Skip to main content

Uittreksel | Die huis op die hoek

Proloog

Oudtshoorn, 1950. In die geharde Klein-Karoo se vaalte en bossies lê nog duidelike stuiptrekkings van die pasafgelope Tweede Wêreldoorlog. Armoede en hartseer oor gesneuweldes bedwelm die mense se denke. Die swaarkry is nog nie verby nie en die mense bly griewe koester. Die lus vir baklei lê nog in die vlakte van hulle gemoedere. Gevolglik verrys ’n selfgemaakte oorlog soos opslag uit die stof.

Die oorsaak van die probleme het lank voor die Tweede Wêreldoorlog vatplek gekry. Ou letsels het nog nie hulle impak verloor nie: dié van swaarkry wat die Europese Jode saamgebring het, en daarna die ineenstorting van die volstruisveremark. Vir meer as ’n eeu het die Afrikaners griewe teen die Britse bewind in Suid-Afrika gekoester.

Ná dekades van swaarkry het die Jode van Europa, soos die Abrams-familie, op Oudtshoorn ’n toekoms kom soek. Hulle voete is stewig in Oudtshoorn, die sogenaamde Jerusalem van Afrika, se dorheid geplant. Daar was ’n vasberadenheid om hulle swak omstandighede in Europa te verbeter.

Die Jode het dus ’n beduidende bydrae gelewer in die rykdom wat die veremark gebring het. Maar volstruisvere was mode en toe die mode verander, droog die aanvraag na vere op. Gevolglik het die opgejaagde veremarkpryse in 1914 soos lood geval. Die volstruisvere wat in Parys se nagklubs en op die vernames se hoede en skouers gepryk het, is nou net goed vir verestoffers.

Só het die verebaronne van Oudtshoorn met hulle paleishuise bankrotskap sien nader kruip. Die fortuinsoekers is uitgesif. Oornag het die skuld almal begin wurg. Die geldoorvloed en verdraagsaamheid teenoor die sogenaamde inkommers het daarmee ook verdwyn.

Skuld en moeilikheid soek altyd ’n eienaar. Die sondebok is gekry: die Jode met hulle geldvernuf. Selfs Langenhoven het in die jare dertig die armoede aan die Jode se voordeur gespyker. Hitler het ook hierdie standpunt gehandhaaf.

Genadiglik was Jannie Smuts die Jode goedgesind. Hy was ook ’n ondersteuner van die nuwe staat Israel. Dit kon die stygende golf van onverdraagsaamheid nie keer nie, want die Afrikaner koester griewe teen die Engelse.

Hulle glo Smuts het die seuns verlei om vir die Engelse in die Tweede Wêreldoorlog te gaan veg. Dit het daartoe gelei dat baie Afrikanerbloed op Europese grond gevloei het. Gevolglik kon die nuwe politieke party, Malan se Nasionale Party, Jannie Smuts aan sy bokbaard gryp en behoorlik skud. Smuts se party is in 1948 oorwin. Dit het verreikende implikasies vir al die gemeenskappe in Suid-Afrika gehad. Die belangrikste hiervan was die apartheidswette wat gedwonge skeiding in die gemeenskappe gebring het. Oudtshoorn het nie hieraan ontkom nie.


Hoofstuk 1

Leah Abrams staan op die stoep van haar pa se huis in Oudtshoorn. Haar lyf is natgesweet, haar donker oë moeg en sy is honger ná die lang reis. Die bakkie wat haar afgelaai het, verdwyn al hoe verder in George se rigting.

Sy vou haar vingers om die blink koperknop en draai dit stadig. Vermoeid trek en stamp Leah aan die deur, maar dit gee nie mee nie. Sy is in elk geval te fyn gebou om hard aan die deur te stamp.

“Hallo? Haai? Ek is hier!” roep sy sonder oortuiging.

Die stilte aan die ander kant van die deur is dik, sonder enige lewe.

Sy klop, hierdie keer harder. Druk haar oor teen die deur se geruite glas. Dis koel teen haar gesig. Haar blik dwaal na die venster langs die voordeur. ’n Klein skeurtjie. Sy krap in haar handsak en haal ’n naelvyl uit. Haar hand bewe ’n bietjie toe sy dit versigtig in die venster se spleet druk. Lae bloedsuiker? Met druk probeer sy dit verder oopkry. Die metaalnaelvyl buig, haar hoop daarmee saam.

Sy wikkel die vyl stadig los en prop dit in haar handsak. Moedeloos kyk sy rond. Hoe kon hulle dit aan haar doen? Hulle weet sy kom. Sy het Vrydag nog gebel.

Sy kyk na die Brinks se huis en vee haar donkerbruin hare uit haar gesig. Haar tas en drasak bly op die stoep agter – haar voete swaar van verleentheid toe sy daarheen stap. Net toe sy haar hand lig om te klop swaai die deur oop en Lida Brink staan voor haar. Die geure van gebraaide aartappels en skaapvleis vergesel haar nog.

“Haai, Leah, ons het jou nie so vroeg verwag nie. Jammer, jammer. Ek sluit oop.” Lida vroetel in haar voorskoot se sak.

Leah groet en knik net; sy is nie in ’n bui om te gesels nie. “Waar’s my pa-hulle?”

“Die rabbi-hulle het by Daniela se suster Helen gaan kuier. Haar verjaarsdag. Familiekuier.”

“O, ek het nie geweet nie.”

“Ja. Die rabbi het my gevra om oop te sluit. Hy en Daniela kom later.”

“Dankie, Lida. Jammer, ek is moeg.”

“Kom, kom ek stap saam. Hoe gaan dit op Stellenbosch?”

“Oukei. Ek het ’n bietjie tyd afgeknyp want ek bied nie nou lesings aan nie. Die studente berei voor vir eksamen, bloktyd.”

“O, ja. Jy kom mos altyd huis toe vir julle Joodse feestyd.” Lida sluit oop en gee die sleutel vir Leah. “So ja. Daniela het gesê daar’s kos in die yskas.”

“Dankie, Lida. Ek wil eers die stof gaan afwas en uitpak.”

“Eendag bring jy nog ’n kêrel, ’n Joodjie, saam.”

“Nie gou nie.”

“Praat as jy iets nodig het. Welkom by jou huis.”

“Dankie.”

“Oukei. Lekker kuier.”

Dit lyk amper asof Lida vlug, so haastig gee sy pad.

Voor Lida by die straat kom, maak Leah alreeds die deur toe.

Is dit hoe dit nou gaan wees? Haar ma sou haar nooit só ontvang het nie. Lida se woorde dwaal in haar kop. Haar huis? Miskien vroeër, maar nie nou meer nie. Lekker kuier? Sy dink nie so nie. Nie as dit só begin nie. Buitendien, sy is ook hier oor ander redes.

Sy pak haar klere uit, was en drentel kombuis toe. In die yskas gryp sy ’n toebroodjie met omgekrulde ore en wurg dit met water af.

Later op haar bed probeer sy slaap, maar haar oë bly wyd oop. Slaap werk nie nou nie, want sy is nog te vies om te ontspan. Sy voel soos ’n lokomotief wat eers stoom moet afblaas.

Haar gewete bly by haar, want sy weet sy moet haar pa vertel. As haar pa by iemand anders hoor ... Sy wil nie haar gedagtes verdere moontlikhede toelaat nie en staan op.

Daar is nie ’n ander uitweg nie. Sy gaan self haar pa vertel, in sy oë kyk. In beheer bly. Want om beheer oor ’n situasie te verloor, is soos om vere in die wind te strooi.

Sy borsel haar byna swart hare met die versilwerde borsel – Ouma se geskenk aan haar toe sy graad gekry het. ’n Paar fyn, statiese haartjies spring halsstarrig op. Donsigheid teen die lig, soos ’n stralekrans.

Oomblikke lank staar sy na haar beeld in die spieël: Fyn, skerp gelaatstrekke. ’n Donker Spaanse gelaat met oë net soos haar pa s’n.

As kind was haar pa haar trek- en sleeptou, haar magneet. Pa se dogter. Sy oogappel. Selfs nou nog bly hy haar veilige vashouplek. Uit haar lewe van troebel water weet sy water is nie ’n vashouplek nie. Sy moet na ’n hand kan gryp, haar pa se hand met die opgehewe padkaartare. Sy wil haar nie van hom losmaak nie, want dan sal sy sink en verdrink.

Maar sy voel ’n afstand tussen haar en haar pa. Vanoggend se toe deur bevestig dit. Het hy nog verder van haar af weggedryf of was dit sy wat van hom af gedryf het?

As volwasse vrou het sy die laaste keer wat sy hier was ’n moedelose gelatenheid in haar pa gesien. Hy lyk afgestomp, sonder vonk en trekkrag. Soos ’n gevangene in sy eie doolhof.

Haar maag trek op ’n knop. Sy sluk aan die knop in haar keel. Buite soek sy vars lug vir haar beklemming. Bekyk haar pa se huis asof sy dit die eerste keer sien.

Die huis het stewige sandsteenmure. Amper ’n anker van stabiliteit. Tog help die dik mure ook om hierdie somerhitte uit te hou. Die houtvensters skilfer al weer af en lê jare gelede se vaal kleure bloot. Ook die sinkdak is al verbleik van die genadelose son. Amper onversorg en moedeloos, soos mense soms raak.

Hierdie huis is op die hoek van twee strate. Destyds het die munisipaliteit vir haar pa laat weet hy kan kies in watter straat hy wil bly. ’n Mens het tog ’n keuse. Hy het sy adres gekies, maar hierdie huis is meer as ’n adres. Dis hulle skuiling en hul leefwêreld. Waar pas sý in?

Sy stap na die stoep en kyk terug na die straat. Hoekom is haar pa-hulle nog nie terug nie?