Uittreksel | Die grootste hiervan is die liefde
Deel 1
1
1966
In sy kamer kniel Andreas op die springbokvelmatjie voor sy bed. “Here, my Here, u liefde ken geen perke nie, u genade geen grense. U ken my. U weet waar ek vandaan kom en waarheen ek op pad is. U verstaan die stryd om oorlewing, U sorg. Maar Here, waarom is daar dikwels te min vir hulle wat arm en ellendig gebore is, of lyk dit net so omdat ek nie ver genoeg kan sien nie? Gryp asseblief in, veral by die Pieterses wat die afgelope vyf jaar van my afhanklik was en wat ek môre hier moet agterlaat.
“Vergewe my, maar ek weet waaragtig nie wat van hulle gaan word as niemand hulle in diens neem nie. Patsy is reg, die pensioen wat die kerk inbetaal het, is te min vir een persoon en hulle is ’n gesin van nege. As dit al is wat vir hulle oorbly, neem dit in u hande, vermeerder dit soos U die brood by die See van Galilea vermeerder het, laat u oorvloed soos die olie in die kruik van die weduwee van Sarfat nooit opdroog nie. Ek smeek U dit saam met die vergifnis van my sondes, in Jesus Naam, amen.”
Amen, maar hy bly op sy knieë, oë gesluit, hande gevou, die stilte ’n borrel wat hy nie durf breek nie. Hy dink en hy dink aan die afgeronde aanhef waarmee hy sy gebed geopen het en sy emosies wat oorgeneem het en hy nie kon keer nie. Het hy te ver gegaan, verwyt, te veel gevra in sy gedagtes meer as met woorde? Andreas sidder by die wete, maar dis onmoontlik om aan niks te dink nie. Hy sien homself vir die soveelste keer, gestroop van selfvoldaanheid, en skuldig.
“Goeie Vader, kon ek dit anders aangepak het, die preke en aalmoese wat ek uitgedeel het, die verantwoordelikhede?” Kla hy, kerm hy? Ja, en hy soek al weer absolusie. Sy mond is droog, sy stem krap. “Here, ek het die vrou wat U my gegee het tot sterwens toe lief, ons kinders en kleinkinders, ons goeie vriende en kollegas. Ek gee om vir my naaste, die armes en agtergeblewenes, my skapies van gister en vandag. Ek sorg, ek help, gee raad. In die proses het ek foute begaan wat ek nie meer kan regstel nie. Kon ek dit anders benader het, my liefde vir hulle, my medelye? O, Heer, U vergewe. U vergeet, ek nie.”
Vermorste tyd, versuimde afsprake, kortaf woorde, oormoedige besluite, onregverdigheid, oorhaastigheid, halsstarrigheid, voortvarendheid en vele meer.
Dit kom so vinnig op hom afgestorm, hy kan hom nie verdedig of regverdig nie. Oorgee, dis al.
“Doen slegs u wil Heer, u wil met my ...”
Hy is moeg – te moeg om op te staan, maar sy knieë pyn, oumensknieë wat nie langer as uiters tien minute op ’n velmatjie behoort te kniel nie. Dronkerig sukkel hy orent, staan dan gebukkend en vryf sy kniekoppe tot hy die moed het om op die bed te klim, te lê en hom uit te strek, onwillekeurig op te kyk.
“Toets en deursoek my, al moet ek ly ...”
Die plafon is vaalgrys, dis vuil en kort verf, maar dis nie meer sy verantwoordelikheid nie.
Maandag sal Pieter oorvat. Hy is hardwerkend en het ’n aanleg vir besigheid, ’n boer wat ’n sukses van sy boerdery maak, soos sy oorlede pa, een van die hoekstene van die gemeenskap. Dis hoekom Andreas voorgestel het dat juis hy die pastorie koop en in stand hou tot die gemeente weer in staat is om ’n predikant te beroep. Pieter het ingestem en die kerkraad het sy aanbod met albei hande aangegryp. Dit is een van die sake wat hulle nog kon afhandel voor hy weggaan. Oor die pastorie het hy nou vrede, nie oor die toekoms van hul sierlike kerkgebou nie. Hy het alles gedoen wat hy kon, namens die gemeente met die sinode onderhandel, lank met Pieter en ander bittereinders vergader, hulle dit op die hart gedruk om, al verhuur hulle aan die Katolieke, die gebou in stand te hou. Die platteland ontvolk, dorpe kwyn en die kerk ontgeld dit. Tog het welvarende boere soos Pieter en sy broer Tienie rede om hul grond te bly bewerk. Dit is hul erfenis met bloedsweet gekoop.
Die twee het ’n maatskappy gestig en boer vooruitstrewend op die skemagrond wat hul voorgangers ná die 1933-depressie as armoedeverligting van die regering ontvang het. Vyftig hektaar, waarvan tien ontbos is, plus ’n tweeslaapkamerwoonhuis, sinkbuitegeboue, ’n span donkies, twee melkkoeie, ’n wa, ’n ploeg, saad en kunsmis. Dit het bloedsweet gekos, maar hulle het nie net die grond mak gemaak nie. Ná jare van misoeste het hulle koring, lusern en grondboontjies suksesvol verbou. Pieter en Tienie se pa kon op die baanbrekers se swaarkry voortbou, sy grondgebied soos Jabes s’n vergroot, nuwe metodes toepas en as suksesvolle landbouer die leiding neem op vele gebiede – ’n waaghals en werkesel tot sy dood twintig jaar gelede. Is dit al so lank, soveel jaar? Met sy dood was hy ’n man van aansien, die brandarm bywonerseun wat hier op die skema vir hom ’n lewe kom maak het, sy droom verwesenlik en dieselfde soort wilskrag aan sy seuns oorgedra het. Hy het diep spore getrap, ook in Andreas se lewe, dít nadat hulle kontak verloor het en Andreas seker tien jaar lank nie eens aan hom gedink het nie. Toe kom kry hy hom op Sondag 30 Januarie 1966 in die kerkraad van sy eerste gemeente. Pietman van Staden.
Die datum is maklik om te onthou, die gewaarwordinge van die dag ’n warboel van gemengde gevoelens. Praat nie van die Saterdag wat daardie Sondag voorafgegaan het nie.
Hulle reis in twee karre, hy in sy Volksie, die kattebak en agtersitplekke volgepak met klere en ander besittings wat nie soos sy meubels en boeke met die vervoerwa gestuur is nie. Sy ouers en tannie Marianna ry in pa Faan se Ford, saam met hul tasse ook geskenke wat Andreas op sy afskeidspartytjie gekry het, met liefde ook van Hetta en die Faures.
Die Ford neem die voortou. Die Volksie kom agterna en presteer uitstekend. Ma Louisa was bekommerd oor hom so alleen op die langpad en tannie Marianna het aangebied om sy passasier te wees, maar hy het nie kans gesien vir geselskap nie en het die sitplek langs hom ook toegepak. Om wakker te bly suig hy lekkers, luister radio en bekommer hom oor die werk wat op hom wag. Hy het geloof en ken sy vak, maar wanneer hy daaraan dink dat hy op pad is om die verantwoordelikheid te neem vir die sieleheil van ’n hele gemeenskap, almal God se skepsels, is hy vreesbevange.
Dominee Joshua het hom gewaarsku dat hulle plattelanders is en anders dink as stedelinge. Pa Faan het toegegee dat dorpenaars konserwatief is oor die algemeen. Sommige woon hul lewe lank in hul geboortedorp, sterf en word daar begrawe sonder om ooit die res van die wêreld te sien. Almal ken mekaar, familievetes word van geslag tot geslag oorgedra en selde opgelos. Hoewel, hy het dit in sy stadsgemeente ook so ervaar. Beste is om versigtig te trap en nie kant te kies nie.
Eerste indrukke is misleidend, ontdek Andreas by hul aankoms op die dorp. Dominee Van Gelder en die kerkraad is gaaf en behulpsaam, maar nie heeltemal so eerlik nie. Hy begin sy bediening op sy senuwees.
Miskien sou hy beter gevaar het as hulle ’n week vroeër by sy pastorie opgedaag het, eers daar en later by die kerk. Dalk sou dit gemakliker gewees het Sondag op die preekstoel as hy Pietman verwag het, nie die hele kerkraad ’n uur voor sy legitimasie ontmoet het nie, dae vantevore met sommige van die gemeentelede en dorpenaars op straat kon gesels het en Estie vir die eerste keer van ver af gesien het. Maar pa Faan het ’n doktersafspraak gehad wat onmoontlik was om te skuif, en Andreas wou nie sonder sy ouers en tannie Marianna opdaag nie. Hulle het saam besluit om Vrydagnag van Observatory af deur te ry, in Kimberley te oornag en die laaste tagtig kilometer Saterdagoggend teen teetyd aan te pak.
’n Verwelkomingskomitee, saamgestel uit prominente kerkraadslede onder leiding van Andreas se voorganger, dominee Joop van Gelder, ontmoet hulle by die ingang van die dorp. Hulle word oor en weer voorgestel en na die kerkterrein begelei, waar verversings in die saal voorgesit word deur ’n groepie gawe vroue wat bekend staan as ta’ Letta-hulle.
Meesal mollig, besluit Andreas, terwyl hy sy beste glimlag opsit. Die eetgoed is oordadig, hoewel so smaaklik selfs tannie Marianna deel komplimente uit. Hy volg haar voorbeeld en word beloon met ’n koekblik vol wegneemhappies wat hy op die teetafel vergeet. Dominee en mevrou Van Gelder en hoofouderling Freek Meyer neem hulle op ’n toer deur die kerk. Die statige gebou is vir die eerste keer vandat dit dertig jaar gelede in gebruik geneem is van binne en buite nuut geverf, ook die kloktoring, waar duiwe glo nes gemaak het. Die plankvloere is geskuur en vernis, nuwe matte is gelê, stukkende ruite met gekleurde glas vervang en al die ou buisligte met nuwes.
“Ons kansellap,” verduidelik mevrou Van Gelder, “is ’n geskenk geskep deur twee van ons gemeentelede, uiters talentvol. Pieter het ontwerp en Miemie het die borduurwerk gedoen.”
“Pragtige kleure, die skakerings van blou!” roep ma Louisa uit.
“Vrede vir julle,” lees tannie Marianna. “Mooi is die duif en die olyftakkie.”
Andreas weet nie veel van naaldwerk nie, maar kuns kan hy waardeer. Die lap is werklik iets besonders. So groet Jesus sy kerk elke Sondag en in die besonder hierdie gemeente.
“Dominee het seker al oor die teks gepreek?”
“Met die herinwyding, ja,” antwoord dominee Van Gelder.
“Nie dat dit die heethoofde kalmeer nie,” sug Mevrou, terwyl hoofouderling Meyer toegee dat die koste verbonde aan die kerk se restourasie te hoog was, maar die laaste sent in die boeke opgeteken is, alles danksy Dominee en Mevrou wat bereid was om die herstelwerk aan die pastorie vir eers agterweë te laat.
Die dominee glimlag beskeie. “Ons had geen keuse nie. Soms het ek en die seuns maar self ingespring, geverf en so aan. Die elektriese bedrading, waterpype en rioolstelsel is wel drie maande gelede saam met die kerk s’n opgegradeer. Die huis is oud, amper honderd, maar imposant.”
“Honderd jaar?” vra pa Faan verstom.
“Nou nie heeltemal nie, so tagtig. Dit was een van die dorpshuise van die groenteboere wat Kimberley tydens die diamantstormloop van vars groente en vrugte voorsien het. So, dis van geskiedkundige waarde.”
Oom Freek oorhandig die sleutels en groet met die versekering dat die krag en water aangeskakel is en die buurvrou hulle van ’n ligte middagete sal voorsien.
Die koekblik vol happies wag vir Andreas op die Volksie se dak. Gelukkig het hy dit raakgesien voordat hy inklim en wegry.
Die dorp en omgewing, die boomryke straat langs die rivier, karaktervolle huise en gevestigde tuine steel sy hart, maar die verwaarloosde Victoriaanse nagmerrie met die skewe naambord “Pastorie” aan die tuinhekkie vasgeskroef, is ’n gruwelike teleurstelling. Die datum op die gewel sê 1880. As dit waar is, is die huis ses-en-tagtig jaar oud en volgens alle aanduidings nog nooit van vloer tot dak gerestoureer nie.
Dit lyk of daar ’n poging aangewend is om van die bome en struike in die tuin te snoei, die grond skoon te hark en die dahlias teen die voorstoep aan die blom te hou. Die tuinpaadjie is nuut geplavei, die voordeur blouselblou. Op pad soontoe wonder Andreas oor die voorkant van die huis wat geverf is, terwyl die res sleg daarteen afsteek. Wat binne aangaan, is ’n raaisel, tot hy die deur met pa Faan se hulp oopgesluit kry en byna oorweldig word deur die muwwe reuk van ou hout gemeng met politoer en ander skoonmaakmiddels.
“Iemand het moeite gedoen,” sê tannie Marianna, maar sy klink sarkasties.
Die portaal is koel en skemeragtig. Lig val uit oop deure links en regs en sif van die boonste verdieping af ondertoe. Die trap se ornate reling trek Andreas se aandag, maar sy moed sak in sy skoene toe hy dit van nader bekyk en sien hoe sleg dit herstel is.
“Kasplankies,” gee pa Faan sy mening.
Intussen loop ma Louisa en tannie Marianna van kamer tot kamer en kritiseer so ver soos hulle gaan. Andreas maak of hy nie omgee nie, maar hy is teleurgesteld. Is dit die vierslaapkamerhuis met die studeerkamer, twee sitkamers, eetkamer, onthaalsaal, ruim kombuis en spens op die grondvloer, die vier slaapkamers bo met ongelukkig net een badkamer, wat die kerkraad hom in sy aanstellingsbrief belowe het? Sy meubels en ander besittings wat vooruit gestuur is, lyk soos die vergete oorblyfsels van ’n rooftog. Hy is omgekrap en vergelyk sy pastorie met die een waarin hy grootgeword het.
“Ons huis was ook oud, maar is uitstekend in stand gehou,” sê hy vir sy pa, wat in die ruim studeerkamer staan en opkyk na die stukkende dakligte. Die vertrek ruik na ou pypolie en muisneste. “Besef hulle nie dat hulle my mislei het nie?”
Pa Faan, wat ondervinding het van kerkrade en goedbedoelde besnoeiings, sit sy hand op sy skouer en vermaan hom goedig om sy kaarte reg te speel. “Wag jou kans af en wys hulle daarop dat dit tot voordeel van die gemeente sal wees om die huis te verruil vir een in die nuwe uitbreiding naby die kerk. Ou huise soos hierdie vreet geld, vra my. Wees geduldig, gaan eers die boeke na, lees die kerkraadsvergaderings se notules en moenie oorhaastig wees nie. Volgens wat ek waarneem, het die eiendomskommissie die kerk as voorkeurprojek beskou, maar die huis is op hulle lys.”
“Vanselfsprekend, Pa, dit is hulle huis en die verblyf daarin deel van my salaris.”
“Daar is nog iets wat my opgeval het.”
Andreas mik vensters toe om te gaan oopmaak.
“Die gemeente is in ’n proses van hernuwing en geestelike herlewing. Jy is jonk en sterk. Werk hard, werk saam en jy sal jou verheug oor die resultate.”
“Ja, Pa, sodra ek my studeerkamer reggepak het.” Hy klink kortaf en het dit nie so bedoel nie, maar hy voel vasgekeer.
“Reg so, begin by die boeke. Kry jou gereedskap in orde.” Pa Faan haal een uit en klap op die omslag. Stof dwarrel in alle rigtings en Andreas stoot die vensters wyer oop.
“Kan jy nou meer,” sê sy pa. “Een beker zonder oor van George Murray, ’n jonger broer van Andrew Murray. Afrikana en dit staan hier en stof trek. Andreas, jy’s nou wel haastig om op te ruim, maar belowe my jy sal nie net afpak en weggooi nie. Werk met oorleg, maak ’n lys van die titels. Ek sal jou help om te besluit. Dié een het waterskade en dit het onder die vismotte deurgeloop, maar dis steeds waardevol.”
“Vat dit vir Pa.”
“Dankie, solank jy onthou wat ek jou gesê het – oor die ander.”
“Waar pak ek intussen my boeke?”
“Hier’s genoeg plek. Wil jy hê ek moet jou kom help?”.
“Stof is nie goed vir Pa se sinus nie. Ek sal regkom, ek belowe. Goed so?”
Pa Faan sit Een beker zonder oor op die lessenaar neer, so versigtig asof hy bang is die inhoud ontsnap. “Herinner my om dit saam te neem.”
“Ek sal beslis.”
Pa Faan grinnik. “Kom ons gaan inspekteer Joop se groentetuin en kry vars lug.”
Andreas gee nog een kyk na die stowwerige stapels motgevrete boeke en verflenterde Kerkbodes en Voorligters wat niemand meer wil hê nie. En sy pa reken hier is vondste te vinde! Het die huis dalk ’n solderkamer of kelder gepak met verrassings? Of is daar ’n kosbare skat iewers op die werf begrawe?
Nie in die groentetuin nie. Dit is natgegooi en geskoffel, maar van die rankboontjies en tamaties is min oor, die uie skiet saad en die spinasie en wortels is te jonk om geoes te word. “Wie sou dit geplant het en vir wie?” wonder Andreas ingedagte.
“Dalk woon iemand in die agterkamertjie?”
“Nee, as hier iemand was, sou hy lankal sy verskyning gemaak het.”
“Ons gaan kyk,” sê sy pa en hulle stap soontoe, maar die kamer is gesluit en duidelik onbewoon.
Reg by die agterdeur groei twee reusebloekoms wat die grond onder hulle oortrek met bloekomsaadjies en droë blare. Op ’n stellasie staan daar ’n watertenk. Die verf dop af en toe pa Faan die kraan wil oopdraai, steek dit vas. Hy skud sy kop. “G’n wonder Joop het besluit om te trek nie.”
“Maar Pa wil hê ek moet hier uithou.”
“Jy het jou verbind. Moet dit nie vergeet nie.”
Vir die eerste keer daardie dag praat sy pa hard en moet Andreas sy kop in skaamte laat sak.
“Jammer, Pa,” gee hy toe, “maar die plek is vreemd.”
Pa Faan glimlag bemoedigend. “Moenie sleg voel nie. Toe ek met my bediening begin het, was ek net so verskrik. Toe word ons oorweldig deur soveel goeie mense wat my en jou ma van dag een af ondersteun het.”
“Moeilikheid is, ek’s alleen,” wil Andreas nog kapsie maak, maar sy pa is nie klaar gepraat nie.
“Die Here het jou met ’n doel hiernatoe gestuur en Hy sal jou nie in die steek laat nie.”
“Ja, Pa,” is al wat hy kan uitkry.
“Kom ons gaan kyk hoe vorder jou ma-hulle,” paai sy pa.
Aangesien die agterdeur nog nie oopgesluit is nie, stap hulle om die huis terug voordeur toe, en Andreas kry kans om sy seëninge te tel. Die plek het maande lank leeg gestaan, want die inwoners is verlede jaar in die winter al Richmond toe. Tog is daar moeite gedoen om dit so netjies moontlik af te gee. Die kerkraad het skoonmakers gehuur en betaal of vrywilligers het die tuin probeer opknap en die huis so ver moontlik skoongeskrop en reggepak. Tannie Marianna, met haar skerp oë, het opgelet dat die vensters gewas is en die kombuiskaste met bruinpapier uitgevoer is. Die geiser en yskas is aangeskakel en dit werk. Dus is daar niks fout met die elektriese bedrading of die watertoevoer nie – die krane loop ook. Vanaand slaap hy in sy eie bed wat iemand anders vir hom opgemaak het.
Jy het niks meer nodig nie, troos hy homself. Wat meer wil jy hê om jou te help om die Here te dien soos jy graag wil?
“Ek bid vir jou, my kind,” sê sy pa asof hy gedagtes lees. “Jy word aan die diep kant ingegooi, maar ons weet mos jy kan swem.”