Uittreksel | Donkertyd: My naam is Tina
My ma het die grootste sonde van haar tyd gepleeg. Sy het ’n man in haar jongmeisielyf ontvang en daarom was dit haar skuld toe sy swanger word. Toe doen my pa die eerbare ding en trou met haar en verniel haar vir die res van haar dae met sy tong.
My naam is Geertina Joubert. Ek is vyf jaar ná die kind van my ma se sonde, my broer Sarel, gebore. Die mense na aan my noem my Tina. My pa, daarenteen, volhard met Geertina.
Deel 1
1966
Hoofstuk 1
“Volmaan ná volmaan huil kinders agter die mure doer anderkant.” Katrien lig haar hand, wys na die murasie.
’n Koue ding glip agter my nek af toe ek vorentoe spring tot teenaan haar. Ek gryp haar rok.
“Dis kwaai,” fluister sy bo-oor my kop. Haar asem blaas in my nek. “En dit kan aanhou en aanhou en aanhou en –”
My hele lyf ruk. “Issie!” maak ek haar stil.
“Is ja, Tinatjie.” Sy praat skielik hard, skud haar skouers, klap met haar tong, en draai haar gesig weg.
Katrien maak stories op. Almal weet dit. Toe sy wydsbeen gaan staan met haar rug na my toe, los ek haar rok. Ek probeer al om haar loop sodat ek haar oë kan sien, maar sy bly draai. Al in die rondte. Ek kan altyd aan haar oë sien wanneer sy die waarheid praat. Sy weet dit. As sy stories opmaak, knip haar oë stadig, so trek-trek soos sy dink. Ma sê stories opmaak is baie keer verbeel. Dan’s jok nie sonde nie, sê Ma.
Ons twee staan in die spore wat die trekker en sleepwa in die sand uitgetrap het tussen twee blokke van Pa se nuwe wingerdstokke. ’n Entjie verder af in die pad is die murasie. Anderkant die murasie is die grensdraad en dan die rivier. Dis waarnatoe ons op pad is. Vaal vuil plekke wys waar die vuur die mure gebrand het. My oupa Sarel en ouma Susarah Joubert het in die murasiehuis gebly. En ook al die Joubert-boeremense voor hulle wat nou in die begraafplaas hier op Die Laagte rus. Almal diep onder die kluite.
“Hoe weet jy dit?”
“Wat?”
“Van die kinders wat huil, man.”
“My ma en antie Sara praat graag by die watervoor oor die ou tye hier op die plaas. Elke wasdag as dit nie skool is nie, kruip ek agter die groot klip langs die watervoor weg. Maar ek kan eers nader gaan as Pa klaar die vuur onder die swart pot gestook het en die waswater warm genoeg na sy sin is. Ma en antie Sara praat min terwyl hulle die linne inseep en uitspoel. Eers wanneer hulle alles wat op bleik moet lê, sit en dophou, begin die stories. Hulle moet keer dat die duiwe nie op die skoon gewaste lakens en slope skyt nie. Dis dan wat ek hulle afluister.” Katrien druk een vinger in haar mond en hou dit in die lug. “Op my woord. Dis die kindertjies wat hier in die murasie afgedood het wat so spook.” Sy draai haar nat vinger en wys weer na die afgebrande mure. “Die tweetjies wat dood is aan die maselkoors is eerste weg. Daarna is die kleinste dogtertjie in die katel doodgelê. Pap geversmoor onder twee groot swaar lywe.” Toe kom staan sy reg voor my. Haar oë knip nie. “Die kindertjies kom nie tot ruste nie, verstaan jy? Want dinge was nie reg in –”
My arms is vol hoendervleis en my lippe bewe nog ’n bietjie toe ek weer kan praat. “Die dogtertjie is nie doodgelê nie, sy’t net ophou asemhaal, toe gaan sy dood daar tussen my ouma en oupa op die katel,” sê ek vinnig. Katrien bly stil. Ek kan voel hoe my trane baklei om uit te spring, maar ek knyp my oë weer styf toe. “My ma sê so.” Ek moet ’n paar keer sluk. “En my ma sê ons moet die dooies uitlos. Hulle is saliger.”
“Moet net nie huil nie, asseblief tog nie, Tinatjie. Dan swel jou oë op en kry ek weer die skuld. Kom, laat ons aanstoot.” Toe ons verby die murasie is, begin Katrien weer: “Dit was in elk geval lank gelede toe die aarde nog jonk was.” Sy gaan staan en kyk ver oor die wingerd. Toe sy weer loop en begin praat, is haar stem hoogheilig en vernaam soos altyd wanneer sy agter haar antie Sara aan praat. “My antie sê alles gebeur altyd vir die beste en op die regte tyd. Dit staan so opgeskryf in die Skrif. Sy sê ons moet besin en weet dat meer kinders nie rêrig vir daardie twee Joubert-oumense bedoel was nie.” Ek kyk na haar gesig. Sy rol haar oë boontoe. “Maar van ophou spuls wees, het hulle ook nie geweet nie.”
“Hoe is spuls wees?”
“Ai toggie, nog so onnooslik. Jy sal eendag weet.” Ek sien hoe Katrien se sug haar kop in haar skouers intrek. Sy gaan my nie sê nie. Toe begin sy ’n heel ander storie. “Jy weet mos antie Sara hou altyd biduur vir die werksmense van Die Laagte as die pastoor op ’n Sondag nie al sy draaie kan kry nie. Sy sê dit staan in die Skrif wie kinders moet kry en wie nie. Sy ken die Bybel se wette uit haar kop uit.”
“Die Tien Gebooie? Almal ken dit.”
Toe knyp Katrien haar oë styf toe voor sy haar kop agteroor laat sak, haar gesig hemel toe. Sy vou haar hande soos ’n toring met haar vingers styf teenaan mekaar reg voor haar bors. “Lord plies help for mie,” fluister sy. Meestertjie leer die kinders in sy skool Engels praat. Sy bly ’n ruk so staan voor sy weer met haar vername grootmensstem praat. “My antie sê die twee was te ingesink in hul smart.”
“Watse smart?”
“Hoe moet ek weet? Hou op vrae vra. Jy maak my mal.” Katrien stap vinnig weg en los my net daar. Ek gaan sit dikbek op ’n plat klip langs die walletjie wat die trekker se spore gemaak het. Sy loop tot by die grensdraad voor sy oor haar skouer na my soek. Toe sy my sien sit, staan sy eers hand in die sy en kyk huis se kant toe. Seker om te kyk of iemand ons sien nie. Toe gaan sit sy plat op die grond.
Dis al lank ná middagete en dis my skuld dat ek en Katrien tot by die murasie geloop het, want ek het by die huis in haar oor gesê ons moet gaan kyk of die kalkoentjies al blom op die rivier se wal. Ma sal ons nooit so ver van die huis af op ons eie laat loop nie. Daar skuil onheil in die rivier, sê Ma. Sy het nie gesê hoe die onheil lyk wat daar skuil nie, maar Katrien sê elke onheil het twee bene, een kop en ’n pikswart hart.
Dis Ma wat eerste gesê het sy wonder of die kalkoentjies al oop is op die rivierwal. Toe wonder ek ook. Al die blomme in Ma se tuin maak knop, of is oop.
Ek is sewe jaar oud en in sub A in die plaasskool. Die derde kwartaal is verby en ons het vakansie. Sarel, my broer, is twaalf en Katrien veertien.
Bettie en haar man Willem bly al op Die Laagte van voor Ma hier aangekom het. Bettie help Ma in die huis en Willem is Pa se voorman. Hulle het net vir Katrien. Antie Sara is Bettie se suster. Sy het nie meer ’n man nie; sy’t hom gelos toe hy begin drink en naweke dronk rondgelê het, het Katrien my gesê. Maar ek het dit toe al geweet. Almal weet altyd als wat op die plaas aangaan.
“Nee, ek weet nie, maar hy was totaal en al onbruikbaar,” het antie Sara vir Ma gesê toe Ma haar vra of sy weet waar die man is. Antie Sara het die oggend by die stoeptafel die koper sit en opvryf. Sy het gepraat van haar man se wurmpies wat net so lui was soos hyself en dis hoekom sy nooit met die lyf kon kom nie. Ma het lekker gelag, maar nie vir my van die wurmpies vertel nie.
Katrien kom elke Vrydag in die middag haar ma help met groot skoonmaak en meer kere in die vakansies. Maandae help antie Sara vir Bettie by die watervoor langs die melkstal met die fyn linne wat nie in die wasmasjien gewas kan word nie omdat Ma te jammer is daarvoor. Antie Sara help ook ander tye vir Ma en Bettie met ekstra werk. Op die dae wanneer Katrien vir Bettie kom help, is daar altyd later in die middag tyd vir haar om my besig te hou. Dis wanneer ons na al die plekke op die plaas loop waarheen ek nie alleen mag gaan nie.
Katrien het nog een kwartaal om beter te doen, het Meestertjie vir Bettie gesê, anders is dit koppe bymekaarsit. As sy weer dop, sal sy dalk met mooipraat nog een kans kan kry, maar daarna is dit verby met skool. Dan moet sy maar op die lande gaan inval of vir haar huiswerk op die dorp gaan soek.
Ek staan op toe ek sien Katrien begin terugloop na my toe.
“Daai storie van net ophou asemhaal en doodgaan, is maar die storie van die dogtertjie se afdood wat die familie hier in die groot huis opgemaak het,” trek Katrien los toe sy naby my is. Sy kom staan langs my en lig haar ken tot sy my so van bo af langs haar neus verby kan bekyk terwyl sy praat. “My ma lieg nie, jy kan die doodlêstorie maar glo.”
“En wat dan van die twee wat aan die koors dood is?”
“My ma sê as jou ouma vir my ouma geluister het en die maselkoors op die regte manier gedokter het, het daardie twee vandag nog gelewe. Sy sê heel eerste moet jy die koorsige kind se voorkop en bors toepak met asynlappe. As dit nie help nie, moet jy die kind pens en pootjies kaal in ’n sterk mosterdbad prop en onder hou dat net sy oë, ore, neus en mond uitsteek. Dis hoe die koors gebreek word. Jy moet net kyk wat jy doen en oppas dat jy die kind nie versuip nie.” Katrien laat sak haar arms lank af tot onder haar knieë. “Dis hoe diep onder die mosterdwater die kind gehou moet word. Vir koors help die knoffelsakkies wat jou ouma om hul nekke gebind het boggerôl.”
“My ma sê daar’s baie kinders dood van die masels se koors daardie tyd. Sy sê dit was niemand se skuld dat Ouma en Oupa se kinders hier dood is nie. Dit was soos dit in hul boekies geskryf staan in die hemel.”
“Almiskie, maar jou ma weet seker nie dat daar baie ander verkeerde dinge ook in hierdie huis gebeur het nie.”
“Watse ander dinge?”
“Jy mag vir niemand sê nie, gehoor. Dan kom soek die geeste jou in die nag in jou kamer. Belowe eers.”
“Ek belowe op my erewoord.”
“Jou oupa Sarel Joubert was ’n giftige man,” begin Katrien met haar vername stem.
“Waar sit ’n mens se giftande?”
“Nou moet jy jou vrae insluk, Tinatjie, anders vertel ek nie.” Ons loop stadig, staan-staan, in die rigting van die rivier.
“Ek sal stil bly,” belowe ek weer.
“Ná die laaste dogtertjie afgedood het, het jou oupa soos ’n vis begin suip. Veral toe jou ouma Susarah haarself dae lank in die donker kamer agter slot van hom af weggehou het.” Katrien kyk eers rond en praat toe agter haar hand. Haar oë is wyd oopgetrek en knip stadig. “My ma het vir antie Sara gesê as ’n man ’n vrou gekerk het, soek hy haar lêtyd binne-in sy kooi.”
Ek’s nie lus vir Katrien se lang stories nie. “Wanneer vertel jy van die ander dinge?” wil ek weet.
“Nou-nou. Gee net kans. My ma was nog net opgeskote toe moes sy, en partykeers my antie Sara ook, my ouma gaan uithelp soos ek nou my ma by julle huis uithelp. Veral ná jou ouma ook in die begraafplaas gebêre is. Baie naweke het die ouman papdronk in die buitekamer gelê, maar ander tye, het my ma gesê, het hy katools op die werf rondgedwaal en dan was my ouma Katriena bang vir hom. Dan moes een van hulle twee meisiekinders haar gaan oppas.”
“Wat is katools?”
“Dis wanneer mannetjies wyfies soek, onnosel,” Katrien lag en slaan met haar hande op haar knieë.
“O! … D-i-t?” Ek weet nie waarvan sy praat nie, maar onnosel wil ek nie wees nie.
“Die huis het daai tyd begin spook,” fluister Katrien skielik. Sy vou haar arms oor haar kop en maak grilgeluide soos een wat koud kry. Ek skrik en gryp weer na haar rok. Toe gaan staan ek styf teen haar been en klou vas aan die lap. “Drie klein apies, almal spierwit, het ná die laaste dogtertjie ingespit is, op en af in die gang begin hol. By die voordeur uit en weer by die agterdeur in het hulle laat waai, al in die rondte om die huis, sonder ophou, die hele dag lank. Dit het niks gehelp om die deure toe te maak nie; hulle het dwarsdeur die hout gehol.” Sy dop haar oë om dat amper net wit wys.
“Het jou ma self die apies gesien?” My lippe is só styf, ek kan amper nie praat nie. Ek los haar rok, draai rond en kyk oral om ons.
“Na-túúr-lik.” Katrien praat stadig, soos een wat diep dink. Toe weet ek dis weer ’n storie, maar ek los haar. Dis sy wat in die hel gaan brand as dit nie ’n verbeelstorie is nie. “My ma sê die een was kleiner as die ander twee. Die kleintjie het met al twee armpies in die lug gehol en gehyg soos een wat versmoor. Die twee groter apies was vol rooi kolletjies. Kompleet of hul lywe van kop tot tone oortrek was van die maselkolle.” Katrien praat dat die spoeg tot op die sand spat.
“Kom hulle nog na die huis toe?” wil ek weet. Ek loop so oor my skouer agtertoe en kyk dat ek oor ’n klip val. My knie is nerfaf en dit brand toe ek opstaan.
“Pas tog in jimmelsnaam op. Jy weet mos as jy iets oorkom, is dit altyd my skuld.” Katrien spoeg op haar hand en vryf die nattigheid oor my knie tot al die velletjies weer plat lê. “Ons moet iewers gaan sit tot jou knie droog is.” Sy draai om, loop voor my uit tot in die bloekombos agter die murasie. Daar gaan sit sy op ’n boomstomp wat op die grond lê. Ek bly staan.
“Ek wil nie hier sit nie, Katrien.”
“Dis koelte en die naaste sitplek. Ons gaan mos nie tussen die mure in nie. Kom tot hier by my. Ons loop netnou verder.” Toe ek langs haar is, trek sy my aan my hand af tot ek sit. “Jy wou geweet het of die apies nog hardloop. Nee, hulle hardloop nie meer nie. Die groot brand het hulle verdrywe.”
Ek weet van die groot brand. “Hoekom het die huis met oupa Sarel en al gebrand? Weet jy dit ook?”
“O ja, almal op die plaas weet. Jou oupa was alleen in die buitekamer, want jou ouma was mos lankal ingespit in die kerkhof by die plaas se voorsate en nasate. Die brand het net hier agter in jou oupa se buitekamer begin.” Katrien wys met haar vinger na die mure naaste aan ons. “Dis die strooidak wat die vlamme in ’n ommesientjie oor die hele huis gedra het. Jou oupa het doodgebrand op sy kooi. Die hele werf het glo na braaivleis geruik.” Katrien gril, skud weer haar skouers.
“Sies, dis nie snaaks om so van my oupa se gebrande lyf te praat nie.”
Katrien maak of sy my nie hoor nie. “Ek sal jou vertel wie ek dink die huis brandgesteek het, maar jy moet eers sweer dat jy dit nooit ooit vir iemand sal sê nie.”
“Sweer is sonde.”
“Dan vertel ek nie.”
Ek kruis my vingers agter my rug. “Ek sweer,” fluister ek deur my tande.
“Ek dink dit was antie Sara. Sy’t vir my ma gesê die oubaas het haar daar in die buitekamer een keer vasgedruk en probeer oulik maak.”
“Oulik maak?” Die vraag spring uit, ek kan dit nie help nie.
“Ai toggie, jy’s wragtig nog onnooslik.” Katrien draai met ’n vinger teen my voorkop. “Soos die bul wat vir die koeie kalfies gee, man. Jy’t mos al gesien daar by die kraal.”
“Ja, ek het al gesien. My oupa kon antie Sara se rug baie seergemaak het. Op die portret in ons gang lyk my oupa na ’n groot, dik man en antie Sara is nog altyd amper net so lank soos ek. Net baie dunner.”
“Toemaar, sy het net betyds weggehol. Ook maar net-net het sy gesê, want die oubaas was vinnig. Sy was só die bliksem in dat sy lank ’n skerp klip in haar voorskoot se sak gedra het. Sy wou sy harspan flenters slaat as hy weer te na aan haar kom. Só …” Katrien klap hard teen haar eie agterkop.
“Dis slim. Sy kon maklik sy brein stukkend gekap het. Hoekom het sy nie jou ouma geroep nie?”
“Nee, my ouma was al by haar huis. Dit het so gekom.” Katrien steek haar hande in die lug op, wys na die werkers se huise toe. “Dié aand met laaste skemer toe almal al weg was huise toe anderkant die sloot, het my ouma die hoenderkamp se slotjie in haar voorskoot se sak raakgevat. Toe onthou sy sy het nie die hoenderkamp gesluit nie. Sy stuur toe vir antie Sara om die slot te loop inhaak en toedruk, want skelms loop rond in die nag en steel hoenders. My ouma het gedink jou oupa lê al, maar toe antie Sara op die werf aankom, was hy nog buite. Toe hy antie Sara sien, stuur hy haar om sy baadjie in sy kamer te loop haal. Dis toe dat hy agter haar aan loop en haar daar in die deur van agter af vasvat. Maar sy was te slim vir hom.”
“Toe steek sy die huis aan die brand?”
“Nee, man. Antie Sara was al ’n groot vrou toe die huis afgebrand het. Nee, toe draai sy om en skop hom op sy knaters en hol weg. Maar haar moerigheid wou nooit loop lê nie.”
“Nou wanneer het sy dan die huis afgebrand?”
“Onthou, ek dink maar net dit was sy. Ek sê nie dit wás sy nie. Onthou jy het belowe –”
“Wat soek julle twee hier?” Pa is skielik agter ons.
“O fok toggie, wees my genadig! Red my, red my …” skree Katrien. Sy vlie op en begin hardloop, om die murasie en af in die pad rivier toe. Ek is te stadig. Pa kry my aan ’n vlegsel beet, pluk my van die stomp af op en sis naby my oor: “Kry huis, Geertina. Dis die laaste keer dat ek jou hier –”
Ek ruk los en hardloop huis toe, na Ma toe. My trane maak dat ek niks kan sien nie en ek val weer naby die huis. Ek voel hoe die warm bloed in strepies teen my been af loop nadat ek opgestaan het. Ek kan nie verder hardloop nie, my knie is te seer. Toe huil ek kliphard.
Ma moes my gehoor het, want toe ek voel, tel sy my op en dra my op haar heup huis toe.
“Siestog, wat het gebeur?” vra sy.
Ek draai my nek sodat sy agter my kop kan sien. “Is daar twee?” kry ek uit. Dit voel of een van my vlegsels uitgepluk is toe ek losgeruk het uit Pa se hand.
“Twee wat, Tina?”
“Vlegsels.”
“Ja,” sê Ma, “maar die een sit lelik skeef.”
“My voet het geswik en toe val ek. Dis maar al.” My stem bewe terwyl ek die storie opmaak. ’n Verbeelstorie, anders is dit hel toe met my.
“Waar’s Katrien?” vra Bettie kwaai toe ons by die agterdeur instap. “Hoekom kyk sy nie na jou nie, Tinatjie?”