Uittreksel | Doug

Een
Nog net twee uur. Dis darem nie te erg nie. Een voet voor die ander. Met haar rugsak oor haar een skouer, klim Mieke die trappies uit tot in die vliegtuig. Sy is van die laaste passasiers. Daar was nie baie tyd tussen die vliegtuig wat uit Taipei op O.R. Tambo-lughawe geland het en die een wat Kaapstad toe vertrek nie.
Voor sy na die vertreksaal vir binnelandse vlugte kon hardloop, moes sy nog wag vir haar tas en natuurlik, was hare heel laaste. Nie tweede laaste nie, héél laaste. Dis een van daai dae. Daar was net ’n paar minute om skoon onderklere en ’n vars T-hemp in die kleedkamers aan te trek voor sy weer moes draf vir die volgende vlug. Drie en twintig uur is maar lank in dieselfde klere.
Die lugwaardin glimlag vriendelik en beduie sy moet haar sitplek aan die linkerkant soek, nommer 5B. Ongelukkig ’n middelsitplek, maar dit was al wat nog beskikbaar was. By ry vyf sit ’n vrou teen die venster en lees, en teen die paadjie sit ’n man met rooi hare, sy kop teen die rugleuning, sy oë toe. Sjoe, die man het ’n paar breë skouers en kyk daai gebeitelde kakebeen! O vrek, sy is al aan die yl van moegheid. Mieke laai haar rugsak in die bagasieruim bokant die sitplekke, maar die man roer nie.
“Meneer,” sê sy.
Geen reaksie nie.
“Meneer.” Dié keer druk sy aan sy skouer.
Sy oë vlieg oop, haar asem raak min. Blou oë. Diepblou.
“Ek sit langs jou.” Hoekom klink sy so uitasem?
Hy kom orent. Lank, smal heupe. Sy skuur by hom verby. ’n Subtiele geur van muskus en leer volg haar totdat sy sit.
Sy is nog besig met haar sitplekgordel toe haar foon pieng. Dis ’n boodskap van Josie, haar vriendin in Taipei van die afgelope vier jaar.
Jy al in SA?
Vinnig tik Mieke.
Jip. Op pad Kaap toe. Nog net 2 uur.
Josie se boodskap volg binne sekondes.
Is jy al lid van die mile-high club?
Ai, Josie. Haar vriendin probeer nou al vier jaar lank om haar sover te kry om te date. Sy tik.
Single en happy.
Skaars ’n sekonde later kom Josie se boodskap terug.
Jy’t ’n vry nodig!
Die interkom kom aan en ’n stem dreun, maar Mieke hoor dit skaars, sy is besig op haar foon.
Ek sit langs ’n sexy rooikop. Sal ek hom vra?
Weer reageer Josie blitsvinnig.
Ja!!!
Met ’n grinnik sit Mieke haar foon af. Eers toe sy effens draai om dit in haar sak te sit, sien sy Rooikop het na die boodskappe tussen haar en Josie sit en kyk.
’n Gloed klim teen haar nek op en sy gluur hom aan. “’n Mens lees nie ander mense se boodskappe nie.”
“Dit was ’n baie interessante . . . gesprek.”
“Dis my vriendin Josie . . .” begin sy heftig voor sy haar lippe opmekaar pers. Hoekom wil sy enigsins iets aan die wildvreemde man verduidelik?
“Die een wat reken jy’t ’n vry nodig?” Hy praat sag sodat net sy en hy kan hoor.
Haar oë vlieg op na syne. “Ek kan nie glo jy het dit gelees nie!”
“Hoekom wil jy nie vry nie?”
Sy trek haar asem skerp in. “Of ek vry of nie het niks met jou te doen nie,” fluister sy vies voor sy terugleun teen die sitplek. Sy wil regtig nie verder met die onbeskofte vent praat nie.
“Ek is baie lanklaas sexy genoem.” Sy woorde blaas saam met sy asem oor haar gesig.
Al haar sintuie reageer. Terwyl vlamme teen haar nek opklim, maak sy haar oë toe en ignoreer hom. Sy hoef nie te reageer nie.
Doug se glimlag verdwyn. Wat de hel doen hy? Flirt met ’n wildvreemde vroumens! Wat het hom besiel om haar te terg? Miskien omdat hy lanklaas iemand geterg het en die girl reageer so mooi. Oë blits, lippies pers opmekaar – iets om te aanskou.
Die binnelandse vlugte het nie besigheidsklassitplekke nie, daarom kies hy ’n sitplek langs die paadjie. Ten minste kan hy sy bene tydens die vlug strek. Hy’s moeg. Met ’n twintig maande oue baba in die huis, slaap hy nie baie nie. Boonop was dit ’n besige twee dae op die plaas van een van hulle groot kliënte buite Groblersdal waar hy besoek afgelê het.
Dis nie asof hy bedoel het om na die boodskappe van die girl langs hom te kyk nie, sy oë het heel spontaan soontoe beweeg. Normaalweg sou hy nooit so iets doen nie, nog minder met iemand praat wat hy glad nie ken nie, maar die woorde was uit sy mond voor hy daaroor kon dink.
Sy is vrekmooi. Groen oë, heuningbruin hare onder ’n pet ingedruk. Met ’n lang, slanke lyf en kurwes in al die regte plekke, laat sy ’n man kwyl.
Hy kan nie onthou wanneer laas hy ’n vroumens raakgesien het nie, wat nog sê met een wou praat, maar die oomblik toe hy sy oë oopmaak, het hy álles ingeneem van die persoon voor hom. Sy’s beeldskoon.
Die laaste keer wat dit gebeur het, was toe hy vir Annabel ontmoet het. Sy vrou – die een wat nou dood is.
Dis nog altyd vir hom moeilik om te glo sy pragtige vrou met die groot glimlag en warm hart is nie meer hier nie. Sy is weg. Vir altyd. Niemand het geweet van die verswakte hartspier wat sy gehad het nie.
Die baba waarna hulle so reikhalsend uitgesien het, maak hy alleen groot. En niemand hoef vir hom te sê hy suck in sy rol as pa nie. Hy weet dit maar alte goed.
Hoeveel baba-oppassers daar al by hom was, onthou hy nie meer nie, maar hy kon nog nie iemand kry wat hy vertrou om na sy kind te kyk nie. Ja, hy stel hoë eise, maar dêmmit, dis sy kind. Hy kan hom nie by enigiemand los nie.
Net voor hy weg is om hulle kliënt in Groblersdal te gaan sien, het Fleur, sy nuutste skoonsus wat verlede jaar Oktober met sy broer Edward getrou is, laat weet haar suster Mieke kom binnekort terug van die Ooste waar sy die afgelope paar jaar skoolgehou het. Sy is mal oor kinders en kan moontlik vir ’n paar maande na Alister kyk.
Opgewonde oor die idee, is hy nou nie regtig nie.
Hy ken nie die girl nie, hoe weet hy sy kan na Alister kyk? Omdat hy nog nie ’n ordentlike au pair kon kry nie, werk hy nog meestal van die huis af, maar dit raak toenemend ’n probleem. Dis mal besig by die werk en hy moet daar wees. Hy verstaan dit maar alte goed. Miskien kan sy ’n rukkie uithelp; hy kan nie regtig besluit voor hy haar gesien het nie.
Sy broers was die afgelope jaar en agt maande baie geduldig met hom. Alan, Finlay, Edward en Quinn het sy werk eenvoudig oorgeneem om dinge vir hom makliker te maak, maar hy weet dit kan nie so aangaan nie.
Of hy dit wil weet of nie, hy het hulp nodig. Presies wanneer Mieke opdaag, weet hy nie en of sy en Alister oor die weg sal kom, is nog ’n vraag.
Langs hom beweeg die meisiekind. Met groot moeite hou hy sy oë toe. ’n Subtiele vroulike geur sypel deur sy vel. Wat ruik hy? Rose en . . . sitrus?
Sy lyf reageer. Ongemaklik skuif hy rond. Wat dit ook al is, dit maak hom mal. Wat de hel?
“Ladies and gentlemen, we have a problem . . .”
Mieke raak stadig bewus van wat om haar aangaan, maar sy wil nie haar oë oopmaak nie, sy lê op ’n heerlike warm kussing. Kussing? Maar sy’s mos op die vliegtuig! Haar oë vlieg oop. Sy lê met haar kop teen die rooikop se boarm, haar hand ewe tevrede op sy bors uitgesprei.
Vinnig skarrel sy regop. “Ek is jammer . . . lang vlug agter die rug . . .”
“. . . can’t land on Cape Town airport, we’re on our way to Gqeberha,” dreun die stem oor die interkom.
“Wat gaan aan?” vra iemand agter haar.
“Daar’s nie ligte op Kaapstad-lughawe nie, ons kan nie land nie,” sê iemand anders.
“Agge nee!” kreun Mieke terwyl meer stemme van misnoeë opklink.
Moedeloos leun sy terug in haar sitplek. Dankie tog, sy het nie haar mense laat weet sy is op pad nie. Haar ma kan haar so bekommer oor haar kroos.
Die rooikop leun oor na haar toe. “Jy’t nou nie ’n vry gehad nie, maar jy’t darem ’n kussing gehad. Tel dit?”
Vies gluur sy hom aan voor sy haar oë weer toemaak. Die vlug Gqeberha toe is gelukkig nie baie lank nie.
Moeg en gefrustreerd volg Doug die ander passasiers tot in die lughawegebou op Gqeberha. Al waarna hy nou uitsien, is sy eie bed en sy kind. Hoe lank hulle moet wag voor hulle weer Kaap toe kan vlieg, kan niemand sê nie. Sy foon is reeds in sy hand, hy moet sy ouers laat weet. Hulle het by Alister gebly terwyl hy vir twee dae die kliënt besoek het.
Hy stap ’n ent weg van die klomp mense en bel. Sy ma antwoord dadelik.
“Ek weet nie hoe lank ons hier in Gqeberha moet wag voor ons Kaap toe kan vlieg nie, Mamma,” sê hy ná hy verduidelik het waar hy is. “Die vliegtuig was al aan die daal toe ons hoor dit kan nie land nie; daar’s nie ligte op die aanloopbaan nie. Ek is regtig jammer . . .”
“Jy hoef glad nie jammer vir ons te wees nie,” onderbreek sy ma hom. “Ek en jou pa geniet klein Alister vreeslik. Hy word net heeltemal te vinnig groot. Wees jy rustig en kry vir jou iets om te eet, jy is so maer. Ons is hier so lank soos wat jy ons nodig het.”
“Dankie, Mamma. Ek . . . ek . . .” Magteloosheid wil-wil weer sy keel toedruk en hy kry nie die woorde uit nie.
“Ek weet, skattebol. Laat weet vir ons wanneer julle uiteindelik op pad is.”
“Ek maak so. Dankie, Mamma.” Hulle groet. Doug druk sy foon in sy baadjiesak en gooi sy rugsak oor sy skouer. Hy sou net vir twee aande van die huis af wees, ’n groot tas was nie nodig nie.
Vir ’n oomblik druk hy sy vingers teen sy oë waar ’n dowwe hoofpyn klop. Op sy broers se aandrang het hy in Junie vir ’n maand verlof geneem. Hy kon vir ’n paar weke vergeet van die werk en al sy aandag aan Alister gee.
Vandat hy egter weer begin werk het, is dinge weer moeilik – al werk hy meestal van die huis af. Alister slaap nog sleg, wat beteken hy kry ook nie genoeg slaap nie, en as daar nie iemand is wat met sy kind kan help nie, kry hy niks gedoen nie.
Buite is dit al donker. Hy moet seker iets kry om te eet. As hy reg onthou, is hier iewers ’n privaat sitkamer. Sy ma is reg. Sedert hy alleen is met Alister, het hy seker tien kilogram verloor.
Hy draai om en volg die bordjies wat aandui waar die sitkamer is. Hy wil ook die parkeerarea in Kaapstad laat weet hy’s laat. Dis makliker om sy motor daar te parkeer as om ’n Uber te kry om hom te neem, veral wanneer hy net ’n paar dae weg is. Hy bestuur eerder self.
Terwyl hy in die rigting van die privaat sitkamers stap, kyk hy rond. Die bruinkop wat langs hom in die vliegtuig gesit het, was nie agter hom toe hy van die vliegtuig afgeklim het nie en nou kan hy haar nêrens sien nie.
Mompelend rek hy sy treë. Wat dóén hy? Die vroumens het teen hom aan die slaap geraak en ja, oukei, sy is vrekmooi, maar sy lewe is hoogs gekompliseerd soos dit is. Om selfs net aan ’n vroumens te dink, is moeilikheid soek.
Dit beteken nie hy kan nie ’n mooi girl waardeer nie, en dié enetjie wat ’n vry kort, volgens ene Josie, kan hom dalk net van al sy voornemens laat vergeet.
Ook maar goed hy sal haar nooit weer sien nie.