Skip to main content

Uittreksel | Die gawe van groen

Lopende water is die eerste geluid van die dag: Manan wat ’n ketel kookwater in die klipbad uitgooi, haar sagte leerskoene geruisloos. Dis lente, maar die vloere bly koud onder ’n mens se voete tot diep in die winderige somer. Water is nie vir Sati ’n vreemde geluid nie, sy word dikwels uit ’n groen droom wakker met ’n geruis tot in haar skedel. Maar dis nog donkervroeg, enkele voëls het net begin keel, wakker saam met die laaste nagpaddas.

Sati sluip na die tafel voor die venster, waar haar reisgoed uitgepak is: ’n linnesak met ’n paar dae se voorraad onderklere, kouse, haarknippe, ’n blikkie met as vir tande krap. Die haardoeke, gevulde watersakke, handskoene. Langsaan, die drie potte met nutsplante wat sy toegelaat is: boegoe, veldkruisement, spekboom. Niks gaan saam net vir mooi nie. Sy het aanhou smeek vir ruimte vir die rietboeke, en Manan het aanhou weier, die goed is dik en swaar, soveel dat die tranedal Pappa se arbitrasie genoop het. Op die ou end het hy ingewillig dat sy een mag saamneem, die nuttigste, vol notas oor veldkruie en verbode vrugte – die kennis kan handig te pas kom – asook ’n notaboek met leë bladsye vir die nuwes wat sy gaan opskryf, met bykomende ink en vere en houtskool in ’n sakkie. Met ’n belofte dat hy self die ander sal bring. Die twee boeke wat saamgaan, is met sagte leer toegedraai en vasgebind, wagtend langs die drie potte.

Niks hiervan gaan in kiste nie, want Sati wil dit self aandra, self langs haar slaaphoekie op ’n wakis uitpak. Die plante is blootgestel aan die groen by haar, maar sonder hulle kan sy nie. Sy gaan self op die wa klim met haar goedjies in haar arms; niemand anders maak hierdie keuse nie. Pappa het gesê sy kan bly as sy wil.

Manan roep sag, en Sati klim woordloos in die bad. Vanoggend praat hulle nie, dis te vroeg. Seep, skuim, spoel. Uitklim, lig droogmaak met linne, lê vir smeer. Manan se hande is veronderstel om haar te laat ontspan en konsentreer gelyk, soos die weefvrouens voor die rame: bo tot onder, links en regs, agter en voor. Dan die borsel oor die arms en bene. Sati soek nie eens na die groen kol in haar kop nie, sy en Manan weet albei die ritueel is vandag net vir voorsorg, vir afskeid van ’n bekende ruimte, vir voorbereiding vir ’n lang dag. Sati kan die weke voor haar voel uitstrek.

Toe Manan die reislinne oor haar kop trek, kraai die eerste haan op die onderste werf. Sy voel Manan se haastigheid aan, sy moet self nog klaarmaak, met eerste lig gaan die swepe klap. Sati bied aan om self haar stewels aan te trek, en stuur die ouer vrou weg.

Sy loop vinnig die trap af, en lig die slotte van die sydeur wat op die oostekant van die werf uitloop. Die lig is nog min, maar sy beweeg in ’n boog en raak aan elkeen, vee die dou van die blare af: suikerbos, speldekussing, erika. Verder af, na die suidekant toe, die skaduplante, varings. Die houthekkie na die kruietuin glip maklik oop; vandag los sy die ruspes, iemand anders sal kom sorg. Sy wil net vir ’n klein rukkie die reuke inasem.

Die waens staan sedert gisteraand gereed op die onderste werf, swaar gelaai in die lig van die volmaan, en nou is die werkers besig om die perde op te saal. Meer manne as gewoonlik, want die soldate en handelaars het in die skuur oornag. Die diere is tegelyk opgewonde om so vroeg buite te wees, en vies van die honger. Die nekke rek heeltyd af grond toe vir groenigheid.

Sati spits haar ore en probeer die see hoor. Soms, as die wind reg aankom, klink dit nogal duidelik, maar nie vandag nie. Die eerste dag se wapad loop darem naby die strand, sy sal nog kans hê om die see te groet.

Teen die tyd dat sy haar goed op die wa gelaai het en afklim om te groet, is sy uitgeput. Seker van min slaap en vroeg opstaan, maar ook van spanning. Sy sukkel om haar arms te lig om haar ma te omhels, hang stil in Pappa se arms en weet hulle moet eerder nie weer praat nie. Daar is al genoeg gewonder en gedink en gebid; die wavragte goud en velle en die troppe maer beeste het met die soldate hier aangekom. Nou moet sy saam met hulle terug.

Die pad onder die boomlaning is glad en reguit. Sati kyk nie om nie, daarvoor sal sy moet afklim, en sy is te bang sy klim nie weer op nie.

 

Sy sit die hele eerste dag op die wa. Nie binne-in nie, darem voor op die sitplek. Haar oë bly nuuskierig, maar haar bene is te lam om te loop. Die touleier lê duisende treë af, en sy kan nie help om jammer te voel vir die osse wat alles agterna moet sleep nie. Hulle beweeg stadig, dit neem die hele oggend om die strand te bereik. Die wye regs draai is amper ’n seremonie, ’n geroep en gefluit, perde vooruit en dan weer galoppend terug om seker te maak die agterhoede weet wat aangaan. Kort na die draai is die duine aan hul linkerkant, en die wind van agter.

Meeue en tobies draai in die lug, en daar is veldblomme langs die spore, kleintjies in wit en geel. Een maal per week kom sy hier, saam met Ma en Manan, gewoonlik darem vinniger met die donkiekar. Maar vandag is daar nie tyd vir swem nie, die bad se nagloed sal moet hou.

Sati weet sommer Manan is verlig omdat sy nie afklim nie. Maar kort voor lank kom die ou vrou aangestap van die wa voor haar, en beduie oor water drink. Natuurlik, wys Sati woordeloos, en buk deur die seile na agter. Sy sien nie kans vir die skadu van die boogseil terwyl dit so mooi is buite nie. Sy haal diep asem en sit weer op haar plek langs die drywer. Die man langs haar praat nie, dankie tog. As sy voor haar kyk, is net sy arms en bene sigbaar uit die hoek van haar oog, reguit en sterk.


Teen die vierde aand se kampvuur begin die gesigte vir Sati vorm aanneem. Etes op reis verloop anders as tuis. Daar is geen eetgerei nie, hoewel Manan darem vir haar en Sati – die enigste twee vrouens in die kring – houtborde uithaal. Deur die dag breek hulle brood uit meelsakke gediep, knaag aan biltong, eet ’n handvol neute, en Manan torring die hele tyd oor water drink. Maar saans, as die uitspanwerk klaar is, die vier waens in ’n boog, takke gepak en nette gespan om die paar bokke in te kamp, word hout gedra vir vuurmaak, en die gesigte word vriendelik.

Sati staan rond en kyk na die geskarrel. Die osse suip uit die krippe wat die uitspanplekke merk, touleiers maak fynhout bymekaar, drywers pak klippe onder die hardehoutwiele. Almal bring rantsoene nader: stampkoring of gars, ’n groot pampoen, ’n paar vrugte. Die ruiters het nog elke laatmiddag gery om te gaan was in die see, hulle kom terug met nat hare, en laat die perde suip voor hulle geroskam word. Sati se oë dwaal telkens terug na hulle. Hulle is so gemaklik met hul wapens, hul diere, hul lywe. Hulle hande moet heeltyd vasvat – ’n toom, ’n skede – en tog beduie hulle meer as ander mense, lag meer, asof hulle nog geen geweld moes aanskou nie. Seker maar vriende, het al baie saamgery, saam baklei. ’n Reis soos hierdie een is dalk vir hulle maklik.

Hulle sit in ’n kring op seile of klippe; Manan bring vir Sati ’n kussing. Sy voel aanvanklik selfbewus om te kou en sluk terwyl hulle kyk, en merk dan op dat niemand kyk nie. Dit voel of hulle baie ooglopend nie probeer kyk nie, maar steeds. Sy het nog nooit in die aand in die oop veld geëet nie, dog soms laatoggende as Ma in ’n goed genoeg luim was vir piekniek. Sy het ook nog nooit tussen soveel mans geëet nie, hoogstens by Pappa en ’n vriend of twee van hom. Onthale tuis was rondstaan en pik aan kersies en komkommers, nie eet omdat jy honger is nie. Nou besluit sy om te sit en te eet. ’n Lyf is ’n lyf. Kou en sluk is goed vir ’n maag wat gor, en haar reisgenote is klaarblyklik ordentlik genoeg om nie te staar nie. Sy ruik die fynbos en die see en die houtvuur, en die lam gevoel wat haar lyf vir ’n paar dae oorheers het, sypel deur haar stewels tot in die sandgrond.


Salie langs die wapad in die vroegoggend, en Sati besluit om af te klim. Dis bruin, anders as die groenes wat sy ken. Sy kneus ’n blaar om daaraan te ruik, besluit dit is tog salie, en dit word so die eerste plant in haar nuwe sketsboek. Haar wa rammel stadig verby, en die goederewa se osse kom blinksnoet nader. Sy trap verder weg van die spore, breek met min moeite ’n takkie van ’n bos af, en begin daarmee grou rondom die salieplant om die wortels te kan uittrek. Sy het vroeg-vroeg geleer dit help niks om ’n plant sonder sy wortels te teken nie.

Die oomblik wat die goederewa se groot agterwiel verbydraai, trek Sati versigtig aan die bodem van die salie om die wortels op te diep. Net orent, staan ’n soldaat vlak by haar.

“Wat maak jy?” Verbasing gly oor sy gesig.

“Ekskuus?”

“Verskoning. Met alle respek, dis gevaarlik om van die wa af te klim. Ek was maar net verras om ons kosbare las hier langs die pad te kry.”

Haar woorde is vir ’n oomblik weg. Kosbare las? Genugtig. “Ek het net ’n plant kom haal.”

“’n Plant?”

“Salie, maar dis bruin.” Sati staan omtrent sy hoogte, en kyk reguit in sy verbaasde gesig. Sy bruin kuif is skaars ligter as sy donkerbruin vel. Sy het nog nooit so naby aan ’n soldaat gekom nie. Sy ruik sweet en perd.

“Meisie, Prinses ... kom ek help jou terug op jou wa.” Hy vat haar voorarm vas en begin loop.

“Ek is nie ’n prinses nie.”

“Ons koning het bruidskat betaal, meer as vir enige prinses. Asseblief, jy moet op jou wa bly.” Hy loop vinnig, Sati moet trap om by te bly. “Nagnon, jy moet kyk!” raas hy met die drywer toe hulle langs haar wa opkyk.

“Kan ek help?” Voor sy kan keer, is hy agter haar, arms om haar lyf, en hy lig haar maklik op na die voorste sitplek. Sy hou vas aan die salieplant, die kruieblare reeds sagter van verlep.

Dit help nie om te probeer skets op die skommelende wa nie, en Sati bly maar sit en kyk die res van die dag. Miskien, as hulle vroeg uitspan, sal sy nog genoeg daglig vang. Die omgewing lyk al heel anders as by die huis. Die berg wat sy as agtergrond van haar lewe geken het, soos ’n stille reus altyd daar, is nou net in die verte sigbaar as ’n mens terugkyk. ’n Vreemde man het sy arms om haar gesit, sommerso, dink sy. Dan weer: Hier is minder bome en baie bosse. Dit lyk tog nog soos fynbos, maar as sy mooi kyk, is daar heelwat soorte wat sy nog nooit gesien het nie. Baie tekenwerk om te doen. Sy ruik nog die see, maar verlangs.