Uittreksel | Die kontrak
Een
Die vlamme knetter in die donker naglug. Dalk moet sy sommer net hier in die gloed van die vlamme dans. Dis juis volmaan. Sy gaan haal die bottel wyn in die kombuis en gryp sommer nog van Marius se klere in die verbygaan om op die vuur te gooi. Vanaand verbrand sy als. Al sy klere en al die foto’s van hulle twee saam. Sy is klaar met hom en sy stories. Sy leuens en veral sy skelm verhoudings waarvan sy die een ná die ander moes uitvind.
Die laaste strooi was ’n week gelede. Die vorige meisies was almal onbekend. Skimme in die nag. Maar hierdie keer het hy te ver gegaan.
Hy het glo laat gewerk. Sy was alreeds by die huis. Maar dié keer het sy onthou van belangrike dokumente wat sy by die werk gelos het. Sy het haastig soontoe gery. Haar baas se kantoordeur was oop – Priscilla Groenewald. Priscilla met haar lang swart haarverlengings en vals naels. Priscilla was nog op kantoor. Nee. Streng gesproke was Priscilla op haar lessenaar, en bo-op haar, ywerig besig om baas te speel, was Marius.
In een aand het sy drie dinge verloor. Haar verloofde, haar baas, én haar werk. Sy kon tog nie weer daar werk nie! Wie het almal geweet? Almal het seker agter haar rug vir haar gelag.
Uiteindelik moes sy dit aan haarself erken – dié man is ’n verneuker en hy sal nooit verander nie. Sy was net goed genoeg om hom finansieel te ondersteun en vir hom huis te hou.
Sy is gebruik.
Maar nie meer nie. O, nee. Van nou af gaan sy die lewe aan die horings gryp en haar eie drome navolg. Sy gaan kanse waag. Nie meer Marike Martelgat wees nie. As iemand haar van nou af uitdaag om iets aan te pak gaan sy dit doen.
En mans? Sy sal hulle gebruik en misbruik – hulle stukkend vry en los. Nooit weer maak sy ’n belofte aan ’n man nie. Dié spesie is onbetroubaar. Behep met seks. Sy sal ook so wees: Vat wat sy kan kry en dan laat spaander. Waarom nie?
Marike neem sommer ’n sluk uit die wynbottel waar sy kruisbeen voor die vuur sit. Die skok op haar baas se gesig toe sy gister voor almal aangekondig het presies waarom sy bedank, was al klaar die moeite werd. Haar kollegas se spontane handeklap toe sy noem dat sy uiteindelik haar droom gaan volg deur haar eie dekoronderneming te begin was die kersie op die koek.
Sy neem nog ’n groot sluk van haar wyn.
Daar is natuurlik die effens delikate kwessie van geld. Of meer spesifiek: Die delikate kwessie van geld wat sy nié het nie. Maar sy sal aan ’n plan dink. Iets wonderliks sal gebeur. Sy kan dit aanvoel.
Vir ’n oomblik flikker die vlamme oor haar soel vel en blonde hare. Sy vou haar handgeweefde tjalie stywer om haar skouers – ’n pragtige, eksotiese wese in ’n Boho-blommetjiesrok en stewels met silwerarmbande wat om haar arms klingel. Marius is iets van die verlede. Wie weet wat die toekoms inhou?
’n Hangover. ’n Kloppende hoofpyn. En die aanhoudende gepiep van haar foon. Dit is hoe die eerste dag van Marika se nuwe toekoms begin.
Wat op deeske aarde het sy als die vorige aand aangevang? Sy strompel kombuis toe om te gaan koffie maak. Deur die kombuisvenster sien sy die oorblyfsels van gisteraand se brandoffer: ’n groot swart kol in die middel van haar grasperk waar die vuur was. Halfverbrande kledingstukke lê orals rond en flenters grys as en wit stukkies papier waai in die Kaapse wind.
Twee leë bottels lê langs die uitgebrande vuur. Genade. Is dit hoeveel sy gedrink het? Met bewerige vingers gooi sy sommer drie lepels koffie in haar beker. Twee suikers. Sy vermoed sy gaan baie energie nodig hê om deur die dag te kom.
Weer piep haar foon. Notifikasies van Facebook. Sy behoort aan ’n groep waar allerhande advertensies geplaas word. Enigiets van werkaanbiedings tot ou koperketels tot tweedehandse motors word hier aangebied. Soms het sy interessante, antieke meubelstukke op die groepbladsy gevind.
Sy leun teen die kombuiskas, ’n koppie stomende swart koffie langs haar, en klik op die Facebook-groep om dit oop te maak.
GESOEK: ’N MUSE. Bekende skrywer soek ’n muse om hom daagliks te inspireer en te verseker dat sy dag vlot verloop. Dit is ’n inwoonposisie en verpligtinge behels redigering waar nodig, daaglikse organisasie van die skrywer se dag, en die kandidaat moet hou van reis.
Marike se wenkbroue lig terwyl sy die res van die werkvereistes lees: Die ideale kandidaat het verkieslik ’n BA in tale, is tussen 35 en 40 jaar oud, vroulik, kreatief en uiters avontuurlustig.
Wat ’n vreemde advertensie. Is hy op soek na ’n muse of ’n meisie? Dit kan selfs ’n mensehandelketting wees waar vroue ontvoer en verkoop word. Nee, wat. Sy sien net ’n slang in die gras. Sy lees die res van die advertensie vining verder, maar dan vries haar vingers toe sy by die salarisaanbod kom. R60 000 per maand, plus sakgeld van R20 000 vir drie maande, ingesluit blyplek, reisonkoste en ’n motor. Die kontrak is vir drie maande. Die betaling en sakgeld saam is R200 000. Genoeg inkomste om haar aan die gang te hou totdat haar onderneming op die been is. Meteens lyk die slang nie meer so gevaarlik nie, maar vriendelik. Aanloklik selfs.
Nes die slang in die paradys.
Twee
Marike hou by ’n swart veiligheidshek stil. ’n Sekuriteitswag kom onmiddellik te voorskyn. Terwyl hy haar besonderhede en motor se registrasienommer neerskryf, vergaap sy haar aan die toneel voor haar. ’n Lang gruispad lei na ’n manjifieke herehuis. Dit lyk soos ’n Herbert Baker. Die pad kronkel tussen ’n laning hoë bome deur waar dit in ’n swierige sirkel voor die imposante woning eindig waar Brett Bezuidenhout se kantore gevestig is.
In die sirkel staan ’n Porsche en ’n Maserati. Eenkant, in ’n kleiner parkeerarea, staan ’n paar “gewone” motors. Seker die ander kandidate s’n.
Sy haal diep asem. Wat as sy by hierdie groot huis instap en sy word summier in ’n ondergrondse kelder gegooi? Sê nou sy kan nie weer uitkom nie? Wat as die skrywer ’n monster is?
Gister, toe sy die afspraak gemaak het, het die man aan die ander kant van die foon die geheimsinnige skrywer se identiteit bekend gemaak. Dit het haar asem weggeslaan.
Brett Bezuidenhout.
Erfgenaam van die Bezuidenhout-biljoene wat sy voorouers met hul talle diamantmyne gemaak het voordat hulle dit later aan De Beers verkoop het. Maar Brett het ook roem op sy eie verwerf.
Dié enigmatiese skrywer is wêreldbekend vir sy opspraakwekkende rolprente waarvoor hy self die draaiboeke skryf. Hy is een van die min Suid-Afrikaners wat dit in Hollywood gemaak het en wie se flieks altyd lokettreffers waarborg. Sy rolprente is donker en spannend – vol smeulende aktrises wat in passievolle affairs betrokke raak met gevaarlike mans, net om snikkend op verlate lughawens of stormagtige strande oorgelaat te word aan hul eie lot.
Die interessantste feit omtrent Brett Bezuidenhout is egter dat die man op straat nie weet hoe hy lyk nie. Hier en daar het ’n ou skoolfoto van ’n jonger Brett opgeduik, maar hy het hom grootliks uit die openbare oog gehou.
Sy het die ouer foto’s gegoogle, maar al wat sy kon uitmaak, was ’n langerige man met donker hare en breë skouers.
Die sekuriteitswag klap liggies op haar motordeur en beduie dat sy kan deurry. Die kar se wiele knars op die gruis terwyl sy stadig aankruie na haar bestemming.
Sy klop skaars, of die deur swaai oop. ’n Man van in sy vyftigs staan voor haar. Hy het ’n grys pak aan met ’n grys-en-swart strepiesdas. ’n Sakdoekie van dieselfde gestreepte materiaal steek by sy baadjiesak uit. Vlymskerp blou oë wat niks mis nie. Effe grys langs die slape, maar glad geskeer; sy lippe ’n ferm lyn tussen sy skerp neus en vierkantige ken. Intimiderend. Soos ’n skoolhoof. ’n Regter. Of selfs ’n moderne Engel van die Dood.
Half senuagtig trek Marike haar rooi toppie verder oor haar swart linnebroek. Meteens verlang sy na haar gewone hippieklere. Lank, los en gemaklik.
Sy steek haar hand uit. “Brett?”
Hy neem nie haar hand nie.
In plaas daarvan trek sy aristokratiese neus op ’n effense plooi. Effens, maar merkbaar.
“Ek is Hendrik Taljaard, meneer Bezuidenhout se prokureur.”
Daarmee draai hy om en klap sy hakke teen mekaar soos ’n regte bliksoldaat terwyl hy met sy hand beduie dat sy hom moet volg.
Marike is besig om haar oë in die algemene rigting van sy rug te rol toe hy skielik omdraai. Uitgevang. Sonder om iets te sê stap hy verder.
Hulle betree ’n enorme vertrek. Heel moontlik die voormalige balsaal. Die dak is hemelhoog en teen een muur is rye boogvensters waardeur ’n groen grasperk wink. Behalwe vir ’n lang houttafel en twee houtstoele aan weerskante van die tafel, is daar geen ander meubels nie. Al versiering, die enigste opligting as punt van skoonheid in die vertrek, is ’n skildery wat bokant ’n ou Italiaanse marmerkaggel hang.
Dit is van ’n vrou in ’n groen satynrok. Haar vlamrooi hare is met diamantknippe bo-op haar kop vasgemaak, en haar slanke nek is na een kant gebuig, so asof sy wag vir ’n minnaar se soen.
Haar vol mond is effens oop – in versugting of smagting. Marika is nie seker nie. Maar die treffendste is die vrou se oë. Sy kyk reguit na jou, so asof sy wil sê: Hier is ek. Vat my of los my – maar heel moontlik gaan ek jóú eerste los.
Vir ’n oomblik wens Marike sy het daardie soort vertroue uitgestraal. Maar dan kug Bliksoldaat en gaan sit sy voor hom in die harde houtstoel.
“Mejuffrou Marike Labuschagne, korrek?” vra hy.
“Dit is korrek,” antwoord Marike.
Bliksoldaat se kil blou oë pen haar vas op die stoel.
“Sê vir my, mejuffrou Labuschagne, hoe avontuurlustig is u?”