Skip to main content

Uittreksel | Donker water

Deel Een

Hangklip

10 Februarie 2018
Saterdag

Alex Steytler kyk hoe die swart Kawasaki langs die Yaris om die draai verbyglip, draai die petrol groter en volg. Marcel Pyper ry asof die aarde agter hulle verbrokkel en Steytler gaan nie agterraak nie. Die klipmuurtjie word ’n smeersel aan sy regterkant. ’n Bakkie flits ligte van voor af, maar hy swenk gemaklik terug in sy baan voor die Ranger by hom verbykom. Hy lê in die volgende draai in, die berg roesoranje aan sy linkerkant, die see polisieblou anderkant die muurtjie en die onsigbare afgrond aan sy regter. ’n Rooi oopdak-Mustang is volgende. Die enjin grom diep en donker. Steytler draai die petrol oop en die Kawasaki skree teen die rotswand vas, klap terug see toe. Die Mustang bly agter.

Twee bobbejane sit op die muurtjie, teen mekaar soos ’n verliefde paartjie. Die mannetjie sit skaamteloos en ballas bak agter sy maat se rug en Steytler grinnik in sy helm.

Oor die kruin jaag die branders mekaar wit tot op die strand. Die pad is reguit en Pyper maak oop. Hulle jaag verby ’n Audi asof dit parkeerplek soek. Aan die onderpunt lyk die berge soos grys kiestande teen die blou lug. Om die draai sak hulle tot amper by die water en die donker rotse. Die dag is so oop en skoon hy kan die hele blou draakstert van die Skiereiland tot by Kaappunt aan die oorkant van Valsbaai sien.

Die pad styg en sak geleidelik, die draaie slap esse. Die Ninja se enjin vibreer deur die petroltenk teen sy dye en skree dwarsdeur die helm tot in sy ore. Daar is net iets aan die naakte brutaliteit van ’n motorfiets tussen jou bene wat geen kar kan namaak nie. Jy word deel daarvan soos jy nader leun en jou gewig van die een kant na die ander skuif, voel hoe die wind oor jou jaag, sien hoe die teer in ’n smeersel onder jou verbyflits, en deur gapings glip met die gebrek aan aarseling van ’n woedeuitbarsting.

Eers by die brug oor die bruin water ry Pyper stadiger en Steytler volg hom deur die hoek van Rooiels. Om die draai maak Pyper weer oop teen die helling uit. ’n Wit bordjie met ’n swart honderd glip teen honderd en sestig kilometer per uur verby. Die donker pad word liggrys. Groen en bruin fynbos strek aan weerskante tot by koppies met klipperige kruine.

Pyper draai regs Pringlebaai toe en ry teen ’n meer beskaafde pas tussen die huise deur. Rigtingwysers met blou bordjies probeer hulle in dwarsstraatjies af lok, maar Pyper hou net reguit totdat die huise opdroog en Hangklip alleen voor hulle pryk. ’n Teken waarsku dat die pad oor vier kilometer doodloop, iets wat Pyper klaarblyklik as “volspoed vorentoe” interpreteer.

Aan die ander kant van Hangklip draai Pyper regs op ’n grondpad en Steytler versnel tot langs hom om uit die stof te kom.

Pyper hou by ’n hek aan die regterkant stil, klim af en maak sy valhelm los.

Steytler skop die Kawasaki se staander uit en haal sy valhelm ook af. Die bloed bruis deur sy are.

“Daai stuk tussen Gordonsbaai en Rooiels bly die beste pad wat ek ken.” Pyper se oë lyk soos botter wat in ’n pan borrel.

“Dit is bedonnerd.”

“As ekke nou iets kan wens, nè, is dit om daai stuk pad toe te maak en hom sonder traffic te vat.”

Steytler knik. Nie dat Pyper hom juis deur die verkeer laat ophou nie.

“Dit sal nou wicked wees.” Pyper staar ’n oomblik, knip sy oë en kyk na Steytler. “Kyk, ekke is baie lief vir hierdie six-fifty, nè, dis ’n wicked bike. Maar eendag gaan ek nog vir my ’n H2 kry. Verkieslik die Carbon, as ek die ekstra duisende kan swaai. Negehonderd-agt-en-neëntig cc gesupercharge. Kan jy die klank van daai ding imagine as jy daar langs die berg ry?” Pyper se oë dans eintlik asof hy iets onwettigs ingekry het.

Steytler grinnik. Die klank van ’n 998 cc-enjin wat teen die bergwande terugslaan, bons heen en weer in sy kop ook.

“Daai bike is ’n work of art, ek sê jou.”

“En hoeveel kos hierdie work of art?”

Pyper trek sy mond. “Omtrent vier keer wat dié een kos?”

Steytler kreun.

“Dollarpryse. Want jy gaan nou nie sommer by jou naaste Kawasaki dealer introt en een op die vloer sien nie. Nie in ons land nie. Maar imagine …”

“H’m … Ek imagine jy sal moet begin spaar.”

“Ja. Spaar is nie eintlik my ding nie.”

Steytler lag.

Pyper sug. “Eendag as ek groot en verantwoordelik is.” Hy knik.

“Ja, ek weet nie of ’n verantwoordelike mens ’n negehonderd-agt-en neëntig cc bike koop nie, maar oukei.”

Pyper waai die opmerking weg. “Kom.” Hy glip deur die gaping tussen die paal en die stukkie muur.

“Ek weet dis ’n vreemde konsep in Suid-Afrika, maar ’n toe hek beteken eintlik ‘bly buite’.”

“Die hek is vir voertuie. Kom.”

“Is dit nou in Pyper-wêreld of in die regte wêreld?”

“Dis in al die wêrelde.”

Steytler het ernstige bedenkinge daaroor, maar volg. Die pad kronkel tussen die ruigtes deur. Iets begin agter die plante uitsteek, ’n rooi punt, toe ’n breër wit rand, ’n venster, ’n swart strook ... ’n vuurtoring. Die sanderige pad word bruin van houtstukkies, gesaai soos ’n blaretapyt.

Om die draai verskyn ’n man met ’n helderoranje kettingsaag. Steytler kyk na sy liggaamstaal: rustig, gemaklik, asof hy verwag om ander vreemde mense hier teë te kom.

“Morning,” sê die man en hulle groet terug. Hy loop doodluiters verby. Steytler kyk oor sy skouer.

“Net ’n lekker stroll met sy chainsaw.”

“Hulle kap en saag hout hier.” Pyper beduie na ’n kaal strook tussen die bosse in, ook besaai met houtstukkies.

“O. Ek het vir ’n oomblik gedink ons gaan in Hangklip Chainsaw Massacre speel.”

Pyper lag.

Die vuurtoring rek al hoe hoër agter die plante uit totdat Steytler ’n paar ligte dakke aan die onderkant ook kan sien. Die branders breek op die rotse aan hulle linkerkant.

Pyper volg die pad tot by die groen heining en kyk op na die vuurtoring. Dis in ’n verbasend goeie toestand, die wit verf helder en die swart donker asof dit redelik onlangs geverf is. Natuurlik het satellietskottels en selfoonantennas soos koraal aan die bokant uitgegroei.

Die son blink op Pyper se tande soos hy glimlag. “Kom.” Hy draai om. Steytler kyk nog ’n oomblik na die lemmetjiesdraad bo-op die heining en volg Pyper met die sandpaadjie af rotse toe. Kelp pak in donker klosse op die water saam; die blink koppe lig en sak saam met die branders.

“Ek wil nog eendag hier kom duik.” Pyper klouter by die rotse op. “Kan dalk selfs ’n ou krefie kry.”

Die see dreun en skuim spat hoog bokant die rotse uit. Pyper haal sy rugsak af en girts dit oop. Hy maak ’n blou gashouertjie staan en steek dit aan. ’n Potjie en ’n bottel water kom ook uit die rugsak.

“Ek is altyd impressed met hierdie Voortrekker-skadukant van jou.” Steytler hou ’n Winston teen die blou vlam en suig die kooltjie aan die gang.

“Chicks like ’n man met skills.” Pyper gooi water in die potjie.

“En tog is jy single.”

“Ekke like dit om single te wees.” Pyper vat die sigaret en trek diep. “Dit gee my room om te manoeuvre.”

Steytler knik. “Nog iets wat hoog op chicks se lysie is.”

“Ek is nog te jonk om wortel te skiet. Maar eendag. Eendag sal ekke like om getroud te wees. Miskien oor so vyf jaar. Vrou. Paar klein Pypertjies wat rondhardloop en kak maak.”

“Met jou gene sal jy definitief daai wens kry.” Steytler vat die sigaret terug.

Pyper grinnik. “Almal in die buurt moet weet wie hulle is. Jy kan hulle peetpa wees.”

“H’mmm … ek is nie mal oor kinders nie.”

Pyper kyk na hom.

“Meeste kinders is nie juis ’n advertensie vir ouerskap nie.”

“Ja, kan nie rêrig daarmee stry nie.” Pyper suig aan die sigaret. “Het jy al van condom snorting gehoor?”

Steytler trek sy linkerwenkbrou op. “Nee. En ek is seker ek wil ook nie.”

“Jy vat ’n condom, dan druk jy die toe punt in jou een neusgat en dan snuif jy die ding in tot dit in jou keel kom en dan trek jy dit met jou vingers by jou mond uit.”

Hy kyk na Pyper. “Hoekom?”

“Want een of ander nool het dit gedoen en op YouTube of TikTok of iets gelaai en nou is dit ’n ding onder tieners.”

Steytler vat die sigaret. “Ek kan nie besluit of sosiale media mense dom maak of dit net showcase nie.”

“So, wil jy dan nie kinders hê nie?”

“Nee.”

“Nie eers later nie?”

“Nee.”

“Nooit ooit nie?”

“Nee.”

“Ekke sal graag ’n seun wil hê. Sal cool wees om hom stuff te leer, soos om ’n bike te ry.”

Steytler haal sy skouers op. “Ek het nog nooit die begeerte gehad nie.”

“Dis ’n pity daar’s nie meer wat so voel nie. Want daar is wragtig ’n klomp mense in hierdie wêreld wat nie kinders behoort te hê nie. Dis nou een ding wat die polisie my geleer het.”

Steytler vat die laaste trek en versmoor die stompie in die sand. “Ja.”

Die deksel begin blaas en spoeg en Pyper lig dit af. Hy gee twee blikbekers uit sy rugsak saam met ’n “hou vas” aan, skep koffiepoeier in en gooi die borrelende water by. Die geur krul saam met die stoom boontoe. ’n Botteltjie Klipdrift kom uit die rugsak. “Jy vat mos twee suikers?”

“Opgehoop.”

Pyper kantel die bottel twee keer oor elke beker.

Steytler asem die koffiegeur in. “Kondoom deur die neus. What a time to be alive.”

“Ek wed jou ’n sixpack jy kan dit nie doen nie.”

“Ek wil dit nie doen nie.”

“Maar die vraag is: Kan jy?”

“Ek dink die vraag is: Hoe is dit dat jy van hierdie praktyk weet?”

“Ekke is ’n man van die wêreld.” Pyper vee met sy arm in lyn met die diepblou gesigseinder. “Ek moet weet wat die trends is.”

“Hoe kan dit vir jou van enige waarde wees om van condom snorting te weet?”

“Dit gee vir my insight in die jeug van vandag.”

Steytler kyk na hom. “Ag, kak, man. Jy het iewers dodgy gesurf en daaroor gestrompel.”

“Ek leer baie nuwe dinge so.”

Steytler blaas sy koffie en vat versigtig ’n sluk.

“Genoeg suiker?”

“Net reg.”

Hulle drink in stilte. Die teugies word ordentlike slukke.

“Dis die eerste keer wat ek koffie aan die voet van ’n vuurtoring drink.”

“Ekke like vuurtorings.” Pyper steek ’n Chesterfield aan. “My oupa was die vuurtoringwagter by Cape St. Francis.”

“Rêrig?”

“Ja. Dit was altyd vir my moerse cool om saam met hom soontoe te gaan. Hy was baie lief vir daai vuurtoring. My ouma het altyd gesê hy is eintlik met die vuurtoring getroud, sy’s net ’n bywyf.”

Steytler lag. “Waar’s Cape St. Francis?”

“By J-bay. My oupa was cool. Hy’t my baie dinge oor die see geleer.” Pyper glimlag. “Ja, so ekke like vuurtorings. Ek was al by Saldanha se twee. Kaappunt, die oue en die nuwe een. Groenpunt. Dis so ’n moerse blok met vet bloedrooi lyne wat so skuins loop. Die een by Kommetjie. Roman Rock by Simonstad. Hy sit op ’n rots ’n paar kilometer die see in. En dan hierdie een. Ekke wil nog eendag bo by die grens begin en al langs die kus omry en elke vuurtoring afneem.”

“Wil jy met die bike ry?”

Pyper knik.

“Klink na ’n bedonnerde roadtrip.”

Pyper glimlag breed. “Ja, nè?”

“Hoeveel vuurtorings is daar?”

“No idea. Wil jy saamkom?”

“Ja. Klink na fun.”

Pyper grinnik. “Dit sal wicked wees. Dan duik ons sommer Sodwana aan die einde. Hulle sê dis amazing.”

Steytler knik.