Skip to main content

Uittreksel | Djin in ’n koffiekan

1720: Prelude

Dankbaar vir die donkermaan, skuil Michèle de Clieu in die duisternis tussen twee straatlampe waar hul flou gloed nie bykom nie. Mantel om die lyf en die duelpistool van hout wat sy uit die Comédie-Fran­çaise se teaterkas geleen het gereed in haar hand, wag sy. Dis laat.

Die ligte brand reeds flouer. Soos haar vorige slagoffers, sal Dideroux totaal onvoorbereid wees op ’n struikrower in die middel van Parys. Hy is be­sope, want die oneweredige klip-klop van sy polvye is selfs bo sy gesing hoorbaar. Ook die vloek toe hy struikel.

Sy ril bygelowig. Wat sy doen, is verkeerd, boonop gevaarlik, maar dis al wat sy kon bedink vir haar broer se finansiële penarie. Onrustig luister sy vir bykomende voetval, die klik-klak van perdehoewe en die knars van koetswiele in die straat.

Toe Dideroux een tree verby haar skuilplek is, kom sy uit die skadu’s en rem hom met haar linker­arm om sy middel. Met net-net genoeg houvas op sy onderbaadjie kry sy die korpulente lyf tot stilstand gedwing. Onmiddellik druk sy die teaterpistool hard in sy vetrolle en hoop hy kom nie agter dis nagemaak nie. “Die wapen is oorgehaal,” prewel sy in ’n diep stem.

“Sacre bleu . . .” Sy gedempte uitroep is skaars hoorbaar, beslis nie genoeg om Lodewyk se musketiers te ontbied nie.

In sy oor fluister sy die presiese bedrag wat Ga­brièl vroeër aan sy dobbelhand verloor het. “Dis wat jy vanaand uit jou opponente gekul het.” Sy het die spelers dopgehou en weet waar sy kaarte versteek was. “Kies nou: die geld of jou lewe. Toe, toe, jou uurglas loop leeg.”

Dis genoeg om Dideroux op sy een knie te laat afsak sodat hy byna uit haar greep gly. “Clémence, s’il vous plait,” smeek hy om genade terwyl hy wor­stel om die geldbeurs onder sy baadjie uit te kry. Oplaas laat hy dit langs hom val. “Dè, spaar net my lewe.”

Simpatie roer in haar, maar ter wille van haar eie en Gabrièl se oorlewing moet sy die geld vat. Sy gee hom ook ’n stampie sodat hy vooroor kan­tel. Met hom onkapabel op die plaveisel, raap sy die geldbeurs op, tree blitsvinnig terug in die skadu’s en hardloop vlugvoets deur die strate tot by die ton­nels van die ou steengroef waarin sy ongesiens kan verdwyn.

Die wete dat Dideroux soos haar vorige slagof­fers skatryk is, paai haar gewete. Sy weet egter sy kan die charade nie onbepaald volhou voor iemand onraad merk en die rooftogte met Gabrièl se ver­liese in verband bring nie. Een of ander tyd gaan sy haar in die gendarme vasloop.

 

Hede: Murphy se wet

Die ligte brand in Climb and Rappel toe Clea Cilliers die deur oopstoot. Die oefenmuur van die rotsklim­sentrum is ’n gunstelingplek waar sy gereeld sog­gens voor werk klim.

“Kom, kom, Clea,” roep Kallie, een van haar klim­vriende. “Jy’s laat. Die volgende span val oor twintig minute in en ek wil twee maal tot bo klim.”

“Chill, pel, moenie jou speelgoed rondgooi nie.” Sy gespe haar helmet vas, druk haar hande in die houer met krytpoeier om te verhoed dat haar vingers en handpalms sweterig raak en draf tot by haar maat. “Laaste bo is ’n chicken!” Sy spring vir ’n hoë handgreep wat haar ’n effense voorsprong sal gee.

“Waar is jou veiligheidstou?” vra Kallie ontstig. “Henning gaan jou vir twee weke skors as jy daar­sonder klim.”

“Jy soek net ’n verskoning om my op te hou, want jy weet ek gaan wen,” tart sy en steek hom verby. Die klimmuur is ’n gelykmaker. Hier is haar gebrek aan brute krag nie ’n nadeel nie. Vaardigheid en senu­wees van staal is al wat jou bevoordeel. Dalk is haar senuwees nog nie staalhard nie, maar haar ratsheid vergoed daarvoor.

Uit die hoek van haar oog merk sy iemand regs van haar wat loslittig en sonder inspanning klim. ’n Oomblik lank vergeet sy van haar maat en klim op gevoel terwyl die gemaklike gang van die klimmer langsaan haar aandag hou. Hy gly skynbaar moei­teloos teen die muur op asof dit nie loodreg is nie.

Sulke buigbaarheid is gewoonlik tipies van ’n vrou, maar die man is breedgeskouer en allesbehalwe fyntjies. Die voorsprong wat sy lengte hom boonop gee, is vir haar genoeg aansporing om nog vinniger te klim. Adrenalien klop in haar bloed en heerlike opwinding pomp deur haar lyf toe sy maklik byhou.

Tellings later het sy ’n millimeter voorsprong.

Jippie.

Sy kry ’n trapplek na regs, los die handgreep en gryp met haar regterhand na die volgende vatplek. Toe daardie insetsel uit die muur losbreek en sy na regs begin kantel, flits ’n gevoel van déjà-vu deur haar.

As jy vandag val, gaan iets in jou lyf breek, Clea.

Voor haar swaartepunt heeltemal skuif, los sy die gebreekte klimgreep, trap desperaat met haar regter­voet rond vir laer vastigheid, kry dit en skiet haarself verder na regs. Haar hart dreun in haar ore terwyl sy kyk hoe die naaste van die oefenmuur se drie ekstra veiligheidstoue nader kom. Sy tas wild daarna, kry haar vinger net-net om die growwe vesel. Toe haar volle gewig die tou styf pluk, begin haar momentum ’n pendulumswaai wat haar vir ’n breukdeel van ’n sekonde naby die lang klimmer bring. Blou oë flits, ’n hand reik na hare, hul vingerpunte raak net lank genoeg om hitte deur haar lyf te stuur en die mo­mentum van haar swaai bietjie te rem. Toe gly haar vingers uit syne.

 

1720: Overture

Waar Michèle de Clieu op die verhoog van Comédie-Française op die dekorpanele balanseer, is sy dank­baar dat madame Chance vanoggend aan haar kant is, want Gabrièl het nog sy roes lê en afslaap toe sy netnou uit die huis na die teater gesluip het. Anders moes sy haar vreemde kleredrag aan hom verduide­lik het.

Die houtpistool is veilig terug in die rekwisietekas, konsentreer nou op jou taak, Michèle. As die masjien wat die dekor op die verhoog verskuif on­verwags ruk, kan jy van hier bo afval.

Van waar sy wydsbeen by die las tussen twee dekorpanele sit om dit te stabiliseer, kan sy van bo na die spelers in die populêre opera kyk sonder om uit die gehoor gesien te word. Sodra die overture eindig, moet sy die scenario vinnig help verander vir die openingstoneel.

Betower staar sy na die dansers van die corps de ballet wat tussen die sangers deur vleg, die sang en dans perfek gekoördineer. Sy kan dit beleef, maar wens sy kon eerder in die gehoorsaal sit. Nou ba­lanseer sy egter gevaarlik hoog bo die verhoog, soos tydens die struikroof in seunsklere geklee.

Vandag is haar vermomming bloot ter wille van gerief, wel ongehoord, maar ten minste nie onwet­tig nie. Sy help die stelontwerper, André, wat te suinig is om genoeg helpers te huur. Toe hy by die koffiehuis hoor sy wil die komedie-en operavertonings graag bywoon, het hy voorgestel sy help hom met die dekor in ruil vir gratis toegang. Daarom doen sy die harde, moeilike werk sonder om ’n livre daarvoor te verdien.

Haar skraal postuur en ratsheid is handig vir die klimwerk. Op die oomblik is die tou wat uit die hoë plafon hang, haar enigste beveiliging terwyl die kort gordyn bo en die drapeersels aan die kante van die verhoog haar vir die konsertgangers verberg.

Onverwags merk sy ’n las tussen twee dele van die gordyn. Daardeur sien sy ’n luukse privaat losie regs van die verhoog. Twee vroue in glansende rokke sit weerskante van ’n edelman in minder oordadige drag. Gelukkig kan hulle nie haar voosgewaste hemp en broek wat Gabrièl lankal ontgroei het, sien nie.

Toe sy weer opkyk, merk sy die man in die losie staar oënskynlik reguit vir haar, sy helderblou oë ’n vlam wat deur haar skroei.

Onder daardie speurende kyk voel sy glad nie veilig nie. Haar hande wat haar op die panele in po­sisie hou, bewe sodat sy stywer vasklou en wens sy was eerder in Cafe Aromatique, die koffie-establish­ment waar sy bedags werk.

Onverwags draai die ratte van die masjien waaraan die dekor gekoppel is. Die beweging ruk deur die panele onder haar en sy verloor haar houvas. As sy vooroor val, beseer sy dalk die spelers of verongeluk hierdie optrede. Gryp sy die tou wat die panele in po­sisie stabiliseer, gebeur dieselfde, daarom duik sy na agter, reik na die los tou wat ’n ent van haar af agter die verhoogstelle hang.

Terwyl sy vryval, wonder sy of daardie adellike blouoogheer ooit sal weet ’n vrou het haar agter die skerms byna doodgeval.