Skip to main content

Uittreksel | Die moord op Liezel de Jager

1.

Woensdag 13 Oktober 2021

06:09 – ET Rapid Response: What is the problem?

Kliënt: Ignore. I pressed the panic button by accident. There is nothing wrong.

Nege dae vantevore het dieselfde veiligheidswag vanuit die beheerkamer gereageer toe die paniekknoppie vir hierdie adres se alarmstelsel gedruk is. Die betrokke man het ook tóé die noodsein gekanselleer.

07:01 – Kliënt: I need help! Please! My wife’s been attacked in our yard! Help me!

ET Rapid Response: What happened?

Kliënt: She is dead! It looks like she’s dead!

ET Rapid Response: Security code? Identify yourself. Who am I speaking to?

Kliënt: Werner! WERNER …

ET Rapid Response: When did the incident happen, sir?

Kliënt: I don’t know! I just found my wife now! I was on my way to take my children to school! I found her outside at the bottom of the stairs!

ET Rapid Response: Stay there. A response vehicle is on the way. We’ll contact the police.

Minute later daag ’n veiligheidswag by die eiendom op. Hy klim oor die elektriese motorhek om toegang tot die perseel te verkry. Net links van die motorhuis tref hy die man by die liggaam van sy vrou aan.

Haar drafbroek en onderklere is afgetrek tot bo haar knieë. Sy is met ’n baadjie bedek. Eenkant, nie ver van haar liggaam af nie, lê ’n stel motorsleutels, ’n selfoon, ’n handsak en die alarmstelsel se paniekknoppie. ’n Gebuigde metaal-speelgoedgrafie lê langs die vrou se liggaam. Haar slimhorlosie is aan haar pols en haar trouringe is aan haar vinger.

Die veiligheidswag loop versigtig om die huis om seker te maak dat die aanvaller nie steeds iewers op die erf skuil nie. By een van die vensters waar hy inkyk, sien hy twee dogtertjies waar hulle op ’n bed met hulle speelgoed sit en speel. Na deeglike ondersoek vind hy geen indringer of verdagte op die perseel nie. Hy merk wel op dat die eienaar se twee honde nêrens buite in die tuin is nie.

Die wag keer terug na die moordtoneel. Hy probeer om die man, wat onbeheersd huil, te kalmeer terwyl hulle saam wag vir die polisie en die nooddienste om op te daag.

Daar is kneus- en skaafplekke aan die man se elmboog en sy kneukels, merk die wag op. Hy antwoord nie wanneer die wag hom na die wonde aan sy arm en hand uitvra nie. Dan pols die sekuriteitswag hom oor die oggend se gebeure. Waarheen was sy vrou so vroeg op pad dat sy hier in die oprit voor die huis oorrompel kon word?

Sy vrou het ongeveer twintig voor vyf gery om saam met ’n groep vriende naby die Galleria Mall te gaan draf, antwoord die man. Hy het die kinders vir skool gereed gekry. Toe hy net voor sewe uitstap na buite, het hy op haar afgekom waar sy bewegingloos langs die oprit aan die voet van die trappe lê. Sy was reeds dood.


2.

Liezel

Salomé Liezel de Jager (née Van Zyl) is op Saterdag 23 Julie 1983 op Olifantshoek in die Noord-Kaap gebore. Olifantshoek, wat tussen Kuruman en Upington geleë is, is ’n klein boeregemeenskap aan die voet van die Langeberg. Dis hier waar misterieuse wit brulsand omring word deur die rooi duine van die Kalahari; waar weerligstrale tydens somerdonderstorms die wit duine tref en die sand omskep in glas, kristalle en fulguriete. Mynwêreld waar pers stof neersif. Maar dit is ook “Red Meat Country” waar rooi stoetbulle tussen kameeldoringbome wei. Dit is koedoe- en gemsbokwêreld met die N14-hoofpad die enigste teerpad wat deur hierdie hekwagdorpie na Suid-Afrika se laaste grensvlakte, die uitgestrekte ou Kalahari, loop.

“Liezel was ons eerste dogtertjie,” vertel haar ouers, Henk en Salomé van Zyl. “Sy was ’n opgewekte en energieke kind wat lief was vir mense. Van die heel begin af het sy haar lewe baie geesdriftig geleef. Sy het jonger sussies wat ’n tweeling is.”

Henk moes weens sy werksverpligtinge as lid van die polisiediens gereeld met sy gesin verhuis. Liezel begin dus haar laerskooljare op Groblersdal, ’n plaasdorp in Limpopo wat veral bekend is vir sy tabak- en katoenplantasies.

Die gesin trek later na Graaff-Reinet in die Oos-Kaap waar Henk in 1997, Liezel se graad agt-jaar, as hoof van die SAPD Kollege (Polisie-akademie) aangestel word. In 2000 lê sy belydenis van geloof af in die NG Nuwekerk op Graaff-Reinet onder leiding van dominee Louis Venter. En dis dan ook hier, aan die oewer van die Sondagsrivier en met die Sneeuberge as agtergrond, waar Liezel in 2001 aan die Hoër Volkskool matrikuleer.

Ná matriek besluit Liezel om predikant te word en by Kovsies se Kweekskool in Bloemfontein te gaan studeer. Volgens haar pa, self ’n ouderling in die kerk, het sy die stem van die roeping om dominee te word al vroeg in haar lewe gehoor. Nadat sy deeglik met haar ouers oor haar lewenskeuse besin het, ondersteun hulle haar in elke tree op haar pad vorentoe. In 2002 begin Liezel dan, met ’n borrelende hart, as ’n eerstejaarstudent haar studie by die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat.

In 2003 ontmoet Liezel vir Werner de Jager in Bloemfontein. Werner, vyf jaar ouer as Liezel, is op 16 September 1978 gebore en het op die klein Vrystaatse dorpie Excelsior grootgeword. Hy matrikuleer in 1996 aan die Hoërskool Excelsior.

Dis ’n stralende paartjie wat op Saterdag 18 Desember 2004 in die huwelik tree.

“Natuurlik was ons trots om ons dogter getroud te sien. Dit was ’n mooi geleentheid,” vertel Salomé van Zyl.

Wanneer Liezel en Werner kort na hulle troudag na Engeland vertrek om vir ’n tyd lank soos duisende ander Suid-Afrikaners in Londen op ’n tweejaar-vakansievisum te gaan woon en werk, stuur Henk en Salomé die jong bruidspaar met hulle onvoorwaardelike steun die wye wêreld in.

Na twee jaar in die buiteland keer die De Jagers terug na sonnige Suid-Afrika. Werner aanvaar ’n pos in Bloemfontein en Liezel vind nou die geleentheid om haar studies te hervat en ook haar meestersgraad in teologie aan te pak en te voltooi.

Na haar BA Hons en BTh-grade verwerf Liezel ook ’n MDiv. Haar skripsie is ’n “Verkennende pastorale ondersoek na die effek van pornografie op kinders”. Gesinsbediening, bejaardesorg en pastoraat is haar belangstellingsvelde.

Na afloop van haar gemeentejaar by die NG Gemeente Fichardtpark in Bloemfontein, word sy op 17 November 2009 in die NG Studentekerk as proponent gelegitimeer.

Proponent Liezel de Jager is op 5 Junie 2010 met handoplegging ontvang en deur professor Kobus Kellerman in die NG Gemeente Kanoneiland as leraar bevestig, en so word sy dan die eerste vrouepredikant wat die Noord-Kaap bedien.