Skip to main content

Uittreksel | Die hart het geheime

Een

Claire se hart klop onbedaarlik in haar keel. Sy is nou meer senuagtig as wat sy was voordat sy ’n groot eksamen moes skryf.

Vir eksamens was sy darem altyd goed voorbereid. Sy het geweet sy is ver van druip af omdat sy nog altyd vir ’n onderskeiding gewerk het. Vir hierdie onderhoud met ’n vreemde man wat haar lewe ingrypend kan verander, kon sy egter nie voorberei nie. Al wat sy kon doen, is netjies aantrek, hare was, en sorg dat sy so goed lyk soos wat sy kan. Sy sal haar graadsertifikaat met BA cum laude vir hom wys. Hy sal seker dink sy is ’n nerd, maar sy kan hom darem vertel dat sy goed was in sport ook, en nie slegs ’n boekwurm is nie.

Miskien soek hy juis ’n nerd?

Sy het, nadat sy die advertensie gesien het, vir Adrian Lawrence wat ’n au pair soek gegoogle, en gesien hy is die eienaar van ’n tegnomaatskappy met die naam Omnia Enterprises. Hy is seker ’n wewenaar of ’n geskeide man, daarom soek hy ’n au pair vir sy dogter. Op die foto het hy nogal indrukwekkend gelyk. Aantreklik op so ’n sterk-kakebeen-streng-mond-manier. Nie ouer as veertig nie.

Toe doen sy onmiddellik aansoek, en sowaar, hy nooi haar vir ’n onderhoud.

Sy draai links op die pad wat inloop na die restourant van die Berry Farm. Haar tien jaar oue Datsun Go, wat reeds nege en negentig duisend kilometer op die odometer het, is nie outomaties of besonder sterk nie en sy moet ratte wissel teen die steilte. Dis al wiele wat haar enkelouerma, ’n laerskoolonderwyseres, kon bekostig. Sy self ry ’n redelik bejaarde Volkswagen Polo.

Dit is Desember, vakansiemaand, en die parkeerterrein is redelik vol. Watter van hierdie motors behoort aan Adrian Lawrence? Almal is nuwer modelle as haar ou Datsun. Sy trek langs ’n splinternuwe, silwer Porsche Cayenne in. Haar geliefde ou karretjie steek sleg af teen dié silwerskoon vuurwa.

Volgens Google woon Adrian Lawrence ’n ent verder op die Banhoekpad, op ’n landgoed teen die berg. Van die pad af sien ’n mens nie die huis nie, maar die hek en geplaveide inrit is indrukwekkend. Op die hekpilaar is die naam Eden, wat dit soos ’n paradys laat klink.

Waarom het hy haar nie soontoe genooi vir die onderhoud nie? Waarom liewer hier by die restourant van die Berry Farm ontmoet? Dis seker vir hom neutrale grond. Ongetwyfeld is daar meer as een aansoek vir die pos wat hy adverteer en hy ontmoet seker almal hier. Dalk wil hy nie hê die kind, wat die rede vir dié pos is, moet die aansoekers sien nie.

Sy is spyt dat sy nie die meisie te siene sal kry om ’n mening oor haar te vorm voordat sy haar in die au pairskap begewe nie. Mits sy natuurlik in aanmerking kom vir die pos.

Claire loop met ’n woes kloppende hart na die restourant. Sy het die vorige nag min geslaap van skone spanning. By die ontvangs sê sy vir die jong man aan diens dat sy ’n afspraak met meneer Adrian Lawrence het.

“O ja, meneer Lawrence sit buite. Dis mos ’n lekker dag. Kom saam met my, Juffrou.”

Die plek is vol, binne en buite, en nogal rumoerig. By een van die verste tafels, met ’n uitsig oor die Banhoekvallei en die hoë, blou berge van Drakenstein, sit ’n man wat haar en die kelner dophou terwyl hulle deur die tafels vleg. Claire voel selfbewus en haar hart klop oneweredig, maar sy lig haar ken en doen haarself vol selfvertroue voor.

Sy hoor hoe die kelner haar aankondig, maar dit voel meteens asof haar ore toeslaan. Heeltemal oorstelp kyk sy na die lang man wat uit die gegote ysterstoel opstaan en haar krities beskou met die opvallendste paar turkoois oë in ’n bruin gebrande, hoekige gesig. In lewende lywe is hy aantrekliker as op die googlefoto. Sy is seker sy het nog nooit voorheen ’n man met sulke mooi oë gesien nie. Hy is lenig en breed geskouer, en dra ’n denim en ’n wit oopnekhemp. Sy hare is donkerbruin en word grys langs die slape. Hy lyk eintlik te jonk vir grys hare.

Die streng dog mooi mond glimlag net effens, terwyl die verstommende oë kil bly.

Sy verduur dit dat hy haar op en af kyk voordat hy ’n groot hand uitsteek wat hare omvou en ’n skok dwarsdeur haar stuur. Nog nooit het sy gevoel dat haar knieë van ’n man se aanraking lam word nie. Dis mos iets wat eintlik net in soetsappige stories gebeur. Nou gebeur dit sowaar met háár.

“So, jy is Claire Odendaal,” sê hy in ’n diep stem. “Ek is Adrian Lawrence. Bly te kenne.”

“Bly te kenne,” kry sy asemrig uit en hoop sy bloos nie.

Dié man is so oorweldigend, sy is amper bang vir hom.

Hy beduie na die stoel oorkant hom. “Sit, asseblief.”

Daar is reeds twee spyskaarte op die tafel en hy maak syne oop. “Sal ons eers besluit wat om te eet en drink, en bestel voor ons gesels?”

“Ja, dankie.”

Sy weet nie hoe sy gaan eet en drink terwyl daardie skerp oë haar dophou nie, maar sy kyk gemaak kalm na die spyskaart. “Hulle maak heerlike skons met Devonshire clotted cream en verskillende konfyte. Ek en my ma kom graag hier skons eet. Ek sal dit kry, dankie. En ’n cappuccino.”

“H’m, dit klink goed. Skons sal vir my ook werk.”

Hy wink die kelner nader en bestel namens hulle albei. Toe sit hy terug en beskou haar noukeurig. Sy voel soos ’n bok wat verskrik voor die kopligte van ’n motor gevries het. “Jy het pas jou BA met hoofvakke sielkunde en Engels by Stellenbosch Universiteit behaal. Nou wil jy as ’n au pair werk. Vertel my waarom?”

Claire moet eers haar keel skraap. “Eintlik wil ek ’n sielkundige word, maar daarvoor moet ek ’n honneurs- en ’n magistergraad behaal. Om verder te studeer, sal baie geld kos en beurse is nie geredelik beskikbaar nie. My ma, wat ’n onderwyseres by Laerskool Stellenbosch is, het my studies betaal en dit het haar baie geld gekos. Ek het vakansies gewaitress vir sakgeld. Nou moet ek self ’n salaris verdien; ek kan eenvoudig nie verwag dat my ma verder vir studies moet betaal en my onderhou nie. Sy het ook vir my ’n tweedehandse motor gekoop.”

Sy blik wyk nie ’n aks nie en Claire se hart klop nie normaal nie.

“Ek neem aan jy woon nog by haar?” vra hy.

“Ja, ons het ’n wooneenheid hier oorkant in Kylemore, in die Capolavoro Mountain Estate. Dis lekker naby aan waar u woon.”

“Ja, dis naby, maar ek wil natuurlik hê die au pair moet by ons inwoon.”

“Ek sal dit kan doen.”

“Jy is vlak in die twintig . . .”

“Een en twintig.”

Hy frons, met een lang vinger op die sterk ken met ’n effense keep in die middel. “Het jy ’n pa?”

Wat het dit met hom te doen? Maar bedaard antwoord sy: “Nee. Hy het my ma verlaat net nadat ek gebore is. Sy het my as enkelouer grootgemaak.”

Die frons bly tussen sy swart wenkbroue sit.

“Weet jy enigiets van jou pa af?”

Dit is ’n teer punt in haar lewe en sy word kwaad as iemand vis waar hulle nie veronderstel is om te vis nie. Sy frons vir hom. “Nee, ons weet nie waar hy is of wat van hom geword het nie. Ons het heeltemal goed sonder ’n man in die huis klaargekom.”

Haar ma het haar nog altyd vertel dat hulle nie ’n man in die huis nodig het nie. Hulle kan op hul eie voete staan en hul eie brood verdien. Dat ’n man sy vrou en kind sommer net so kan los en nooit weer enige verantwoordelikheid aanvaar nie, het Claire versigtig en eintlik negatief teenoor mans gemaak. Haar ma se waarskuwings het nie op dowe ore geval nie.

Pasop vir mans, veral die gladdebeksoort, het haar ma haar sedert haar tienerjare gewaarsku. Jy is besig om baie mooi te word en mans gaan jou teiken. Sy hét nog altyd baie aandag getrek, maar dit was meesal ongewens. Uit skone versigtigheid het sy haar eerder by haar studies bepaal. Nooit saam met vriende in die dorp se kuierplekke gaan uithang nie en beslis nooit op ’n blind date gegaan nie, al het sy dikwels die geleentheid gehad. Haar vriendskappe met mans het sy platonies probeer hou. Verlief raak en romanse het sy probeer vermy.

“Jy’s die mooiste nerd wat ek ken,” terg haar vriend Pierre altyd. “Kry tog ’n lewe.”

Pierre, wat aktuarieel geswot het, is die een wat vasgebyt het en haar nog nooit uitgelos het nie, al het sy hom goed laat verstaan dat sy eintlik nie in ’n vaste verhouding belangstel nie.

Die groot man oorkant haar onderbreek haar gedagtegang. “Ek is ook ’n enkelouer en my dogter Lily, wat nou elf jaar oud is, is nogal ’n handvol. Haar ma is verlede jaar dood, en ek het agtergekom Lily het ’n vrou se aandag nodig. Aangesien ek nie van plan is om sommer weer te trou nie, moet ’n au pair help. Ek moet dikwels weggaan vir besigheid en kan Lily nie slegs aan die huishoudster oorlaat nie. Lily was in Bridge House School op die pad na Franschhoek, en sy was daar in die koshuis, maar nadat haar ma dood is . . . wel, dinge het gebeur wat my verplig het om haar daar uit te haal.”

Hy kug, en Claire wonder of die kind haar ma mis en dat dit probleme veroorsaak het. Het sy haar dalk wangedra? Iets is nie pluis nie.

“Lily gaan begin volgende jaar na Rhenish Primary School,” sê hy. “Die au pair sal haar moet aanry skool en naskoolse aktiwiteite toe, kyk dat sy leer en huiswerk doen, aan sport deelneem, en so aan. Sy is baie kunstig en sal waarskynlik ekstra kunsklasse ook wil neem.”

“Daarvoor is ek heeltemal bereid . . .” Sy sluk haar woorde. Klink dit nie oorywerig nie? Sy het darem sielkunde geswot en sal haar nie deur een moeilike kind aan die neus laat lei nie. Sy sal dié Lily se vertroue wen.

“Ek voorsien ’n motor aan die au pair, nuut en betroubaar sodat dit veilig is. Daar is ’n gerieflike suite in die huis vir inwoon. Ons het goeie sekuriteit aangesien dit nogal afgesonderd is. Die huishoudster wat al by ons is sedert Lily se geboorte, woon ook in. Die huis is groot, maar dit was ook my en my twee broers se gesinshuis.”

Die kelner bring die skons en cappuccino’s. Hulle sny en smeer hul skons. Claire loer diskreet na Adrian Lawrence. Hy het groot hande wat netjies raakvat. Natuurlik geen trouring aan die lang bruin gebrande vinger nie. Sy polshorlosie lyk groot en duur, sy hemp is van Pringle en sy denim lyk beslis nie goedkoop of sommer ‘off te peg’ van Woolworths nie. Hy het ’n patina van welvarendheid, loop oor van selfvertroue en skep nogal ’n enigmatiese indruk, maar is kil en afstandelik.

Maar sjoe, is hy viriel! Dit gee haar skoon die bewerasie. Sy het nog nooit ’n man ontmoet wat haar mond droog maak en haar verstand verlam nie, maar dié een het so ’n effek op haar.

Hy betrap haar dat sy hom bestudeer en grinnik skielik. Sy kyk vinnig af na haar bord, hoogs verleë. Haar wange brand en sy weet sommer dis nou bloedrooi.

“Die feit dat jy ’n sielkundige wil word, is seker ’n aanbeveling,” hoor sy en kyk op. Hy lyk sowaar leedvermakerig. Asof hy haar uitdaag.

“Hopelik,” sê sy koel, maar haar hart bons ongemaklik hard.

“As jy jou studies onderbreek deur te werk, sal jy die drade weer maklik kan optel?”

Sy kyk onthuts na hom. “Ek sal heeltyd op hoogte bly met my vakgebied en ek dink nie ek sal my vermoë om te studeer verloor nie.”

Gaan sy die werk kry? Keur hy haar goed? Hy het gesê die salaris is kompeterend, maar hoeveel is dit in werklikheid?

“Jy wonder seker wat ek bereid sal wees om vir ’n au pair te betaal?” Dit kom effe spottend uit, asof hy haar gedagtes lees, maar sy hou haar gesig uitdrukkingloos en sê niks.

“Ek sal dit slegs openbaar aan die persoon wat ek aanstel.” Hy kyk af, drink sy cappuccino klaar, en vee sy mond met die servet af.

So voel dit om op hete kole te sit, dink sy wrang. Dié man hang ’n wortel voor ’n donkie en verwag die arme verleë dier moet draf. En sy is regtig verleë oor dié werk.

Sy haal haar graadsertifikaat uit haar handsak en wys dit vir hom. “Al werksondervinding wat ek het, is waitressing tydens my studies. Daar het ek nogal baie oor menslike gedrag geleer. Verder het ek net my graad wat bewys ek het geswot.”

“Jy het met onderskeiding geslaag.” Hy kyk met ’n effense glimlag na haar. “Duidelik is jy nie lui nie. Jy’t gewerk aan jou studies en om sakgeld te verdien. Dit tel ook in jou guns.”

Hy gaan haar aanstel! Sy wil net bly word toe hy weer praat.

“Ek moet nog met twee ander meisies onderhoude voer. Ek het jou e-posadres en sal jou laat weet of jou aansoek geslaag het. Dankie dat jy vir ’n onderhoud gekom het.”

Hy wink die kelner nader. “Bring vir my die rekening, asseblief.”

Soos ’n afgeblaasde ballon sit sy daar. Probeer om nie te wys dat sy afgehaal is nie.

Nadat hy betaal het, loop hulle saam na die parkeerterrein. Sy is erg bewus van die lang, macho man wat ’n kop bokant haar uittroon. Hy versteur haar ewewig heeltemal.

“Dankie, weer eens, en totsiens, juffrou Odendaal,” sê hy, en klim sowaar in die blink Porsche Cayenne.

Sy klim in haar motor en wag dat hy wegry. Hoe lank sal sy moet wag totdat sy weer van hom hoor? Hy het wel positiewe geluide gemaak, maar sy twyfel of sy die werk gekry het. Dit sou perfek gewees het. Wel, in baie opsigte, behalwe dat die Lily-kind waarskynlik ’n handvol gaan wees. Met ’n swaar gemoed ry sy huis toe.

Haar ma wag haar nuuskierig in. “En toe? Hoe het dit gegaan? Watse soort man is hy?”

Claire sug. “Welvarend en aantreklik, maar nie oorvriendelik nie. Eintlik nogal misterieus, en hy skep die indruk dat daar bagasie in sy agtergrond is. Hy’s ’n wewenaar, sy vrou is laas jaar dood.”

“’n Wewenaar! My lief, jy moet versigtig wees. Ek wil nie hê jy moet in die kloue van ’n man beland wat met jou sal lol nie.”

“Mamma! Hy skep glad nie die indruk van ’n man wat met my sal wil lol nie. Hy was saaklik en amper te formeel. Ander meisies kom ook vir onderhoude en my aansoek word dalk nie eens gunstig oorweeg nie. Hou maar vir my duim vas. Terloops, hy wil hê die au pair moet inwoon, en sy kry ’n nuwe motor om die kind mee rond te ry. Sy dogter klink nogal na ’n probleemkind. Ek vermoed sy is uit Bridge House School geskors.”

“Genade. Maar ek is oortuig jy kan so ’n kind sommer gou op die regte pad kry. Dié Lawrence’e woon mos net hier anderkant, naby aan ons huis. Dis nie ’n probleem as jy daar moet gaan inwoon nie.”

Claire sug. “Ons moet nog sien of my aansoek slaag.”


Claire wag in spanning. Eers drie dae voor Kersfees ontvang sy ’n e-pos van Adrian Lawrence.

Sy jil van blydskap toe sy dit lees. Haar ma kom by haar kamer ingestorm.

“Mamma, ek het die pos gekry! En die salaris is fantasties. Ek het sowaar nie naastenby soveel verwag nie.”

“Wonderlik! Wanneer moet jy daar begin?”

“Op die vyfde Januarie. Kom kyk na die e-pos.”

“Dankie tog.” Haar ma kom lees die e-posboodskap oor haar skouer. “Wow! Dis ’n yslike salaris. Ek het nie geweet ’n au pair kan soveel verdien nie. Miskien moet ek my beroep verander.”

Sy soen vir Claire op die wang. “Geluk, my lief. Met so ’n vet salaris, sal jy lekker kan spaar.” Maar toe frons sy. “Pasop tog vir daardie man. As iets verdag lyk, of hy probeer iets met jou, bedank dadelik.”

Claire onderdruk ’n ergerlike sug. “Mamma moet nou regtig ophou om oorbeskermend te wees. Ek is ’n volwassene.”

“Ek het ook gedink ek is volwasse genoeg om jou pa te hanteer.”

Miskien is dit nou hoog tyd dat sy wegkom, dink Claire. Sy wil nie glo haar ma se sorgsaamheid is versmorend nie, net liefdevol. Maar dis tyd om uit dié knus nes te vlieg en die buitewêreld aan te durf.