Uittreksel | Droomwewer

Een
’n Onbeplande ontkleedans
Die groepie graadeens sit kruisbeen op die mat en staar aandagtig na Mariechen Jonker. Die kleinerige lokaal is ingerig soos ’n klaskamer uit die 1880’s en haar donkerblou uitrusting is uit dieselfde era. Die mondering wat sy bo-oor haar denimkniebroek en moulose T-hemp aangetrek het, is versmorend in die onverwagse hitte. Vir hulle moet sy lyk soos ’n ontsnapte zombie uit ’n rilfliek, want haar grimering lê waarskynlik in donker vlekke onder haar oë.
Mariechen balanseer ’n knypbrilletjie op haar neus en loer bo-oor die lense. “Goeiemôre, kinders.”
Die groepie groet oorbluf. Baie bewus van die straaltjies sweet wat teen haar rugstring en oor haar neusbrug afloop, druk sy haar vinger teen haar neuspunt om te keer dat die brilletjie afglip en rek haar oë. “Julle juffrou lyk nie heeltemal so nie, nè?”
’n Dogtertjie met bokstertjies kyk vinnig om na waar hul onderwyseres teen die deurkosyn leun. “Nee, Tannie, sy’t nie sukke lelike rokke nie.”
“Maar dis hoe juffrouens van lank, lank gelede aangetrek het.” Sy staan op en draai vinnig in die rondte dat hulle die verbeeldinglose tabberd goed kan bekyk. Dankbaar voel sy hoe koel lug onder die lae materiaal van die onderrokke inwaai.
“So lank gelede soos in storieboeke, Tannie?” vra ’n seuntjie.
“Presies so lank.” Mariechen loop na die eerste uitstalling. “Kan julle raai wat hierdie is?”
’n Blinkoogdogtertjie draf nader en waag ’n raaiskoot.
“Jitte, maar jy’s slim.” In eenvoudige taal verduidelik sy hoe die griffel en lei gewerk het, ook die onderrig- en gebruiksartikels in die ander uitstalruimtes.
“Julle klaskamer lyk ook nie soos hierdie een nie, nè?” Sy trek die knellende kraag weg van haar keel. Die blessitse rok was ’n slegte idee. Die ding wurg haar. Toe sy opkyk, merk sy ’n nuwe aankomeling langs die onderwyseres. Die man se geamuseerde uitdrukking bring haar ’n telling van stryk voor dit haar moermeter aktiveer.
“Nee-eee! Ons klas is baie mooier.” Die seuntjie dwing haar aandag terug na haar museumbesoekers. “Gekleurde prente en posters teen die mure en rakkies en kassies en matte en nog baie ander goeters. En speelgoed ook.”
Terwyl sy met groot vertoon verder demonstreer, bly sy bewus van die man by hul onderwyseres. Ligbruin hare. Lank en lenig. Bebril. Asketiese gesig, toegerus met ’n stewige kakebeen. Tipiese verstrooide professor wat bokant die fyne juffrou uittroon. Verbaas dat daar manlike graadonderwysers is wat so intimiderend soos hy lyk, sluit sy haar aanbieding by die laaste uitstalling af. Die man sal beslis geen probleem met dissipline hê nie.
Toe die kleingoed hande vat en buitentoe loop, staan hy tru in die gang. Die onderwyseres volg kort op sy hakke.
Dankbaar oor die vooruitsig om van die versmorende lae materiaal ontslae te raak, draai Mariechen na die stoorkamer terwyl sy die magdom knopies vinnig losglip. Op ’n drafstap lig sy die roksoom en bondel die onderrokke se lae katoen saam oor haar kop. Die stoorkamerdeur is vaagweg sigbaar as ’n donker reghoek. Op pad daarheen raak sy verstrengel in die materiaal en voel hoe haar T-hemp en haarkammetjies aan iets vashaak.
“Dêmmit tog, flippen rok,” skel sy.
Twee tellings later word die swaar voue uit haar hande gelig. “Eina, ver. . .vlaks!” Haar oë skiet vol trane toe die haarkam en knippe, waarskynlik met ’n hand vol hare ook nog, met min ontsag uit haar hande getrek word. Haar T-hemp volg boontoe.
“Jammer, Juffrou.” Toe sy die bedaarde stem hoor, vlam haar wange.
Terwyl die onderrok se laaste val uit haar hande getrek word, kruis sy by voorbaat haar arms om haar bates in die skamele kantbra te probeer bedek.
Dis die onderwyseres se kollega wat haar ontklee het, en terselfdertyd betreklik pynlik van die ouderwetse haarkapsel verlos het. Hy hou die bondel lap en kant ongemaklik weg van sy lyf af. Asof sy nog daarin is en hy afstand tussen hulle wil kry.
Sy gryp die materiaal en hou die opgefrommelde rok voor haar bolyf, nie seker of sy hom moet bedank of uit die vertrek moet boender nie. Hy weet presies wat in haar kop aangaan, daarvan getuig die glinstering in sy oë agter die lense en die lippe wat in die rigting van die kepe langs sy mond pluk.
Sy skreef haar oë waarskuwend en hoop hy verstaan dit sal gevaarlik wees om nou te lag. “As jy jou kinders soek, die volgende uitstalling is by die deur uit na regs.” Toe swaai sy terug na die stoorkamer waar sy haar T-hemp uit die voue red en oor haar bolyf trek. Eers daarna skud sy die rok vies uit en hang dit op.
Toe sien sy haar beeld in die spieël. Dêmmit, Mariechen! Jy lyk soos Daisy de Melker wat ná haar teregstelling in die tronkgange spook, dink sy. Sy gryp na haar hare in ’n poging om te red wat te redde is.
“Ek vermoed die nuwe kapsel is my skuld.” Sy weerkaatsing wys dat hy agter haar teen die deurkosyn staan terwyl hy met haar praat.
“Loer jy my af, of wat?” vra sy ontstemd terwyl sy omswaai, betyds om te sien hoe hy sy hand met die oop palm boontoe na haar uithou.
“Die deur was oop.” Sy wenkbroue roer skaars waarneembaar. “Ek dink hierdie sal help.” In sy handpalm lê die knypbrilletjie, die verlore haarkammetjies en ’n paar knippies met ’n string hare daarin vasgekoek. Sy ander duim wys oor sy skouer na agter. “Ek dink dit het uit die rok geval.”
Toe sy die items uit sy palm gryp, raak haar vingerpunte aan sy warm vel. Haar vingers ruk vanself weg asof sy gebrand het.
Moenie so ’n ninnie wees nie, Mariechen! Jy’s ouer as tien.
“Gelukkig was die kleingoed weg voor die ontkleedans.”
Nie seker of sy reg gehoor het nie, hap Mariechen nog na asem toe hy wegdraai en verkas.
Hoewel Mariechen haar hare kon orden, wip haar gedagtes nog soos ’n hondsdol eekhoring rond toe sy later vir haar en haar ouer kollegas koffie maak. Sal sy hulle van die debakel vertel, of moet sy swyg?
Versigtig vra sy uit hoe hulle sou voel oor ’n man as onderwyser vir die junior primêre fase.
“Mansonderwyser?” Connie wat die dioramas versorg, swaai geïnteresseerd om. “Solank die man nie lyk soos die trol onder die fairy tale se brug nie, is dit seker oukei.”
“Ongetroude jong mans sal nie genoeg geduld hê nie,” meen tant Susan in haar bastastem.
Dit ontketen ’n debat waaruit Mariechen haar vinnig loswikkel.
“Is al jou geskiedenisbabas en hul onderwysers nou uit die museum?” vra die ontvangsdame toe sy daar verbyvlug.
Mariechen knik.
“Die baas het laat weet hy wil jou ná teetyd sien.” Sy kyk Mariechen takserend op en af. “Jy lyk skuldig. Het jy iets vir die kindertjies gesê wat jy nie moes nie?”
Mariechen skrik haar koud. Genade, die man het loop kla oor die rok-oor-die-kop-storie of haar taalgebruik.
“Ek hoop nie so nie.” Sy trek haar skouers op. “Het hy omgekrap gelyk?”
“Eerder ingedagte. Gaan hoor liewer self voor hy regtig kwaad raak omdat jy so draai,” stel sy voor. “Vat sommer vir hom sy koffie saam.”
Minute later staar Mariechen uit die veld geslaan na haar baas. “Ekskuus, Meneer?” Die stoom dwarrel op uit die beker koffie wat tussen hulle op die tafelblad staan.
Meneer Van Dalen glimlag verdraagsaam. “Jy’t reg gehoor, Mariechen.”
“Iemand wat betrokke is by die restourasie van die historiese dorpie, Shangrila, het gevra of hulle my kan leen om hulle daarmee te help?” vra sy net om seker te maak.
“Leen laat dit verdag klink,” erken hy. “Doktor Retief was onlangs by die lewende museum in Irene. Jou binneversiering in die gerestoureerde plaashuis het hom beïndruk, en dis hoekom hy hierheen gekom het. Hy wou jou nie afrokkel voor hy eers met my gepraat het nie.”
“Afrokkel?” vra sy oorbluf.
“Soort van. As jy instem om te gaan, word jy tydelik oorgeplaas na daardie afdeling van museumdienste. Shangrila is naby Kaapsehoop en sal ná voltooiing as lewende museum deel uitmaak van die historiese dorpie. Dit beteken jy sal vir die duur van die restourasieprojek in Kaapsehoop moet bly.”
As sy gaan – en dis ’n baie groot ás – sal verblyf nie ’n probleem wees nie. Haar gunstelingtante en peetma bedryf die Blouswael-gastehuis op die kunstenaarsdorpie. Dis ook een van die historiese geboue op die plek.
Solank die aanbod nie een of ander kulspul is wat haar uit haar aanstelling gaan bedrieg nie. “Ek het nog nooit voorheen van die plek gehoor nie, Meneer.”
“Volgens doktor Retief het lede van ’n stapgroep onlangs afgekom op die oorblyfsels van delwershuisies ’n entjie buite Kaapsehoop.” Hy maak ’n vae gebaar. “Dit was versteek tussen plantegroei in ’n kloof wat heel moontlik doelbewus gekies is.”
“Onwettige delwers?”
“Nee, nee, niks van die aard nie,” lag Van Dalen. “As ek my geskiedenis reg onthou, het die opbrengs uit die spoelgoudkleims op die dorp in die laat tagtigs afgeneem en is die plaas Berlyn verkoop. Kenners vermoed ’n paar hardnekkige delwers wat onafhanklik wou bly, het eenvoudig versit na ’n digbegroeide deel toe die ander na Barberton se ryker goudmyne vertrek het. Doktor Retief sê die plantegroei het die huisies goed versteek, anders was alles teen hierdie tyd gevandaliseer.”
“Kaapsehoop is berug vir sy spoke, Meneer.” Sy glimlag. “Ek sal nie verbaas wees as dit die eintlike rede is hoekom die plekkie nie gestroop is nie. Het die plantegroei nie skade aangerig nie?”
Meneer Van Dalen skud sy kop. “Doktor Retief sê die sinkbuitemure is in ’n redelike toestand. Die huisies is in die laaste fases van die herstelwerk en moet nog net afgerond word. Jy sal vir die afwerking van die binneruimtes verantwoordelik wees.”
Sy is min lus om vir lank uit die stad te wees, maar die skrale kans dat sy weer die mansonderwyser iewers sal raakloop, maak dit aanvaarbaarder. Dis immers tydelik en klink interessant. Die omgewing is lieflik en as haar tydelike kollegas in Kaapsehoop grysaards is, hoef dit nie ’n probleem te wees nie.
Al nadeel is dat sy nie saans saam met haar vriende sal kan kuier of ander jongmense sal ontmoet nie. In Kaapsehoop bly ’n klompie kunstenaars, maar die plek loop nie juis oor van jongmense nie.
Besluiteloos kyk sy af na haar voete. “As die plek nog gerestoureer word, kan ek solank opmetings doen en beplan.”
“Ek veronderstel Heinrich wil jou tyd gee om die atmosfeer te absorbeer terwyl die werkspan die afronding doen.” Toe sy opkyk, nuuskierig omdat haar baas so vinnig van die formele aanspreekvorm na voornaamterme gevorder het, merk sy die glinstering in sy oë. “Hy wil hê Shangrila se huisies moet, soos die Irene-plaashuis, nie bloot lyk na ’n moderne vertrek vol ou meubels nie. Dit klink vir my asof jy jouself in ’n interessante projek in presteer het.”
“Met ander woorde, ek moet sorg, watse strukture daar ook al is, dat die afwerking, uitleg en binneversiering lyk asof rowwe delwers daar nesgeskop het,” raai sy.
Hy maak ’n vae gebaar. “Ek weet nie van rof nie, maar Heinrich glo jy sal dit regkry. Jou werk aan ons uitstallings het hom ook beïndruk. Dink vanaand na oor die aanbod, dan sê jy my môre. Net nie later as tienuur nie, nè, want hy moet iemand anders kry as jy nie aanvaar nie.”
“Reg so, dankie, Meneer.” Mariechen draai vertwyfeld deur toe.
“Ek vermoed jy’s bekommerd dat jy jou dood gaan verveel in die gopse.” Meneer Van Dalen se geamuseerde stemtoon laat haar omkyk. “Kaapsehoop is deesdae ’n gewilde naweekbestemming vir jappies en boonop ’n trouvenue.”
Sy oorweeg dit om hom te sê die plek kry net langnaweke en vakansies lewe en die trouvenue is nie ’n oorweging nie, maar swyg eerder.
Sy sou verkies het om self met die Retief-man te praat sodat sy ’n idee kon kry watter tipe mens hy is voordat sy die aanbod aanvaar. Haar werk by die huis in Irene was veral lekker omdat die instruksies duidelik was en die kurator min ingemeng het.
Gelukkig is haar verhouding met Dewald nie ’n oorweging nie, want dié het onverwags ingeplof. Tot dusver was sy te besig om daaroor te tob, maar ’n nuwe uitdaging is presies wat sy nodig het om weer ’n wip in haar stap te sit en haar selfbeeld reg te ruk.
Ná werk klap sy vinnig vir haar by die huis iets te ete aanmekaar en druk dit in die lugbraaier voor sy haar skootrekenaar oopmaak en “Kaapsehoop” in die Google-soekblokkie tik.
’n Uur later weet sy baie meer van die goudstormloop na daardie deel van die Laeveld. Sy ontdek in haar soektog ’n paar interessante karakters uit daardie era, onder andere besonderhede oor Cockney Liz, ’n vrou wat bekendheid verwerf het met haar sang- en musiekoptredes in Barberton. ’n Interessante legende wat verband hou met Cockney Liz, trek haar aandag.
Maeve O’Rourke, ’n Ierse delwersdogter wat saam met haar pa, Flynn O’Rourke, na die dorp getrek het op soek na goud, se foto herinner haar vaagweg aan haar tante. Teen laataand is sy weer op hoogte met hoe die dorpie lyk waar haar peetma bly.
Teen daardie tyd moet sy ook erken dat haar onsekerheid oor die werksaanbod meer is as bloot vrees vir die onbekende. Op ’n onthutsende manier voel dit vir haar soos ’n lewensveranderende besluit wat nie ligtelik geneem moet word nie, en gevolglik whatsapp sy haar ouers wat by haar ousus in Australië kuier om hul opinie te kry van die tydelike werksaanbod.
Hul reaksie kom nie gou genoeg na haar sin nie, maar dit gee haar ekstra tyd om te broei oor die redes wat sy as verskoning gebruik vir haar besluit.
Miskien is sy gretig om te gaan omdat sy heimlik wegvlug van vanoggend se vernedering. Sy ken die man van geen kant af nie, maar sy wil hom beslis nie weer raakloop nie. Vir haar eie gemoedsvrede sal dit dus goed wees om ’n ruk uit die stad pad te gee ingeval hy hier opdaag en by haar baas kerm oor blywende skade aan sy krosie.
Impulsief skakel sy haar peetma se nommer.
“Jene, Rieksie, van waar val jy so uit die bloue lug?” groet haar ma se jongste suster. “Ek hoop dit beteken julle kom ’n bietjie vir my kuier.”
Mariechen glimlag onwillekeurig. Haar tannie, skaars tien jaar ouer as sy, is die enigste mens wat dit waag om haar Rieksie te noem. “Hallo, tannie Ragie.” Met opset rek sy die naam uit.
“Agge nee, man . . . tannie Ragie nogal?” vra Rachel verontwaardig. “Is dit nou ’n dubbele straf omdat ek jou troetelnaam gebruik het?”
Mariechen lag. “Laat dit vir jou ’n les wees, Rachel. Wat die kuier betref – ek kom alleen en dit kan ’n uitgerekte besetting raak.” Vinnig verduidelik sy wat haar verblyf sal behels as sy wel daarop besluit. “Dewald sal ook nie kom kuier nie, want hy het homself gediskwalifiseer as ’n aanvaarbare metgesel.”
“Aha, dan het jou oogklappe uiteindelik afgeval.” Rachel is hoorbaar geamuseerd.
“Afgeruk, eerder as afgeval,” mor Mariechen. “Gaan dit jou pas as ek kom, of is die Blouswael volbespreek?”
“Ek is nogal besig die afgelope tyd, maar ek het altyd plek vir jou. Veral sonder Dewald,” antwoord Rachel. “Hier sal oorgenoeg geselskap wees vir jou.”
“Beteken dit daar was ’n bevolkingsontploffing en die dorp het nou meer mense as wilde perde? Of is daar net meer jongmense as spoke?” vra sy met die staaltjie oor Maeve O’Rourke en die ballade wat na aanleiding daarvan geskryf is, weer helder in haar geheue.
“Moenie vir jou slim hou nie, jy weet mos die spookstories is ’n verkoopstruuk.” Rachel hou haar nie op met nonsies nie.
“Selfs die storie van Maeve O’Rourke?” terg sy.
“Waar kom jy aan Maeve se storie?” vra Rachel nuuskierig.
Mariechen lag. “Dan steek daar wel waarheid in sommige stories . . .”
“Ja, wel. Dit kan ook nie anders nie,” erken Rachel. “Die spul delwers was maar ’n rowwe lot. Gelukkig is hulle almal weg óf dood. Die werkery hier klink na ’n lekker verandering van omgewing, veral as jy op jou eie agtergekom het die spiertier van ’n Dewald is meer wind as waarheid.”
“Flippit, jy laat dit klink asof my smaak in mans bedenklik is,” protesteer Mariechen.
“Jy’s nie eintlik bekend vir jou oordeelsvermoë nie, weet jy. Jy sien mos net yummy mans raak,” spot haar peetma goedig.
“Sies, Rachel. Jy weet dis nie waar nie.” Dit doen wel geen meisie se beeld skade om saam met ’n aantreklike man gesien te word nie. “Tot ek die regte een ontmoet, kan ek mos droomkopies doen in die swietswinkel. Maar voor ek finaal besluit oor hierdie aanbod, wil ek gou by jou hoor of ek my vrek gaan verveel daar op julle stukkie berg.”
Rachel lag. “Die spulletjie wat werk om die sogenaamde Shangrila te herstel, is nie bebaarde delwers of bejaarde historici nie, hoor. ’n Paar van hulle is hier by my ingeboek, die res is in die Backpackers. Hulle werk kantoorure deur die week, so ek aanvaar dieselfde sal vir jou geld. Hier’s ’n argeologiespan ook. Jy sal dus saans genoeg geselskap hê. Hulle kuier graag by die gewilde plekke op die dorp en sal jou sekerlik saamnooi. Jy weet tog self dat wanneer die jappies naweke uit die stad vlug, die dorp ’n miernes is.”
Dit klink kompleet asof Rachel die dorp aan haar opveil. “As soveel van die spulletjie daar by jou bly, het jy waarskynlik nie vir my ook nog plek nie.”
“Ek sê mos hier’s plek vir jou.”
“Dankie, Rachel. Jy’s ’n engel. Ek’s nie meer ’n arm student nie, en dring daarop aan om vir my blyplek te betaal. Dan mag jy nie al my doen en late aan Ma-hulle uitlap nie.”
“Beteken dit jy’t pas besluit om te kom en dat jy van plan is om elke nag heelnag rond te jol?” vra Rachel nuuskierig.
“H’m, dalk.” Mariechen kou haar lip. “Nee, ek het nog nie finaal besluit nie.” Vet kans dat sy in ’n plek soos Kaapsehoop rond sal jol, al verseker Rachel haar die plek is vol lewe. Sy geniet nou wel jong geselskap, maar is nie juis ’n pretjagter nie. “My baas glo hierdie aanbod is ’n pluimpie wat goed sal lyk op my CV, en Ma sal seker ook so dink. Miskien is ek half en half omgepraat, al besef ek dis nie die middelpunt van die jappie-heelal nie, maar ek sal môre finaal besluit en laat weet.”
Eintlik weet sy dat sy klaar besluit het om te gaan.
Kamer met ’n uitsig
’n Week later herinner die klipkrale teen die heuwels buite Machadodorp en Waterval-Boven Mariechen dat hierdie area se geskiedenis veel verder terug strek as die goudstormloop. Die Bokoni-stam se sirkelvormige ruïnes pryk reeds eeue daar, van lank voor die delwers daar verbygetrek het op pad na Pelgrimsrus en die De Kaap-vallei.
Toe die papierfabriek se benouende stank haar neus tref, verstel sy die lugversorger na hersirkulasie. Die stank volg haar nogtans kilometers ver op die slingerpad voordat die vars Hoëveldlug die oorhand kry. Saam met die reuk gee die laaste spanning van die stadsgejaag en die swaar naweekverkeer finaal pad uit haar skouerspiere.
Die bekende rooi waarskuwingsbord doem langs die pad op: Ry versigtig! Wilde perde! Sy druk die skakelaar wat haar venster oopmaak, verminder spoed, en hou die padskouers aan beide kante dop. Sy het die perde nog net een maal op hierdie pad gewaar, maar wil beslis nie verantwoordelik wees daarvoor om een te vermink en vir Reinette, die vrou wat Kaapsehoop se beseerde en siek wilde perde dokter, ekstra werk gee nie.
Selfs op hierdie stiller deel van die pad streep voertuie van voor af verby. Die naweekbesoekers is op pad terug stad toe vir die nuwe werksweek.
Soos nog elke keer wanneer sy hierheen ry, verras die dorpie haar omdat dit so asof uit die bloute reg langs die nasionale pad opdoem. Kort daarna volg die naambordjie op ’n krink in die slingerpad en sy moet hard rem toe die afdraai en onbemande valhek gelyktydig verskyn.
Sy verwissel vinnig van rat vir die indraai en is tellings later midde-in die dorpie.
Woonhuis en winkel, restaurant en gastehuis staan skouer aan skouer met geen onderskeid tussen woonbuurt en sakesentrum nie. Oombliklik word sy terugverplaas na die verlede toe die gerestoureerde sinkstrukture uit die 1880’s haar omring. Selfs die nuwer bousels se ontwerp steur nie die atmosfeer nie. Die woorde van die ballade wat oor Maeve O’Rourke geskryf is, kom spontaan by haar op; asof Maeve dit self op een van die winkelstoepies staan en sing.
Die aantal voertuie met Gautengse en Noordwes-nommerplate verdring die beeld, maar sy weet uit ondervinding dat die laaste besoekers vanaand weg sal wees terug huis toe. Dan bly sy en haar middeljarige kollegas hier agter saam met die spoke.
Vir die soveelste keer wonder sy of sy die regte keuse gemaak het.
Die bekendheid van Rachel se gastehuis is verwelkomend en stel haar gerus. Dis een van die min huise van steen en pleisterwerk – outentiek 1880’s, maar met ’n stem van sy eie. Sy het Rachel gehelp om dit te meubileer en so te versier dat dit by die era pas.
Op die Blouswael se drumpel adem sy die geure en geluide in en identifiseer elkeen. Voor sy die koperklok kan klingel, kondig die gekraak van die gangvloer aan dat Rachel reeds weet sy’s daar. Die volgende oomblik swaai die deur oop en is haar peetma se omarming so warm dat haar twyfel opeens verdwyn.
“Hier’s jy uiteindelik!” Rachel kyk af na haar reistas. “Ek sien jy pak nog net so lig soos altyd. Dan sal jy nie omgee om in die klein solderkamer te bly nie – tensy jy natuurlik my spaarkamer verkies.”
“Die dakkamer is perfek.” Mariechen knipoog. “Hoekom moes ek tasse vol klere inpak as hier nie jong talent is om te beïndruk nie?”
“Ek het nooit gesê hier’s nie talent nie,” maak Rachel kapsie. “Kom in en kry koffie en versterkings voor jy verder twak praat. Jy moet krag kry om die twee stelle trappe boontoe met jou bagasie aan te durf.” Op pad kombuis toe loer Rachel oor haar skouer. “Los die pakkaas hier in die portaal. Jou kamer is so krakerig soos die res van die huis, maar jou uitsig oor die dorp en die strook veld tot teen die rand van die plato is beter as van enige ander plek in die omgewing.”
Een kyk deur die kombuisvenster verklaar haar peetma se aanbeveling ten gunste van die solderkamer. Ál die onderdakparkeerplekke is beset. “Rachel, jy moes my gesê het die gastehuis het intussen volgeloop!”
“Ek het nie gejok nie . . . Die laaste naweekbesoekers ry eers môre vroeg,” skerm Rachel. “Ek het besluit jy sal dit meer geniet om op jou sokkies trappe op te sluip ná jul gejol. Eerder dit as by my kamerdeur verby.”
“Jimmel, Rachel, van wanneer af neem jy ’n mens so letterlik op?” mor Mariechen. Rachel skink twee bekers koffie uit die perkoleerder en skuif een oor die eikehouttafel na haar. “As ek die ander stofkrappers en gatgrouers wat hier bly as voorbeeld moet neem, is jou nuwe kollegas naguile. Net een van hulle vlieg vroeg genoeg uit die nes om die spreekwoordelike wurm te vang.” Vir ’n oomblik huiwer Rachel terwyl sy melk en suiker in haar koffie roer. “Nou nie dat ek die mooie man al ooit met ’n wurm of enigiets anders hier na die huis toe sien terugkom het nie.”
As die man Rachel se oë laat vonkel, is daar vir seker potensiaal vir romantiese verwikkelinge. Mariechen glimlag vaag en waag eerder nie ’n woord in dié rigting nie. Al wens sy reeds lank dat haar tante iemand sal ontmoet, bly Rachel steekser as ’n donkie sodra dit lyk of enigiemand vir haar man soek.
Sy konsentreer eerder op Rachel se verwarrende beeldspraak. “Stofkrappers en gatgrouers?” Sy teug versigtig aan haar swart koffie. “Gaan daar kleims bewerk word by die gerestoureerde dorpie?”
“Moontlik, maar ’n bouery en herstelwerk is mos ook stowwerig.” Rachel beduie vaag. “Dis ook nie juis ’n dorpie nie, meer ’n wegsteekgehuggie. Ek veronderstel ’n kleim of twee sal vir demonstrasiedoeleindes by die lewende museum bewerk word.”
“Is die mooie man waarvan jy praat ooit ’n lid van die span, of is hy een van die argeoloë?” vis sy versigtig.
“Ek glo hy is niks minder as die leier van jou projek nie. Jy sal self sien, hy’s die enigste een wat gedistingeerd genoeg lyk vir dié verantwoordelikheid,” meen Rachel. “Die klompie argeologiestudente het wel in die kloof op Shangrila se ashoop rondgekrap vir interessanthede. Hulle werk oral in die omgewing, gaan onder andere ook na die bouval van die horingou hospitaal. Later gaan hulle by die erfenisterrein op die heuwel opgrawings doen om meer uit te vind oor die stam wat in hierdie omgewing klipkrale gebou het.”
“Ek het gelees hier’s ook een; die klipruïnes is nie net by Machadodorp nie. Is dieselfde gedistingeerde man wat hier bly vir albei projekte verantwoordelik?” vra Mariechen.
“Nee, die argeoloog bly in die Green Venus.” Rachel vee vaag deur die lug, haar wange ongewoon rosig. “Net die leier van die restourasieprojek bly hier, en party van jou nuwe kollegas. Die mans bly saam met die argeologiestudente in die Backpackers. Almal eet hier.”
Die enigste verklaring vir haar tante se deurmekaar verduideliking moet wees dat sy aangetrokke is tot die historikus. Rachel was pas twintig toe haar aanstaande kort nadat hulle verloof geraak het, verongeluk het. Sover Mariechen weet, was haar peetma sedertdien nie weer in ’n vaste verhouding nie. Sy verpes dit om, in haar eie woorde, “opgeveil” te word.
“Ek het nog nie my nuwe baas ontmoet nie, maar die man klink bôo-oring,” draal Mariechen om Rachel te treiter. “As hy saam met die hoenders opstaan, is hy oud genoeg vir sy lyf om teen daai tyd al seer gelê te wees. Of hy ly aan slapeloosheid, daarom dwaal hy vroegoggend rond.”
“Dink jy so?” Rachel se oë lag vir haar. “Dit beteken ek is ook oud en boring, want ek is al op en aan die gang teen die tyd dat hy koers kry.”
Groot fout, Mariechen. “Nee man, Rachel. Jy weet goed jy val nie in daai kategorie nie. Mans verouder baie vinniger as vrouens en hulle raak ook makliker gatvas . . . Sorry, ek bedoel set in their ways, soos die Engelse sê.”
“Dis nogal jammer jy gaan hom nie vanaand ontmoet nie,” Rachel se ooghoeke kreukel. “Die span braai gewoonlik Saterdagaande. Vanaand is hulle genooi na ’n ete in die Cockney Liz Hotel in Barberton.”
“Cockney Liz Hotel?” Mariechen klap haar tong spytig. “Ek sou die plek bitter graag wou sien, maar dis beter as ek die span eers Maandag ontmoet.” Indien Rachel die man só graag aan haar wil voorstel, is sy beslis geïnteresseerd.
“Dalk loop jy hulle raak voor jy gaan slaap.”
Op daardie oomblik kom ’n groot swart kat stert omhoog by die kombuisdeur in. “Ek moes geweet het die ou towenaar gaan sy buitepos verlaat en die huis kom oorneem noudat jy weer hier is,” spot Rachel.
“Kom hier, jou vabond.” Mariechen raap Mister Mistoffelees se aansienlike gewig van die vloer af op.
“Onthou net, hy slaan sonder waarskuwing oor van spin na byt,” waarsku Rachel glimlaggend. “’n Mens sou sweer die spook van ’n afgestorwe familielid krap sy buie deurmekaar.”
“Enigiets is moontlik, nè, Magical Mister Mistoffelees.” Mariechen vryf oor die littekentjie aan haar hand, nog steeds oortuig dit was liefde met gevoel eerder as ’n aanval wat daardie bytwond veroorsaak het. “Jy wou hom mos vernoem, nou gedra hy hom eenvoudig soos sy naamgenoot in Elliot se gedig.”
Toe Mariechen ’n uur later haar solderkamer saam met Rachel betree, is haar eerste tree oor die drumpel ’n trappie honderd en veertig jaar die verlede in. Haar reissak plof neer op die plankvloer. Die pophuiskamer met sy en suite-geriewe is perfek vir haar. Sy moet met Rachel saamstem: Die uitsig deur die venster onder die spitsdakkie is onverbeterlik.
“Ek is bly ek slaap hier en nie in jou gastekamer nie.” Sy gooi haar arms na die kante, draai vinnig in die rondte en val op haar rug op die ysterkatel. “’n Bulsak vir ’n matras! Fantasties. Nes die kamer.”
“Hei! Geen manewales of springery nie,” waarsku Rachel onthuts toe die bed luid skwiek. “Die katel is nie sulke optrede gewoond nie, die verematras ook nie. Dis nuut gestop en oorgetrek, maar daai ding is ouer as jy. In sy oorspronklike vorm het hy belangrike gaste ontvang, onder andere Cockney Liz.”
“Jy jok,” daag Mariechen haar uit terwyl sy tussen die voue uit worstel. “Dieselfde Cockney Liz van die Red Light Canteen na wie die hotel in Barberton vernoem is?”
Rachel lag. “Jip, die einste. Een van die legendes wat hier wild en wakker loop, beweer sy het op pad Barberton toe eers hier na haar verloofde kom soek. In daardie hangkas hang ’n mantel wat sy glo gedra en met haar vertrek aan ’n kroegmeisie geskenk het. Dit kan natuurlik ’n wolhaarstorie wees.”
“Ek het juis die rukkie voor my vertrek die dorp se delwersgeskiedenis opgeswot en afgekom op ’n storie oor ’n delwer se dogter.” Nuuskierig pluk sy die kasdeur oop. “Oukei, hier is ’n mantel. Nogal van fluweel met ’n pelskraag. Ek sal later rapporteer as ek die eienaar se gees hier raakloop.”
“Indien dit gebeur, kan ek maar die gastehuis toemaak,” stel Rachel dit kort en klaar. “Niemand sal meer hier wil oorslaap nie.”
“Moenie maak asof spookjag nie een van julle dorp se toeristeaantreklikhede is nie!” Mariechen loop na die venster onder die spitsdakkie. “Hierdie plek is die perfekte agtergrond vir sulke bonatuurlike bedrywighede: klip bouvalle teen die heuwels wat stories van toordokters en tokkelossies kan herroep, elke huis en gebou op die dorp oud en krakerig. Julle het selfs die regop klippe van Adam se kalender teen die helling, en dan praat ons nie eens van die spookdorp wat hulle restoureer nie. Hier dwaal die geeste helder oordag rond.”
“Dis glad nie ’n grap nie, Riechen,” waarsku Rachel ernstig terwyl sy deur toe loop. “As gevolg van die spookstories sukkel ons nogal om goeie werksmense te kry en te behou. As die personeel hoor hier drentel ’n poltergeist rond, dros hulle almal en sit ek sonder hulp.” By die deur draai Rachel weer terug. “Pak solank uit, dan kom jy af sodra jy klaar is.”
Mariechen draai terug na die venster. Die ligging omtower die dorpie in ’n pragtige plek. ’n Man wat in die straat voor Rachel se lieflike tuin verbyloop, vang haar oog. Iets aan hom herinner haar aan die mansonderwyser wat saam met die graadeentjies by die museum was. Op daardie oomblik slaan die laatmiddagson vuur uit sy ligte hare en vernietig die illusie. As die vlammende hare in die museum verskyn het, sou sy dit dadelik opgemerk het.
Ontspan, Mariechen. Haar verbeelding hol weg met haar, want sy’s oormoeg ná die ver ent pad en haar vriende se afskeidsgedoe tot die vroeë oggendure. Sy strek haar uit op die bed. Die onderwyser en die man voor Rachel se huis bly by haar spook. Sy maak haar oë toe om die beelde weg te dwing, tog gloei haar wange opnuut toe sy daardie uittrekinsident onthou.
Dit kan beslis nie dieselfde man wees nie. Kaapsehoop is kilometers weg van ’n skool en sonder kleingoed. Indien sy haar met die rooi hare misgis het, en dis wél hy wat hier is vir ’n jappienaweek, beter hy aanstaltes begin maak om betyds in die stad te wees.
Sy wil hom beslis nie hier op die dorp raakloop nie. Sy dink eerder aan die ballade van Maeve O’Rourke. Die lied wat sy op YouTube geluister het, se wysie klink soos ’n liedjie wat haar oupa dikwels gesing het oor Clementine, ’n delwersdogter uit Kalifornië. Terwyl sy wonder oor die storie agter die skraps gegewens in die liedjie oor Maeve, neurie sy die lied half binnensmonds.
Op die wal van Batteryspruit
delf O’Rourke vir klonte goud, maar sy dogter, fyn en vroulik, sloof haar af vir selfbehoud.
Siel en liggaam spartel dapper
om oorlewing, maar die goud
glinster skelm en verdof selfs
Flynn O’Rourke se vadersorg.
Met ’n beesvel help Motsumi
Maeve om spoelgoud uit te haal
waar die water oor die krans stort
na die bodem van die kloof.
Koors oorval hom en verteer hom,
steel die lewe uit sy lyf.
Maeve, nou weeskind, worstel eensaam
om sy dobbelskuld te delg.
Daar’s ’n aanbod, maar die uitkoms
wat gebied word, is verdag:
dis verhuring van haar lyf aan
hom wat hoogste prys beding.
Liam McPherson, eerbaar swerwer,
sweer ’n eed wat haar hart wen:
Hart en liggaam word beskerm
op die dorpie Shangrila.
Maeve en Liam, nou tesame,
vind geluk by Kaapsehoop –
O my liefling, beste liefde,
grootste skat ooit: Maeve O’Rourke.
1883: Kamer met ’n uitsig, Gold Dust Inn
Die dag van sy koms was soos enige ander, onthou Maeve. Buite die Gold Dust Inn hurksit rotse soos monsters wat hul beurt afwag in die duiwel se spreekkamer. Daar was geen rede om te glo hy is anders as die delwers wat hierheen gestroom het toe spoelgoud in Battery Creek op die plaas Berlin ontdek is nie.
Uit die rigting van die kleims klap ’n sweep, gevolg deur Ou Gous se geskel op sy kleimwerkers. Die gejil in die strate dui aan die dag se goud is reeds verpand vir drank. Binnekort gaan die vuiste swaai, selfs skote sal klap, en dan mag die begraafplaas dalk nóg ’n kruis bykry.
Omdat die goud uit hul kleim skaars die honger van die deur weghou, werk Maeve bedags by die Gold Dust Inn en saans by die Thirsty Digger Saloon. Sy verdien darem ’n bord kos by die Inn en kan soms ’n boek lees. By die Thirsty Digger vereffen haar loon haar pa se drankrekening.
Die geklap van perdepote op die plaveisel kondig sy koms aan. Die gespierde hings verskyn uit die mis, sy kop trots gelig asof hy weet hy’s nie die delwers se tipiese kruising tussen perd en donkie wat immuun is teen perdesiekte nie.
Die ruiter is selfs indrukwekkender as die dier. Forsgebou. Oënskynlik bonkig in ’n donker jas. Deftige hoed. Nie die vertoiingde weergawe wat die delwers dra nie.
Asof hy bewus is van haar oë op hom, kyk hy op. Die lig is te swak om kleur te bepaal. Juis dit verskerp die illusie van geheimsinnigheid. Oomblikke lank voel dit asof daardie kykers haar van onder die hoed se rand vaspen en elke gedagte in haar kop lees.
Die volgende oomblik verdwyn perd en ruiter in die mis.