Skip to main content

Uittreksel | Die lys

Een

“Weet jy waarom ek belangstelling in jou verloor het, Mieke? Omdat jy vervelig en vaal is. Daar. Jy wou mos die waarheid weet,” sê Wynand waar hy, bene wyd uitgestrek, op haar sitkamerbank sit. Skaars ’n week gelede was dit hul sitkamerbank, maar nou ja.

Mieke haal diep asem. Moenie gil nie, bly kalm. “Ek neem aan jou nuwe meisie is allesbehalwe vervelig.”

“Haar naam is Tameré, maar sy noem haarself Fearless Feather.”

Wag. Hy los haar vir ’n vrou wat haarself vernoem het na ’n veer? Slaan haar om met een.

“Fearless wat?”

“Dis haar spirituele naam. Sy is baie bewus van alternatiewe kulture en sy is super spiritueel en . . .”

“Wel, ek hoop Fluffy Feathers gaan ook agter jou optel en luister na jou werkprobleme en . . .”

“Mieke! Dis jou hele probleem – jy verdraai alles en nou laat jy dit klink asof jy my bediende was.”

“Meer jou ma, as jy my vra.”

“Presies, daar bewys jy net mooi my punt. Jy het vir my meer begin voel soos my ma. Die gestrykte klere, die skoon huis, die gekookte kos.”

“Ek dag jy hou daarvan!” Weer kan hy haar met ’n veer omslaan.

“Ek soek meer in die lewe as skoon onderbroeke, Mieke.”

“Klaarblyklik.” Sy het Tameré se foto’s op Facebook gesien. Dis net haarverlengings, botoks, vals naels en borste waar jy kyk. Blond. Bruin lyf uit ’n spuitkannetjie. Beslis nie ’n ruffled feather nie, maar ’n baie vaartbelynde, glad gestrykte een.

“Mieke. Ek en jy het net vir een jaar saamgebly, maar dit het vir my gevoel ons is ou getroudes.”

“Is dit nie ’n goeie ding nie?”

Hy glimlag en staan op. “Nee, natuurlik nie. Ek soek ’n vurige, avontuurlike vrou. Nie iemand wat elke aand by die huis wil bly en dink voorspel bestaan uit soen en handjies vashou nie.”

“Dis nie regverdig nie, ons het wel gemeenska. . .” Haar tong knoop oor die woord wat te groot voel vir haar mond.

“Sien? Jy kan nie eens die formele term vir liefde maak oor jou lippe kry nie, wat nog van ’n p. . .”

“Nee! Wynand!”

Hy sug. “Luister Mieke, soos ek gesê het, ek kom in vrede.”

Sy staan ook nou op van die bank. “Ja, jy het gesê jy kom tel ’n paar goed op.”

“Wel . . . eintlik net vir Flabiani.”

Haar hele wêreld tuimel en spat in stukke op die vloer.

“Nee. Oor my dooie liggaam.”

“Hy is my kat.”

“Ons het hom saam aangeneem!”

“Maar ek het vir alles betaal, so Flabiani is tegnies myne.”

Op daardie oomblik kom die einste Flabiani verbygeskuur met sy sagte lyfie en krulstert wat teen haar bene streel. Wynand buk en tel hom op, vryf sy ore.

Iets in haar tik-tik-tik . . . en ontplof! Net daar. Sy gryp Flabiani uit sy arms, sit die kat saggies neer, en dan is sy op Wynand, ’n wyfiekat haarself. “Jy dink jy kan hier instap nadat jy my gelos het vir Frivolous Feathers en nou soek jy my kat ook? Vergeet dit!”

Sy stoot hom in die rigting van die voordeur.

“Skoert! Verdwyn uit my lewe!”

Hy probeer nog protesteer, maar sy ruk die deur oop en stamp hom uit voordat hy behoorlik tot verhaal kan kom.

Toe die deur agter hom toeklap, sypel die sug uit haar lyf. ’n Sug vol woede, verontwaardiging . . . en pyn. Vervelig en vaal. Dit maak seer. Dieper as wat sy gedink het.

Sy gaan sit op haar blommetjiesbank. Krul haar bene op. Trek ’n ligte kombersie oor haarself. Sy dink die beste as sy op haar bank onder ’n kombers lê – beskut teen die aanslae van die wêreld daar buite.

Is sy vaal? Wel, sy het beslis nie wimpers wat lyk of ’n spinnekop daarin nes gemaak het nie. Boonop het sy gehoor dit neem ’n uur om die vals wimpers in te plant. Waar gaan sy ’n uur kry? Sy hou skool en rig die skool se dramagroep af. Sy het nie tyd vir niks doen nie. Haar hare is donker en was nog altyd donker en dis goed genoeg vir haar. Die bril het sy darem in haar twintigs vir kontaklense verruil, maar vir enigiets meer gewaagd as dit sien sy nie kans nie.

Sy weet egter dis nie al wat Wynand met “vaal en vervelig” bedoel het nie. Hy het verwys na haar, na hoe sy in die slaapkamer is. As dit kom by ’n skaal van een tot vyf op die sekservaringsmeter is sy seker ’n twee, want sy het nie baie kêrels gehad nie. Te kieskeurig, sê haar ma altyd. As dit kom by seksuele waagmoed is sy seker ook hier by ’n twee rond. Miskien ’n drie.

Miskien . . .

Dis egter nie net in die slaapkamer waar sy nie avontuurlustig is nie. Ook in die res van haar lewe is sy altyd te bang om iets nuuts te probeer. Was nog nooit oorsee nie, gaan altyd na dieselfde restaurant, bestel altyd dieselfde gereg, koop altyd dieselfde soort klere, gaan hou maar altyd vakansie by Hartenbos, dieselfde as toe sy ’n kind was.

As die ’n fliek was, het sy nou van die bank af opgestaan en voor ’n spieël gaan staan om haarself in oënskou te neem. Hierdie is egter nie ’n fliek nie. Dit is haar lewe, en sy wéét wat sy in die spieël gaan sien. Iemand wat te min geleef het.