Skip to main content

Uittreksel | Die perfekte gene

Een

“Ek wil ’n baba hê.”

“Uh-hm.” Jay druk liggies met die knyptang teen die biefstuk in die pan om te toets of dit reg is. Dit lyk of hy skaars gehoor het wat sy sê.

“Ek’s ernstig.” Erin hop en land met haar sitvlak op die toonbank reg langs die stoof. “En jy gaan vir my een gee,” verklaar sy selfvoldaan terwyl sy haar voete ingedagte heen en weer sit en swaai.

Jay gooi sy kop agteroor en lag hardop. Hy kyk net vlugtig na haar voor hy die biefstuk in die pan omdraai. “Is dit so?”

“Ja, ek het lank hieroor gedink.” Sy sug diep beswaard en vat ’n varsgebakte aartappelskyfie uit die bak wat eenkant op die stoof staan. “Ek is moeg daarvan om in die bondel te vry en gatvol gesoek na die perfekte man, Jay. En ek het reeds die dertig­merk oorgesteek. My biologiese klok tik só hard, dit hou my snags uit die slaap.”

Jay lag sag en haal die biefstuk uit die pan om dit vir ’n paar sekondes te laat rus voor ete. “Dis die probleem, Muis. Jy moet ophou om na die perfekte man te soek, want hy bestaan nie.”

“Die perfekte man vir my, Jay. Ek glo hy bestaan wel, maar die hemel alleen weet waar hy is, want dit voel of ek al elke liewe losloper in die hele Gauteng gedate het en dis nie een van húlle nie. Én ek be­geer ’n baba meer as enigiets anders. Dis nie net ’n gier nie, jy weet dit tog. Ek wil nie dieselfde paadjie as my ouers stap nie; daarom kan ek nie langer wag nie,” sê sy al kouend en vat nog ’n aartappelskyfie uit die bak. “Ek het mooi oor alles gedink en jy is uit en uit die beste kandidaat om vir my ’n kind te gee. Ons ken mekaar al ons hele lewe lank en weet alles wat daar te wete is oor mekaar se families. Dis ’n baie beter opsie as om na ’n spermbank toe te gaan. Verstaan jy wat ek bedoel?”

Jay staan en kyk na haar met sy kop effens skeef gedraai, sy hande in sy sye. “Dis nie so eenvoudig nie, Erin.”

Erin rol haar oë en druk die aartappelskyfie in haar mond. “Ek het nie van Lonelle vergeet nie, en sal nie die onmoontlike van jou verwag nie. Jy skenk net jou sperm vir my; die bevrugting van my eiertjies word in die laboratorium gedoen. En ek belowe op my woord van eer ek sal niks verder van jou verwag nie en jou nie verantwoordelik hou vir die kind se be­hoeftes nie. Ek soek net jou gene, Jay-Jay, niks meer nie.”

“Dis nie waarvan ek praat nie.” Hy skep ’n paar aartappelskyfies by die biefstuk in die bord en skink vir hulle rooiwyn in twee glase. “Is jy seker ek moe­nie vir jou kos inskep nie?”

Erin skud haar kop. “Ek’t mos gesê ek het klaar geëet.”

Met die bord en glas wyn gaan sit hy by die toon­bank wat die kombuis en leefvertrek skei.

Erin spring van die kas af, vat haar glas wyn en gaan sit langs hom op een van die hoë stoeltjies. Sy vat ’n aartappelskyfie uit sy bord en hap daaraan. “Nou toe, laat ek hoor. Waarvan praat jy dan as dit nie oor die . . . uhm, bevrugtingsritueel is nie?”

Hy sny ’n stukkie van die biefstuk af en hou dit na haar toe uit. Versigtig vat Erin dit met haar vingers van die vurk af en blaas daaraan voor sy dit in haar mond druk. Sy het vroeër ’n hoenderslaai gehad, maar soos gewoonlik raak sy lus vir Jay se kos wan­neer hy eet. Vir ’n hele bord kos sien sy egter nie kans nie, want sy het eintlik mos reeds geëet. Nes sy gesê het.

“Dis ’n lawwe idee, Muis. Jy is nog jonk en het meer as genoeg tyd om ’n kind te kry. Geniet die lewe, dalk daag die liefde van jou lewe binnekort op. En dan gaan jy spyt wees jy het so ’n onbesonne ding aangevang.”

Erin skud haar kop en vat nog ’n stukkie biefstuk met haar vingers uit sy bord uit. “Dis nie ’n lawwe idee nie; ek dink al lank hieroor en het klaar besluit om dit te doen. En ek wil baie graag jóú sperm gebruik, maar as jy dit nie vir my wil gee nie, sal ek ’n ander plan maak. My enigste ander opsie is natuurlik die spermbank, want nie een van die ander mans wat ek ken, kwalifiseer vir só ’n belangrike funksie nie.”

Jay staan op en gaan haal ’n vurk uit die laai wat hy vir haar aangee toe hy weer kom sit. Hy stoot sy bord nader na Erin wat dadelik weer ’n stukkie bief­stuk oppik en in haar mond druk.

“Jy weet ek sal enigiets vir jou doen, Muis, maar daar is sekere goed . . .” Hy sug en skud sy kop. “Dis nie iets wat ’n mens soos lekkergoed kan uitdeel nie.”

“Maar ek sê dan ek sal jou nie verantwoordelik hou vir enigiets nie. Jy sal geen verantwoordelikheid teenoor my óf die baba hê nie, Jay. Jy’s die mees perfekte man wat ek ken en –”

“Whoa!” Hy hou sy hand op om haar stil te maak. “Ek is baie ver van perfek af, Erin. En jy weet dit.”

“Ek bedoel jou gene, Jay-Jay. Jou familiegeskiede­nis lees soos ’n sprokie; geen teken van enige siektes of afwykings nie. En jy is . . .” Sy maak ’n beweging met haar hand wat van sy kop tot by sy tone dui. “Jy is aantreklik, atleties gebou en die gaafste mens op die planeet. Dit sal só ’n groot voorreg wees om ’n kind met daai bakkies en lyf van jou te hê,” lag sy en stamp speels met haar skouer teen hom. “Om nie eens van jou persoonlikheid te praat nie.”

“Ek werk hard om hierdie lyf te kan hê.”

“Ek weet. Maar jy’s ook geseën met goeie gene en al oefen jy niks, sal jy steeds so ’n lyf hê. Iemand wat soos jy lyk, sal selfsugtig wees om dit nie na ’n volgende generasie aan te pass nie.”

Jay lag en skud sy kop. “Ek weet wat jy probeer doen, Muis, en dit gaan jou niks help nie. So, los maar die heuningkwas. My antwoord is nee.”

Erin los die vurk met ’n gekletter in sy bord. “Moe­nie dadelik nee sê nie; dink eers daaroor. Ek belowe dit sal geen invloed op ons vriendskap hê nie, as dit is waaroor jy bekommerd is.”

“Dis nie dit nie, Erin. Ek kan net nie, oukei? Miskien moet jy eerder weer hieroor gaan dink; dis nie ’n ligtelike besluit om te neem nie. Kinders is nie speelgoed wat ’n mens eenkant toe kan skuif as jy vir hulle moeg is nie.”

“Ek besef dit terdeë, maar dankie vir die preek, Jay,” antwoord sy sarkasties. “Dis oor Lonelle, is dit nie? Jy worrie oor wat sy daarvan sal sê, nie waar nie?”

“Ek maak my eie besluite; dit het niks met Lonelle te doen nie.”

Erin skreef haar oë en wag tot hy na haar kyk voor sy verder praat. “Is jy rêrig ernstig oor haar? Is dit hierdie keer anders as voorheen?”

Jay sit sy eetgerei in die bord neer en staan op om dit na die opwasbak toe te neem. Erin spring op en stap agter hom aan. Hy vat die bottel rooiwyn en vul hulle glase tot bo.

“Kom ons praat liewer nie daaroor nie,” sê hy sag toe hy haar glas oor die toonbank nader aan haar skuif. “Ek weet mos hoe jy oor haar voel.”

“Ja, oor sy nie haar bleddie mind kan opmaak nie! Hoeveel keer het julle al uitgemaak oor haar non­sens?”

“Dit was nie elke keer haar skuld nie, en jy weet dit.”

“Jy hoef nie vir haar by my te skerm nie, Jay. Ek ken Lonelle Geldermann beter as wat ek sou verkies het om haar te ken. En ek weet haar obsessiewe ja­loesie druk jou soos ’n skoen wat te klein is! Ek kan nie verstaan hoekom jy . . .” Sy kners op haar tande en sug. “Daar is honderde meisies wat oor hulle voete sal val om met jou uit te gaan, Jay. Wat maak Lonelle so spesiaal?”

“Los dit nou, Muis.”

Die irritasie in sy stem blaas haar ontevredenheid net verder aan. “Ugh! Soms wens ek . . .” Gefrustreerd bly sy stil en gryp die glas van die kombuiskas af om ’n sluk wyn te neem. Sy sit haar glas neer, vat die afdroogdoek en begin die skottelgoed afdroog wat hy in warm seepwater staan en was.

“Ek kan raai wat jy wens,” glimlag hy en kyk vlugtig na haar voor hy weer sy aandag by sy taak bepaal. “Maar dit gaan nie gebeur nie, Muis. Soms moet ’n mens ter wille van geluk opofferings maak.”

“Ja, maar soms het ’n mens nie nodig om daardie opofferings te maak nie. Kyk nou maar na my,” sê sy met ’n geforseerde glimlag om haar mond en gooi haar arms dramaties oop. “As ék vir enige man opofferings moes maak, sou ek nie vandag die sorglose, gelukkige mens gewees het wat ek is nie. Ek sal nie toelaat dat enigiemand my in ’n blik druk en my mond snoer nie. En glo my, daar was ’n hele paar wat dit probeer het en plat op hul gesigte geval het. ’n Mens hoef nie enigiets van jouself op te of­fer om geluk te vind nie, Jay. As jy nie aanvaar word vir wie jy is nie, en moet verander om ’n ander se goedkeuring te kry, is dit ’n ongesonde verhouding en klaar!”

“Ek stem saam met jou en dis nie die opofferings waarna ek verwys nie, Erin. Ek praat van compro­mise. Dis wat ’n mens doen om ’n verhouding te laat werk.”

Erin gooi die afdroogdoek vies neer. “Nie as jy die een is wat al die opofferings moet maak nie. As ’n verhouding nie werk nie, dan werk dit nie. Ek glo nie daaraan om ’n verhouding te moet láát werk nie,” sê sy omgekrap.

Jay droog die wasbak af en hang die vadoek netjies oor die rand voor hy na haar toe draai. “En dis presies waarom jy nog nooit in jou lewe in ’n langter­mynverhouding was nie, Erin.”

Sy trek haar asem in terwyl haar oë in syne blits. “Dis gemeen, Jay.”

Hy skud sy kop. “Nee, dis die waarheid. Nie een van jou verhoudings hou langer as twee maande nie en ons albei weet wat die rede daarvoor is, Erin. Dis nie asof daar nog nooit iemand met potensiaal oor jou pad gekom het nie, maar sodra dit lyk of jy meer moeite moet doen, kies jy die hasepad. ’n Verhouding verg harde werk; of jy dit nou wil weet, of nie.”

“Ek is eerder single as om in ’n ongesonde verhouding soos jou en Lonelle s’n vasgevang te wees,” sê sy bytend. “As jy dan so gretig is om aan ’n verhouding te werk, doen dit immers met iemand wat die moeite werd is.”

Jay se oë vernou terwyl hy net stil na haar staan en kyk. “Ek sal liewer maak of ek dit nie gehoor het nie,” antwoord hy sag voor hy wegdraai, sy glas op­tel en na die televisiekamer toe loop.

Sy gryp haar glas wyn van die toonbank af en volg hom, haar bene momenteel lam. Dis aaklig as hulle vassit, maar sy kan haar net nie verhelp nie. Die oomblik as Lonelle en sy verhouding met haar ter sprake kom, is dit asof daar ’n vuurspuwende draak in haar losgelaat word.

Erin gaan sit langs hom op die bank en vou haar bene onder haar in terwyl sy die wyn om en om in die glas kantel. Jay het die televisie aangeskakel en staar stip daarna, asof hy reeds van haar teenwoordigheid vergeet het.

“Jay,” sê sy en raak liggies aan sy voorarm. “Ek is jammer. Ek moes dit nie gesê het nie.
Dis net . . .” Haar tong flits oor haar onderlip terwyl sy ’n verskoning probeer vind waarmee sy haar uitbarsting kan verdedig. “Sy maak jou ongelukkig en ek hou nie daarvan om jou ongelukkig te sien nie. En ek hou nie van die manier waarop sy jou behandel nie.”

Hy draai sy kop na haar toe en Erin skrik vir die kyk in sy oë. “Ek is nie ongelukkig nie!”

Jy is ook nie gelukkig nie, wil sy terugkap, maar knyp haar mond styf toe voor haastige woorde weer daaruit kan spring. Gewoonlik kan sy vir hom sê net wat sy wil en dit gebeur selde dat Jay vir haar kwaad raak, maar duidelik het sy haar so pas met die Lonelle-kwessie misreken. Miskien het sy in die verlede al te veel haar mond oor die meisie uitge­spoel. Byna vyf jaar lank al kyk sy magteloos toe hoe die vroumens hom aan sy neus rondlei en is sy gefrustreerd omdat Jay dit toelaat. Sy wens sy oë wil oopgaan sodat hy Lonelle Geldermann kan sien vir wie en wat sy is. ’n Egosentriese manipuleerder.

“Ek sal nie weer . . . uhm, ek sal my bes doen om in die vervolg meer ondersteunend te wees. Belowe,” glimlag sy en hou twee vingers in die lug as teken van ’n plegtige belofte.

Toe hy weer na haar kyk, is sy oë warm terwyl sy een mondhoek effens lig in ’n amperse glimlag.

“Wanneer gaan jy leer om ’n wag voor jou mond te plaas, Muis, en nie sommer alles wat in jou kop kom uit te blaker nie?”

Erin lag en skuif nader aan hom. “Ek probeer. Dis net by jou wat ek dit nie regkry nie.”

Hy sit sy arm om haar skouers en trek haar teen hom vas. “Omdat jy weet ek kan nie lank vir jou kwaad wees nie, nè?”

Sy knik en leun met haar kop teen sy skouer. As enigste kind weet sy nie hoe dit voel om broers of susters te hê nie, maar sy dink Jay vervul daardie rol. Hy is soos ’n broer vir haar en sy vertrou hom meer as enigiemand anders in die hele wêreld. Dis hoekom sy dit haat wanneer hulle vassit. Nie dat dit gereeld gebeur nie. En dis deels waarom sy Lonelle nie kan uitstaan nie. Sy is ’n twispunt in haar en Jay se vriendskap en sy verpes die vroumens daaroor.

“Wanneer vlieg jy weer?” vra sy toe sy ’n paar minute later van hom af wegskuif. Dis beter om die onderwerp te verander en Lonelle se naam te verswyg.

“Ek het ’n klomp plaaslike vlugte hierdie week en een oorsese vlug volgende week.”

“Oorsee?! Dis lekker! Waarheen gaan jy?”

“Amsterdam toe. Wil jy saamkom?” lag hy en knyp haar neus speels.

“I wish! Net as jy oor ’n naweek Kaap toe vlieg. Ek wil ’n slag huis toe gaan.”

“My geskeduleerde vlugte is nie een Kaap toe nie, jammer, Muis.”

“Dis inderdaad jammer. Ons was lanklaas in Stel­lenbosch.” Sy staan op en vat haar leë glas kombuis toe. “Ek moet waai, sien jou môre, Jay-Jay.”

Hy stap saam met haar tot by die voordeur. “Lekker slaap, Muis,” sê hy sag en soen haar skrams teen die wang. “En dink asseblief weer mooi oor jou besluit.”

Sy lag en klap hom speels teen sy skouer. “Jy ook!” Voor hy iets kan sê, draai sy om en stap na haar huurhuis verder af in die straat. Dis haar droom om ’n kind te hê, en sy wens met haar hele hart Jay sal uiteindelik instem om haar te help. Hy is haar steunpilaar en sy kon nog altyd op hom staatmaak.

Toe sy destyds Johannesburg toe getrek het, het sy eers in ’n woonstel gebly tot Jay haar van die huis vertel het wat beskikbaar raak in die sekuriteits­kompleks waar hy woon. En die feit dat sy so naby hom bly, gee haar gemoedsrus, al reis hy gereeld en is selde by die huis. Daar is geen man in die wêreld wie se sperm sy so graag wil gebruik soos Jay s’n nie, want in haar oë het hy die perfekte gene. As hy net sal instem daartoe. Maar sy weet sommer sy onwilligheid lê vierkant voor Lonelle Geldermann se deur. Waarom anders sal hy haar nie wil help nie?