Skip to main content

Uittreksel | Die stadsmeisie en die plaasjapie

Een

Die groen jeep kom in volle vaart met die grondpad aangejaag. Die gladde bande gly op die los gruis en die voertuig kom skuif-skuif voor die lughawegebou tot stilstand, sy neus sentimeters van die agterligte van ’n televisiewa af.

Hugo spring haastig uit die jeep.

“Bly, Brutus,” beveel hy die bulhond op die passasiersitplek. Die hond, wat net wou af­spring om sy baas te volg, gaan teleurgesteld weer sit. Hy kyk Hugo met verwytende oë aan.

Hugo leun oor die sitplek en krap die hond onder sy ken.

“Vandag is hier te veel mense. Ek weet nie wat gaan aan nie,” troos hy vir Brutus. “Wag vir my, ek is laat. Ek gaan net gou iemand haal, ek is nou weer terug,” sê hy oor sy  skouer en drafstap die lughawegebou binne.

Binne kyk Hugo met misnoeë om hom rond. ’n Klein skare mense koek opgewonde voor die twee groot vensters van die aankomssaal saam. ’n Televisiespan en twee fotograwe van die Mail stamp elmboë vir die beste plekke om die lang pote van hulle groot kameras op te stel.

’n Klein vliegtuigie het so pas geland. Die vlieënier en twee portiers is besig om die bagasie uit die vliegtuig te laai: Pienk tasse met blomme op. Groot plat tasse en klein vet tasse. Lang tasse en ronde tasse. Almal met dieselfde pienk blomme op.

“Wat gaan aan?” vra Hugo sommer so in die bondel mense in.

“’n Beroemde skryfster het nou net gear­riveer. Almal is hier vir onderhoude en om haar handtekening te vra,” antwoord ’n meisie hom oor haar skouer.

Hugo se hart sak in sy skoene. Sy stowwerige velskoene. Hy dink aan sy vuil jeep wat daar buite staan, Brutus met sy spoegbek op die passasiersitplek.

Hoe gaan hy al daardie goed in die jeep kry? Hoe gaan hy alles skoonhou op die stof­pad?

Miskien is dit nie sy nie, dink hy hoopvol. Dis seker nog nie haar vlug nie. Dalk land haar vliegtuig eers oor ’n paar minute. Dalk reis die twee meisies saam. Dalk kom daar twee bekende skryfsters met dieselfde vlug – ’n beroemde een met baie tasse, en Marina.

Toe Johan hom ’n maand gelede gebel het, was hy bly om van sy eertydse kamermaat te hoor.

“Ja, sekerlik,” het hy gesê. Johan se sussie is baie welkom om ’n rukkie by hom te kom bly. Dit sal vir hom ’n plesier wees om haar vir ’n maand of twee te huisves.

Hy onthou Marina nog goed. So ’n vaalkop­meisiekind. Haar neus was altyd in ’n boek. Sy het nooit boe of ba gesê nie, altyd so deur die wind. Wou net stories skryf.

Wat sy toe blykbaar ook gedoen het: oor lang donker mans met gewere en sigare wat met onwettige transaksies besig is. Vinnige karre en mooi meisies en georganiseerde misdaad en sulke dinge.

Johan het gesê die mense pla haar so, die telefoon hou nooit op met lui nie. Sy kry nie tyd om te werk nie. Nou soek sy stilte en rus om haar derde roman klaar te maak. Dis dié dat Johan aan Hugo gedink het. Hy bly mos stokalleen in die wildernis van Zimbabwe met geen selfoonsein nie, net ’n ou plaaslyn wat so nou en dan werk en geen siel binne kilometers van sy veldwagtershuisie af nie. Daar sal sy rustig kan werk.

Hugo het nogal uitgesien na Marina se koms. Ná twee jaar alleen in die bos, sou geselskap nogal lekker wees. Hy kon al sien hoe hy saans tuiskom na ’n dag in die veld en sy sit op die stoep vir hom en wag. Dan drink hulle ’n glasie wyn en kyk saam na die sonsondergang. Daarna sal hulle saam sit en werk – hy aan sy voëlfoto’s, sy aan haar ro­man. Hulle sal saam gaan stap en sy sal stil langs hom sit en skryf waar hy bo in die uit­kyktoring met sy verkyker die veld bestudeer.

Lekker rustig, hy en die vaalhaarmeisie­kind.

Hugo is bly hy het tog maar vanoggend sy kamera saamgebring. Hy neem nie eint­lik mense af nie, maar dit sal dalk interessant wees om ’n foto van die skryfster te neem. Dis nie aldag dat beroemde mense na hier­die eindpunt in Zimbabwe kom nie. Dalk sal Marina ook graag ’n foto van haar wil hê. Hy haal die kamera uit sy sak en kry die lens reg. Hy rek sy nek en loer oor die koppe van die mense.

Die bagasie is afgelaai en die twee portiers lê skuins soos hulle met die trollie vol tasse terugbeur na die lughawegebou toe. Die vlieënier draai terug na die vliegtuig. Hy strek sy hand uit om die meisie, wat nou op die vlerk staan, af te help.

Dankie tog, dink Hugo verlig. Dis nie sy nie. Dis net goue hare en goue armbande waar jy kyk. Hierdie meisie moet ’n filmster of ’n model wees. Dit is nie Johan se sussie nie.

Die meisie staan ’n paar oomblikke op die vlerk van die vliegtuig en bekyk die wêreld om haar – die klein lughawegebou, die ge­sigte wat teen die vensters druk, die twee televisiewaens. Sy maak haar rug ’n bietjie meer reguit en haak haar handsak oor haar skouer.

Haar lang goue hare hang soos ’n wolk om haar kop. Die windjie lig dit saggies van haar skouers af. Op haar kop dra sy ’n safarihoed en haar gesig is versteek agter ’n yslike son­bril. Sy het ’n noupassende kakielangbroek en die eienaardigste toerygsteweltjies wat Hugo nog ooit gesien het, aan.

’n Poppie met ’n humeurtjie! Sy wil nie van die vliegtuigvlerk afklim, of die vlieënier se uitgestrekte hand vat nie. Sy bekyk die af­stand grond toe, skud haar kop en haar arm­bande. Dan beduie sy eers grond toe, dan weer lughawegebou toe. Haar bril en juwele blink in die son. Die verontwaardiging straal uit haar uit.

Daar gaan ’n opgewonde roering deur die mense wat in die aankomssaal wag. Die fotograwe se kameras kliek aanhoudend. Dis nou waarvan hulle hou: ’n regte diva in hulle midde!

Die vlieënier laat sy hand moedeloos sak. Hy wink na die lughawegebou en die twee portiers kom aangedraf met ’n draagbare trappie. Toe die trappie mooi in posisie langs die vliegtuigvlerk staan, laat sy darem die vlieënier toe om haar hand te vat en haar af te help. Sy stap met ’n swaaistappie by hom verby, neus in die lug. Die arme man krap sy kop en wil nog iets sê, maar dan bedink hy hom en stap gedwee agter haar aan.

Toe sy by die deur kom, spring twee mans nader en hou die deur vir haar oop. Sy ver­poos vir ’n oomblik in die deur.

Waarom staan beroemde mense altyd so snaaks, na die kant gedraai met die een skouer na voor, wonder Hugo. Die kameras klik aanhoudend. Hugo s’n ook. Die mense oe en aa.

Sy haal haar sonbril stadig af en kyk na die groepie mense wat voor haar staan.

Skielik glimlag sy vir die fotograwe en dis asof daar ’n lig in haar aangaan. Die mense drom om haar saam om haar handtekening te vra, ’n woordjie in te kry. Sy praat ewe vriendelik met almal – vra name en skryf kort boodskappies neer. Sy lag kort-kort vir iets wat iemand sê. Haar goue pen flits aanme­kaar en vinnig oor die papier.

Skielik kyk sy op, reg in Hugo se oë. Haar hande verstil en sy hou op met skryf.

“My liewe, liewe vriend,” sug sy en steek haar arms dramaties na hom toe uit. Sy los die boekie en pen waarmee sy besig was net so in die lug en stap reguit op Hugo af. Haar oë is vasgenael op sy gesig, asof sy glad nie meer bewus is van die samedromming om haar nie.

Die mense raak stil en draai om om te sien na wie sy stap. Outomaties maak hulle ’n pad vir haar oop. Hugo voel skielik presies weer soos die dag toe hy met sy kop teen die rug­bypaal vasgeduik het.

Marina gooi haar arms om sy nek en hou haar gesig naby syne. Soen-soen in die lug, eers amper op die linkerwang en dan rake­lings teen sy regterwang. Asof vanself gaan Hugo se arms om haar middel. Hy ruik die geur van haar parfuum. Sy voel sag en warm hier teen hom. Deur die goue drade van haar hare vang hy die oog van die vlieënier. Die man kyk hom met ’n effense glimlag aan wat sê: “Sterkte, ou maat.”

Hugo ruk hom reg en kry ’n ondeunde glimlag in sy oë. Hy trek haar styf teen hom aan en soen haar deeglik op haar effens oop mond.

Hy voel hoe haar rug stokstyf ruk soos sy haar vererg.

“Kom,” sê hy, “ons het ’n lang pad om te ry.”

Met sy arm om haar skouers, marsjeer hy met haar by die geboutjie uit. Sy moet uithaal om by hom te bly op haar hoë steweltjies. Ter wille van haar bewonderaars moet sy maar bly glimlag en vir oulaas, klingelend met haar armbande, vir almal waai.

Die lieftalligheid verdwyn soos mis voor die son toe sy die jeep met Brutus daarin sien.

“Ek gaan nie langs daardie brak sit nie,” sê sy.

Brutus se stertjie ruk tot stilstand en hy vee die glimlag so vinnig van sy gesig af dat die spoeg spat. Brak? Is hy ’n brak? Hy kry ’n onmiddellike weersin in dié poppie. Sy oë rol en hy kyk stip na die ander kant van die par­keerterrein.

Hugo bondel die tasse agter in die jeep in, maar Marina organiseer die pakkery. Niks mag aan die vuil petrolkan en spaarwiel raak nie. Die klein tassie mag nie bo staan nie, haar juwele is daarin.

Hugo moet kophou om vir Brutus ’n klein plekkie in die middel van die agterste sitplek oop te hou.

“Kom, Brutus,” sê hy en klap op die sitplek. “Kom sit hier.”

Brutus staar die vertes in. Hy rol sy oë wit. Hy weier volstrek om sy sitplek op die passasiersitplek af te gee.

“Kom, Brutus, my ou maat, vandag moet jy my help,” smeek Hugo en krap Brutus ag­ter sy oor. “Hierdie meisiekind is kwaai. Ons gaan moeilikheid kry. Kom sit tog nou agter en pas haar tasse op,” praat hy mooi.

Brutus draai net sy kop weg. Hy wil niks weet nie. Van hierdie meisiekind hou hy net niks.

“’Seblief, ek koop vir jou ’n vleispasteitjie,” smeek Hugo.

Vir ’n vleispasteitjie sal Brutus baie doen en teensinnig gaan sit hy tussen die pienk tasse.

Marina stof die sitplek waar Brutus gesit het, deeglik af met haar syserp. Hugo voel hoe die lag in sy keel opkom.

“Ek gaan net gou vir Brutus ’n vleispastei koop,” verskoon hy homself en verdwyn haastig om die hoek. Toe hy terugkom, sit die twee nog net so – elkeen met ’n stokstywe rug. Hugo voer die vleispastei vir Brutus.

Brutus het ’n baie sagte hart, en met die vleispastei agter die blad, sien hy die wêreld uit ’n ander oog. Hy besluit die meisiekind is tog nie so onaardig nie. Hy leun vorentoe en gee haar ’n yslike hondesoen op die wang.

Marina gil en duik op haar grimeertassie af vir die syserp.

Brutus, jou ou fariseër, dink Hugo en ’n lag draai weer in sy keel voor hy die jeep vin­nig in die grootpad inswaai.