van sy ysblou kyk te ontsnap. Jimmeltjie, die man het mooi oë! “Ek weet nie hoe aangenaam dit is nie. Ons is noodgedwonge hierdie week saamgegooi met al die reëlings vir Saterdag. Die dames van die VLU doen die spyseniering, maar ons klomp strooimeisies en strooijonkers moet self die onthaalsaal versier en daar is nog hope werk wat gedoen moet word.”
Hy kom agter haar aan en hang langs haar aan die rand van die swembad. “Wel, ek het die hele week verlof by die werk geneem en is tot jou beskikking. Sê net wat ek kan doen om te help. As jy magic benodig, I’m your man.”
Mia snuif sinies. “Ek weet nie van magic nie, maar ja, die versiering van die saal is hoofsaaklik my verantwoordelikheid, en jy is veronderstel om te help. Wat soek jy so vroeg hier? Hoekom is jy nie meer op die plaas waar die rampartytjie gisteraand was nie?”
“Ek het nie so baie soos die ander gedrink nie, en dus was ek vroeg wakker.”
Darem iets positiefs in sy guns. “H’m. En wat doen jy as jy by die werk is?” vra sy.
“Korporatiewe reg. Ek is ’n vennoot by die regspraktyk Van der Colf, Botes en De Bruyn.”
Sy lig haar wenkbroue vir hom. “Dit jok jy. ’n Vennoot met sy naam op die muur en dit op so ’n jong ouderdom?” Sy het immers ’n hele paar hofdramas op Netflix gekyk en het ’n goeie idee hoe regspraktyke werk. “Om jou naam op die briefhoof en teen die muur van ’n groot regsfirma soos daardie te kry, het jy heelwat ervaring en geld nodig.”
Hy roer sy skouers. “Wat kan ek sê? As jy goed is, is jy goed.”
Sy lag. Ai tog, hoekom klink dit so asemrig? Sy sal haarself moet regruk, dit sal nie deug om hom te laat agterkom hoe hy haar bloeddruk ondanks sy haantjierige houding laat styg nie. “Getrou aan die aard van alle prokureurs. Julle bluf mos al die pad net om sake te wen.” Daar’s hy, dis beter. Sy skreef haar oë vir hom. “As ek dit nie mis het nie, is daar slegs twee name, Van der Colf en De Bruyn, op die muur by daardie firma waarvan jy praat.”
Hy lag onbekommerd. “Eina! Uitgevang. Jy’s reg, dit was pure bluf. Maar my naam gaan binnekort daar wees, hou gerus die muur dop wanneer jy daar verbyry op pad na jou galery toe.”
Sy frons effens. Hy weet waar haar kunsgalery is! “Vind jy dit altyd nodig om te lieg om vroue te beïndruk?” Hy lyk erg geamuseerd, want hy skeer natuurlik heerlik die gek met haar. Gewoonlik kan sy dwarsdeur mense sien, maar hierdie een laat iets uiters onwelkom in haar binneste woel. Nee wat, sy verbeel haar dit net. Innerlike roeringe oor ’n man is ongehoord vir Mia Roux wat te alle tye komkommerkoel en in beheer is. Sy kry nie vlinders op die maag vir enige man nie. Dit is iets wat sy by haar biologiese ma geleer het: As jy nie erkenning daaraan gee nie, sal dit vanself weggaan, het haar ma geglo.
Hy swem weg anderkant toe en sy kan nie help om die speling van sy rug- en armspiere op te merk nie. “Net vir die snobs wat neus in die lug genoeg is om ’n goeie liegstorie te regverdig,” antwoord hy met sy tong duidelik in sy kies toe hy die oorkant bereik. Jip, hy sukkel met haar vir sy eie vermaak.
Hy dink sy is ’n snob? Dis duidelik hy ken haar nog nie. Gelukkig nie. Dit sal dit makliker maak om enige nouer kontak met hom te vermy terwyl hulle hierdie week noodgedwonge moet saamwerk. Mia onderdruk ’n glimlag. Sy weet nou reeds hy is nie wat hy voorgee nie, sy wonder of hy ooit regtig ’n prokureur is. “Hoekom is jy vanoggend hier? Jou ouers bly mos lankal nie meer in hierdie huis nie?”
“Soos jy weet, het ons klomp manne laas nag ná die rampartytjie in die jagkamp op Werner se plaas geslaap. Ek het uit die mag van die gewoonte vroeg opgestaan en hierheen gekom om te swem. Ma-hulle se swembad by hul nuwe huis is te klein om werklik te kan swem vir oefening.” Hy lig homself uit die water om op die rand van die bad te sit. Waterdruppels biggel van sy skouers af oor ’n strooisel donker borshare en goedgevormde spiere tot in die band van sy styfpassende swembroek.
Mia volg dit met haar oë. Iets wat nog nooit geroer het nie, kriewel sowaar weer in haar binnewerke. Hierdie keer verbeel sy haar nie. Sy klim vinnig by die swembad se trappe uit, gryp die handdoek wat sy op ’n tuinstoel gelos het en draai haarself daarin toe. “Sien jou later,” sê sy gesmoord en vlug reguit na die veiligheid van haar broer se huis langsaan. As sy hom wil vermy, moet sy liewer nie weer Bea se aanbod om van die swembad by die koffiewinkel gebruik te maak aanvaar nie. Hierdie lid van die Botes-familie voorspel gevaar vir haar gemoedsvrede. Om komkommerkoel te bly in sy selfversekerde teenwoordigheid, gaan nie so maklik wees nie.
Jaco tref sy ma by die tafel in die kombuis van haar en Wickus se huis aan. “Môre, Ma.” Hy staan nader en soen haar van agter af op haar kroontjie.
Marli kyk op na hom. “A, iemand het ontwaak en soos gewoonlik is jy eerste op en wakker. Waar is Schalk en Pa?” vra sy met ’n verwelkomende glimlag. “Kry vir jou koffie en van ouma Bets se boerbeskuit.”
“Dankie, Ma.” Hy skink koffie in ’n beker en kom sit ook by die tafel. “Toe ek van die plaas af weg is, het die klomp nog gesnork. Hulle het gisteraand te veel van Pa se whiskey verorber. Ek het liewer net ’n paar biere gedrink.”
Marli glimlag toegeeflik. “Laat hulle dit gerus maar afslaap. Ek het geweet hulle sou dit oordoen, maar liewer nou as volgende naweek. Ons wil nie Bea se spesiale dag bederf nie.”
Hy roer suiker in sy koffie. “Kan Ma glo, dis net ek van jou en Pa se vier kinders wat nog ’n losloper is?”
Sy glimlag. “Ja, ons is almal baie bly oor Schalk en Karien se verlowing. Hulle is perfek vir mekaar.”
“Hulle twee pas baie beter by mekaar as hy en daai Ronika wat hom so gedrop het. Hy en Karien ry glo oral rond op soek na oudhede om hul huis mee te meubileer en noem dit ’n skattejag.” Hy snuif spottend.
Sy ma skud haar kop. “Karien is goed vir hom. Eintlik het ek haar jare gelede al vir hom uitgesoek, maar sy was toe nog te jonk en hy was saam met Ronika.” Met ’n glimlag tel sy haar koffiebeker op. “Dinge werk altyd uit soos dit moet.”
Hy kry vir hom ’n yslike stuk beskuit. “Soos Ma en oom Wickus wat mekaar dertig jaar later weer raakgeloop het?”
Sy bekyk hom oor die rand van haar koffiebeker. “Einste. Jou hare is nat, het jy gestort of geswem?”
Hy grinnik, ingenome met homself. “Geswem, en as bonus ’n meermin in die proses gevang.”
“Ek neem aan dit was nie hier in ons swembad nie?” raai sy ma laggend.
“Nope, by ons ou huis. Mia is blykbaar ook ’n vroegopstaner.”
“A, dit verduidelik die glinstering in jou oog. Oulike meisie, maar nie die soort wat jy gewoonlik uitneem nie, of hoe?”
Hy frons en lek sy teelepel af. “Het ek ’n soort?”
“Laat ons sien. Die min kere wat jy wel meisies uitneem, is dit gewoonlik die effens lighartige soort, die paartiegirls wat geen permanente verhoudings soek nie. Die no-strings-attached-soort. Mia, aan die ander kant, is uiters gesofistikeerd, byna hovaardig ten spyte van haar boheemse kleredrag, maar ek dink dis net ’n front. In die regte geselskap kan sy nogal opgewek en spontaan wees. Sy en Luke het nie maklike kinderjare gehad nie.”
Hy doop sy beskuit in die koffie. “Hoe so? Ek dog dan hulle familie is skatryk.”
Marli tel beskuitkrummels met haar vingerpunte van die tafelblad af op en laat val dit terug in die houer. “Geld is nie alles nie en kan soms nogal ’n struikelblok wees. Hul ma is jonk oorlede en hulle pa het daarna ietwat van ’n rokjagter geword wat met die een ná die ander trofeevrou getrou het net om weer te skei. Luke en Mia is eintlik deur hul ouma en oupa grootgemaak. In ’n volgehoue poging om sy eerste vrou te vervang, is dokter Roux senior glo tans op soek na vrou nommer vier.”
Jaco skreef sy oë. “Luke en Mia is ’n tweeling en sy eerste vrou was hulle ma, nè?”
“Ja, ek verstaan so.”
Hy diep die laaste stukkie van sy beskuit uit sy koffie met die teelepel op. “H’m . . . dis dalk net die moeite werd om meer uit te vind. Ek hou van haar vurige gees. Sy sal ’n man op sy tone kan hou.”
Sy ma glimlag vir hom. “Ek hou ook van haar, sy is baie talentvol. Hier in die eetkamer hang een van haar skilderye wat Pa vir my by haar galery gekoop het. Trap net versigtig, dis al wat ek sê.”
“Moenie worry nie, ek is baie versigtig. Ek wil nie ook soos Bea en Schalk binnekort ’n strop om my nek kry nie. Ek hou van my vrygeselstatus, baie dankie.” Hy is ver van gereed vir vrou vat.
Sy ma sit ’n hand op sy arm. “Dit weet ek, maar jy was nog altyd die sensitiewe een van my kinders. Wanneer jy die dag besluit om te trou, sal jy baie mooi moet kies, anders eindig jy dalk ook met iemand soos Ronika wat jou seermaak, en jy sal nie so maklik daaroor kan kom soos Schalk nie.”
Hy skud sy kop. “Nope, Schalk het dit glad nie so maklik verwerk nie, hy steek sy gevoelens net beter weg as ek. Ek dink hy het seerder gekry as wat hy laat blyk het. Gelukkig het hy nou vir Karien wat die grond aanbid waarop hy loop.”
“Dis vir seker. Jy was mos ook op ’n stadium lief vir Karien?” Hy kan sien sy ma probeer dit vir hom wegsteek, maar daar is kommer in haar moederoë. Marli dra beslis die wel en wee van haar kinders op die hart.
Hy staan op, sit sy leë koffiebeker in die wasbak en antwoord dus gerusstellend. “H’m, ja ek was, maar dis lankal iets van die verlede. Ma hoef Ma nie daaroor te bekommer nie. Ek het intussen in die harde korporatiewe wêreld grootgeword.”
“Inderdaad. Jy is lankal nie meer die een wat in jou broer se skaduwee loop nie.”
“Nee, ek het hard daarteen baklei en sterker bo uitgekom.” Hy druk ’n soen op sy ma se voorkop. “Ek gaan net gou stort, ’n klompie e-posse opvolg en ’n paar oproepe maak. Ek is nou wel op verlof hierdie week, maar die werk wag nie vir troues en partytjies nie.”
Marli frons. “Is dit dan nie Sondag vandag nie?”
“Sekere dinge kan nie wag nie. Ek het mos vir Ma gesê die korporatiewe wêreld is ’n harde plek.” Hy waai met sy vingers en loop gangaf na die gastekamer waar hy slaap wanneer hy by sy ma-hulle kuier.