Skip to main content

Uittreksel | Die geheime lewe van Gita

Hoofstuk 1

Glimlag: check. (Dit is wat die samelewing vereis.)

Foon: check. (Die stukkie formidabele tegnologie waarsonder sy nie kan bestaan nie.)

Skootrekenaar: check. (Inkomste, inkomste, inkomste!)

Gita gooi haar skandalig pienk drasak oor haar skouer. Sy het dit by ʼn straatstalletjie gekoop toe sy ʼn onderhoud met die entrepreneur gedoen het. Die sak het soos ʼn vlag teen die paal gehang en sy kon dit nie miskyk nie.

Tóé het sy gedink dis so reg in haar nuusredakteur se kraal, flambojante vrou wat sy is. Nou kry Gita ʼn bietjie skaam met die sak oor haar skouer. Die ding kan nogal die gewone ou op straat se oë verblind. Maar is dit dan nie wat sy nodig het nie? Oëverblindery. Gita Bruwer, ʼn manteldraaier van epiese formaat. Dis hoe sy oorleef: vandag uitspattig, môre gedienstig.

Sy kyk in die spieël en sug. Helder lippe en ʼn skelpienk truitjie, soos sy vandag aanhet, is een van haar vele uitrustings om by WeekliksNuus in te pas. Helder is definitief nie haar ding nie, maar dis Helga Henkelman sʼn. Haar redakteur hou van drama en statements en sy verwag dat haar joernaliste statements maak; met of sonder papier.

As sy wil voortgaan om haar berigte as vryskutskrywer aan Helga te lewer, moet sy in Helga se goeie boekie bly en dit beteken onder andere dat sy die regte attitude moet hê.

Haar oog vang die skerm van haar oefenhorlosie wat sy natuurlik nie tot die volle potensiaal benut nie, maar dis ʼn moet-hê as jy darem wil lyk of jy fabulous is. Hier het sy vasgeskop teen ʼn helder kleur; sy is veronderstel om die ding darem met elke uitrusting te kan dra.

Toe sy die tyd sien, kyk sy ʼn laaste keer dat daar nie pienk lipstiffie op haar tande is nie. Sy kan eenvoudig net nie die kuns bemeester om wakker te word wanneer die foon alarm maak nie. Die meeste oggende is dit nie ʼn probleem nie, want sy werk immers vir haarself. Oukei, soort van. Sy werk vir haarself danksy WeekliksNuus se grasie om vryskutte soos sy taamlik gereeld te gebruik.

Asof sy deel van die span is. Ook danksy Bloubergradiostasie wat haar as vryskutstraatjoernalis gebruik, want oukei, haar stem is ʼn bonus. Sy weet nie waar haar radiostem vandaan kom nie, maar sy hét hom. Haar mooie ma skwiek soos ʼn muis en haar stiefsuster . . . Wel, Mel klink nie soos sy óf hul ma nie. Dalk iewers in háár Ierse gene is daar ʼn vroulike voorsaat wat almal met haar stem kon verlei.
Met haar skandalige sak styf onder haar arm vasgeknyp, trippel Gita met haar pienk hemelhakke by die woonstel se trap af. Die woonstel is geleë bokant die gesogte Golds Restaurant waar sy sommige aande kelnerin speel.

Die vroegoggendverkeer is ʼn nagmerrie wat sy verkies om eerder nie op te saal nie, maar vanoggend het sy nie ʼn keuse nie. Taxi’s toet kort-kort en die ongeduldige bestuurders versuur die oggendlug met hul dampe koolstofmonoksied.

“Hei, jy’s weer ʼn chameleon vandag,” lag Llewellyn, die hoof kelner by Golds, toe haar voete teer vat. “Ek laaik jou wanneer jy jou pienk aanhet!”

“Tsjk,” klik Gita haar tong vir hom in die verbygaan. “Pleks jy staan reg met ʼn koffie vir jou Pink Lady,” praat sy Llewellyn se taal. Nog een van haar vele verkleurmannetjietruuks.

“Jy’s te vroeg op my, girl, maar ek hou vir jou die beste twee tafels vir vanaand. Die ander waiters kla weer non-stop, maar daai is joune.” Gawe ou, Llewellyn, al slaap hy skynbaar hier by die restaurant.

Hy is elke oggend halfnege op sy pos en die meeste aande is hy een van die laastes om te gaan. Sy sien hom soggens deur haar woonstelvenster met sy altyd wye glimlag aankom, selfs op reënerige dae wanneer hy sonder sambreel deur die vlae reën hardloop en selfs op sonnige winterdae wanneer hy wasemwolke blaas. Hy lewe vir die plek.

Toe sy in haar afgeleefde Citi Golf klim, is sy bly dat die enjin sonder ʼn probleem vat. Die ding verbaas haar werklik elke oggend. Sy verwag telkens teenkanting, maar niks in haar lewe verloop ooit so seepglad soos dié kar se enjin nie. Om die een of ander onverklaarbare rede byt die twintig jaar oue skedonk vas.

Sy was al op die punt om die kar ʼn naam te gee vir sy onbaatsugtige, jare lange diens, maar het onmiddellik die impuls onderdruk. Sy vermy bande en vlieg solo, om ʼn anglisisme wat Helga op ʼn rooi perd sal laat spring, te gebruik.

Gita Bruwer: alleen. Bloot omdat dit eenvoudig is.

Sy kyk weer op haar horlosie. Helga Henkelman het gister ʼn bevlieging gekry en al die joernaliste bymekaargehark om vanoggend negeuur om haar lang tafel te sit. Verbeel jou, vir ʼn tweede keer dié week negeuur om ʼn konferensietafel! Op ʼn nugter maag en ʼn heerlike herfsoggend soos hierdie. Helga moet iets op die hart hê wat druk. Wat sy eerder wou doen, is om op die koffiewinkel se stoep oorkant haar woonstel te gaan sit met ʼn baie groot cappuccino en haar rekenaar.

Gita trap die petrolpedaal plat en dreun verder saam met die verkeer N1 toe. WeekliksNuus se kantore is gelukkig nie te ver nie. Helga gaan vyf minute moet wag. Dit sal nie help sy vertel van die gaste wat gisteraand om een van haar tafels gesit het asof hulle gegom is nie. Dit was nie eens een van haar twee diensbeurte nie, sy het net ingestaan. Nee, Helga het min simpatie vir haar kelnerinwerk en daarom hou sy eerder haar mond. Wat Helga nie weet nie, kan sy nie kritiseer nie.

Gita gaap en draai die radio harder sodat sy die nuus kan luister. Ná sy tuisgekom het, het sy nog tot die middernagtelike ure gesit en alles wat sy kan, op Instagram en Twitter gelees. Dis deel van haar werk om tred te hou met die tendense en gevoelens op sosiale media. Dis ʼn wêreld gans op sy eie en as sy wil berig oor relevante sake, moet sy op hoogte wees van wat aangaan.


WeekliksNuus se deur staan verwelkomend oop toe sy kort ná nege met ʼn vaart teen die trappies opstorm. Haar enkels knak elke tweede trap amper-amper op die dun hakke, maar sy maak dit tot bo sonder om neer te slaan. Uitasem vat sy die eerste trap na die derde verdieping. ʼn Hysbak sal nou veels te lank neem.

Haar gewoonlik golwende rooi hare het sy baie styf teen haar kop vasgemaak. Daar was nie tyd vir iets anders nie; nou is sy dankbaar daaroor. Met die gehol sou sy in elk geval soos ʼn poedel gelyk het. Sy bless meestal haar Ierse voorsaat wat vir haar rooi krulle verantwoordelik is.

Die klomp sit al toe sy al hygende by die derde vloer se ontvangs verbystrompel. Die deure swaai agter haar toe en die lugversorging tref haar koel teen die voorkop. Sy asem diep in. Die konferensielokaal se glasdeur is dig. Oeps.

Loraine, die ontvangsdame, kyk haar grootoog aan en glimlag skewerig. “Mevrou Henkelman kon nie wag nie, sy het nog ʼn ander afspraak.”

Gita rol haar oë. Dis darem ook net vyf minute.

Sy gooi haar pienk sak vorentoe oor haar skouer sodat dit soos ʼn skild voor haar bors hang. “Pienk, Helga. Skok-skok-pienk,” prewel sy geluidloos. “Vyf minute is soos botter op ʼn warm pienk pan.”
Maar die nuusredakteur sien nie die pienk sak raak nie.

“Juffrou Bruwer. Dankie dat jy ons vereer met jou teenwoordigheid.” Die ys oor haar lippe laat haar blou oë koud lyk.

“Plesier, Mevrou.”
Helga se oë druk byna teen haar brilglase vas.

Statements. Statements. Helga hou van statements. Gita probeer, maar haar binneste skop vas. Sy kry nie gou genoeg gesit nie. Die pienk sak druk lomp teen die tafel voor haar. Die punt van haar poniestert val oor die sak. Botsing van formaat! Rooi pas nié by die freaky pienk nie.

Helga tel tot tien. Altans so lyk dit. Sy knik styf voor haar oë oor die ander joernaliste gly. Dan swaai haar ysblou blik terug tot by Gita. “Juffrou Bruwer.”

O, genade. “Ja?” skwiek sy en glimlag haar vroomste pienk glimlag danksy haar reeks skoklipstiffies.

“Jy’s op dit.”
Nie ʼn piepgeluid om die tafel nie.

“Ekskuus tog?” Sy haal net bolangs asem. “Op wat?” waag sy versigtig om die anglisisme te herhaal. Helder, flambojante Helga Henkelman lyk miskien soos iemand wat sleng, maar hierdie nuusredakteur van WeekliksNuus is ʼn geharde taalpuris. Patologies nuuskierig en in beheer. Sy hou van statements, maar sy soek dit in Afrikaans.

Gita loer op haar horlosie. Oukei, die vyf minute was seker nader aan tien. Hier is al dinge gepraat waarvan sy niks weet nie.

Helga glimlag sardonies. “ʼn Weeklikse inspirasierubriek. Dis joune.”
“Rubriek? Dis mos hoofred se terrein daai?” Sy praat haar vraag vinnig dood toe sy Helga se oë sien. “Jammer, mevrou Henkelman, maar ek is nie ʼn rubriekskrywer nie,” keer sy voor dit regtig aan haar toegeskryf word. Sy hoop sy klink nederig en nie net dwarstrekkerig nie. Sy is regtig nie een vir rubriekskryf nie. “Ek sal nie weet waar om te begin nie.

Ek gee feite, nie gevoelens en opinies nie.” Dié bêre sy in die diepste kamer van haar hart. Sy kyk hoopvol na die ander gesigte om die tafel. Iemand moet seker gretig wees om rubrieke te skryf.
Oorkant haar haal Dirk sy skouers op. Seker ook net omdat sy direk na hom kyk. Politiek is sy beat. Tanya kyk af op haar notaboek. Lex staar by die venster uit, sportaura en al.

Riana is doenig met ʼn haarlok. Niemand waag ʼn blik wat Helga kan onderskep nie. Daar is geen wegkruipplek vir haar nie.

“Ons is almal in dieselfde penarie, juffrou Bruwer. En almal gaan ewe hard trek om hierdie wa deur die drif te kry, dis hoofredaksie en ons aandeelhouers se opdrag en dis wat ons gaan doen. As ʼn rubriek is wat jy moet skryf om te help, dan doen jy dit. Red gaan ons dié wa red. Al is jy vryskut. As WeekliksNuus se deure sluit, is ons almal sonder werk.”

Penarie? Watse penarie? Niemand het haar nog enigiets van ʼn penarie gesê nie.

Helga stoom voort. “Ons sny uitgawes. Geen gasskrywers vir die hoofartikelblad en forum meer nie. Dit bly tussen ons. Ek soek ʼn rubriek met ʼn twist, juffrou Bruwer. Rubrieke wat inspireer en lesers laat uitsien na die volgende een. Nie skinderstories nie. Kry onderwerpe wat saak maak en mense wat ʼn verskil maak.”

Sy moet stomgeslaan lyk, want Helga stop haar relaas ʼn oomblik om opsommend na haar te kyk. Dan gaan sy voort: “Rubrieke wat die ou wat gewonder het of hy moet ophou koerant koop én die ou wat nie eintlik koop nie, sommer ʼn kopie vir Ouma en Oupa ook laat vat.”
Hoe de hel moet sy dít regkry?

“Ek gee nie om hoe jy dit doen nie, solank dit werk. Gaan doen jou navorsing, praat met opinionistas en spesialiste en kry iets wat werk.”

Gita se mond val amper oop. Net betyds rus sy haar ken op die pienk sak om te keer.

“Die statistiek is uit. Ons koerantverkope is met veertig persent af sedert die laaste kwartaal en indien dit aanhou daal, gaan die koerant sluit.” Die bom vee hulle almal plat en die stilte wat om die tafel heers, is doods.

Helga kyk na die dak asof sy hulp soek. “Ons moet ʼn plan maak en gou. Ek het die afgelope drie maande se peilings dopgehou. Tradisioneel is ons koerantkopers ouer en hulle raak moeg om net van moord, korrupsie en tragedie te lees. Hulle lees die opskrifte en begin verbyloop. Jonger mense lees aanlyn. Die groenes vermy papier. Ons sit met ons hande in ons hare, en dis nie iets wat ek graag doen nie. Wie vou nog elke dag ʼn koerant oop en vat hulle vingers vuil op die papier?”

Was dit ʼn retoriese vraag? Tanya maak haar mond oop om te antwoord, toe Helga se oë oor haar vee.

Helga gee haar nie kans nie. “Nie baie nie. Almal lees die opskrif op die winkelrak en al hoe minder stel belang om verder te lees, want selfs die skandale raak neerdrukkend. Mense soek volwaardige nuus sonder sensasie en hulle soek dit soos dit gebeur. Hulle wil nie vandag eergister se nuus lees nie; hulle wil weet wat nóú in die wêreld aangaan en dis wat ons hulle gaan gee.”

“IT.” Helga draai na die ou wat die aanlyn span lei. “Jou span gaan die aanvullende, aanlyn nuus moet uitbrei en met voorstelle moet kom hoe om intekenare te werf. Dis nodig dat die getal toeneem. Op die bestuursvergadering is besluit julle het tyd tot die einde van die maand om met ʼn haalbare plan vorendag te kom. Die koerant is in die knyp en dinge moet vinnig gebeur. Dis ons laaste kans.”

Helga deel bevele uit, almal maak notas, en niemand maak kapsie nie. Koue sweet sit oor Gita se lyf. Hoe gaan sy rubrieke skryf? Sy het nie hoop om uit te deel nie. Sy deel nie. Punt. Helga moet eenvoudig net verstaan. Ná die vergadering sal sy haar saak gaan stel.

Vir saak stel is daar egter nie tyd nie. Toe Helga haar sê gesê het, maak sy haar rekenaar toe en staan op. “Laat ons aan die werk spring.”

Gita is op haar voete. Sy val langs Helga in toe dié na die hysbak begin aanstap.

“Mevrou . . . Kan ek ʼn oomblik met Mevrou praat, asseblief?” Helga gee lang treë en Gita rek hare ook.

“Ek’s oor twee uur terug, Loraine. Stuur ʼn boodskap as daar ʼn dringende saak is wat ʼn antwoord vereis.” Helga druk die knoppie vir die hysbak.

“Mevrou, ek dink ons moet weer dink oor die rubriekskrywery.” Haar mond is droog. Dis absolute lawwigheid. Rubrieke vereis diep denke, lewenservaring. Haar ervaringe is haar eie, soos haar denke. Sy hou dit vir haarself.

Die hysbakdeure gly oop en Helga stap in. Gita laat haar nie afskud nie en volg die nuusredakteur. Dis haar laaste kans.
In die hysbak kyk Helga reguit na haar. “Juffrou Bruwer.” Sy skud haar kop meewarig. “Ek wonder nie; jy’s die perfekte persoon vir die taak.”

“Maar hoekom?” Gita is verstom. “Rubrieke is nie my ding nie.”
Helga frons asof ʼn stout kind besig is om haar snare te tokkel. “Skrýf is jou ding, Gita. Pássie is jou ding. So skryf passievol. Mammogramme en ginekoloë is ook nie my ding nie, en hier gaan ek nou.”

Gita sluk haar antwoord om twee redes: Helga Henkelman gebruik nooit voorname nie en nog minder deel sy persoonlike inligting met haar werknemers.

Met ʼn pieng! knip die hysbak hulle gesprek kort toe dit tot stilstand kom op die grondvloer. Die deure skuif oop. “Totsiens, juffrou Bruwer. Jy het drie weke. Volgende maand verskyn jou eerste rubriek. Wees stiptelik, asseblief.” Helga marsjeer na waar haar motor geparkeer is en Gita bly verlore op die bopunt van die trap staan.

Helga is verkeerd. Holisties beskou is skryf nie haar ding nie, nuus skryf is. Eenvoudig, straightforward. Nuus. Dis wie sy is. Nuusjoernalis.

Fronsend draai Gita terug kantoor toe. Haar berigte is reeds ge-e-pos, maar sy wil gou met die sub praat.