Skip to main content

Uittreksel | Edward

Een

Hande in sy broeksakke, stap Edward in Sutherland se hoofstraat af. Hy kon nêrens ’n naambordjie sien wat aandui of die R354 wat die dorp met Matjiesfontein verbind, ’n ander naam het nie.

Dis Saterdag, die laaste naweek in April. Die afgelope paar dae was die weer heerlik, die nagte koel, maar vandag is sommer net koud en trietsig nadat ’n bui reën vroeër uitgesak het.

Die laaste week het hy op ’n plaas in die omgewing gejag. Nie dat hy ’n jagter is nie, maar toe een van hulle kliënte hom nooi om ’n paar dae op sy Karooplaas te spandeer, het dit na ’n goeie plan geklink.

Vandat sy vier broers getroud is, het dinge baie verander. Van kleintyd af doen minstens twee of meer van hulle dinge saam. Deesdae kan hy egter nie meer aanvaar dat ten minste een van hulle saam met hom sal gaan stap of hardloop, gym toe gaan of sommer net oorkom vir ’n braai nie.

Ná sy studies het hy by sy oudste twee broers, Doug en Alan, se besigheid wat sagtevrugte uitvoer aangesluit. Op daardie stadium was hulle al vyf nog bachelors en het ’n huis in die Paarl gedeel. Doug, die oudste, was die eerste een wat uitgetrek het toe hy met Annabel getroud is. Daarna het Alan vir Corinne in ’n blommewinkel raakgeloop en hulle is halsoorkop getroud. Kort daarna het Quinn, die jongste broer, die een van wie hy dit die minste verwag het, met Corinne se assistent, Ella, afgehaak en verlede jaar in Oktober is Finlay met Fleur, ’n vriendin van Ella, getroud.

Hy is die enigste bachelor wat oorbly. Sy getroude broers is meestal by hulle vrouens en Doug . . . Edward se hart krimp ineen soos wat altyd gebeur wanneer hy aan sy ouboet dink. Doug se vrou, Annabel, is verlede jaar in Januarie oorlede met die geboorte van hulle eerste baba, Alister. Hartseer het Doug oornag verander in iemand wat hulle nie meer ken nie. Boonop het hy die verantwoordelikheid van ’n sestien maande oue baba. Sy stomme broer loop soos ’n zombie rond.

Natuurlik sal sy broers ’n plan maak om iets saam met hom te doen as hy sou vra, maar hy weet ook hulle sal baie eerder ’n aand of ’n naweek saam met die vrouens in hulle lewens spandeer.

Sy skoonsusters maak hom ook deesdae mal. Hy’s baie erg oor elkeen van hulle, maar om een of ander rede het hulle besluit hy moet ook ’n vrou kry. Hy kan al die mure uitklim. Hy word gereeld kamma onskuldig oorgenooi vir ete, net om uit te vind ’n vriendin van ’n vriendin of iemand se niggie se dogter is ook “toevallig” aan die tafel.

Hy is dolgelukkig op sy eie, baie dankie. Sy bachelorbestaan is vir hom heerlik. Anders as sy broers, hoef hy niemand anders in aanmerking te neem wanneer hy planne maak nie. Niemand kerm oor sy baard nie, niemand gee om as hy nie sy bed opmaak nie, niemand hiet en gebied hom rond nie. En hy hoef hom nie oor nóg iemand se welstand te bekommer nie.

Veral nou, ná Annabel se dood, is trou glad nie iets wat hy eers oorweeg nie. Doug het sy gelukkige einde gekry en kyk wat het gebeur.

Miskien eendag, wanneer hy iemand raakloop by wie dit maklik is om te wees, sal hy weer daaroor dink. Soos wat sy pa en ma gemaklik bymekaar is, soos wat sy broers en hulle vrouens bymekaar is. Op amper vyf en dertig het dit nog nie gebeur nie. En as dit nie gebeur nie, is dit ook oukei.

Buitendien, na vele flop-dates het hy geleer die meeste vrouens is flippen harde werk. ’n Man moet mooi trap. Dié een wil alles self doen, die volgende een tjank oor alles. Dié een is verontwaardig as hy haar deur oopmaak, die ander een is die hele aand dikmond omdat hy dit nie gedoen het nie. Dis gewoon uitputtend. En aarde tog, hoekom éét nie een van hulle nie?

Wat hy ook in die loop van die week besef het, is hoe nodig dit was om net heeltemal weg te kom. Weg van al die verantwoordelikheid om ’n groot maatskappy te bestuur, maar ook om weg te kom van Doug se seer wat sy broer soos ’n swaar kombers saam met hom sleep.

Die magtelose gevoel wat permanent op sy hart lê omdat hy nie sy ouboet kan help nie, maak hom by tye mal. Dis nou al meer as ’n jaar later, maar dis asof Doug al sy vreugde vir die lewe permanent verloor het.

Hulle is almal fixers, altyd gereed om probleme op te los, maar vir hierdie probleem is daar nie ’n Excel-lysie wat hy kan opstel en waarop hy dinge kan aftik wat hy reeds afgehandel het nie. Niks wat hulle al probeer doen het, help vir Doug nie. Hy bly spartel in ’n moeras van smart wat nie een van hulle regtig kan verstaan nie.

Edward se maag grom en hy rek sy treë. Hier iewers is ’n lekker eetplek, het die eienaar van die gastehuis waar hy vanaand slaap, beduie. ’n Rukkie later stap hy agter die heerlike reuke aan, ’n restaurant binne.

Binne is dit gesellig. Die plek is taamlik vol, maar teen die muur is nog ’n oop tafel waarheen die kelnerin hom lei.

Hy bestel ’n bottel wyn en die spesiale gereg van die dag – beesstertbredie. Niemand kan dit soos sy ma maak nie, maar ná vyf dae se braaivleis eet, klink enige mens se bredie net reg.

Terwyl hy wag, haal hy sy foon uit en kyk deur sy boodskappe en e-posse, maar niks lyk dringend nie. Die kelner bring sy wyn en skink vir hom ’n glas voor hy weer wegstap.

Ontspanne leun Edward agteroor in sy stoel terwyl hy die ander gaste onderlangs dophou.

Reg langs hom is ’n gesin van vier – Pa, Ma en twee dogtertjies. Die een is in trane en Ma probeer troos. Pa is op sy foon, skynbaar onbewus van wat om hom aangaan. By die tafel langs die deur is ’n verliefde paartjie wat diep in mekaar se oë kyk.

Geïrriteerd kyk hy vinnig weg. Van verliefde paartjies sien hy genoeg by die huis, dankie. Sy oog val op die tafel langs die verliefdes – op ’n bos lang rooi hare om presies te wees. Nie rooi soos sy eie en sy broers se hare nie, maar ’n sagter, blonde rooi.

Die tafel is in ’n hoek van die vertrek, half agter ’n plant. Gewoonlik kyk hy dadelik weg wanneer hy ’n vroumens met rooi hare sien – twee rooikoppe bymekaar kan op geen manier werk nie, is gewoonlik sy eerste gedagte. Vanaand kan hy egter nie wegkyk nie.

Met ’n glas rooiwyn in haar hand, sit sy ’n boek en lees. Sy het ’n sagte pienk top aan wat liefderik om haar kurwes vou. Groot oorbelle dans om haar gesig. Haar bene is onder haar ingetrek, haar elmboog rus op die tafel, haar oë op haar boek. Elke nou en dan glimlag sy.

Eers toe ’n kelner haar kos naderbring, kyk sy op. Haar gesig verhelder, sy glimlag breed en skuif haar boek eenkant toe. Haar bene glip van die stoel af grond toe.

Diep binne Edward beweeg iets. Dis seker ongeskik om so na iemand te sit en staar, maar hy kan homself nie help nie.

Sy kyk op, hulle oë ontmoet. Haar mond val effens oop en sy hartklop skakel oor na die volgende rat. Bliksem, sy’s mooi. Hy weet wat hy moet doen. Dis nie ’n bewustelike besluit nie, iets heel anders is aan die gebeur. Met sy oë in hare, tel hy sy bottel wyn en glas op en stap na haar tafel toe.

Hy sit sy hand op die stoel langs haar. “Hallo, mag ek?”

Haar oë gly oor sy gesig. “Is jy getroud?”

Hy skud sy kop. “Nee.”

“Soek die polisie jou?”

“Nie sover ek weet nie.”

Haar kop knik net effens, maar hy laat hom nie twee maal nooi nie. Hy trek ’n stoel uit.


Ava sluk die kreun wat amper uitglip in. Wat dóén sy? Het sy nie twee jaar gelede al besluit sy gaan eers baie seker maak wie en wat ’n man is voor sy enigsins met hom gaan gesels nie? En wat doen sy?

Nooi sommer die eerste wildvreemde man om by haar tafel te sit.

O, sy het die rooikop met die netjiese snor en baard sien instap. Hy is die tipe man wat niemand kan miskyk nie – lank, gespierd en met ’n houding van ek-is-in-beheer. Iets wat haar normaalweg grensloos irriteer.

Met sy oë nog steeds op haar, skuif hy sy stoel onder die tafel in. ’n Warm been maak kontak met hare. In plaas daarvan om weg te skuif soos wat sy normaalweg onder sulke omstandighede sou doen, bly sy ewe sit met haar been knus en tevrede teen die vreemdeling s’n.

Die man het die mooiste paar blou oë wat sy nog in haar lewe gesien het. Sy moet opstaan, uit die eetplek stap en nooit weer terugkyk nie, maar totaal en al gefassineer, kan sy met die beste wil in die wêreld nie haar kop wegdraai nie. Hy’t rooi hare, sy’t rooi hare – dis heeltemal belaglik, maar vreemde magte is aan die werk en sy roer nie.

Niemand, maar niémand, het al ooit so na haar gekyk nie, so asof hy haar al lankal ken, mal is oor haar en vir altyd net so by haar wil sit. Louis, die lae lak en haar eksverloofde, was altyd te besig om te kyk wie kyk na hom.

Hy lig sy glas en glimlag. Haar asem slaan agter in haar keel vas, ’n kaleidoskoop van skoenlappers word wakker in haar maag – hy’t kuiltjies! Nie net aan die een kant van sy gesig nie, maar aan weerskante, net bokant die lyn van sy baard.

Sonder enige boodskap van haar brein, lig sy haar hand en vat aan sy gesig sodat haar vinger die lyne van die kuiltjie naaste aan haar kan volg. Sy is nie ’n vreeslik impulsiewe mens nie, ook nie een wat hou van ander in haar bubble nie, wat nog te sê aan hulle raak.

Vanaand is sy egter heeltemal iemand anders. Die behoefte om aan hom te raak, om naby hom te sit en diep in sy oë te kyk, is oorweldigend. Sy het geen ander keuse as om haar instink vrye teuels te gee nie. Wat maak dit saak? Ná vanaand sal sy hom nooit weer sien nie.

Sy oë word donker en voor sy haar hand kan wegtrek, sluit sy hand om haar pols. Heerlike rillings gly teen haar rug af. Terwyl daai blou oë ’n pad kyk tot in haar hart, draai hy haar hand om en druk sy mond teen die palm van haar hand. Sy lippe is warm, dringend. Die soen glip dwarsdeur haar lyf tot aan die onderkant van haar skoensole.

O. Liewe. Aarde. Alles rondom haar sny uit. Dis net hy en sy en sagte musiek in die agtergrond.

“Die beesstert, Meneer,” bring ’n stem haar uiteindelik aarde toe.

Vinnig trek sy haar hand weg en neem ’n groot sluk van haar wyn voor sy haar vurk optel en begin eet. Sy was so lus vir die hoenderpastei, maar nou proe sy niks meer nie. Dalk het dit iets te doen met die geur van Oosterse speserye wat nou om haar hang, of die vreemde vibrasies in die lug om hulle.

“Dankie, dit lyk heerlik,” glimlag hy vir die kelner en weer keep twee kuiltjies diep weg in sy wange. Haar asem raak weg. Hier moet sy vinnig wegkom voor sy iets heeltemal onbesonne aanvang.

“Wat van nog wyn?” verbreek hy die stilte ná hulle ’n paar minute geëet het. Die bottel wyn wat hy saamgebring het, is in sy hand.

Haar glas is leeg. Wanneer het dít gebeur? Sy knik en hy skink. Moenie na hom kyk nie, moenie na hom kyk nie. Haar oë het egter ’n wil van hulle eie en weer verdrink sy in die blou dieptes.

“Bly jy hier?” vra hy.

Sy skud haar kop.

“Waarnatoe is jy op pad?”

Dit neem ’n rukkie voor sy haar droë mond sover kan kry om te werk. “Nuwe werk,” kry sy uiteindelik uit. “Jy?”

“Ná ’n week se vakansie, ry ek môre terug huis toe.”

Hy leun nader en lig sy glas effens. Die kuiltjie naaste aan haar keep diep in sy wang. Betower
staar sy daarna. Terwyl ’n glimlag om sy mond speel, gee hy haar glas vir haar aan. Hulle vingers ontmoet, die lug om die tafel is dig, asemhaling feitlik onmoontlik.

Hy vra nie haar naam nie, sy vra nie syne nie. ’n Soort van ’n ooreenkoms. Wanneer hulle hier uitstap, is hierdie tyd saam vir altyd verby.

Die geluide in die restaurant vervaag. Hy sit met sy rug na die ander gaste sodat niemand kan sien wat hier in die hoek gebeur nie.

Met sy oë nog steeds net op haar, neem hy ’n sluk wyn. Haar glas is teen haar lippe, sy neem ’n sluk. Mmm, haar oë val onwillekeurig toe terwyl haar tong uitglip om die laaste druppel op haar lippe op te vang. Dis beslis ’n beter wyn as die een wat sy per glas bestel het.

Toe sy weer haar oë oopmaak, is hy nog nader. “Het jy geweet,” sê hy en lig sy hand op. “Daar is . . .” Hy begin tel terwyl sy wysvinger eers oor die een kant van haar gesig gly en toe weer aan die ander kant, “presies vyftien sproete op elke wang en . . .” Dié keer druk sy vinger liggies op haar neus, “sewe op jou neus?” Met sy laaste woorde is sy mond amper teen hare.

“My eksverloofde het nie daarvan gehou nie. Ek plak dit gewoonlik deeglik toe.”

“Hy’s onnosel,” fluister hy voor sy lippe stadig oor haar sproete gly. “Dis pragtig. Jy’s pragtig.”

Die snak wat oor haar lippe kom, kan sy op geen manier keer nie. Met ’n kreun trek hy haar kop nader en soen haar. Die oomblik wat hulle lippe ontmoet, slaan begeerte intens en onmiddellik op haar maag.

’n Mens soen nie sommer wildvreemde mans nie, probeer ’n ou stemmetjie haar keer, maar vir die eerste keer in haar lewe gaan sy haar nie aan enige stem steur nie. Of dit die rooiwyn op sy tong of sy baard teen haar vel is, weet sy nie, maar sy sink met ’n kreun weg in die soen.

Niks anders behalwe die een sensasie ná die ander wat oor haar spoel, maak op hierdie oomblik saak nie. Niemand het haar al ooit so gesoen nie. Niemand nie. So asof hy sy hele lewe net vir hierdie oomblik gewag het, asof hy nooit genoeg gaan kry nie en nooit gaan ophou nie.

Met ’n gromgeluid diep in sy keel, verdiep hy die soen. Lyflike plesier soos sy nog nooit vantevore ervaar het nie, vloei deur haar soos warm heuning. Haar hande beland op sy borskas. Warm, kliphard, gespierd. Onder haar vingers struikel sy hart op dieselfde oomblik wat sy tong deurglip en hare ontmoet.

Hitte, honger, passie. Moenie ophou nie, moenie ophou nie, is die enigste gedagte wat bly maal.


Sy is rose, sagte teksture, lenige lyne en haar mond is vinnig besig om hom tot waansin te dryf. Met ’n gedempte geluid uit sy keel, glip sy hande in haar hare, trek hy haar kop effens agteroor sodat hy meer van haar kan ontdek – haar ken, haar nek, die plek onder haar oor waar haar hart freneties klop.

Die skril geluid van ’n foon wat lui, dring uiteindelik tot hom deur. Traag lig hy sy kop en haal sy foon uit, sy oë nog op haar.

“Ja?” groet hy terwyl sy ander hand rusteloos op en af teen haar sy beweeg.

“Als oukei?” vra Alan, sy tweede oudste broer.

“Mmm,” kry hy uit terwyl sy duim net-net aan die onderste ronding van haar bors raak.

Haar blougroen oë verdonker, haar asem raak weg.

“Jy onthou van die nuwe logistieke koördineerder wat Maandag by ons begin? Ek maak net seker jy is op pad terug. Soos jy weet, is hier te min hande op die oomblik.”

“Jip, sien julle môre.” Hy glip sy foon terug in sy sak en trek sy asem diep in. Die geur van rose vul sy hele wese, bedwelm hom.

“Wil jy nog eet?” vra hy terwyl sy duim die sagte ronding liefkoos.

Sy skud haar kop, haar oë vol boodskappe wat sy bloed laat kook.

“Bliksem,” fluister hy, “jy maak my mal.” Hy skuif nader en sit sy arm op die leuning van haar stoel. Weer vang hy haar lippe met syne vas. Haar mond is warm en nat en binne sekondes is hy gereed vir haar.

Met groot inspanning lig hy sy kop. “Kom saam met my?”

Sy knik.

Met ’n moedelose lag vee hy haar hare uit haar gesig. “Die rekening,” beduie hy met sy hand. “Ek het net ’n minuut nodig voor ek kan opstaan.”

Haar oë rek en ’n sagte blos glip teen haar nek op. Hier moet hulle wegkom voor hy álles om hom vergeet.

“Ek is nou terug.”

Vinnig stap hy na die toonbank waar ’n paar ander gaste reeds staan om te betaal. Hulle skerts en gesels met die kelner wat hulle help. Die kaartmasjien word in die lug gehou. Ontvangsprobleme, beduie die kelner rustig. Die minute tik verby. Hy kan opstyg. Uiteindelik is die transaksie deur en is dit sy beurt.

“Het Meneer lekker geëet?” wil die kelner weet. Praat is die laaste ding wat hy nou wil doen.

“Dankie, ja,” sê hy kortaf en wag vir die man om die transaksie af te handel. Weer word die masjien in die lug gehou. Edward kners op sy tande. Wat voel soos ’n ewigheid later, druk hy sy beursie in sy sak en draai terug na die tafel.

Die rooikop is nie meer daar nie.

“Sy’s reeds weg, Meneer,” sê die kelner ewe vermakerig.

Met lang treë stap Edward uit die restaurant. Buite reën dit sag. Hy kyk op en af, maar die strate is doodstil. Met ’n onderlangse swetswoord draai hy om en stap terug na die gastehuis.

Hy lig sy gesig op na die reën. Die druppels is koud op sy koorsige vel. Sy’s weg. Net weg. Seker ook maar goed. In sy vyf en dertig jaar op aarde het hy nog nooit, ooit só intens en onmiddellik op enige vrou reageer nie. Maar die meisiekind met die rooi hare het iets in hom wakker gemaak waarvan hy onbewus was.

So, wat de hel maak hy nou met hierdie gevoel? Hy begin draf. Minute later druk hy die deur van sy kamer agter hom toe. Hy is sopnat, maar die amperse beswyming waarin hy was oor die rooikop, is hopelik verby.

Die beswyming, ontdek hy egter ’n rukkie later, is egter glad nie verby nie. Moerig lê en staar hy na die dak totdat die vuur in sy lyf hom uiteindelik opjaag. ’n Koue stort. Yskoud. Dis al wat nou gaan help.