Skip to main content

Uittreksel | Die willewragtig langsaan

Een

Laynie Verhoef klik op die WhatsApp-logo en kies haar tweelingsuster se naam. Die feit dat Elsabé nie die oproep beantwoord nie, beteken dat sy dalk by die ginekoloog is vir haar jongste ondersoek. ’n WhatsApp-stemboodskap is vinniger as om die hele relaas van haar, Raka en Dawie se rit na Klippiesbaai te tik. Sy klik op die mikrofoontjie:

Ons drie is veilig hier. Raka en Dawie het hulle soos ou reisigers gedra. Maar jimmel, Sus, op watse stories maak julle my peetkind groot? Sy verbeelding en nuuskierigheid het nie brieke nie! Hulk, die groen superheld? Thor en Mjölnir in New York? Ek kan nie byhou n…

’n Onaardse brul skeur die stilte, maar dis die protesterende kinderstem wat Laynie orent dwing. Tyd om te dink is daar nie. In drie tree is sy uit by die agterdeur.

“Dawie? Dawie, waar is jy?!” ’n Onheilspellende stilte begroet haar. Is dit die oog van die orkaan, of is die donderstorm pas verby? Kort op dié gedagte volg die besef dat haar vinger van die stemboodskapknoppie gegly het. Die boodskap is gestuur. Haar tweelingsus gaan haar doodbekommer as sy die rumoer hoor wat haar boodskap onderbreek het.

’n Beweging in die tuin langsaan vang haar oog. Elsabé se vyfjarige hang tussen hemel en aarde aan die arm van ’n forsgeboude man met ’n ongetemde bos hare. Sy armspiere span styf met elke skop wat Dawie gee. Raka, haar Great Dane, hurk-sit kort onder die skoppende voetjies, sy bolip dreigend opgetrek en sy hele houding ’n waarskuwing dat hy gereed is om te spring. Hy wag skynbaar net dat sy speelmaat uit die gevaarsone verskuif.

“Wat … maak … jy … op … my … stoep?” Die vraag kom afgemete.

“Ouwie-ouch,” protesteer Dawie flou.

“Sit … Dawie … dadelik … neer.” Laynie praat ewe kalm en gelykmatig om sowel die hond as man te kalmeer, en besef toe dadelik dat haar praatritme die willewragtig dalk die idee kan gee dat sy hom met ’n nabootsing koggel. Raka moes egter die erns in haar stemtoon geregistreer het, want hy bly sit sonder om sy oë van Dawie weg te neem. Sy bolip sak, maar die pels op sy rugstring bly dreigend regop. Die man laat sy arm stadig sak. Of dit in reaksie is op haar stemtoon, of omdat hy nou eers bewus raak van die groot hond, weet sy nie.

“As jy ordentlik gekyk het, sal jy sien die klein … klein … Hy hang aan mý arm, ek hou hom nie aan syne gevange nie.” Die stem is diep, die grom van ’n beer wat ontydig tydens sy winterslaap in die grot gesteur is. Nee, korrigeer sy haarself. Eerder ’n orkaan wat die ideale plek geïdentifiseer het om in ’n rampgebied te verander. Sy stem is rammelende donderweer met die klap van weerlig net-net onder beheer.

Toe Dawie se voete grondvat, los hy die gespierde arm, spring om, en hardloop volspoed na die hekkie tussen die twee erwe met Raka agterna.

“Hou hom en sy brak asseblief uit my erf en van my stoep af.” Ysblou oë vries haar in haar spore.

Geen mens het van nature sulke oë nie, dit moet kontaklense wees. Laynie skud haar uit haar verstarring los. Brak, nogal. Haar hond is ’n volbloed-Great Dane en baie goed opgelei. “Het hy of die hond iets gebreek, Meneer?”

Hy gluur haar aan. “Nog nie.”

Van pure skrik huiwer haar moermeter gevaarlik diep in die rooi. “Iets vuilgesmeer of verniel of been gelig teen iets?” As laasgenoemde gebeur het, skaam sy haar op die plek dood.

Weer skud hy sy kop en pers sy lippe op mekaar. Is die man ’n kinderhater of net plein bedonderd om sonder aanleiding so tekere te gaan? “Het hy aan enigiets geraak?” Geen reaksie nie. Suspisie roer in Laynie. “Was hy hoegenaamd op jou stoep, of na aan jou huis?”

“Sorg jy net dat dit nie gebeur nie.” Met hare wat in die wind roer, swaai hy om, stap met lang treë teen die stoeptrappies van die huis langsaan op en oor die stoep tot binne. Daar gekom, druk hy die deur met ’n klikgeluid agter hom toe. Sy lyftaal verkondig luidkeels dat hy dit eintlik dawerend wou toegooi. Sy staar tellings lank na die glasdeur van oom Fanus Koegelenberg se huis. Het haar ou buurman die huis aan hierdie man verhuur terwyl hy by sy dogter in Australië kuier? Met so ’n willewragtig langsaan gaan sy die hele vakansie nie ’n woord geskryf kry nie.

Toe tref ’n erger moontlikheid haar. Sê nou oom Fanus het ná tant Truia se dood besluit om te verkoop en ook te emigreer om by sy dogter te wees? Dan sit sy nou ná sy permanent hierheen verhuis het, opgeskeep met hierdie vuurvreter op haar drumpel.

Op pad om Dawie te gaan kry, gryp sy die selfoon om Elsabé gerus te stel voor sy ontydig in kraam gaan of hierheen jaag. Deur die skuifdeure merk sy Raka in die erf se verste hoek waar die speldekussings in volle blom staan. Dis daar waar klein Dawie wegkruip. Terwyl sy uitloop, begin sy ’n tweede stemboodskap:

Voor jy ’n angsaanval kry: dit was ’n blote misverstand, jou kind is oukei. Ek ook. Nou gaan ons strand toe. Tjeers.

Met die selfoon veilig in haar sak loop sy gemaak onbesorg by die stoeptrappies af na die tuin wat deel vorm van die duin bokant hulle deel van die strand.

“Ek wonder darem of daardie willewragtig hier langsaan nie miskien iets verloor het nie.” Laynie buk asof sy onder die laventelbos soek. “Ons moet beslis die ding soek voor ons strand toe loop, nè, mossie?” Sy stop by die Septemberbossie waar ’n kwikstertjie hom tuisgemaak het.

“Daai is nie ’n mossie nie, dis ’n kwikkie, Ta-Laynie.” Dawie kom regop agter die speldekussing, sy oë pieringgroot. Langs hom swaai Raka sy stert, sy hele lyf wriemel van vreugde oor die heerlikheid om ’n speelmaat te hê. “Is Thor kwaad oordat sy hamer weg is?”

Laynie glimlag. Heel gepas dink Dawie dat die buurman die god van donder is. Vertrou ’n kind om die ooreenkomste te snap. Dankbaar dat hy ten minste kalm klink, gryp sy na die verklaring. “Ja, ’n verlore hamer kan die rede wees hoekom Thor so kwaad is.”

“Ek weet sy hamer is nie by hierdie snaakse blomme nie,” sê hy beslis.

“Ek het nie geweet jy hou van blomme nie, Hulk.”

“Hulk is mos groen! Hy hou van blomme, veral sulke snaakse enes met koppiespelde.” Hy kom staan styf langs haar. “Het Ta-Laynie geweet Thor bly hier by jou seehuis?”

“Nee, maar nou is ek bly ek het jou saamgebring see toe. Hulk sal my teen Thor moet beskerm as hy dalk weer uit die huis kom en weerligstrale rondgooi. Kom ons trek ons swemklere aan, dan gaan kyk ons wat is in die rotspoele.”

Dawie lyk ’n oomblik of twee onseker oor sy nuwe rol, maar huppel vooruit om sy swemklere te kry.

“Hoekom is oom Kurt nie hier om jou teen Thor en ander skelms te beskerm nie, Ta-Laynie?” vra Dawie toe hulle aan die onderpunt van die tien houttrappe duinaf hul skoene uitskop en kaalvoet oor die sand begin aanstryk rotspoele toe.

Want oom Kurt het geskoert. “Oom Kurt het ’n feëprinses raakgeloop en is saam met haar weg na kammaland.”

“’n Feëprinses?” Hy klink vertwyfeld. “Ek dog ’n slegte heks het hom getoor.”

Oeps. Elsabé het hom voorberei, maar sy kan dit nie daar laat nie. Dawie was nogal lief vir oom Kurt en die fyne Chantelle het nie ’n bose haar op haar kop nie. “Nee, ’n regte feëprinses. Sy het die slegte heks weggetoor.” Eintlik is die rokjagter van ’n Kurt die skuldige een; hy ly aan ernstige aandagafleibaarheid, dit het sy vroeg in hul verhouding reeds agtergekom, maar hom telkens weer ’n kans gegee.

“Dis ook beter so, nou kan ek werk aan my eie superkragte.”

“Superkragte is beter as toor,” bevind Dawie dadelik. “My pa sê so. En hy sê my ma het ’n spesiale superkrag. Sy kan wonderlike goed doen, soos om vir my ’n sussie in haar maag te laat groei. Kan jy dit ook doen, Ta-Laynie?”

Laynie hurk langs hom. “Kan ek jou ’n geheim vertel?”

Hy leun teen haar, sy oë ernstig. “Ek belowe ek sal vir niemand sê nie,” fluister hy hard.

“Alle tannies het daardie spesiale superkrag om babatjies in hulle te laat groei. Alle mammadiere ook, maar daarvoor het mens ’n pappa nodig. My superkrag is vir eers gevries, want ek het nie iemand om die pappa te wees nie.” Oom Kurt kan maar permanent in kammaland by die feëkoningin bly en mag hy vrolik daar voortwoeker met sy superkragte tot hy sy vingers verbrand.

“Maar kan alle mammas een sussie twee laat word?” vra hy ernstig.

Laynie glimlag heimlik oor Dawie se begrip van ’n tweeling. “Nee, bitter min mammas kan dit regkry.”

“Dalk sal jy dit regkry omdat jy net soos my mamma lyk! My pa sê jy moet net vinnig ’n ander oom kry voor jy op die rak sit en suur word. Bedoel hy soos melk suur word wat nie in die yskas bly nie, hè Ta-Laynie?”

Laynie onderdruk haar lag en neem haar voor om haar swaer in gelyke munt terug te betaal vir dié stukkie wysheid. “Dit kan wees,” sê sy gemaak ernstig. “Ek sal moet uitvind.”

“Jy kan sommer my ma vra, want sy weet als. My pa sê sy het ’n inseklippiedie ingesluk.”

“Nee, wanneer het dít gebeur?” Haar swaer skaats op baie dun ys rond, veral as Elsabé aan die einde van haar swangerskap dalk haar lankmoedigheid verloor.

“Ek dink omtrent toe my sussies begin groei het.” Sy oë is hulpsoekend op haar. “Is dit seer om ’n inseklippiedie in te sluk? My pa vryf elke aand my ma se rug, ek dink dis sodat die boeke se skerp punte rond kan word.”

Laynie glimlag onwillekeurig. “Dit klink na ’n gawe plan as sy dit regtig ingesluk het.” Hier sal sy skadebeheer moet doen sonder om Dawie se vertroue in sy pa te skok. Hy sal ná die geboorte bepaald wil weet waar is die boeke.

“Dink Ta-Laynie daar gaan genoeg plek in Mamma se maag wees vir twéé sussies en ’n klomp boeke?”

“Wil jy nog ’n geheim hoor, Daaitjie?” Sy wens sy het meer tyd gehad sodat sy die regte antwoorde kan vind. Ongelukkig sal sy moet improviseer.

Hy knik gretig en staan nader.

Sy hurk by hom. “Grootmense praat soms in prentjies wat kinders nie mooi verstaan nie. Wat Pappa eintlik bedoel is dat Mamma báie slim is en antwoorde het vir al jou vrae omdat sy ’n groot klomp boeke gelees het, meer boeke as ’n hele stel ensiklopedieë. Omdat al die antwoorde nou in haar kop is, sê Pappa sy het die boeke ingesluk.”

Hy is ’n paar tellings stil asof hy dit verwerk.

“Soos as ek ’n appel eet? Dan’s al die lekkerte in my, maar hy is gekou, so hy’s nie regtig meer ’n appel nie?” vra hy plegtig.

Sy gee hom ’n stywe drukkie. “Dis presies wat dit is. Jy is net so slim soos Mamma.”

Sy buk vinnig en tel ’n draaiskulp op. “Kyk net hierdie wonderskulp, Daaitjie,” sê sy voordat hy met ’n nuwe strikvraag vorendag kom. “As jy sy oop kant teen jou oor hou, klink dit of die see binne-in die skulp is. Mense sê die see praat in die skulp, maar die see is mos nie regtig in die skulp nie, nè?”

Terwyl sy haar selfoon uithaal vir ’n foto, druk hy die skulp teen sy oor, luister met ’n uitdrukking van konsentrasie. Sy verander die verstelling na video, net betyds om te sien hoe die konsentrasie verander na skone verwondering.

“Glimlag vir Mamma en vertel haar wat jy hoor.”

Entoesiasties ryg hy die hele verduideliking uit, sy lewenslus oorrompelend.

“Vanaand kan ons baie foto’s saam met die video huis toe stuur.” Sy vryf sy sonwarm hare deurmekaar.

“Ja, Mamma sal alles vir Pappa en die sussies wil wys, want wanneer sy vir my stories lees, luister hulle saam. Dalk is daar ’n loergaatjie by Mamma se naeltjie waardeur hulle na die prentjies kan kyk.”

Op daardie interpretasie reageer sy eerder nie. Saam met die son skuif hulle van een rotspoel na die volgende. Deur sy oë herontdek Laynie die wonderwêreld onder die water.

“Is daai ’n babaseemonster, Ta-Laynie?” Sy erns stel haar op haar hoede toe sy oor hom leun waar hy hurk.

“Gelukkig is hier nie monsters in ons poele nie. Dis ’n lekker groot seeanemoon.” Sy lei sy voorvinger na die middelpunt van die dieprooi voelertjies.

“Hou jou vingerpunt net naby, dan voel jy hoe saggies suig hy daaraan. En wil jy glo, hier is sowaar ’n seesterretjie naby hom.”

“Kyk vir Raka!” Die kind wys na waar die hond met sy ore vorentoe en kop skeef gedraai staar na iets in die poel. “Hy verstaan alles wat jy sê, Ta-Laynie.”

“Dit lyk nogal so, nè.” Hulle is al langer as ’n uur op die rotse, merk sy en kom regop. “Maar nou moet ons eers teruggaan. Jou mamma gaan my basvelle aftrek, want ek het vergeet van sonskerm. Môre moet ons sonhoede opsit en die visnetjie saambring.”

Hy kyk by haar verby en kom staan styf teen haar been. “’n Groot visnet om vis te vang wat ons gaan braai?” Hy klink so ontstemd dat sy vinnig omswaai. Links agter hulle op die nat sand loop die vuurvreter van vroeër met ’n visnet en groot vistrommel.

Dit sal haar nie verbaas as die man ’n twyfelagtige werk het nie; hoekom anders is hy so op sy hoede vir alsiende kinderogies? “Nee, my Goggie, sommer ’n klein netjie waarmee ons goedjies kan skep sonder om hulle seer te maak.”

“En dan laat ons hulle weer vry?” Sy oë is rond en ernstig.

“Maar natuurlik. Ek maak net boksvisse gaar, niks seevisse nie.”

Hy lag uitbundig. “Jy’s darem baie dom. Boksvisse kom ook uit die see!”

“Ja, maar hulle is sommer net wilde visse sonder kinders of familie, dis hoekom die boksvisbote hulle maar mag vang.”

“Regtig?” Voor sy haar gewete moet losmaak van dié liegstorie, trek iets in die poel weer sy aandag en buk hy om die blink klippies op te tel.

“Wilde visse sonder familie. In-te-res-sant.”

Laynie kyk vervaard om na waar die dreunstem vandaan kom. Die buurman is skynbaar pas reg agter hulle op die sand verby, nie vergete al buite hoorafstand soos sy gereken het nie. Sy ore moet baie goed wees om hul gesprek bo die murmeling van die branders te hoor. Daar lê boonop ’n wit kring om sy mond asof die storie van die boksvisse hom ontstig het.

Dalk verbeel sy haar net sy het hom hoor praat omdat haar gewete haar aangekla het. Maar waarom was sy gesigsuitdrukking vir ’n flitsmoment so totaal ontredderd?


Terwyl sy Dawie later insmeer met nasorgsonroom, wonder Laynie hoekom sy haar enigsins aan die man steur. Sy mening skeel jou weinig, Laynie Verhoef. As hy jou nuwe buurman is, bly jy en Dawie eenvoudig uit sy pad.

“Wat is ’n willewragtig, Ta-Laynie?” vra Dawie asof hy haar gedagtes gehoor het. Hy staar deur die kombuisvenster na die buurhuis waarvan die stoep net-net deur die olienhout se blare sigbaar is.

“Ag, dis sommer hoe grootmense partymaal praat as iemand hulle laat skrik.” Sy draai die buisie room toe. “Voel jou skouers nou koeler?”

Hy trek sy skouers ’n paar keer vinnig op en af. “Lekker koel. Is hier koekies of springbroodjies? Ek’s ’n bietjie honger, jong.”

“Springbroodjies?” Wat weet klein Dawie van Sjinese spring rolls?

“Ja, broodjies wat jy in so ’n masjien druk wat dit lekker warm brand dat die botter kan smelt.”

Roosterbrood. “O ja, natuurlik. Ek is ook lus vir ’n springbroodjie. En hier is koekies en pizza en vrugte, enigiets waarvoor jy lus het.” Terwyl sy snye brood in die rooster druk en ’n seleksie ander eetgoed op ’n bord uitpak, kyk sy vinnig na waar hulle buurman sy tuin natlei. “Hoekom het jy vanoggend hier langsaan gaan kuier?” vra sy terloops asof dit onbelangrik is. “Ek gooi solank koeldrank in, pak maar genoeg eetgoed in jou bordjie.”

“Groen koeldrank?” Sy knik. “Ek het gedink ek sien ’n groen slak teen die stoeptrappies opklim, toe gaan ek deur die hekkie. Maar toe ek daar kom, is dit ’n slangetjie. Hulk hou van groen goed en ek wou net kyk, ek sal hom mos nie seermaak of iets breek nie.”

’n Slangetjie? “Nie ’n wurm nie?”

“Nee, man, Ta-Laynie! ’n Wurm het voete, ’n slang nie.” Haar waarde as verwysingsbron daal skynbaar vinnig.

“En hoe groot is hy?”

“Nie baie groot nie, maar hy is weg voor ons naby genoeg was om mooi te sien. Ek het vinnig op die eerste trappie gekom, maar toe Raka by die trappies wou opklim om ook te kyk, kom staan die willewragtig oom in die pad met sy stok.” Hy druk ’n vierkant roosterbrood in sy kies en vat ’n stukkie pizza. “Hy het baie kwaad gelyk.”

Sy byt op haar tande om nie op die naam te reageer nie. “En toe?”

“Toe skreeu ek want ek het geskrik, en ek gryp sy hand om te keer dat hy vir Raka met die stok slaan of die slangetjie doodmaak.” Hy vat ’n groot sluk groen koeldrank. “Toe kom die slangetjie gelukkig weg terwyl ek aan die oom se arm hang.”

Wou die woesteling haar hond of vir Dawie met die stok bykom? Miskien die slang ook, as Dawie se verbeelding nie vir hom ore aangesit het nie. En vir wat sê die man nie vir haar daar was ’n slang by sy huis nie?

“Weet jy wat, sodra ons klaar geëet het, gaan soek ons oumagrootjie se slangboek.” Eerste van alles moet sy seker maak hier kom groenerige slange in die omgewing voor, en of hulle giftig is. As die man in haar gesig lag as sy hom aanvat oor ’n onskadelike draadslang of molslang, gaan sy soos die grootste mamparra in die land voel. “Die boek is hier iewers in die huis.”


Die boek oor slange lewer verskeie groen slange op waarvan die meeste van dié wat hier voorkom, onskadelik blyk te wees.

“Die slang hier langsaan het ’n bietjie soos hierdie ene gelyk.” Dawie raak met sy voorvinger aan die olyf huisslang en frons. “In die boek lyk hy amper bruin, maar ek is seker hy’s groen.”

“Hy’s vir seker groen, Daaitjie.” Sy raak aan die simbooltjie by die slang se foto. “Hierdie wys dat hy nie giftig is nie, maar hy sal pik as hy skrik en dit kan seer wees, hoor.”

“Ek sal mos versigtig wees, of wag tot Ta-Laynie saam met my kan gaan kyk.” Hy rek weer op sy tone om deur die hoë kombuisvenster te sien. “Ek het oom Willewragtig sien ry. Dink Ta-Laynie nie ons kan gou gaan kyk nie? Net vinnig-vinnig terwyl die oom weg is?”

Daar is nie ’n manier in die hemel óf hel dat sy soontoe gaan nie. “Nee wat. Hy’s die soort man met oë agter sy kop. Hy sal dadelik weet ons was daar.”

Dawie knik sober. “Mamma het ook oë agter haar kop. Sy weet alles wat ek doen want sy kan dwarsdeur mure kyk, sê my pa. Ek het al gesoek vir daai oë wanneer sy slaap, maar my mamma steek hulle te goed weg. Is dit ook Pappa se prentjiestaal?”

Sy knik oorstelp. “Dit beteken eintlik dat Mamma so baie lief vir jou is en jou so goed ken, dat sy weet wat jy doen.”

“En as die sussies daar is, wat dan?” vra hy bekommerd.

“Dan gaan sy nog steeds vir jou lief wees, want sy het jou mos eerste gehad. Omdat daar twee sussies gaan wees, sal jy haar moet help sodat sy hulle ook so goed kan leer ken.”

Hy knik. “Kan ons haar en Pappa asseblief vanaand bel, Ta-Laynie? Ek verlang na hulle.”

“Natuurlik kan ons.” Sy is self bekommerd oor Elsabé. “Kom ons gaan sit op die stoep, dan bel ons sommer dadelik. En as jy wil, kan ons vanaand Skype wanneer Pappa ook by die huis is. As jy verlang, beteken dit hulle verlang nog meer.”


Met Dawie in die bed en vas aan die slaap, sit Laynie kort ná agtuur agter haar skootrekenaar om te skryf. Haar gedagtes weier egter om vasgepen te word. Dit neig terug na haar sussie. Toe Elsabé met haar vierde besoek aan die ginekoloog hoor sy verwag nie een nie, maar twéé dogtertjies, het die nuus Laynie met gemengde gevoelens gelaat. Klein Dawie is wel uit sy vel oor die vooruitsig van twee sussies, maar sy was in vertwyfeling oor moontlike swangerskapkomplikasies.

Ná vanoggend se voorgeboorte-ondersoek is Laynie se kop vol van die ontstellende nuus dat Elsabé se ginekoloog preëklampsie as moontlike komplikasie genoem het. Impulsief kies sy Elsabé se nommer en bel haar weer.

“Sus, jy moet asseblief nie met jou gesondheid dobbel nie,” waarsku sy ná Elsabé se verbaasde groet. “Ek wou niks voor Dawie sê nie, maar met drie kleingoed wat op jou staatmaak, moet jy nie kanse waag nie.”

“As Ma my kapittel, kan ek dit verstaan, maar jy en Ruan is regte ouvrouens,” mor Elsabé.

Soos sy hom ken, het haar swaer waarskynlik reeds ’n aksieplan in plek. “Wat stel Ruan voor?”

“Hy wil hê ek moet die laaste twee weke voor die bevalling by ’n vriendin in die stad gaan bly sodat ek vinniger by die hospitaal kan kom, maar ek …”

“Ek verkwalik Ruan nie,” val sy haar in die rede. “Daai stuk grondpad sal die twee meisiekinders uitskud.”

“Ruan het al hoeveel trae skaaplammertjies die wêreld in gehelp, hy sal mos weet wat om te doen as die twee ertjies vroeg wil uit.”

“Moenie vir jou simpel hou nie, Elsabé,” verwyt sy ergerlik. “Dis onregverdig teenoor jou man én jou dogtertjies. Hoe gaan die arme man voel …”

“Oukei, oukei, hou jou hoed vas. Ma het Pa ook op my case gesit. Hy’t klaar op my gevoel gespeel. Ma kon ’n ekstra week vakansie uit haar skoolhoof wurg omdat hul skool ’n nasiensentrum is. Hulle kom dus vroeër plaas toe om met Dawie te help tot ek en die meisies by die huis is. Om julle tevrede te hou gaan ek maar môre al my hospitaaltassie pak. Sodra alles skoon en gestryk is, sal ek ook ’n ekstra tas pak vir daardie twee weke by Rozanne. Ruan kan my ná kerk op die Sondag twee weke voor my datum deurvat stad toe.”

“Was dit nou so moeilik om toe te gee?” vra Laynie.

“Ja, dit was.” Elsabé se stem klink skielik dun asof sy na aan trane is. “Julle het my banggepraat en noudat ek ingestem het, is dit asof my vertroue dat alles oukei gaan wees, padgegee het. Asof die kans op probleme skielik werklik en baie groter is as wat die gynae te kenne gegee het.”

“Natuurlik gaan alles oukei wees, jy erken bloot dat ’n uur lange rit op ’n plaaspad te veel risiko’s inhou; jy weet dit beter as ek. ’n Pap wiel, ’n losloperdier, modder as dit reën …” Die ander gevare van ’n nagrit op daardie verlate pad wil sy nie eens noem nie.

Ná die gesprek kruip sy dieper onder die beddegoed in en trek haar skouers toe teen die koel lenteluggie van die Suid-Kaap. Hoewel die ergste kommer bedaar het, bly die dag se indrukke en belewenisse deur haar gedagtes maal. Hoe sy kon gedink het sy sal aan haar eerste spanningsverhaal kan werk terwyl Dawie hier by haar bly, weet sy nie. Dit voel banaal om ’n storie oor moord en doodslag, bevolk deur mense met sluwe voornemens en onedele motiewe, neer te pen terwyl ’n onskuldige kind haar huis en haar lewe deel.

Die verwondering waarmee hý die wêreld ontdek, laat geen ruimte vir sulke gewetenlose vergrype nie. Nie eens sy ontmoeting met die buurman het hom agterdogtig en vreesbevange gelaat nie. Hy het ná bad- en storietyd sonder protes in die bed geklim, heeltemal tevrede dat Raka op die matjie voor sy bed sal slaap.

Noudat sy tyd het om te dink, vermoed sy die ontstoke buurman kan oom Fanus se seun wees wat in Kaapstad werk. Sy onthou vaagweg tant Truia se verwysing na hul jongste seun wat iets in natuurbewaring doen. Dalk pas hy die huis op tot oom Fanus terugkom. Hopelik bly hy nie permanent daar nie, want só ’n buurman sal haar bloeddruk opjaag en die skryflus laat verdamp.

Aan die ander kant kan hy wonderlike inspirasie bied vir moord en gewelddadigheid. Maar eers wanneer Dawie die slagveld verlaat het en veilig terug is onder sy ma se vlerk.