Uittreksel | Die jare tussen ons

Hoofstuk 1
Al tref duisende rampe mense wat die Here liefhet, Hy sal hulle nooit alleen los nie. Uit elke krisis sal Hy hulle red.
(Ps. 34:20, DB)
2020
Elaine lê op haar sy terwyl sy haar kussing vasklou. Sy wag gespanne dat die asemhaling agter haar egalig moet word. Haar oogbank is oopgeslaan en sy draai haar kop versigtig weg van haar kussing af, bang dat die bloed dit sal besmeer. Dan lê sy weer roerloos.
Ag Here, asseblief laat hy net aan die slaap raak.
Haar mond trek sinies. Sy bid steeds uit gewoonte al weet sy dat die Here lankal nie meer na haar luister nie.
Ná ’n rukkie word haar stil gebed egter beantwoord en sy staan versigtig op. Sy stap badkamer toe en kyk na haarself in die spieël. Haar oog gaan môre potblou wees. Dit sal haar leer om opstandig te wees. Hoekom het sy nie maar net gewillig gaan lê en vir hom gegee wat hy wou hê nie?
Sy doen haar bes om die trane te keer, maar dis tevergeefs. Sy haat hom! Hoe kan sy haar liggaam vir hom gee wanneer sy hom verafsku? Maar hy vat in elk geval wat hy wil hê, en nou is sy weer vir die volgende paar weke ’n gevangene in hierdie huis. Sy sal nie eens kan gaan inkopies doen nie. Ben laat haar nêrens heen gaan as sy só lyk nie. Sy maak haar oog skoon, sit salf op en plak die sny met ’n pleister toe.
Hierdie staat van inperking gaan haar dood beteken. Dis nou al weke wat Ben by die huis sit. Hy is gefrustreerd en gespanne en daarom is hy baie aggressiewer as voorheen. Sy vee haar trane beslis af en stap uit die kamer uit in die gang af na Shayla se kamer toe. Sy kyk vir ’n oomblik af op haar dogtertjie se slapende gesiggie. Dan vee sy liggies oor die fluweelsagte wangetjie.
Vir ’n oomblik is dit asof die tyd gaan stilstaan. Sy hoor ’n kriek net buite die venster en maanlig stroom by die venster in. Vir ’n oomblik voel Elaine asof sy buite die realiteit van haar lewe staan. Net vir ’n oomblik is daar vrede. Maar dis altyd van korte duur, want sy weet baie goed dat tyd nie kan stilstaan nie en dat haar lewe nie deur vrede gekenmerk word nie.
Elaine sug, dit lyk darem nie of Shayla haar en Ben se rusie gehoor het nie. Sy trek die duvet hoër op en raak vlugtig met haar lippe aan Shayla se voorkop. Dan stap sy kombuis toe, skakel die lig aan en haal ’n wynglas uit die kas.
Net een glasie wyn, dan sal sy beter voel. Sy skink die rooi vloeistof in die glas en vat ’n groot sluk, voel hoe haar liggaam warmer word en sug verlig. Sy stoot haar hand deur haar hare.
Solank Shayla veilig is, gaan alles oukei wees. Sy kan Ben hanteer. Een van die dae word die inperking opgehef en dan kan alles weer soos normaal aangaan. Ben sal teruggaan werk toe, moeg terugkom en dan sal hulle soos in die verlede soos twee vreemdelinge by mekaar verbyleef. Hy sal weer minder aggressief wees. Hy het haar nie altyd geslaan nie. Wanneer het dit begin?
Elaine skink vir haar ’n tweede glas wyn en gaan sit op die rusbank in die sitkamer. Die ligte reuk van sigaretrook in die lug en ’n leë brandewynglas op die hoek van die koffietafel laat Elaine vir ’n oomblik weer angstig voel. Sy haal diep asem en dwing haarself om teen die rugleuning te ontspan. Sy trek haar bene onder haar in en vat nog ’n sluk wyn.
Gewoonlik keer sy haar gedagtes voor hulle te vêr in die verlede begin ronddwaal, maar vanaand gaan sy haarself toelaat om te onthou. Sy was twintig jaar oud en swanger. Haar ouers het hulle gedwing om te trou, en Ben was maar alte bereid om verantwoordelikheid vir haar en haar kind te aanvaar.
Hoekom het sy dit so gelate aanvaar? Hoekom het sy nie haar goed gepak en weggeloop nie? Sy glimlag bitter. Want sy het nie geweet wie Ben van Staden werklik is nie. Op daardie stadium was hy maar net die rykmanskind van Bloemfontein wat gesê het hy het haar lief. Hy was aanvaarbaar, beskikbaar en bereid om met haar te trou. Wat kon sy anders doen? Daar was tog nie ’n ander uitweg nie.
Aan die begin het dit goed gegaan. Wel, dalk nie goed nie, maar darem ook nie sleg nie. Hy het haar in vrede gelaat terwyl sy nog swanger was en hulle het soos kamermaats in aparte kamers in hulle nuwe meenthuis in Pretoria geslaap.
Toe is Shayla gebore. Sy het hom gesmeek om haar nog tyd te gee. Sy het vir hom gesê sy is nog nie gereed om ’n getroude vrou te wees nie. Maar hy het die einde van sy geduld bereik. Dit was die eerste keer dat hy teen haar sin met haar seks gehad het. Drie weke ná Shayla se geboorte. Sy voel hoe die warm trane weer teen haar wange afloop en hierdie keer vee sy dit nie af nie. Daardie aand het sy besef sy het met ’n man getrou wat geen karakter het nie.
Maar sy het skuldig gevoel. Ben was bereid om met haar te trou, hy was lief vir haar. Dalk was dit sy reg om te vat wat aan hom behoort. Sy het die eerste drie jaar van hulle huwelik regtig hard probeer om vir hom lief te wees. Sy was beskaafd teenoor hom. Sy het vir hom seks gegee wanneer hy dit wou hê, al het sy soos ’n dooie pop in sy arms gevoel.
Wanneer hy in die oggende gery het om as bestuurder by sy pa se groot meubelfabriek in Pretoria te gaan werk, was sy verlig. Dan kon sy asemhaal en heeldag met haar dogtertjie speel.
Haar depressie het egter erger geword. Sy was leeg ten spyte van haar liefde vir Shayla. Wanneer het hy haar begin slaan? Vaagweg begin sy onthou. Dit was een aand in Desember voorverlede jaar. Hy was al twee weke op verlof en hulle het gedurig vasgesit. Sy het hom verwyt dat hy afsydig is teenoor Shayla, want hy het hom nooit aan haar gesteur nie. Sy beskuldiging was onverwags. “Wanneer gaan jy van hom vergeet?”
Sy het verbaas na hom gekyk. Hoe het hy geweet? Haar skuldgevoelens moes openlik op haar gesig gewys het want hy was in twee tree by haar en het haar bos hare vasgegryp. Hy het haar nek agteroor gepluk en in haar gesig gefluister, “Ek sien hoe jy nog na hom verlang. Elke keer as jy in my arms lê, dink jy aan hom.”
Sy kon haarself nie verdedig nie en sy kon nie sy beskuldigings ontken nie. Dit was die eerste aand dat hy haar geslaan het. Ná daardie aand was niks weer dieselfde nie. Dis asof Ben sy kop verloor het, asof hy haar wou laat boet vir gevoelens waaroor sy geen beheer gehad het nie. En só gaan dit nou al vir meer as ’n jaar aan. Alhoewel hy tog rustiger is wanneer hy werk.
Sy vat ingedagte aan haar oog wat klop van die pyn. Hoeveel keer het sy dit al oorweeg om Shayla te vat en pad te gee? Maar sy is te bang. Ben is ’n ryk man met baie invloed. Hy sal haar vinnig opspoor. Sy kan nie na haar ouers toe gaan nie. Dis die eerste plek waar hy haar sal gaan soek. As sy moet wegloop en hy kry haar ...
Daar gaan ’n rilling deur haar liggaam. Sy weet sy drink te veel. Sy weet hy het bewyse daarvan en hy het belowe hy sal Shayla van haar af wegvat. Nee, een van die dae is die inperking verby en dan sal dinge weer beter gaan. Solank Shayla veilig is, kan Ben maar met haar doen net wat hy wil. Sy verdien dit.
Sy kyk op haar horlosie, dis nou halftien. Sy wens sy kan net met iemand praat. Miskien kan sy dit waag om haar suster te bel. Sy staan op en loop tot by haar selfoon wat op die kombuisblad lê. Effens onseker bel sy haar sussie se nommer. Evette antwoord na ’n paar sekondes.
“Hallo, Evie.”
Elaine klou haar selfoon styf vas. Sy sal haar emosies onder beheer moet kry. Haar sussie en veral haar ouers hoef nie te weet wat in haar lewe aangaan nie.
“Hallo, Sussa! Hoe gaan dit met julle?” vra Evette in haar gewone opgewekte stem.
“Baie goed. Ons is net moeg van by die huis sit.”
“Jy sê vir my! Ek en Mamma en Pappa is so moeg vir mekaar se geselskap ons wil slange vang.” Sy sug oordrewe. “Ons mis jou en ons mis vir klein Shayla. Ek gaan haar seker nie herken as ek haar sien nie.”
Elaine lag. “Ja, sy word nou yslik groot.”
“Is sy nog steeds so stil en skaam?”
“Ja, Evie. Haar persoonlikheid het nie verander vandat julle haar Kersfees gesien het nie. Hoe gaan dit met Mamma en Pappa?”
“Dit gaan goed. Ons is net bekommerd oor jou. Ons hoor baie min van jou. Gaan dit regtig goed?”
Dit is baie moeilik vir Elaine om vir haar sussie te jok, maar sy het geen keuse nie. Sy dwing haarself om opgewek te klink. “Natuurlik, hier is geen klagtes nie. Ons is nog gesond. Ons pas onsself maar op. Ben ry so nou en dan Spar toe, dan Woolworths toe net om uit te kom. Verder maak ons maar huis skoon, pak kaste reg en werk in die tuin.”
“Ai, ek hoop die einde is in sig.”
Elaine verbeel haar sy hoor iets uit die rigting van hulle kamer. Ben hou nie daarvan as sy met haar familie praat nie en hy gaan gereeld haar foon deur om seker te maak sy doen dit nie. Sy maak vinnig ’n verskoning op. “Evie, ek hoor vir Shayla huil. Ek sal moet gaan.”
Nadat sy die foon doodgedruk het, vee sy gou haar suster se naam van die oproeplys af. Sy haat haar lewe! Hoe het sy hier beland? Sy stap vinnig in die gang af, maar alles is doodstil in hulle kamer. Sy slaak ’n sug van verligting. Haar senuwees is gedaan. Sy is altyd bang sy doen of sê die verkeerde ding.
Sy loop saggies terug kombuis toe en gooi vir haar ’n derde glas wyn in. Ten minste help dit haar om effens kalmer te voel. Ingedagte bekyk sy die etiket om die wynbottel. Sy het nog altyd baie van wyn gehou. As jong meisie het sy gereeld saam met haar ouers Kaap toe gegaan en dan het hulle al die bekende wynlandgoedere gaan besoek. Sy versamel al bottels wyn vandat sy agtien jaar oud is.
Maar haar versameling is besig om te krimp. Sy draai om en bekyk die wynrak wat tot onlangs toe nog vol van die beste wyne was. Sy het nooit van hierdie wyn gedrink nie. Elke bottle herinner haar aan ’n spesiale besoek aan die een of ander wynplaas. Maar haar goedkoop bokswyn is lankal op en die regering het ’n verbod geplaas op die verkoop van alkohol. Sy kan nie wyn koop nie, so nou het sy begin om haar versameling op te drink.
Sy sug swaar. Wanneer sal sy ooit weer in die Kaap kom om wyn te koop? Sy begin die wyne een vir een uithaal en bekyk hulle etikette. Die meeste van hierdie wyn het sy gekoop tydens haar laaste Kaap-vakansie saam met haar ouers en ... Alex. Haar hart pyn, sy haal nog ’n bottel uit. Vergelegen Chardonnay.
Daar gaan ’n skerp pyn deur haar liggaam. Dis die wyn wat hulle besluit het om te spaar, die wyn wat hulle altyd moes herinner aan die piekniek tussen die kosmosblomme. Sy sit dit vinnig in die rak terug terwyl warm trane haar verblind. Sy durf nie terugdink nie. Sy tel haar wynglas op en sluk die rooi vloeistof met een teug af. As sy maar net kon vergeet ...
Die winter breek aan en steeds is die land in ’n staat van inperking. Elaine voel hopeloos. Sy leef nou al maande lank in angs. Ben verloor sy humeur oor die geringste dingetjie en haal al sy frustrasies op haar uit. Hy gee nie eens meer om of Shayla hulle hoor of sien baklei nie. As hy net kan teruggaan werk toe!
Sy stap versigtig uit hulle kamer in die gang af en loer by Shayla se kamer in. Die dogtertjie lê op haar bed en klou haar opgestopte hasie vas. Haar ogies is oop, maar sy staar nikssiende voor haar uit. Sy moes die rusie gehoor het. Elaine luister vir ’n oomblik of die stort se water nog loop, dan stap sy tot by Shayla se bed. “Is jy oukei, my pop?”
Shayla skud net haar koppie en kyk met groot oë na haar ma. Elaine voel bekommerd aan haar voorkop. Shayla raak elke dag stiller en sy is deesdae altyd koorsig. Sy voel nou weer warm. Wat kan tog fout wees met haar? Sy het so pas vir Ben prober oorreed om vir Shayla dokter toe te vat. Maar hy het haar net weer daarvan beskuldig dat sy nie sorg dat Shayla behoorlik eet nie.
Sy gaan eenvoudig weer moet probeer om met hom te praat. Met ’n swaar gemoed stap sy terug kamer toe. Toe Ben uit die stort kom, kan Elaine sien hy het nog nie afgekoel nie. Maar ter wille van Shayla kan sy nie die saak só los nie.
“Ben, asseblief. Ek was nou weer by haar en sy is regtig koorsig. Sy is siek. Ek moet haar by ’n dokter kry.”
Ben frons gevaarlik. Hy stap na sy klerekas toe en begin aantrek. “Ek het vir jou gesê sy eet nie behoorlik nie. Nou wil jy haar na daardie spreekkamer toe vat wat krioel van mense wat Covid het. Wil jy hê sy moet aansteek?”
“Hierdie is nie ’n geval van wanvoeding nie. Sy is siek! Ek vermoed sy het blaasontsteking. Sy huil as sy moet toilet toe gaan.”
Elaine voel na aan trane. Sy weet sy soek vir moeilikheid, maar sy kan nie toekyk hoe Shayla sieker word nie.
“Jy vat haar nie dokter toe nie! Hoor jy my!” bulder hy en in een tree is hy by haar en gryp haar arm hardhandig vas. “Gee vir haar meer water of bestel medisyne van die apteek af. Hulle kan kom aflewer.” Hy trek haar nader, dan herhaal hy afgemete, “Maar sy gaan nie dokter toe nie.”
Elaine besef sy sal haar taktiek moet verander. Sy skuif haar vrees en haat vir die man voor haar met mening weg en vat sag met haar hand aan sy gesig.
“Asseblief, my lief. Sy kort antibiotika. Dis al wat nou gaan help.”
Toe Ben sy greep op haar arm effens verslap vly sy haarself teen hom aan. “Asseblief ...”
Ben kreun gefrustreerd en stamp haar eenkant toe. “Dink jy vir een oomblik dat jy my kan flous? Nou wil jy skielik liefdevol optree, maar dis net ter wille van jou kosbare dogter. Jy maak my siek!”
Hy stap tot by die kamer se deur, maar draai dan om. “Ek sal vir Markus vra om vir haar ’n voorskrif te skryf vir antibiotika, dan sal ek dit vanmiddag gaan haal. Maar jy vat haar nie uit hierdie huis uit nie. Verstaan ons mekaar?”
Elaine knik net stilweg. Markus is ’n vriend van Ben. Ten minste sal Shayla die medisyne kry wat sy nodig het. Sy hoor hoe Ben se motor aangeskakel word en oomblikke later dreun dit by hulle erf uit. Verlig gaan sit sy op die punt van hulle bed. Hoe lank gaan sy nog só kan lewe?
Daardie aand praat die president weer op die televisie. Hy kondig aan dat die nasionale beperkings vanaf 1 Junie na vlak 3 verlaag.
Vir ses weke gaan dit beter in die Van Staden-huis. Ben gaan werk toe en kom moeg huis toe. Hy lyk steeds gespanne en Elaine vermoed dat die besigheid in groot moeilikheid is, maar sy sê nie ’n woord nie. Sy hou haar afstand en probeer haar bes om uit sy pad te bly. Shayla word beter en gaan terug na haar speelgroepie toe. Sy is steeds baie stil en teruggetrokke, maar ten minste is sy gesond. Elaine vul haar wynvoorraad aan en is dankbaar dat sy nie haar hele versameling opgedrink het nie.
Op 12 Julie kondig die president egter aan dat die nasionale ramptoestand tot 15 Augustus verleng gaan word. ’n Drankverbod word weer onmiddellik in werking gestel. Gelukkig het Elaine daarvoor voorsiening gemaak.
Ben begin weer vroeër huis toe kom. Elaine is nou seker dat daar groot moeilikheid by die werk is, want Ben begin weer meer drink en dit maak hom net nog aggressiewer. Hy laat ook nie meer toe dat sy hom vermy nie. Toe hy egter die derde aand in ’n ry vir Elaine hardhandig op die bed neergooi, kan sy nie anders as om terug te baklei nie.
“Los my!”
Sy skarrel van die bed af, maar hy gryp haar aan haar been en pluk haar terug. Die volgende oomblik tref sy vuis haar vol in die maag. Sy lê doodstil en sukkel om asem te kry. Dit help nie om terug te baklei nie, flits dit deur haar kop. Dink aan Shayla, moenie dat Shayla hoor nie. Sy forseer haarself om stil te lê, om haar lot te aanvaar.
’n Uur later lê Elaine steeds wakker. Sy draai stadig om en kyk op Ben se slapende gesig af. Dankie tog, hy slaap. Sy staan saggies op en stap na Shayla se kamer toe. Haar dogtertjie slaap ook rustig. Dan stap sy kombuis toe en haal ’n bottel wyn uit die yskas. Maar vanaand kan een of twee glasies haar nie kalmeer nie. Sy drink die hele bottel op en strompel terug na haar bed toe. As sy net kon ophou vóél!
Iewers deur die nag word Elaine wakker. Haar kop voel dik en sy kry nie haar oë oop nie. Daar kom kermgeluidjies uit die gang, maar dis asof haar lyf verlam is. Sy sukkel om behoorlik wakker te word. Maar dan registreer sy dat dit Shayla se stemmetjie is wat sy hoor.
Elaine probeer opstaan, maar sy voel so lighoofdig. Sy draai om en val uit die bed uit tot op die grond, dan staan sy stadig op. Die wêreld draai om haar, maar sy kan nou duidelik hoor hoe Shayla huil. Sy stap versigtig by die kamer uit.
Dan is Ben skielik daar in die gang, dit lyk of hy ’n oomblik onkant gevang is deur haar teenwoordigheid. “Ek wou jou nou net kom wakker maak. Jou kind huil. Seker maar weer ’n nagmerrie,” sê hy bot en loop by haar verby in hulle kamer in.
Toe sy by Shayla kom, lê sy wakker. Sy huil saggies.
“Toemaar, my liefie. Hier is Mamma.”
Elaine tel Shayla op en trek haar asem ontsteld in. Shayla se hele bedjie is nat. Sy hou haar vas en vryf haar ruggie totdat sy rustiger is.
“Wat is fout, Shay? Het jy weer ’n nagmerrie gehad?”
Shayla reageer egter nie. Sy lê net slap oor haar ma se skouer. Elaine sug swaar en begin om Shayla droog aan te trek. Sy maak die bed met skoon lakens op en gaan lê met Shayla in haar arms op die enkelbedjie.
Skielik verskyn Ben in die deur. Hy gluur haar aan en Elaine se maag trek op ’n knop, maar dan draai hy om en stap weg. Sy sug verlig en skakel die bedliggie af. Shayla maak deesdae weer haar bedjie nat en sy kry gereeld nagmerries.
Elaine peins bekommerd. Shayla is bewus van die geweld in hulle huis. Al probeer Elaine haar bes om dit stil te hou, kan sy nie help om soms te skree van pyn nie. Ben verhef ook gereeld sy stem wanneer hy haar een of ander belediging toesnou. Dit moet dit wees wat Shayla ontstel.
’n Dag later begin Shayla weer koors kry. Sy huil as sy moet toilet toe gaan en Elaine verbeel haar sy sien ’n bietjie bloed in Shayla se urine. Sy besluit om haar dokter toe te vat sonder om vir Ben te sê. Sy bid net dat Ben nie deur die oggend huis toe kom nie. Hopelik is hulle baie besig by die werk.
Die dokter bevind dat Shayla blaasontsteking het en skryf weer vir haar antibiotika voor. Elaine kontak vir Tanja, die speelgroepiejuffrou en stel haar in kennis dat Shayla siek is en vir die res van die week tuis gaan bly.
Augustus breek aan en Elaine se gemoed lig effens toe sy sien hoe haar roosbome begin blom.
Maandag vat sy weer vir Shayla skool toe. Toe sy by die huis kom en uit haar motor klim, sien sy dat haar clivias se eerste blomme stadig begin oopmaak. Sy besluit om ’n draai deur die tuin te stap.
Die skerp reuk van laventel gemeng met die geur van verbleikblomme vul haar hele tuin. Sy voel weer die skerp pyn in haar binneste. Hierdie was altyd Alex se gunstelingtyd van die jaar. Hulle sou baie kere sommer net in die botaniese tuine gaan stap om te sien hoe die nuwe blomme begin kop uitsteek.
Sy het nie vandag die krag om te onthou nie. Sy draai om en stap vinnig in die huis in. Sy sal net een glasie wyn drink.
Toe Elaine daardie middag vir Shayla gaan haal, wag twee polisiemanne haar by die skool se hekkie in.
“Mevrou Van Staden?’
“Dis reg, ja,” antwoord sy effens onseker.
Terwyl die een polisieman begin verduidelik wat hulle daar maak, begin Elaine se ingewande smelt. Die wêreld begin om haar draai, en asof dit met iemand anders gebeur, sien sy hoe haar liggaam in ’n hopie op die grond val terwyl die geluid van haar onbeheerste gille in haar ore weergalm.