Skip to main content

Uittreksel | Die reünie

Een

Andrea kry nie asem nie. Hoekom is die vliegtuig se sitplekkie so klein? Daar het sy nou agterent en al op die sitplekgordel gaan sit, die sitplek voor haar is byna teen haar knieë en sy skuif omtrent haar lae rug na ’n ander dimensie soos wat sy haarself moet oplig om by die gordel uit te kom.

Sy is reg teen die venster. Sy weet nie of dit ’n goeie of ’n slegte idee is nie. Riana het vir haar gesê dit sal help met haar vrees vir vlieg as sy die ruimtes en die pragtige wolke deur die venster kan sien. Pragtige wolke se . . .!

Sy wonder nou of dit haar nie net angstiger gaan maak nie.

Sy haal haar boek uit haar handsak en sit die sak tussen haar voete neer. Stamp haar kop teen die voorste sitplek. Wanneer sy haar boek in die sitpleksakkie voor haar bêre, vang haar oog die helderkleurige gelamineerde brosjure wat daar geplaas is. Veiligheidsinstruksies. Dalk moet sy dit lees. Nee, sy móét dit lees. Verlede jaar was daar dertig passasiersvliegtuigongelukke wêreldwyd. Nie noodwendig val-en-dood-situasies nie, maar nogtans. Dit beteken omtrent een ongeluk per elke 880293ste vlug, maar dis nog steeds een ongeluk te veel.

Sy begin om die stukkie inligting oor die veiligheidsgordel te lees. Dit help om jou veilig te hou tydens kritieke fases van die vlug en gedurende tur­bulensie. Haar oë vlieg terug na die “kritieke fases”. Watse kritieke fases?! Is dit wanneer die vliegtuig besig is om met skreeuende enjins in die see te stort of wanneer ’n brand in een van die enjins uitbreek?

Al is dit vroegoggend, voel haar nek nat en warm. Sweet. Sy vee haar hande aan haar jeans af. Bly kalm. Haal diep asem. Sy druk die brosjure terug in sy sitpleksakkie. Wyk, Satan! Dit maak haar net nog méér senuagtig. Nee wat, kom nou. Die vlug is net twee uur en vyftien minute. Dis al. Wat kan in so ’n kort tydjie verkeerd gaan? Baie! Alles! Sy kyk op waar die vliegtuig se ingang is. Laat sy eerder die passasiers dophou. Enigiets om weg te skram van haar paranoïese gedagtes.

Goeie, hygende hert.

Die man wat by die vliegtuigdeur instap, is só lank, hy moet effens buig om in te kom. Hy is atle­ties gebou met breë skouers, en het silwergrys hare. Soos wat hy regop kom, kan sy egter sien dat hy nog jonk is, seker so middertigs. Waarskynlik vroeg grys. Sy wonder of dit tegnies korrek sal wees om hom ’n Silver Fox te noem. Hy’s nou wel nie ’n ouer man wat nog steeds sexy is nie, maar hy is wel ouer as sy. En ja, báie sexy. Toe hy glimlag, verskyn daar boonop ’n kuiltjie in sy wang. Genade. Met daardie glimlag is hy beslis ’n wenner in haar boek – of hy nou ’n egte silver fox is of nie.

Haar angsvlak begin weer styg namate hy deur die besigheidsklas loop en in die ry voor haar tot stil­stand kom, na sy kaartjie kyk, en dan na die nom­mers bokant haar sitplek.

Nee. Net nie dit nie. Andrea hou haar asem op. Asseblief, asseblief, laat die man tog net aanbeweeg. Sy wil nie sit en bewe en naar word en skietgebedjies opsê terwyl Silver Fox in lewende lywe langs haar sit en alles eerstehands betrag nie.

Beweeg aan! Stap verby!

Die vliegtuiggode luister egter glad nie na haar smeekbede nie, want Silver Fox plaas sy handbagasie in die rak bokant haar sitplek. Soos wat sy hemp op­trek, kry sy ’n kykie van sy maag. Plat. Bruingebrand. Ai. Jinne. Tog.

Dan buk hy vooroor. Sy oë is bruin en amandel­vormig. Hy het die langste wimpers wat sy nog aan ’n man gesien het. Hy glimlag in haar rigting. Sy wang vorm ’n kuiltjie. Hy’s die ene vriendelikheid. Die ene wonderlikheid. Die ene model.

“My naam is Konrad,” breek sy stem deur haar kwylende gedagtes.

“Uhm, ek’s Andrea.”

“Aha! Ek het gedink jy is Afrikaans.”

Hoekom sou hy so dink? Lyk sy Afrikaans? Hoe lyk Afrikaans? Sy kyk af na haar uitrusting. Silwer san­dale, blou jeans, ’n ligte helderkleurige kaftan, met ’n blou denimbaadjie bo-oor. Niks skreeu vir haar “Afrikaans” nie. Is dit dalk die feit dat sy haar lang bruin hare vanoggend gevleg het? Toe het sy gedink dit lyk baie Boho-sjiek, maar blykbaar laat dit haar uitstaan as Voortrekkermeisie de luxe.

Hy beduie egter na iets. Sy kyk terug. Ag, hemel tog. Die Afrikaanse boek in die sitpleksak. Swyg, geskryf deur die skrywer Erla Diedericks. Hoe sim­pel kan een mens tog wees.

Hy gaan sit, maar maak nie sy sitplekgordel vas nie. Hy begin dadelik iets op sy foon tik. Sy kan nie help om kort-kort skelm kykies na sy sitplekgordel te steel nie. Wanneer maak die man dit vas? Sy bly loer na sy onderlyf. Daar waar die sitplekgordel rustig oor sy gespierde bobene lê. Meteens vang hy haar blik. ’n Warm gevoel vat vlam in haar nek en kruip teen haar wange op. Dit ook nog. Nou dink die man seker sy staar na sy lendene.

“Gaan jy nie jou sitplekgordel vasmaak nie?” blaker sy dit uit.

“Dis nie nou al nodig nie.”

Haar vingers is inmekaar geklou. Sy buk vooroor en haal haar leesboek uit die sakkie. Laat sy eerder haar hande én haar kop besig hou.

Hy kyk egter nog steeds na haar.

“Is jy bang vir vlieg?”

“So effens.”

“Effens, of nogal baie?”

“Het jy geweet dat daar verlede jaar dertig vlieg­tuigongelukke was?”

“Seker tog net voorvalle. Daar het beslis nie der­tig vliegtuie geval nie.”

Die woord “val” kom land reg op haar longe. Druk al die lug daaruit. Sy kry byna nie asem nie. “Wel, daar het geen straalvliegtuig met passasiers geval nie, maar wel ’n turbo-prop-vliegtuig.”

Sy weet presies hoeveel mense dood is, maar sy kan nie die getal oor haar lippe kry nie. Sy is seker dit sal slegte geluk bring.

Steeds bekyk hy haar. Rustig, maar ondersoekend.

“Ek is vrek bang vir vlieg. Ek probeer dit so ver as moontlik vermy.”

“Tog, hier is jy vandag. Op ’n vlug van Johannes­burg al die pad na Kaapstad. Dit moet ’n belangrike okkasie wees.”

“’n Skoolreünie.” Sy kan haar tong afbyt toe die woorde uit haar mond is. Nou gaan hy vra hoe lank terug sy op skool was, en dan gaan hy weet hoe oud sy is. Nie dat dit juis saak maak nie. Dis nie asof sy oud is nie. Of is 29 oud? H’m, dalk te oud om nog ongetroud te wees. Sy’s seker dis wat haar oudskool­maats dink. Hulle het al huise, kinders. En hier sit sy. Sonder huis, sonder man.

Hy vra egter nie verder uit nie. Glimlag net. “Ek moet bieg. Ek is banger vir reünies as vir vlieg. Al daai druk. Al daardie verwagtinge.”

Verbaas kyk Andrea na hom. ’n Man wat praat oor sy emosies. Wat erken dat hy ook soms bang raak. Dis interessant.

Voor haar gaan die kajuitdeure toe. Êrens hoor sy enjins. ’n Effense beweging onder haar voete. Liggies gaan bokant haar aan. Die sitplekgordelliggies ver­skyn.

“Jy moet dit nou vasmaak,” sê sy. “Die inligting­stuk sê laag en styf oor die heupe en nie oor jou maag nie.” Sy kyk af na haar gordel. Dit sit mooi netjies oor haar maag. Angssweet. Sy probeer die gordel aftrek. Dêmmit.

Dan is sy hand oor hare. Kalm. Bedaard.

“Genade, jy’s omtrént vreesbevange.”

Sy is sommer lus en huil. Vir wat is sy op die vlieg­tuig? Vir wat is sy op pad na ’n stupid reünie? Vir wat?!

Agter ’n man aan. Dis wat. Agter Stiaan Smith aan, om presies te wees. Haar asemhaling versnel. Stadig. Sy moet stadiger asemhaal, anders gaan sy begin snak na asem.

Langs haar kom hy meteens orent en stap na waar een van die lugwaardinne by die skeiding tussen besigheids-en ekonomiese klas staan. Nee! Die man beduie nou na haar . . . Die lugwaardin glimlag en knik. Dan stap sy saam met hom na hul sitplek.

“Miss, please get your belongings and follow me . . .”

Gaan hulle haar nou van die vliegtuig afgooi net omdat sy vreesbevange is? Wat de hel het die sim­pele man vir die lugwaardin gesê? Sy’s só ontsteld, sy kry nie die sitplekgordel los nie.

Hy buk vooroor en maak haar sitplekgordel los.

Net so. Sonder om eens te vra. Sy vingerpunte raak aan haar bobene, sy gesig is vlak by hare. Dit is vlugtig, maar dis daar. ’n Oomblik. Voordat sy egter verder daaroor kan tob, is sy uit die sitplek in die paadjie en word sy in die rigting van die vliegtuig­deur gelei.

Daar is dit nou. Hulle gaan haar van die vliegtuig afgooi. Die lugwaardin gaan staan egter stil by die voorste twee sitplekke in besigheidsklas. “Please make yourself comfortable. You will find that there is more space here and you might be calmer and en­joy the flight more. Your friend explained your fear to me. Relax, and enjoy the rest of the flight.”

“Daarsy!” sê hy en gaan sit langs haar. “Dalk sal besigheidsklas jou beter laat voel. Hier is darem baie meer beenruimte . . . én sjampanje!”

O, wee. Hier het sy allerlei lelike gedagtes gehad oor die man en toe is hy al die tyd ’n barmhartige samaritaan. “Ek weet nie hoe om jou te bedank nie. Dit is regtig gaaf van . . .”

Die lugwaardin hou ’n silwer skinkbordjie na haar toe uit waarop stomende wit rolletjies is. Eers dink sy dis reusagtige – en baie bleek – worsrolletjies, maar dan sien sy dis opgerolde handdoekies. Die doekie is klam maar warm in haar hande en ruik soos laven­tel. Verbaas kyk sy daarna. Waarvoor is dit? Dan sien sy hoe Konrad sy hande liggies afvee. Bogger dit. Sy vee sommer haar hele gesig af. Ook haar nek wat juis vol angssweet is. Dan sak sy agteroor teen die sitplek en strek haar bene voor haar uit.

Sou die vliegtuig val, sal sy darem in styl val. Met ’n sexy samaritaan, sjampanje en warm jammerlap­pie en al.