Uittreksel | Die kleur van passie
Een
Waar sy vroegoggend in ’n smal voetpaadjie aanstap huis toe, is die lug geniepsig koud teen Cérie se gesig. Tog maak dit haar nie haastig nie. Sy voel dit, sy ervaar dit. Winter in Frankryk.
Dik sneeu lê soos ’n reuse- wit kombers oor alles oopgesprei. Wit, wit, wit. Dis vir haar mooi. Baie mooi. Dit bring eenvoud, rustigheid. Daar is iets goddelik aan die wye stilte.
“Waarom hardloop jou kop dan al klaar weer na die kleurwiel?” praat sy hardop met haarself. Haar stem klink vir haar skerp in die stilte om haar en sy gesels in ’n amper fluisterstem verder: “Dink jou in, aan dieselfde takke van die dennebome waarop die sneeu so swaar rus, groei rooi bessies. Bondels en bondels vol rooi wat nie verskoning maak vir hulle uitbundigheid nie.”
Sy kyk om haar rond. “Hier, langs die voetpaadjie af, affodille. Geelwarm, soos die son. Sommer baie daarvan.”
Sy kyk op, sien die lui rokie vanuit die skoorsteen in haar kombuis opdwarrel hemel toe, die hoë spitsdak van Château de Monet. Selfs die château se naam dring aan op kleur.
Die staalhek is swaar onder haar handskoenhande toe sy dit oopstoot. Sy skud die sneeu van haar af, nou haastig om by die kinders te kom.
Toe sy die kombuisdeur oopstoot, is al die kalmte en rustigheid van haar oggendstappie weg. Dis bedrywig in die kombuis. Sy trek haar dik jas uit, hang dit aan die kapstok by die deur. Haar handskoene sit sy op die rakkie langs die kapstok neer.
’n Groot Aga-stoof verhit die hele vertrek. By die houttafel sit vier kinders, besig met ontbyt. Hulle gesels eenstryk terwyl Mari, haar huishoudster, orde probeer handhaaf.
Cérie kyk met warmte na die ouer vrou. Sy is kort, met ’n groot, vroulike boesem. Omdat sy baie tyd binnenshuis deurbring, is haar wange meestal bloesend rooi. Sy is vir Cérie soos ’n ma. Sy huiwer ook nie om Cérie te berispe as sy nie wil eet, of half gevries van te lank buite wees, inkom nie. Sy is ’n minlike mens.
Mari help die kinders hulle roosterbrood met dik, tuisgemaakte braamkonfyt smeer. Op die stoofplaat prut ’n gietysterpan vol oranjekleurige eiers, vars van die château se hoenders. Die ontbytgeur wat in die lug hang, is aptytwekkend. Dit laat Cérie besef dat sy honger is.
“Bonjour!” groet sy hard genoeg vir almal om haar te hoor.
Die kinders kyk op, blydskap om haar te sien oor almal se gesigte. By hulle voete, hoopvol vir afvalkossies, sit twee golden retrievers. Sy en die meisies het die vorige aand vir die twee honde blomkranse gevleg, en wat daarvan oorgebly het, hang steeds half potsierlik om hulle nekke. Hulle kyk om na haar, en sy ervaar ook hulle blyheid om haar te sien. Uit die hoek van haar oog merk sy dat Fiemies, haar lywige grysbont kat, wat soos altyd op sy strepieskussing op ’n stoel naby die stoof lê en slaap, hom effens uitrek, self gereed vir ontbyt. In die verbyloop vryf sy oor sy kop en nek.
Almal wil gelyk iets weet en Cérie antwoord soveel moontlik van die vrae. Sy gaan haal die pan eiers van die stoof af, skep daarvan vir die kinders, Mari en haarself in.
Bertrand, Mari se man, kom koulik by die kombuisdeur in. Hy is ook, soos sy vrou, kort van figuur, maar fris gebou. Hy is gewoonlik bot met mense, maar met haar, Cérie, is hy ’n teddiebeer. Cérie trek die stoel langs haar vir hom uit om te kom saam eet.
Terwyl hulle eet, kyk sy van kind na kind. Die twee blondekopmeisies, een vier en die ander een ses, is die kinders van sir Hewert Fontaine. Bonnie en Lisz. Hewert en sy vrou het ’n paar dae gelede op ’n twee weke lange vakansie vertrek. “Die kinders sal die baie ry nie geniet nie,” het hy verweer toe hy hulle kom aflaai het. Die honde is ook syne.
Die rooikopseun, wat maar net nie kan stilsit nie, is die agtjarige Alex Howick, seun van senator Howick. Wewenaar vir die afgelope twee jaar. Hy is op ’n besigheidsreis.
Die oudste dogter aan die tafel, Anet, is twaalf jaar oud. Sy is die enigste kind van monsieur en madame Prett. ’n Bankier met te veel besigheidsafsprake waarheen sy vrou hom moet vergesel, om hulle dogter tydens die vakansie besig te hou.
Asof die afgesonderdheid van die château vakansie-afleiding vir ’n twaalfjarige is! Cérie gee ’n ligte snorkie. Wel, sy sal sorg dat hulle hul tyd hier geniet. En natuurlik is hierdie bron van inkomste welkom. Dit betaal vir die meeste van die château se uitgawes.
“Nou toe,” begin sy aanjaag. “Eet klaar, ek het baie planne vir julle vandag.”
Die kinders doen opgewonde mee en voor Cérie haar oë kan uitvee, is die dag volstoom aan die gang. Teen laataand is Cérie gedaan, maar dis met groot tevredenheid wat sy haar bedliggie afskakel.
Die onverwags harde, dringende klop aan haar voordeur laat Cérie verward regop sit in haar bed. Daar is dit weer! Sy vryf oor haar oë, sukkel om helder wakker te word. Hoe laat sou dit wees? Die woeste geklop klink weer op. Sy skakel haar bedliggie aan, trek pantoffels en ’n warm kamerjas aan. Toe klim sy die trappe na die grondvloer oorhaastig af. Iemand is in die moeilikheid. Sy weet dit net.
Sy draai die sleutel, trek die swaar voordeur oop. Voor haar is ’n vreemde man. Sy hand is gelig om weer te klop, maar die momentum waarmee sy die deur oopmaak, laat hom sy balans verloor en hy val vooroor met sy gesig op die koue marmervloer. Hy bly bewegingloos lê. Cérie trek haar asem geskok in, hurk by die man.
“Bertrand! Mari! Kom help!” roep sy so hard as wat sy kan.
Sy draai die vreemdeling om. Hy is verskriklik swaar. Sy voel vir ’n pols en dit klop sterk, maar sy vel is ys-yskoud. Dan is Bertrand daar. “Ek dink die man was te lank buite in die koue, ons moet hom so vinnig moontlik binne kry.”
“Vat by sy voete,” por Bertrand aan.
Cérie probeer, maar dis vir haar onmoontlik om die man se voete te lig. Mari, nog besig om haar wolkamerjas vas te maak, kom help by die voetekant.
Hulle sleepdra die man in die gang af. “Kom ons vat hom na die Groenkamer, dis die naaste aan die kombuis. Dié man gaan baie siek word.” Cérie weet sonder twyfel dat hy mediese sorg, en van Mari se kragtige sop, gaan nodig hê.
Met die man eindelik op die bed, vra Cérie: “Mari, gaan haal asseblief van Grand-père se nagklere. Dit behoort hom te pas. Die man se klere is deurnat.”
Dis ’n ewe groot gesukkel om hom verklee te kry. Teen die tyd dat hy droog en warm in die bed lê, voel Cérie klam van die sweet. Bertrand het vuur in die kaggel gemaak en die vertrek begin warm word. Cérie kyk na die staanhorlosie. Dit is reeds drieuur in die oggend. Hoe laat kan sy haar son medecin de famille, dokter Watt bel? Hoe dringend het die man mediese hulp nodig? Hy het nog nie weer sy bewussyn herwin nie en het net gekreun en gemompel terwyl hulle met hom gewerk het. Nou slaap hy diep.
Sy regterskouer is vreeslik blou gekneus. Dit laat haar vermoed dat hy in ’n motorongeluk was. Sou daar ander insittendes wees wat nog vir hulp wag? Sy hoop nie so nie.
“Ek gaan dadelik begin met sop,” sê Mari en verdwyn kombuis se kant toe.
“Bertrand, kan jy so vroeg moontlik na sy motor gaan soek? Ek is bekommerd dat daar dalk meer mense in die motor was.”
“Ek ry liewers sommer dadelik. Ons moet so gou moontlik seker maak.”
“Dankie, Bertrand. Ek sal ook nie nou weer kan slaap nie. Ek gaan aantrek, dan kom sit ek by ons pasiënt.”