Uittreksel | Die perfekte meisie
Een
“Is dit regtig nodig dat ek my dag só moet begin?” mor Franzelle Nieuwoudt omgekrap.
Die slot haak steeds vas, al pluk sy hoe hard. Toe ontsluit dit skielik en die ketting wat om die deur se handvatsel gedraai is, gee mee. Sy gryp outomaties daarna, maar toe haar nael in een van die ketting se skakels verstrengel raak en sy voel hoe dit breek, laat sy die swaar ketting val. Wat ook nie ’n goeie idee is nie, want dit tref haar op die voet. Sy weet nie waaroor sy eerste moet huil nie – haar nael wat voel of dit in die lewe afgebreek het, of haar seer voetbrug wat die ketting se val geabsorbeer het. Sy skud haar hand, maar die pyn word net erger en sy druk haar vinger in haar mond. Iemand het eenkeer gesê dit help vir pyn, maar sy glo dit nie. Sy proe bloed en pluk haar vinger vinnig uit haar mond. Hinkepinkende stoot sy die winkel se deur oop, sluit dit agter haar en skakel die ligte aan. Die massiewe winkel se ligte kom in fases aan, die een ná die ander, en al wat sy sien, is grys staalrakke wat van bo tot onder met bakprodukte gevul is.
Sy skud haar kop. Dis beslis nie die mooiste gesig op ’n nugter maag nie en baie beslis nie haar droomwerk nie. Sy sug hardop en sit haar handsak op die toonbank neer. Toe onthou sy van die ketting en slot wat nog buite voor die winkel se deur lê. Dit kan wag. Hopelik steel iemand die ketting en sommer die winkel ook. Dan is al haar frustrasies weg as sy môre hier opdaag.
Sy buk en vryf haar voet se brug. Dis pynlik en sy sal nie verbaas wees indien sy met ’n blou kol gaan sit nie. Effens kruppel sluit sy weer die deur oop en buk om die ketting en slot op te tel. Wie se intelligente idee dit was om die plek met ’n ketting en ’n slot te sluit, weet sy nie, want daar is ’n hipermoderne alarmstelsel in die winkel, kameras oral waar jy kyk en selfs sekuriteitsdienste wat die sentrum saans oppas. Die plek word beter as Fort Knox opgepas, maar nee, daar moet ’n ketting buiteom die deur se handvatsel gedraai word, asof dít skurke gaan afskrik.
“Verskoon my, Juffrou.”
Alles in haar krimp ineen toe haar seer vinger aan die ketting raak, en ’n kreun ontsnap oor haar lippe. Sy lig haar kop en kyk teen ’n paar manskoene vas. As sy lank genoeg so gehurk sit, sal sy dalk haar eie refleksie kan sien, so blink is die paar skoene gepoleer. Sy strek regop en kyk in twee ligte bruin oë vas. As haar vinger net nie so verdomp seer was nie, sou sy seker die man voor haar se aantreklike bakkies kon waardeer het, maar sy kan nie. Nie op daardie oomblik nie.
“Ja?” vra sy kortaf.
Sy oë vernou toe haar stemtoon hom tref. “Kan jy vir my sê wanneer die swembadwinkel oopmaak?”
Sy draai haar kop. Die winkel langs hare is sowaar nog gesluit. Gewoonlik daag die bestuurder min of meer dieselfde tyd as sy op. Sy gaan dit egter nie aan die vreemdeling verduidelik nie. “Die besigheidsure staan op die deur,” gee sy hom ’n tweede bot antwoord.
“O, dankie.”
Sy frons toe hy omdraai en wegstap. Waar kom die man vandaan? Dis tog die eerste ding wat ’n mens soek wanneer jy voor dooiemansdeur te staan kom – kyk of die handelsure iewers opgeplak is. Sy is traag om weer die winkel binne te gaan en kyk hoe hy die bordjie, wat die besigheidsure aandui, bekyk. Hy draai skielik om en sy kan nie vinnig by die deur inglip nie.
“Dit sê die plek maak agtuur oop.”
“Dan is dit seker so.”
Hy kyk op sy horlosie. “Dis nog ’n hele twintig minute.”
Sy trek haar skouers op. Wat wil hy hê moet sy vir hom sê? Sy kan tog niks aan sy situasie doen nie.
“Maar julle is al oop.” Hy klink so geïrriteerd dat sy skielik net weet: Die man voor haar is gewoond om sy sin te kry. Hy hou nie van wag nie en hy is van nature ’n ongeduldige mens.
“Nee, ons is nie oop nie. In dié sentrum maak almal se deure stiptelik om agtuur oop. Dis wat die sentrumreëls bepaal. Die bestuurders kom vroeër in om die ligte en kasregisters aan te skakel, sodat wanneer die kassiere en ander werkers inkom, alles gereed vir sake is.”
Hy kyk langs die stoep af en besef sy is reg. Almal is nog toe. “Wat gaan ek nou doen? Waar kan ek wag?”
Franzelle boog haar wenkbroue. Sy hoop nie haar aanname is reg nie. “Jammer, maar jy kan nie hier binne kom wag nie. Dis teen ons winkel se reëls. Geen klante in die winkel voor agt nie.” Sy weet goed hoe sy klink, soos een of ander robot wat die reëls amper outomaties uitstip.
“Dis nie wat ek gevra het nie. Ek wil net weet of hier ’n restaurant naby is.”
“O.”
“Ja, een wat nie eers agtuur oopmaak nie. Waar ek ’n koppie goeie koffie kan kry,” kap hy sarkasties terug.
“Daar’s ’n Wimpy aan die ander kant van die sentrum.”
“Dankie, dis seker beter as niks.”
Sy groet doelbewus nie en wil net omdraai toe hy sê: “Wat het met jou vinger gebeur? Weet jy dat dit bloei?”
Sy kyk af. Hy is reg, dit bloei. “Ek het my nael gebreek toe ek oopgesluit het. Dis hoekom ek vreeslik graag terug in die winkel wil kom. Om ’n pleister op te sit. So, as jy my nou sal verskoon.”
“Jammer, ek het nie besef jy is in pyn nie.” Hy glimlag skielik en toe voel dit kompleet of daar ’n sonstraaltjie deur ’n wolk breek. Die man se gesig is nog aantrekliker wanneer hy glimlag. Plooitjies vorm langs sy oë en verander in dieper lagkepe langs sy mond. Boonop is sy tande wit en egalig en die perfekte glimlag weerspieël tot in sy oë. “Aha, dit verklaar die kortaf houding. Ek verstaan nou beter. Jammer ek het jou opgehou.”
Sy knik en sluit weer die deur. Deur die ruit sien sy hoe hy na ’n donkerblou Mustang toe loop. H’mm, die man het duidelik ook ’n liefde vir duur, vinnige Amerikaanse motors, nes haar pa. Franz Nieuwoudt se Mustang is net rooi. Maar dis nie genoeg om haar te beïndruk nie, sy is alles gewoond, dink sy en sluit weer die deur oop. ’n Paar van die kassiere het pas uit ’n minibus geklim en dis tyd om enige muisneste opsy te stoot.
Ten spyte van haar voorneme om van die vreemdeling te vergeet, bly haar fokus darem maar baie op die parkeerarea voor die sentrum. Sy wonder of hy toe ooit teruggekeer het swembadwinkel toe? Sy het nie weer sy motor opgemerk nie. Toe van die meisies buite gaan staan en rook, nooi sy haarself saam. Sy verpes eintlik die reuk van sigaretrook, wat half en half haar skielike beheptheid met ’n spesifieke blou Mustang verklap.
Teen sluitingstyd het nie die vreemdeling of sy motor weer hulle opwagting gemaak nie en besef sy watse vermorsing van tyd en aandag dit eintlik was.