Uittreksel | Die lysie-man

Proloog
“As jy en jou ma nou weer by die winkel is, koop jy vir jou ’n boekie, nè. Dit hoef nie ’n groot boekie te wees nie. ’n Kleintjie is doodreg. En dan maak jy ’n lysie. Jy gaan skryf in daardie boekie hoe jy graag wil hê jou trouman eendag moet wees. Alles, van sy haarkleur tot sy persoonlikheid. Verstaan julle mooi?”
Daar is ’n see van jongmeisiegesigte wat na die vrou op die skoolsaal se verhoog sit en opkyk en ’n hele klomp van hulle knik. Jy kan byna ’n speld in die stilte hoor val.
Die vrou skep asem. “Dan bêre jy die boekie op ’n veilige plek. En dan bid jy vir daardie man van jou.” Sy knyp haar oë styf toe en bal haar een hand in ’n vuis. “Jy bíd vir hom tot jy hom kry en jy aanvaar niks minder nie.”
Blou oë, skryf Louisa die volgende aand laat toe haar ma-hulle al slaap. En donker hare. Ja, donker hare en blou oë lyk vir haar die heel mooiste. Sy mag mos nou wens net waarvoor sy wil! Langer as ek, is die volgende inskrywing. Mens soen boontoe, nie ondertoe nie, sê haar vriendinne altyd. Sy kou aan die potlood se agterkant. Is dit nodig om iets oor haar toekomstige man se neus, mond en ore te sê? Die tannie het gister gesê mens moet álles beskryf. Louisa frons. Maar sy gaan byvoorbeeld nou regtig nie omgee wat die mansmens se skoengrootte is nie. Sy trek haar asem liggies in en skryf sterk arms in die volgende reël. Sjoe, sy het amper daarvan vergeet en netnou kry sy per ongeluk iemand wat nie eens vir haar ’n mayonnaisebottel se prop kan oopdraai nie. Wat nog? Louisa gaap lank. Sy moet mooi oor die man se persoonlikheid ook dink, dit is baie belangrik. Maar dit is laat en sy is vaak. Môre sal sy verder skryf.
Sy maak die boekie toe, steek dit onder haar matras weg en skakel die bedlampie af.
Een
Net mooi alles aan die man wat amper in Louisa vasloop, is vaal: sy kort, reguit hare, sy roomkleur langbroek en ligbruin baadjie, selfs die twee lêers wat hy in sy hand vashou. Genade, wat is sy naam tog? Meneer Skein het die nuwe adjunkhoof vanoggend in die personeelkamer aan hulle almal voorgestel en sy kan sowaar nie nou aan sy naam óf sy van dink nie. Dit is omdat die skool hulle so met werk oorlaai dat haar brein te vol word en sy dinge begin vergeet, sy is amper seker daarvan. Skuldig dink Louisa dat sy nie juis aandag gegee het aan wat meneer Skein alles te sê gehad het nie; sy was besig om vir die redenaars-onnie van die skool waarheen sy nou op pad is, ’n boodskap te stuur.
“Ekskuus, amper loop ek jou uit die aarde uit.”
Hy het ’n mooi, diep stem, registreer haar holderstebolder brein.
“Toemaar, dis ek wat soos ’n mal ding by die trappe afgehardloop gekom het.” Louisa bly stil. ’n Mens praat seker nie so informeel met die adjunk hoof nie. Veral as jy hom nog van geen kant ken nie. Die kinders! onthou sy dan en kyk vinnig op haar horlosie. Hulle wag seker al by haar kar en sy wou juis vroeg na die redenaarskompetisie ry. Sy haat dit om te jaag.
“Jy lyk haastig.”
Sy knik. “Ek het drie redenaars wat oor ’n halfuur by H.J. Troskie moet wees. Dis ’n hoërskool in die stad,” onthou sy betyds om by te voeg. Hy ken seker nie die skole in die omgewing nie want meneer Skein het gesê hy kom van die Karoo. Darem een ding wat sy onthou!
Die nuwe adjunkhoof knik effens. “Nou ja, veilig ry.”
Louisa flits ’n vinnige glimlag vir hom. “Dankie. Totsiens.”
Sy moet haarself dwing om nie weer te draf nie, netnou bots sy regtig teen iemand en dalk is daar dan bloedneuse. En vanaand by die huis moet sy tog onthou om vir Delani te vra wat die man se naam is.
Louisa skuif gemakliker op die rusbank en maak seker haar koue voete steek nie onder die kombers uit nie. Sy is so bly dit is Vrydag. Die afgelope week was besig, dol, woes, en al die ander byvoeglike naamwoorde waaraan sy kan dink wat by ’n hoërskool met ’n duisend leerders pas. Maar die redenaarskompetisie was ’n reusesukses, haar drie leerders is veilig by hul onderskeie huise afgelaai en nou kan sy uiteindelik ’n bietjie ontspan. Met een hand reik sy na die bak springmielies en met die ander hand beduie sy na die man en vrou op die TV-skerm.
“Dit kan nie werk nie, Delani. Nie eens daar in Middle Earth nie,” sê sy vir haar huismaat wat een van die Hobbit-flieks vir hulle aangesit het.
Delani frons. “En hoekom nogal nie?”
“Sy’s ’n elf, hy’s ’n dwerg. ’n Meisie soen boontoe, nie ondertoe nie.”
Delani lag. “Waar op aarde kom jy daaraan?”
Louisa haal haar skouers op. “My skoolmaats het altyd so gesê.”
“My oupa was ’n sentimeter of twee korter as my ouma en dit het nie een van hulle gepla nie. En kyk net hoe aantreklik is die ou. Daardie manlike stoppelbaard, sy intense donker oë, sy pragtige glimlag . . .” Delani gee ’n suggie. “Hy’s gorgeous. Dapper ook.” Sy druk ’n paar knoppies op die afstandbeheerder en die beeld speel terug. “Kyk net weer na hierdie stuk, hoor hoe mooi praat hy met Tauriel.”
“Tauriel. Amrâlimê,” sê Kili, die donkerkopdwerg, met sy hart in sy bruin oë.
Delani sug weer droomverlore.
“Ag toe, val nou flou en kry klaar,” spot Louisa.
“Vir al wat jy weet vertel hy vir Tauriel wat hy vir ontbyt gehad het. Jy’t mos gesien hoe graag en hoe morsig daai dwergies van Tolkien eet.”
Delani tel haar foon van die koffietafel af op. “Kom ons Google daardie woord.” Sy lees eers fronsend, glimlag dan. “Aha. Dit beteken ‘liefde van my’.”
“Natuurlik sal Delani, die musiekjuffrou, net die romanse in die storie raaksien en nie onthou dit gaan eintlik oor ’n draak en ’n spul goud wat onderskeidelik doodgemaak en gevind moet word nie.”
Dit lyk of Delani haar nie eens hoor nie. “Kan jy glo, hulle sê Tolkien het iets soos vyftien tale uitgedink. Ek het geweet van die tale, maar ek het gedink dis so twee of drie.”
“Hy kon homself baie moeite gespaar het deur maar net plein Engels te gebruik.”
“Maar is ’n vreemde taal nie soveel meer romanties nie? Verbeel jou Kili kyk diep in jou oë en sê vir jou ‘amrâlimê’.”
Louisa dink ’n oomblik na en skud dan haar kop. “Te veel goed is verkeerd. Hy het bruin oë en sy hare is gans te lank, en hy is nie van ons land nie en . . .”
Delani hou haar hand afwerend in die lug nog voor Louisa haar relaas kan voltooi. “Al weer daai lysie van jou. Meet jy nou al selfs fliekkarakters daaraan?”
“Wel, jy hét gesê ek moet my verbeel hy sê dit vir my.”
“Is jy regtig so ernstig oor die lysie?”
Louisa knik en druk nog ’n paar springmielies in haar mond.
“En as ’n ou nie presies aan jou lys vereistes voldoen nie, kry hy seker nie eens ’n halwe kans nie.”
“Kyk, daar is niks fout met mense wat korter is en donker oë en lang hare het nie.” Louisa gee ’n laggie. “Haai, ek lyk self nogal baie soos Kili. Korterig, bruin oë, hare op die skouers.” Sy word weer ernstig. “Dit beteken bloot dat so iemand nie die man van my lysie is nie, en om met hom uit te gaan, mors ons albei se tyd.”
Louisa is eintlik spyt sy het destyds vir Delani van die lysie vertel. Maar Delani wou vir haar ’n toeoogafspraak met haar blonde kleinneef reël en sy moes net eenvoudig iets sê voor dit te laat was.
Delani kyk haar ’n oomblik aan. “Ek gaan vir ons tee maak,” sê sy dan en staan op. Op pad uit mompel sy iets wat Louisa nie mooi kan hoor nie en wat dalk in elk geval nie vir haar ore bedoel is nie.
Maandagoggend tydens die saalbyeenkoms word Louisa se drie redenaars verhoog toe geroep – hulle het almal goue sertifikate en gesamentlik boonop die beste puntetelling by Vrydagmiddag se byeenkoms gekry. Hul buurskool en grootste kompetisie is goed uitgestof.
Meneer Skein kan byna nie uitgepraat raak nie.
“Esti, Johandré en Kaylin, julle hou werklik ons skool se naam hoog, en ons vergeet natuurlik nie van juffrou Hancke wat julle so mooi afrig nie. Julle maak ons waarlik trots.”
Die applous is oorverdowend.
“Mooi, vriendin,” sê Delani toe Louisa met warm wange in haar stoel neersak.
Die man wat voor Delani sit, draai halfpad om in sy stoel. “Baie geluk,” sê hy glimlaggend vir Louisa en draai terug voor sy haar mond kan oopmaak.
Teen hierdie tyd onthou Louisa darem al die adjunkhoof se naam en van: Bernard Rossouw. Meneer Rossouw vir hulle, seker. Dink sy. Sy frons effens. Wat noem die ander hom? Sy moet bietjie oplet; netnou praat sy verkeerd en dan slaan sy haar naam met ’n plank. Sy skat hom ’n paar jaar ouer as sy en Delani, seker so in sy dertigs. Of miskien is dit die baadjie en das wat hom ouer laat lyk. Hier waar hy voor haar sit, sien sy geen grys hare nie. Dalk . . .
Delani stamp liggies aan haar en Louisa begin haastig saam met die ander hande klap, waarvoor weet sy nie eens nie.
“Jy was weer in jou eie wêreldjie daar op die verhoog,” sê Delani toe hulle ná die saalverrigtinge met die gang langs stap. “Oor wie het jy so gesit en dagdroom?”
“Oor Kili die dwerg,” sê Louisa sommer en kry haar klaskamer se sleutel uit haar romp se sak.
“Ek het môreaand ’n date met Tiaan,” verander Delani die onderwerp. “Jy . . . wil nie dalk saamkom nie?”
Louisa sluit die deur oop en stap na die vensters om dit oop te maak. “Om wat nogal te maak? Vir julle twee te sit en kyk?” vra sy oor haar skouer, maar eintlik weet sy wat kom.
“Daar is ’n nuwe ou wat wiskunde gee by die tegniese skool en hy ken nie juis ons omgewing nie,” bevestig Delani haar vermoede. “Tiaan wys hom so bietjie rond en stel hom aan ’n paar mense voor.”
Dis darem te koud om ál die vensters oop te maak, besluit Louisa en draai weer terug na Delani.
“Delani, gaan jy maar heerlik op jou date, ek het regtig baie merkwerk hierdie week.”
Omdat Delani altyd iets oor haar lysie te sê het, is Louisa deesdae huiwerig om dit op te haal. Dus vra sy liewer nie watter kleur Tiaan se kollega se hare is nie. Sy weet in elk geval nie of sy vir ’n toeoogafspraak lus is nie. Dalk juis oor die lysie. Nee wat, eendag is eendag, dan gaan haar donkerkopheld met sy blou oë en sterk arms voor haar staan en dan sal sy sommer wéét.
Of so hoop sy in elk geval.
“As die wiskunde-onnie ’n vangs is, gaan jy spyt wees,” sê Delani. “Ek gee jou tot tweede pouse, dan antwoord ek vir Tiaan.”
“Jy kan sommer nou al antwoord. Môreaand merk ek boeke.”
Die volgende aand sit Louisa by Delani se erfstuk-eetkamertafel met ’n pak opstelboeke voor haar toe haar foon lui. Sy skrik haar koud toe sy meneer Skein se naam op die skerm sien. Hy bel haar nooit saans nie, hoekom nou? Dalk is daar iewers groot fout. ’n Ouer het dalk oor iets gekla. O donkie, haar hart gaan sommer op loop.
“Goeienaand, juffrou Hancke,” klink die hoof se stem egter vriendelik in haar oor toe sy antwoord. “Jammer dat ek jou so laat pla, maar ons vergader nou oor die sportprogram en toe kom jou naam in die gesprek op.”
“Ja, Meneer?” Nou frons Louisa éérs want sy, kultuurdier, rig nie sport af nie.
“Wanneer is die sluitingsdatum van daardie redenaarskompetisie op De Aar?”
Sy blaas haar asem onhoorbaar uit. “Volgende Vrydag, Meneer, maar ons het mos maar besluit om nie in te skryf nie oor die kostes.”
“H’m. Dan het ek vanaand vir jou baie goeie nuus, juffrou Hancke. Daar is vier van ons tennisspelers wat daardie naweek op Britstown by ’n groot sportfees gaan speel en dis nie ver van De Aar af nie. Hoe lyk dit, wil jy nie tog maar jou kinders inskryf as die bussie in elk geval in daardie rigting gaan ry nie? Die tennisouers het mos wegneemetes verkoop vir die petrolgeld en hulle gee nie om om julle saam te neem nie.”
Louisa sit sommer regop. “Meneer, die kinders sal dit só geniet.” Sy ignoreer die stemmetjie wat in haar agterkop begin kerm oor verblyfkoste en ouers wat reeds agteroor buig net om die basiese skoolgeld te kan betaal.
Maar meneer Skein kan blykbaar gedagtes lees. “Die verblyf vir almal is ook reeds gereël, Juffrou, dit het die eintlike deurslag vir die toer gegee.”
Louisa is sprakeloos. “Ek weet nie wat om te sê nie,” antwoord sy eerlik.
Sy hoor stemme in die agtergrond, iemand lag. “Jy hoef niks te sê nie, jy kan maar net solank vir jou ’n goeie wintersbaadjie gaan koop as jy nog nie een het nie, want as julle oor ’n maand ry, is dit kniediep in die winter en daar op die plaas word dit glo góéd koud,” sê meneer Skein ook met ’n laggie in sy stem.
Van watter plaas praat hy? wonder Louisa toe die hoof kort daarna aflui. En sy het ook nie geweet hulle hou so laat in die aand sportvergaderings nie. ’n Onderwyser se werk hou ook nooit op nie, dink sy en tel weer haar rooi pen op. Sy staar ’n oomblik nikssiende na die opstel voor haar en glimlag dan breed. Sy kan nie wag om môre die goeie nuus vir haar drie redenaars te gee nie!