Uittreksel | Donker spoor
Een
9 Maart 2014
Sondag
“Nog ’n Sondagmiddagete saam met die gesin opgeoffer vir bloed en maaiers,” sê adjudant Colin Menck langs hom. “Ons het darem maar ’n lekker job, hè, Mags?”
Agter die stuur reageer adjudant Jan Magson nie. Hy volg net die langsame kronkeling van die Vissershokpad uit Durbanville op soek na die moordtoneel.
“Casey het ’n hele campaign begin om ’n perd te kry vir haar verjaardag. Volgende jaar, wanneer sy tien word. Want dis ’n spesiale verjaardag.”
Magson kyk vlugtig na die perde wat teen die houtheining uit die kamp staan en kyk. ’n Entjie verder, aan die ander kant van die pad, is ’n bordjie wat die afdraai na die Meerendal-wynlandgoed aandui. Verder is dit net groen druiwestokke wat heeltemal te helder lyk. Hy is nie lus vir ’n nuwe dossier nie.
“So ek praat al weer met myself vandag.”
Partykeer is Menck soos ’n kind wie se mond heeltyd moet oop- en toegaan. Magson sug aan die binnekant. “Ek het sleg geslaap.”
“Ek vra nie baie nie. ‘Ja’. ‘O’. Selfs ’n grunt sal doen.”
In die truspieëltjie is die pad leeg, maar Magson kyk ’n rukkie langer. Die Corolla se stowwerige spieëltjie maak sy oë nog ’n valer groen. Lyne op sy voorkop. Krake om sy oë. Hare trek al hoe meer terug bokant die slape. Snor is ook al meer grys as bruin.
Hy kyk weg.
’n Ent verder staan twee klagtebakkies en ’n paar ongemerkte voertuie langs die pad. Geen huise in die ligbruin omgewing nie. Magson hou stil en hulle klim uit. ’n Uniformbeampte kom hulle tegemoet. Hulle wys hulle identifikasiekaarte.
Die uniform knik. “AO’s. Sy lê ’n hele ent in.” Hy beduie met al vyf vingers reguit.
“Was jy eerste op die toneel?” vra Menck.
“Ja, AO.”
“Wie’t haar gekry?”
“’n Voëlkyker.”
Magson kyk na die uniform. “Is hy nog hier?”
“Dis ’n vrou, AO. Ek het haar gehou tot die eerste speurder ’n verklaring afgeneem het. Hy’t haar gelaat gaan toe hy klaar was. Ek het haar details.”
“Dis goed. Is kaptein Kritzinger by die liggaam?”
“Ja, AO.” Hy haal sy blou pet af en krap die klam kroese met die vingers van dieselfde hand.
“Orraait. Vat ons na hom toe.”
“Wag.” Menck se vingers vou om Magson se boarm. “Ek kry gou jou borslappie.”
Magson snork. “Solank jy weet jy gaan die ding heeltyd moet vashou. Want ek gaan dit nie aantrek in hierdie hitte nie.” Die temperatuur is net ’n deel van die rede – wat Menck natuurlik goed weet. Magson haat die simpel toneelbaadjies. En daar staan in elk geval CRIME SCENE INVESTIGATOR op die speurders s’n.
“Die blou bring jou oë uit, man.” Menck glimlag sodat sy tande wys.
“My oë is groen.”
Hulle loop tot by die doringdraadheining wat die pad al langs die skouer volg. Magson sien geen tekens van roes of verwaarlosing nie, maar hier waar die voertuie staan, lê vier van die houtpale plat.
“Ek neem aan dit was so?”
Die uniformbeampte knik. “Ja.”
Hulle volg hom deur die opening. Geen motorspore nie. En die gaping is te klein vir ’n voertuig om deur te kom. Het die slagoffer geloop? Of is sy gedra?
Die heuwelagtige omgewing lyk alles dieselfde; bruin en dood soos die lang gras wat in die loop teen sy grys broekspype ruis. Behalwe vir ’n kronkeling riete wat waarskynlik ’n stroompie volg. In die verte is daar ’n paar bloekombome. Die lug is droog en die reuk laat hom aan rissies dink, die vlokkies waaraan Menck hom altyd laat ruik. Sweet kriewel in sy nek af en hy wonder hoe ver die liggaam nog is.
Hulle kom oor ’n heuwel en Magson sien die mense. Lede van die Plaaslike Kriminele Rekordsentrum het al die toneel begin dokumenteer. Kaptein Henz Kritzinger is in gesprek met ’n groepie mense, waarvan een die forensiese patoloog is – sy staan uit soos ’n kinderpleister in haar wit oorpak en die helderoranje moulose baadjie waarop daar FORENSIC PATHOLOGY SERVICES staan.
Kaptein Kritzinger trek sy gesig. “Doen maar wat julle kan.”
Die PKRS-lid knik en loop weg.
“Kaptein,” groet Magson.
“Die dokter dink ons het ’n probleem.”
“Sy het al redelik begin ontbind in dié hitte.” Dokter Sinette Killian vee ’n voortvlugtige bruin haarlok van haar voorkop af.
“Maar al die tekens dui daarop dat sy gehang is.”
“Geháng?” Menck se kop wip op. “Ek kan nie onthou dat ons al ooit ’n hangmoord gehad het nie.”
“Ek kan.”
“Dis die probleem,” sê Kritzinger.
“Daar was ’n meisie, so September, Oktober laas jaar, dink ek, November dalk,” verduidelik dokter Killian. “Daar was tekens van seksuele aanranding. Sy was ook geklee, maar haar onderklere was weg.”
Menck frons. “Maar sy was nie ons s’n nie.”
“Ek kan nie onthou wie die ondersoekbeampte was nie, maar sover ek weet, is die dossier nog oop.”
Twee vir die prys van een, dink Magson. Fantasties.
Die liggaam lyk soos dié van ’n tienermeisie. Sy is geklee in ’n kortbroek en ’n wit toppie met spaghettibandjies, maar haar voete is kaal. Gas het haar maag styf opgeblaas en die vel wat uitsteek is bruingeel met donkergroen vlekke. Daar is heelwat maaieraktiwiteit, party daarvan al redelik groot. Dik donker vloeistof het uit haar neus en mond geloop. Die reuk – iets soos vrot eiers en vleis wat af is en daardie iets soets eie aan mense – is so sterk dat Magson dit agter in sy keel proe en hy weet dit gaan weer al die pad huis toe aan sy klere kleef.
Dokter Killian sak op haar knie langs die liggaam neer en draai die meisie se kop versigtig van hulle af weg. Haar geswolle gesig lyk nie goed nie; die eerste golf brommerwyfies het haar oë, neus, mond en ore geteiken om hul eiers te lê. Maar dis duidelik uit die dik donkerbruin poniestert dat sy ’n mooi bos hare gehad het. Daar is ’n verkleurde voor wat plek-plek om haar keel en nek sigbaar is, ten spyte van die maaiers se werk.
“Die voor is hoog hier teen die keel,” wys die patoloog. “Dan gaan dit skuins op langs die kante van die nek na agter.” Sy kyk op na Magson en trek haar oë op skrefies teen die son. “Dis waar die knoop sou wees.”
Hy loop om die liggaam en gaan hurk aan die ander kant. Brommers vlieg nog rondom haar, gaan land en styg op. Die maaiers vreet asof hulle weet hulle tyd is amper verby. Die meisie se klere is nie geskeur nie. Alles waar dit behoort te wees. “En jy sê dit lyk soos die vorige een, Dok?”
“Ek sal eers die post mortem wil doen en deur my verslag oor laas jaar se geval wil gaan, maar moordslagoffers wat gehang word, is geweldig skaars, soos julle self weet. Wanneer iemand gehang is, is dit eintlik altyd selfmoord. Dit sal baie toevallig wees as dit verskillende moordenaars is.”
“Toeval.” Magson skud sy kop. “Nie sommer nie. Hoe lank skat jy lê sy al hier?”
“Miskien so vyf tot agt dae.”
Hy sit sy hande op sy knieë en stoot hom orent. Al sy skarniere kort Q20. Linkerknie kort eintlik nuwe onderdele.
Menck kyk in die rondte. Hy vryf oor sy kort donkerbruin hare, oor sy snor en bokbaard. “Dis ver na daai bome toe. As sy daar gehang is, hoekom haar al die pad hiernatoe bring?”
Dokter Killian staan ook op. “Daar is ook tekens dat sy vasgebind was.”
“Maar hy het haar losgemaak.” Magson kyk na die patoloog.
“Seker ná die tyd. Geen toue saam met die liggaam gelos nie.”
Menck trek sy gesig. “Voel meer soos ’n dumpplek.”
“Wat is die voëlkyker se storie?”
“Sy’t die een of ander voël gesien en vir haar man gesê om stil te hou,” sê kaptein Kritzinger. “Uitgeklim en al die pad agter die ding aangeloop met haar verkyker en voëlgids. Haar man sê dis die storie van sy lewe.”
“En toe kry sy die meisie.”
“H’m. Ek dink nie die man gaan gou weer vir ’n voël stilhou nie.”
Menck gee ’n laggie.
Magson kyk terug in die rigting van die pad, al kan hy dit nie oor die heuwels sien nie. “Ek wonder oor die heining.”
“Het hy dit gebreek,” vra Menck, “of dit so gekry?”
“PKRS sal in elk geval daarna kyk,” sê Kritzinger.
“Hang …” Magson kyk weer na die lelike voor in die meisie se nek. “Dis nie net ’n manier om iemand dood te maak nie. Dis ook ’n vorm van teregstelling.”
10 Maart 2014
Maandag
Magson teken die oggend vroeg in die register by die Soutrivier Forensiese Patologielaboratorium en loop die bekende paadjie tot by die kleedkamers. Hy trek die rubberstewels aan, volg die kinkel tot by die gang en draai regs. Die lug is koel, effens benoud. Die stewels maak kermgeluidjies op die vinielvloer. Hy stoot die swaaideure oop en die vroteier- en vleisreuk tref hom. En hy het nog nie eens gister s’n heeltemal uit sy yler wordende hare gekry nie. Hy groet die patoloog en haar assistent wat sukkel om ’n manlike liggaam se vingers oop te forseer, en loop dieper die disseksielokaal in tot by die inham waar Sinette Killian se stasie is.
Die vermoorde meisie lê op die staaltrollie, in dieselfde toestand as toe Magson haar laas gesien het, minus die meeste van die maaiers. Dié wat nog daar is, is traag ná hulle nag in die yskas. Die fotograaf neem nog foto’s.
“Môre, Dok.”
“Môre.” Sy het diepgroen operasieklere aan, met blou latekshandskoene. “Ek het ’n bietjie gaan oplees.”
Hy kyk op. Haar blou oë wag vir hom. “En?”
“Die toumerke lyk soortgelyk aan die vorige geval.” Sy tel ’n foto op.
’n Nabyskoot van dieselfde soort voor in die nek as op die meisie voor hom. Hy vergelyk die twee en knik. ’n Donker haarlok steek by die meisie op die foto uit. “Ook ’n brunet?”
“Ja. En dieselfde ouderdomsgroep.”
Magson sug.
“Daar was ook ’n paar ander interessanthede by die vorige slagoffer. Abrasies en kontusies aan haar gewrigte en enkels wat daarop gedui het dat sy vasgebind was. Kneusmerke op haar rug as gevolg van geweld met die een of ander stomp voorwerp. Nie perimortem nie.”
“Sy is ’n ruk lank aangehou.”
Die patoloog knik. “En sy was ten volle geklee, behalwe vir haar broekie.”
“Wanneer was dit?”
“Sy is op 24 Oktober verlede jaar gekry.”
“Waar?”
“In die veld buite Brackenfell.”
Dokter Killian maak ’n pakkie uit die seksuele-aanrandingsboksie oop en gebruik die depper om enige biologiese bewyse, hoofsaaklik semen, wat moontlik in die meisie se mond kan wees – en die maaiers oorleef het – te versamel.
“Ons het ’n moontlike identiteit,” sê Magson. “Die klere stem ooreen. Hare ook. Tienermeisie wat op 27 Februarie verdwyn het.”
“27 Februarie. Dis wat … ? Omtrent tien dae.” Sy knik ’n paar keer, bêre die wit stokkie in sy spesiale langwerpige driehoekboksie en verseël dit. “Dis konsekwent. Wat was die omstandighede?”
“Sy’t huis toe geloop van ’n vriendin af. Net verdwyn.”
Dokter Killian gaan deur die welige bos hare, knip gekoekte lokke af en vou dit in ’n wit papier toe. Sy trek hare uit en verseël dit in ’n tweede papier. Haar hulpdiensbeampte Kennedy Zihlangu lig die meisie se kop ná dokter Killian knik. Sy hou ’n derde papier daaronder en trek ’n plastiekkam deur die lang donkerbruin hare. Sy vou die kam saam met enige spoorbewyse in die papier toe en verseël dit.
Daarna lig sy die meisie se linkergewrig en knip die rekkie wat die bruin papiersak om die hand vashou. Versigtig skuif sy die sak af en verseël dit in ’n bewysstuksak. Sy maak die volgende pakkie uit die seksuele-aanrandingsboksie oop, maak die eerste depper met steriele water nat en vee onder elke nael van die meisie se linkerhand. Haar naels is vuil weens die toestande waarin sy die laaste paar dae verkeer het, maar kort en netjies.
“Geen duidelike defensiewe tekens nie.”
Magson frons.
Die patoloog bestudeer die meisie se gewrig. “Definitiewe abrasies. Heelwat erger aan die buitekant. Dit dui aan dat sy vasgebind was. Polse teen mekaar miskien? Daar is tekens van roofvorming. ’n Bietjie geel in die kontusies. Sy was vir ’n tydperk aangehou.”
Sy volg dieselfde ritueel met die regterhand en bekyk die gewrig.
“Selfde?” Magson kyk na haar.
Dokter Killian knik. “En dieselfde as die vorige slagoffer. Haar hande was waarskynlik ook vasgebind terwyl sy gehang is. Daar is geen krapmerke aan haar keel wat aandui dat sy probeer loskom het nie.”
Zihlangu help haar om die meisie se klere uit te trek. Die wit toppie. Haar bra. En die kortbroek. Dis al wat sy aanhet.
Magson kyk op en dokter Killian se oë ontmoet syne.
“Geen juweliersware; ook dieselfde as die vorige een.”
Terwyl die patoloog die klere verseël en merk vir die forensiese laboratorium, dink Magson hardop: “So hy hou hulle broekies, juweliersware …” Hy kyk na die kaartjie wat aan die meisie se linkergroottoon hang. WC/11/618/2014. “En skoene. Was die vorige een ook kaalvoet?”
“Nee. Sy het haar hokkieskoene aangehad.”
“Hokkieskoene?”
“Sy was op pad huis toe ná ’n hokkie-oefening toe sy verdwyn het.”
Dokter Killian kyk oor die liggaam en nog foto’s word geneem.
Magson begin wonder oor Maryke Retief – die waarskynlike identiteit van die meisie op die trollie. Vyftien jaar oud, in graad tien. Ná skool is sy huis toe en ’n rukkie later het sy by ’n vriendin gaan kuier. Daarna het sy terug huis toe geloop en net nooit by haar bestemming uitgekom nie.
Geloop … “Het die vorige een huis toe gelóóp, Dok?”
“Ek is nie seker nie.”
Magson haal sy notaboek uit en maak ’n paar aantekeninge. Hoërskoolmeisies op pad huis toe. Een van ’n sportoefening af. Die ander van ’n vriendin af. Iemand wat weeksmiddae na slagoffers kan soek. Of ten minste sommige weeksmiddae.
Dokter Killian begin deppers neem van areas waar die moordenaar moontlik biologiese bewyse agtergelaat het, soos die borste, maag, dye.
Magson hou die aktiwiteite afgetrokke dop terwyl hy dink. Vasgebind. Aangehou. Sonder onderklere gelaat. Wat beteken sy was ten minste in ’n stadium kaal. Wat beteken seksuele geweld is ’n gegewe.
Dokter Killian en Zihlangu neem elk een van die meisie se bene en skuif dit uitmekaar. Sy maak ’n nuwe pakkie oop en kam deur die meisie se skaamhare.
Magson wonder of die moordenaar die meisie laat aantrek het voor hy haar gehang het. Of het hy haar kaal gehang en ná die tyd aangetrek? Hoekom het hy haar met haar klere aan gelaat?
In hierdie graad van ontbinding is die vermoede dat dit Maryke Retief is hoofsaaklik gegrond op die klere waarin sy gevind is.
Dokter Killian neem deppers van die meisie se rektum en anale kanaal. “Hier is definitiewe tekens van seksuele geweld. Laserasies wat op sodomie dui. Of penetrasie met ’n voorwerp. Dit was gaaf van hom om haar weer te laat aantrek. Haar kortbroek was styf genoeg om die brommers uit te hou. Anders was hulle heel eerste hier.” Sy verseël die laaste depper in ’n driehoekboksie.
“Maryke Retief het besonderse oë gehad.”
Dokter Killian kyk op.
“Op die foto.” Magson kyk na die meisie se gesig – dit wat daarvan oor is. “Heldergroen. Dis wat jy dadelik raaksien.”
“Moet ek die kolposkoop bring, Dokter?”
“Ja, asseblief, Kennedy.” Die patoloog neem deppers van die vaginale area, en gebruik ’n spekulum om nog deppers van die dieper inwendige area te neem. Zihlangu kom terug met die kolposkoop. Dokter Killian posisioneer die spesiale mikroskoop en bestudeer die binnekant van die vagina.
“Hier is ’n paar skeure aan die binnekant. Nogal diep in. Woede of sadisme; hy was rof met haar.”
Magson kyk weer na die meisie se gesig. Gevat. Gevange gehou. Hardhandig gebruik. Vir hoe lank? ’n Paar dae, ten minste. Sy sou gehuil het. Gesmeek het. Gepleit het.
Maar dit het nie gehelp nie.
En was daar regtig net een slagoffer voor haar?
Hy vryf oor sy gesig. Dit is die laaste ding wat hy nou nodig het.
11 Maart 2014
Dinsdag
Magson sit by die toonbank in die kombuis en kyk na die oggendtoneel in die agtertuin. Die dag het nog skaars begin en die son krap al oral rond. Twee tortelduiwe sit op die Vibracrete-muur, een opgepof en inmekaargetrek terwyl die ander een rukkerig rondkyk. Die gras is te lank.
Hy vat ’n hap Weet-Bix. Dis nie besonder lekker nie, want die melk het ’n effense suur smaak. Hy moet onthou om te koop.
Die kroegstoeltjie se houtleuning sny in sy ruggraat in en hy maak sy rug hol.
Dit gaan nog ’n warm dag wees. Dis veronderstel om herfs te word.
Die duif wat rondgekyk het, vlieg af en gaan land in die bedding waar die yesterday-today-and-tomorrow groei.
Magson weet nie of daar regtig iets vir die duif kan wees om te eet nie; die somer was net te lank, te warm.
Hy vat nog ’n hap. Die sekondewyser van die goedkoop plastiekhorlosie bokant die deur klik … klik … klik … Die yskas begin kreun.
Die duif in die tuin soek nog steeds, maar die ander een het weggevlieg.
Magson neem die laaste hap. Wag nog ’n rukkie en sit die papbakkie in die wasbak.
Een laaste kyk deur die venster, en daar, uiteindelik: Emma se voëltjie. Die janfrederik staan op die rand van die houtvoertafel met sy kordate lyfie. Onder die wit streep kyk die blink swart ogie direk na hom.
“Ek het begin dink jy kom nie meer nie.”
Hy tel die piering met die maalvleis op en gaan by die agterdeur uit. Die janfrederik vlieg en gaan sit in die witstinkhoutboom. Magson krap helfte van gisteraand se oorskiet op die voertafel uit. Dis net ’n eenvoudige plank met ’n rand. Hy het dit vernis en ’n stukkie afgesaagde tak daaraan vasgekap. Die vakmanskap is maar aan die growwe kant, maar Emma was so bly daaroor. Die janfrederik sit op die tak en wag.
In die kombuis kyk Magson deur die venster.
Die bekkie pik, skud en sluk.
’n Glimlag raak aan sy mond. Hy bêre die piering in die yskas en gaan kamer toe om klaar te maak.
Magson staan en kyk na sy “moordmosaïek” teen die muur van die operasionele kamer. Hierdie vertrek, op die grondvloer van die Wes-Kaapse Ernstige Geweldsmisdaadeenheid in Bishop Lavis, waar die interieur uit kaarte en foto’s van moordslagoffers en misdaadtonele bestaan. Menck sit op een van die tafels en speel met ’n sigaret; verlang seker terug na die “goeie ou dae” toe hy dit nog kon aansteek.
Magson hoor stemme en kyk om. Kaptein Kritzinger volg adjudant Kayla Schulenburg by die vertrek in. Hy kan haar nog daardie dag voor hierdie einste muur sien staan en sê: “Ek het in die laerskool ’n mosaïek gemaak met blokkies papier. My kunsjuffrou het so baie daarvan gehou, sy het my na die hoof toe gevat. Hulle het dit geraam en in die ingangsportaal gehang. Sy wou so graag hê ek moet my kunstalent ontwikkel. Ek wonder wat sy sal sê as sy sien ek gebruik deesdae daardie talent om moordmosaïeke te maak …” Dit het ’n indruk op Magson gemaak, die effense hartseer in haar oë terwyl sy na die muur gekyk het, en die naam het by hom vasgesteek.
“Mis jy al klaar vir Gys?” Menck kyk na haar met ’n skewe glimlag en glinsterende oë.
“Ek weet nie hoekom nie,” Schulenburg trek haar krullende poniestert deur haar vingers, “maar van gister af is daar ’n rustigheid in my dag.”
“Jy moet dit maar geniet terwyl dit hou.”
Magson sal graag plekke met adjudant Gys Burger wil ruil. Hy sal veel eerder ure in die hof sit en in die doodsnikke van ’n dossier getuig – selfs nonsensvrae van die verdediging beantwoord – as om ’n nuwe een te begin, veral een soos dié.
“Oukei,” sê Kritzinger, “kom ons gaan oor alles wat ons sover weet. Mags.”
“Orraait. Ons het twee slagoffers. Dok Killian is daarvan oortuig dis dieselfde man se werk. Die eerste een was Brackenfell se dossier, maar ons het dit nou oorgeneem.” Hy beduie na een van die foto’s wat teen die muur vasgeheg is, ’n meisie met donker hare, geboë wenkbroue en ’n ondeunde glimlag. Langsaan staan haar naam in hoofletters geskryf, met ’n opsomming van haar inligting daaronder. “Dominique Gould. Sestien. Sy het hokkie geoefen by die skool, en op pad huis toe net verdwyn. Dit was op 16 Oktober laas jaar.”
Magson wys na die volgende foto. Die effens skewe glimlag maak kuiltjies in haar wange. Een donker wenkbrou is hoër bokant die besonderse groen oë. “Die tweede slagoffer is Maryke Retief. Vyftien. Sy het op 27 Februarie ná skool by ’n vriendin gaan kuier, en op pad huis toe net verdwyn. Albei het geloop.”
Hy gaan staan by die yslike kaart van Kaapstad en omgewing verder teen die muur. Wys na een van die twee merkers. “Hier is Dominique op 24 Oktober gekry.” ’n Toutjie lei na kleurfoto’s van die misdaadtoneel wat langs die kaart vasgeheg is, maar Magson beweeg aan na die volgende merker. “Maryke hier, Sondag. Dominique was in Hoërskool Brackenfell en sy het in Brackenfell verdwyn. Haar liggaam is naby Brackenfell gedump. Maryke het in Bellville gebly en in Bellville verdwyn. Haar liggaam is ’n ent buite Durbanville gelos.”
“Baie verder weg,” merk Schulenburg op.
Kritzinger knik. “Miskien is Dominique te gou gekry. So hy’t dié keer meer moeite gedoen.”
“Maar toe ruïneer ’n voël alles.” Menck glimlag nie.
“’n Voëlkyker het haar gekry,” sê Kritzinger toe Schulenburg met haar wenkbroue vra.
“Brackenfell, Bellville.” Magson tik teen die kaart. “Dis sy omgewing.”
“En reeksmoordenaars bly in ’n gemaksone. ’n Area wat hulle ken.”
“As hy in Brackenfell begin het,” sê Menck. “As Dominique die eerste een was.”
Kritzinger knik.
“As hulle ook gehang is, kan dit nie te moeilik wees om uit te vind nie,” sê Schulenburg.
“Dit klink mos of jy volunteer.” Kritzinger kyk na haar en sy knik.
“Die hangbesigheid is snaaks.” Menck rol die sigaret heen en weer tussen sy duim, wys- en middelvinger. “Dit moet iets beteken.”
“Gehang. Gewurg. Gelem. Geskiet. Beteken niks. Moord is moord,” sê Schulenburg met ’n diep stem en ’n oordrewe frons.
Menck glimlag. “Selfs Gys sal moet erken dis ongewoon.”
“Hy hang hulle op ’n ander plek,” sê Magson. “En dan dump hy hulle met hulle klere aan, maar sekere artikels is weg. Hulle het geen juweliersware nie. Dominique het altyd haar horlosie aangehad. Maryke het ’n goue kettinkie aangehad. Hy hou ook hulle broekies …”
“Persoonlike goed,” sê Kritzinger. “Aandenkings.”
“Maryke is sonder haar sandale gedump. Dominique het haar hokkiekouse en -skoene aangehad, maar haar skooltas en haar hokkiesak is weg.”
“Het hy vir haar weer haar sokkies en skoene aangetrek?” vra Schulenburg. “Of het hy dit nooit uitgetrek nie?”
Magson kyk na haar. “Nee, dit was uitgetrek. Daar was merke aan haar enkels. Sy is kaalvoet vasgebind.”
“So …” Schulenburg frons, haar kop na links gekantel. “Hy dump die een sonder haar sandale, maar hy doen al die moeite om die ander een se skoene weer aan te trek?”
“Hy hang hulle dalk met hulle klere aan. Miskien het Dominique self haar skoene weer aangetrek nadat sy aangerand is. Maryke het dalk nie, of dit het afgeval met die hang.”
“Wat van hulle bra’s?”
“Al twee het hulle bra’s aangehad.”
Schulenburg frons dieper. “Juweliersware, broekies, maar bra’s hou hy nie.”
“Hy vat hulle in die middag,” sê Magson, “wanneer hulle langs die pad loop. Hy doen dit so dat daar nie getuies is nie. Niemand het iets gesien nie. Niemand het iets gehoor nie.”
“Miskien ken hulle hom.” Kritzinger trek sy wenkbroue op. “Hulle klim by hom in die kar want hulle ken hom.”
Schulenburg loop nader en gaan staan voor die kaart. Sy trek haar wysvingernael heen en weer oor haar onderlip.
“Hulle was in verskillende skole, verskillende voorstede. ’n Skoolvriend of ’n onderwyser lyk onwaarskynlik.”
“Tensy dit ’n onderwyser is wat van die een skool na die ander oorgeskuif het.”
“Hy het ’n kar nodig om die liggame te gaan dump,” sê Menck. “Wat beteken hy moet kan bestuur en hy moet toegang tot ’n kar hê.”
“Dis te netjies en gesofistikeerd; hy kan nie ook ’n tiener wees nie,” sê Magson. “En hy hou hulle ’n paar dae lank iewers aan.”
“As dit in sy huis is, woon hy alleen.”
En Magson het in die laaste tyd geleer as mens alleen bly, dink jy makliker aan donker dinge.