Skip to main content

Uittreksel | Een vir een

Een

As ek ’n genadiger werk gekies het, sou ek nie op ’n Maandag ’n nerf ná sonop ongeskeer, ongestort en op ’n nugter maag in Burgerspark na Zoltan Slović staan en kyk het nie. Hy sit op ’n bank, hande op sy skoot, kop vooroor. Op ’n afstand het dit gelyk of hy dut, maar van naby vertel sy bebloede hemp ’n heel ander storie. Slović is in ’n veel dieper staat van rus. Die man is so dood soos die bank waarop hy sit.

Dis nie juis ’n verrassing om hom só te sien nie. As jy jou op die donker paaie van die onderwêreld begeef, moet jy maar saamleef met die moontlikheid om gewelddadig aan jou einde te kom. Hulle noem dit beroepsrisiko. Nogtans vind ek sy heengaan redelik ontstellend. Nou nie tot traanstortens toe nie. Dit sou net gaaf gewees het as Slović sy afskeid kon uitstel tot ná ek ’n woordjie of twee met hom gewissel het oor die moord op Prince Baloyi.

Gelukkig is die ou lewe darem nie gatkant rondom nie. Mens moet net blymoedigheid behou en die positiewe dinge ook raaksien en waardeer. Dit kon byvoorbeeld winter gewees het en dan sou ek in die koue en donker hier gestaan het. Dit kon gereën het. Maar dis nie winter nie en dit reën nie. Dis ’n lieflike Oktober-oggend, die jakarandas blom uitbundig en as ek my ore fyn instel, kan ek selfs ’n voëltjie of twee iewers hoor hoes.

Maar ek is nie op ’n uitstappie nie, daar is werk om te doen.
Die snye in Slović se hemp dui sterk op steekwonde en as ek die saak so beskou, lyk dit of hy ’n hele paar van die goed opgedoen het. Dit lyk nie of hier ’n bloedspoor in die omgewing is wat kan aandui of hy op eie stoom hier gekom het of iewers anders vermoor is en hier neergesit is nie. Wat in elk geval ’n simpel ding sal wees om te doen.

Alhoewel, met georganiseerde misdaad weet mens nooit. Daar is ekshibisioniste onder hulle wat opsluit hulle werk moet uitstal. Vryheid van uitdrukking, noem hulle dit.

Die twee uniforms wat nog vroeër as ek hier was, staan my en kyk asof hulle verwag dat ek iets moet sê.
“Het julle nie ’n seiltjie om oor die man te sit nie?” sê ek maar iets. Hoekom sal ek nou moeilik wees?

Beide skud hulle koppe. “Nee, Kaptein,” brei een uit.
“Is julle nie veronderstel om van die goed in julle voertuie te hou nie?”

Die woordvoerder haal sy skouers op. “Ander mense vat dit.”
Wat seker ’n aanvaarbare verskoning is, die mens is mos maar ’n vatterige spesie. Maar laat ek liewer nie te spesifiek raak nie.

’n Skraal man met grys hare en ’n bril staan ’n entjie weg by ’n lamppaal en kyk ook na my. Daar is ’n subtiele aura van waardigheid aan hom, asof hy iets in die lewe bereik het maar dit nie te ver uithang nie. Hy het ’n wynrooi sweetpak en wit sportskoene aan. In sy een hand hou hy ’n leiband waaraan iets soos ’n wolruspe met hiperaktiewe groeikliere vas is.
Asof die gediertetjie my waninterpretasie kan aanvoel, lig dit ’n agterbeen teen die lamppaal en help my reg betreffende spesie en geslag.

In sy ander hand het die man een van daardie plastieksakke wat mens by supermarkte koop om jou aankope in huis toe te vat en dan nie weet wat om daarmee te doen nie. Ek raai dat dit in hierdie geval volhoubaar vir hersirkulasie doeleindes aangewend word om die affêrinkie aan die leiband se nalatenskappies in te vat huis toe. Ter wille van publieke higiëne.

“Is dit die man wat ingebel het?”
Beide uniforms knik bevestigend. “Meneer Combrink,” brei die woordvoerder uit.

Ek loop nader. “Môre. Meneer Combrink?”
“Môre,” sê die man. “Ja, Johannes Combrink. Noem my sommer JC.” Hy spreek dit op die Engelse manier uit: Jay See.
“Ek is Fritz Hartzer, speurafdeling.”
“Aangenaam.”

Hy het nie ’n vakante hand om mee blad te skud nie, wat maar beter is, ek is nie in ’n vatterige luim nie en weet nie wat in die sak is nie.

“Ek kom stap vroegoggend en laatmiddag met Gogga hier in die park,” vertel JC sonder dat ek hoef te vra. Hy lig sy hand waarin hy die leiband vashou net genoegsaam om my te laat verstaan dat wat aan die ander end vas is, Gogga is.
“Woon jy in die omgewing?”

“Ja, daar in Burger’s Court.” JC beduie met sy sakhand skuins by my kop verby na Lilian Ngoyistraat se kant toe.
Gedagtig aan wat moontlik in die sak is, kan ek nie help om so effens te koes nie en maak toe maar of dit my oordrewe manier is om my sakboekie en pen uit my sak te haal.
Ek skryf die man en woonstelgebou se name neer.
“Woonstel- en foonnommer?”

Hy dikteer, ek skryf.
“Hoe vroeg was jy hier in die park?”
“Knap ná vyf. Dis net ’n paar minute se stap van die woonstel af. Ek was verras om meneer Slović hier te sien. Ek het eers gedog . . .”

“Ken jy hom?”
“Wel, nie kén nie. Ons het kennisgemaak, maar nooit werklik gesels nie. Aanvanklik het ons mekaar net gegroet, maar hy het so eensaam gelyk, toe stel ek my eendag aan hom voor. Hy was nie ’n baie spraaksame man nie. Ek weet nie of hy maar net inkennig van geaardheid, of selfbewus oor sy taalvaardigheid was nie. Sy Engels was nie te waffers nie, maar heel verstaanbaar. Hy het darem vir my vertel dat hy van Serwië kom en nog nie lank in die land is nie en dat hy daar in Cedar Court woon.” Hy beduie weer met sy sakhand skuins by my verby.

Ek weet waar Slović gewoon het, maar steeds nie wat in die sak is nie. “Wanneer was dit?”
“Ekskuus?”

“Wanneer het julle ontmoet?”
“O. Ek het hom sowat ses, sewe maande gelede die eerste keer hier gesien. Dit was kort ná Emma, my vrou, se dood. Maar dit kan wees dat hy langer hierheen gekom het. Met Emma se siekte kon ek vir ’n ruk nie . . .”
“Hoekom was jy dan verras?”

“Ekskuus?” vra turbotong JC met ’n ondertoon wat my laat wonder of daar iets met my taalvaardigheid skeel.
“As julle mekaar reeds vir ses, sewe maande hier raakloop, hoekom was dit ’n verrassing om hom vanoggend hier te sien?”

“O. Nee, hy het nooit soggens gekom nie. Net smiddae. Om die duiwe kos te gee as die weer dit toelaat, uiteraard. Soms was hy vir ’n paar dae nie hier nie, al was dit mooiweer. Ek vermoed dis tye wat hy moes weggaan vir sy werk. Hy het nie vir my gesê wat hy vir ’n lewe doen nie en ek het ook nie gevra nie. Nietemin, hy het altyd op hierdie bank gesit, van so skuins voor sononder af.

Ek weet nie hoe lank hy gewoonlik hier gesit het nie, want wanneer ek teen sononder huis toe gaan, het hy nog hier gesit. Dit hang natuurlik ook van die seisoen af, nè. In die winter gaan die son vroeër onder as in die somer. Maar as mens die gemiddeld neem, kan jy seker sê ek gaan so om en by sesuur huis toe. Gogga moet sy aandete om ses-dertig kry, sien, anders maak hy dit nie tot die oggend om sy besigheid . . .”
“En toe jy hom vanoggend hier sien sit?”

“Ja, toe ek hom vanoggend hier sien sit, dog ek eers hy het een of ander toeval gehad. Dalk ’n beroerte, jy weet. Emma het beroertes gehad, ’n hele reeks, die een erger as die vorige. Nietemin, toe ek naderkom, dis nou vanoggend, sien ek die bloed en bel die noodnommer.”

Liewe hemel, kon Slović nie ’n minder spraaksame persoon gekry het om hom hier dood te kom kry nie? Ek probeer dit in my kop sinvoller herfraseer sodat ek ook kan verstaan wat ek dink, maar my brein wil nie lekker saamwerk nie. Die ding het seker ’n saak daarmee dat sy bloedtoevoer nog kafeïenvry is.
“Het jy iemand of iets anders gesien wat verdag lyk?”

“Wel, nou nie verdag in die letterlike sin nie, meer ongewoon,” sê hy. “Die boemelaars wat daar in die orkeskoepel slaap, was reeds weg toe ek hier kom. Die reëling is dat hulle soggens vir my wag, want wanneer hulle laatmiddag terugkom is ek reeds huis toe. Soos ek sê, Gogga kry sy aandete . . .”
“Hoekom wag hulle soggens vir jou?”

“Ek bring vir hulle iets te ete. Brood en vrugte.” Liefdadige JC hou die sak voor my gesig.
Dankie tog. So word die een ná die ander grillerige misterie opgelos.

“Hoeveel boemelaars?”
“Drie,” sê hy.
“Weet jy wat hulle name is?”
“Die professor, Flippie en Gerrie.”
“Die professor?”

“Gerrie en Flippie noem hom só. Ek weet nie wat sy regte naam is nie. Ek vra liewer nie te veel uit oor persoonlike dinge nie, jy weet. Daar het dalk iets in hulle lewe gebeur wat . . .”
“Weet jy wat Gerrie en Flippie se vanne is?”
“Nee.”

Ek wag dat hy verduidelik hoekom nie, maar hy doen dit nie, wat my effens van koers af gooi. “Kan jy hulle vir my beskryf?”
“Ja. Gerrie het ligte hare, lank. En ’n volbaard. Hy lyk nog jonk, groot en forsgebou. Hy laat my nogal aan ’n boer dink, want hy dra kakieklere. Ek het op ’n plaas grootgeword en my oorlede pa het altyd kakieklere gedra wat hy by die koöperasie . . .”

“En die ander twee? Die professor en Flippie?” Hemel, mens moet een of ander lisensie hê om met hierdie man te praat.
“Flippie se hare is donker. Hy lyk ouer as Gerrie, ook lank van lyf, maar nie so fors nie. Alhoewel, sy arms is gespierd. Seningrige spiere in die voorarms, soos iemand wat lank harde handearbeid gedoen het. My oorlede pa se arms het ook . . .”

“En die professor?” Wat is dit met die man en sy oorlede pa?
“Hy lyk na die oudste. Gemiddelde lengte en skraal van postuur. Hy moes eens beter daaraan toe gewees het, want hy dra ’n pak en das. ’n Grys pak en ’n rooi das. Elke dag dieselfde pak en das, uiteraard. En hy dra ’n bril. Dis seker hoekom hulle hom die professor noem.”

’n Bril kan seker ’n akademiese indruk skep. En ek glo nie ’n boemelaar het ’n kas klere iewers met ’n pak en das vir elke dag van die week nie. Uiteraard.

“Kan ek maar bel as ek met jou wil praat?” Dit laat my voel of ek ’n gat vir myself grou. “Bedags, natuurlik.”

“Ja, seker. Ek is ’n pensioenaris en meestal tuis. Jy kan saans ook bel, tot so negeuur, halftien, dan gaan ek bed . . .”

“Jy sal ’n volledige verklaring moet aflê. Pretoria-Sentraal. Weet jy waar dit is?”
“Ja, op die hoek van . . .”
“So gou moontlik, asseblief.” Ek weet waar die plek is! Ek flippen werk daar!

“Natuurlik. Ek sal dit sommer vandag doen. Ná Emma se heengaan het ek nie juis baie . . .”
“Het jy vervoer? Ek kan iemand stuur.”

Dis nie nodig dat ek die aanbod maak nie, maar as ek nie keer dat die man aanhou praat nie, gaan ek vanmiddag nog hier staan en hom in die rede val.

“Ek sal sommer stap, dis mos net ’n paar blokke,” sê hy.
Ek gee ’n visitekaartjie vir hom, wat so goed is soos ’n graaf om die gat mee dieper te grou. “Bel my asseblief as iets jou byval. Enigiets wat dalk kan help. Enige tyd.”

My werk is een van opoffering.
Hy vat die kaartjie, kyk daarna. “Goed . . . Kaptein.” Hy sê “Kaptein” asof hy ’n openbaring gehad het. “En bel my gerus as jy hulp nodig het.”

Dit neem my ’n paar oomblikke om sin daarvan te maak. Die beste resultaat wat ek kry, is dat hy my moet bel as hy nog kan help en ek hom moet hom bel as hy nog kan help. Of so iets.
“Dankie. Dan kan jy maar gaan.”

Hulpvaardige JC knik en loop. Gogga kriewel saam. Inderdaad soos ’n wolruspe. ’n Grote.
Gogga? Paslik. Nogal.

Groepies mense het al aan Thabo Sehume- en Lilian Ngoyistraat se kante by die hekke opgedam. Van hulle skreeu dinge wat ek nie verstaan nie en die twee uniforms skreeu dinge terug wat ek ook nie verstaan nie.

“Wat sê hulle?”
“Hulle raas oor ons toegemaak het. Hulle sê dis hulle right om shortcut deur die park te vat, dis die public place,” sê die een wat met my praat. Ek weet nie wat ek aan die ander een gedoen het nie.

“Sê vir hulle as hulle nie so gestaan en raas het nie, kon hulle lankal gewees het waar hulle wil wees.”

Die woordvoerder dra die boodskap oor en van die mense skreeu iets terug wat beide uniforms half verleë na my laat kyk. Laat dit liewer daar. Om in ’n bekgeveg betrokke te raak met die hulp van ’n tolk sal nie lekker werk nie. Vertalings laat mos die eiesoortige idioom verlore gaan. Buitendien kan die antwoorde en aanbevelings wat gereed op my tong lê oor waarheen hulle kan vlieg as verbale polisiebrutaliteit vertolk word.

“Hoe laat was julle hier?”
“Quarter past five,” sê die een wat met my praat.
“Het mense toe al deur die park geloop?”
“Nog nie.”

Nie dat Slović noodwendig aandag sou trek as iemand vroeër deur die park geloop het nie. Hy sit hier in die noordelike gedeelte van die park, rug suidekant toe. En as ek die saak so beskou, lyk dit of die kortpaaie ter sprake daar aan die suidekant is, tussen die hoeke van Jeff Masemola, Lilian Ngoyi en Thabo Sehume onderskeidelik. En dit lyk in elk geval meer na ’n kwessie van regte uitoefen as om die pad werklik korter te maak. Tensy jy die kennisgewings ignoreer en oor die grasperke loop, pleks van die paadjies volg. Daar is natuurlik altyd dié wat aan selektiewe disleksie ly.

Ek vroetel in oorle Zoltan se sakke vir ’n selfoon, kry nie een nie. Ook nie sleutels nie. Net sy beursie en paspoort. Die skouerholster wat hy onder sy baadjie aanhet, is ook leeg. Of die wapen wat daarin was gelisensieer is, is te betwyfel, maar dis nie my terrein nie. Tensy daar voorheen ’n moord of twee mee gepleeg is. Wat nie onwaarskynlik is nie.

Ek kyk die beursie deur. ’n Paar visitekaartjies van MM Holdings – dit is Miroslav Marković se wettig geregistreerde besigheid, as front vir sy onwettige bedrywighede. Daar is ook geen bankkaarte nie, net ’n tydelike rybewys. Drie honderd en iets rand in note. Blykbaar het Slović kontant geleef, wat ’n soort geldwassery kan wees. Daar is ’n foto van ’n mooierige vrou met lang blonde hare. Nog ’n foto van Slović en dieselfde vrou wat arms om mekaar, koppe teenmekaar staan. Breë glimlagte. Dis buitenshuis geneem. Daar is mense, plante, lug en ’n gedeelte van ’n gebou in die agtergrond. Ek dink ek herken die huis. Dit lyk soos Miroslav Marković se kasteel in Irene. Verder is daar niks in die beursie nie. Ek sit dit terug in Slović se sak.

Iemand gaan seker weer by iemand kla omdat ek bewysstukke kontamineer, maar ek het nie handskoene by my nie en is nie lus om my sakdoek te gebruik om aan ander mense se goed te vat nie. Dis maar hoe ek is as dinge so vroeg in die oggend vir my skeefloop. Moedswillig. ’n Bogdogtertjie van Forensies het eendag vir my gesê ek is kinderagtig. Kan jy dit oorvertel? Ek wou iets vir haar terugsê betreffende die donserige kwaliteit van sekere liggaamshare op ’n sekere ouderdom, al het sy ’n graad. Maar ek het liewer stilgebly. Wat jy dink, bly jou eie, maar wat jy sê, kan ’n vark van jou maak.

Ek hoef nie langer te bly nie. Die twee uniforms kan vir Slović oppas en die spesialiste moet maar hul opwagting maak wanneer hulle wil. Buitendien, as die nuusjagters my hier vang, is dit weer klagtes en teregwysing oor my onaanvaarbare openbare gedrag.