Skip to main content

Uittreksel | Die Galileërs

Een

Kaleb kom orent, strek sy rug en vee die sweet met die rugkant van sy hand van sy voorkop af. Hy leun op die skoffelpik se steel terwyl hy na die horison bo die See van Galilea tuur. Daar is steeds geen teken van enige wolke nie. Die lug is blou en skoon en die son genadeloos.

Sy mond is droog. Dis te warm om aan te gaan, besluit hy en kap die pik in die klipharde, droë grond vas. Sy leersandale knars op die harde kluite terwyl hy in die rigting van die olyfbome loop om by Tomas aan te sluit, sy oë op skrefies teen die skerp sonlig.

In die skaduwee van een van die knoetserige olyfbome sak hy met ’n steungeluid op die yl gras neer. Met ’n langsteelkalbas skep hy van die koel water uit die kleipot langs die boom se stam. Hy teug diep en dorstig daaraan; skep dan nog ’n bietjie om die stof van sy hande en sweet van sy gesig af te was.

Hy leun met sy rug teen die stam en sy oë dwaal tevrede oor sy geskoffelde landjie. Dan kyk hy in die rigting van die stad. Die imposante stadspoort troon uit bo die omliggende landskap en die stadsmure bewe in die hittegolwe. Op die pad ’n entjie van sy plasie af is tientalle reisigers en pakdiere in die rigting van die stad onderweg. ’n Fyn wit poeierstof slaan uit onder al die voete.

In die verte sien hy ’n groep Romeinse soldate op perde in aantog. Die silwer beslag op die perde se harnasse blink in die son en die rooi pluime op die soldate se blink staalhelms wapper in die wind.

Hy staan op toe hy sien hoe onverskillig die ruiters jaag. Die voet­gangers en hul pakdiere gee haastig voor hulle pad terwyl die ruiters roekeloos tussen hulle deur jaag.

Tomas, wat nog in die skaduwees op sy rug lê en rus, staan ook op.

“Wat gaan aan, Pa?” vra hy bekommerd.

“Dis weer ’n klomp soldate wat in die pad aangejaag kom,” antwoord Kaleb. “Ek is bekommerd oor Miriam. Sy is seker al op pad.”

Kaleb se oë soek besorg tussen die mense rond.

“Daar’s sy, Pa!” roep Tomas uit en beduie met sy arm.

“Gelukkig is sy nader as wat ek gedink het . . .” Verlig gaan sit Kaleb weer teen die boom se stam. In die digte skaduwee van die boom is dit heelwat koeler as in die fel son. Sy gespierde arms rus ontspanne op sy knieë.

Tomas loop sy suster tegemoet en help haar om die kosmandjie te dra. Kaleb hou hulle dop. Tomas is ’n aantreklike jongman met skouers wat breed en sterk is. Sy bene en arms is bruingebrand en gespierd. Miriam met haar raafswart hare en donkerbruin oë is ’n pragtige meisie wat al­reeds deur die jongmanne raakgesien word.

Miriam glimlag breed vir haar pa toe sy op die gras in die koelte van die boom neersak terwyl Tomas die kosmandjie en wynsak langs haar neersit.

“Sjoe, Pa, dis warm,” sê sy en vee met haar mou oor haar voorkop.

“Ja, dit is. Ek en Tomas het besluit om eers ’n bietjie te rus.”

Miriam trek die mandjie nader en vou die doek oop. Dan haal sy ’n skotteltjie met vleis en brood uit en hou dit vir haar pa sodat hy vir hom kos kan kry.

“Ek hoop ons kry binnekort reën,” sê Tomas en vee met sy tuniek se moue oor sy voorkop en oë.

“Ja, maar die wind moet eers begin waai voordat die reën sal kom,” antwoord sy pa. Sy oë is op die horison terwyl hy ’n stuk van die varsge­bakte brood afbreek en saam met ’n stukkie vleis in sy mond sit.

Dis nog veels te warm vir hierdie tyd van die jaar, dink hy. Hy kan nie sy koring saai voordat dit gereën het nie. Daar moet eers ’n bietjie vogtigheid in die grond wees.

Nadat Tomas vir hom ook brood en vleis gekry het, neem Miriam vir haarself iets te ete.

Kaleb skink vir homself van die ligte, koel wyn in ’n kommetjie en neem ’n mond vol voordat hy na Miriam kyk en vra: “Hoe gaan dit met jou ma?”

“Nie so goed nie, Pa. Toe ek by die huis weg is, het sy en Johannes albei gelê en slaap. Sy bly moeg.”

Kaleb sug. Hy is bekommerd oor Milka. Die onverwagte swangerskap tap haar kragte. Sy is dikwels soggens te moeg om selfs net op te staan.

Hulle eet in stilte verder en toe hulle klaar is, skep Miriam water; eers oor haar pa se uitgestrekte hande sodat hy hulle kan was en dan oor Tomas s'n. Daarna maak sy ’n skoon doek nat met nog ’n bietjie water en bedek die kleipot daarmee sodat die water daarin koel kan bly.

Toe haar pa met sy kop en rug agtertoe leun teen die olyfboom se stam en sy oë toemaak, sien sy die moeë lyne op sy gesig. Tomas lê ook al weer op die naat van sy rug op die gras en rus.

Sy tel die mandjie op en stap na die beddings waar die komkom­mers nog welig groei. Sy soek tussen die ranke rond en maak ’n paar komkommers bymekaar vir haar mandjie. By die granaatlaning langs die klipmuur wat die grens tussen haar pa se erfgrond en dié van die buurman vorm, hang nog ’n paar laaste granate aan die takke. Hulle is uitgeswel en oopgebars en sy pluk twee om huis toe te neem vir haar ma. By die uiebedding gebruik sy die groustok om ’n paar groot uie uit te haal vir die huis.

Onder die olyfbome is dit stil en rustig, behalwe vir die sonbesies se skril geskree en haar pa se ligte gesnork. Stilletjies pak sy die res van die goed in die mandjie en vou ’n doek oor alles. Dan begin sy aanstap huis toe. Die mandjie is swaar, maar sy loop so vinnig moontlik om uit die warm son en by die huis te kom.

Vir haar is daar nie ’n ruskansie nie. Sy sien só daarna uit om weer ’n normale lewe te lei en saam met Jogebed en haar ander vriendinne te kan kuier. Sy beny Tomas sy vryheid, want saans ná hy hul vuurmaak­hout in stukke gekap het, gaan kuier hy gewoonlik by sy vriende. Totdat die baba kom, kan sy omtrent nie uit die huis nie; haar ma is gewoon te swak. Vir mans is dinge so anders!

Toe Kaleb ná ’n ruk wakker word, voel hy verfris. Daar hang ’n loom stilte in die olyfboord en die sonbesies skree onophoudelik. Die hitte tas alles en almal aan, dink hy moedeloos. Dis asof ’n traagheid op alles neergedaal het. Selfs op die pad na die stadspoort is minder beweging, sien hy. Baie van die reisigers het die koelte van bome en bosse langs die pad opgesoek vir ’n ruskansie.

Steunend kom hy orent en strek hom uit. Miriam is seker al by die huis, dink hy. Tomas staan ook lui-lui op.

Kaleb buk om vir hom nog ’n bietjie water te skep, en hoor vir die tweede keer daardie dag die gedawer van perdepote. Terwyl hy die wa­ter drink, kyk hy in die pad se rigting.

“Nóg Romeine!” roep Tomas uit en beduie met sy arm. “Kyk net hoe jaag hulle, Pa!”

’n Strydwa, getrek deur vier manjifieke blinkswart perde, vorm die voorhoede van die groep soldate. Op die wa staan ’n Romeinse offisier fier en regop, ’n toonbeeld van krag en gesag. Hy hou die teuels stewig in sy hande en beheer die vurige perde met ’n ysterhand. Sy lyfbediende wat agter hom op die strydwa staan, moet met alle mag vashou om nie van die stampende wa af te val nie.

Kaleb voel die onrustigheid binne hom. Al hoe meer Romeinse soldate het die afgelope tyd hul vreedsame stad binnegekom. Wat voer hulle in die mou? Of is dit blote magsvertoon?

Die enkele voetgangers gee vinnig pad vir die strydwa en ruiters. Dis ’n wonder dat hulle nie getref word nie, want van uitswenk is daar geen sprake nie.

“Ja, Tomas. Hulle doen hierdie soort van ding om ons mense uit te lok. Onthou, hulle is ons nie goedgesind nie! Daar is heeltemal te veel Romeine in die stad en ons weet nie wat hulle beplan nie.”

“Abram het vertel van ’n man op pad na Kapernaum wat so deur ’n strydwa doodgery is, Pa,” sê Tomas.

“Genadige Vader, dis verskriklik,” antwoord Kaleb ontsteld. Die sol­date se minagting van lewens en aggressiewe gedrag beklem sy hart. Vroeër het die soldate in kampe buite die stede saamgedrom, maar dinge het verander. Deesdae wemel die stede van die soldate, en waar die Is­raeliete hulle voorheen verdra het, word hulle nou gevrees.

“Tomas, ek dink ons kan maar klaarmaak vir die dag,” besluit Kaleb. “Maar die ellendige Makir se bokke wat altyd so sonder ’n bokwagter rondloop, bekommer my. As hulle in die komkommers beland, bly daar niks oor nie. Ons sal eers ’n plan moet maak met nog doringtakke.”

“Dis reg so, Pa. Ek sal nog ’n paar takke nader sleep,” stem Tomas saam.

Hy klim dadelik oor die klipmuur en sleep nog ’n paar doringtakke uit die veld na waar Kaleb dit om die komkommerbeddings pak.

Nadat hulle seker gemaak het alles is goed beskerm, sê Kaleb: “Gaan jy maar solank vooruit, Tomas. Jy moet seker nog gaan hout kap. Ek dink ek sal nog ’n rukkie aangaan.”

Hy staan sy seun ’n wyle en agternakyk, sug dan swaar en tel die skof­felpik op. Hy kap dit in die droë grond. Hy werk nog ’n hele ruk en maak goeie vordering. Sy oë dwaal telkens hoopvol in die rigting van die see, maar die wolke bly yl. Toe hy aan die eindpunt van die land kom, gaan les hy eers weer sy dors uit die kleipot teen die stam van die olyfboom.

Hy voel meteens erg terneergedruk en leun met sy voorkop teen die boom se stam; dié olyfboom is nog een van die bome wat sy pa geplant het. Kaleb wil bid, hy wil vra dat die Here die bekommernisse in sy hart moet wegneem. Maar sy gedagtes steek vas teen die blarekroon bo sy kop. Die woorde wat hy in sy hart voel, wil nie gestalte kry nie. Gebed het nog altyd vir hom kalmte in sy hart gebring in die vaste oortuiging dat God sy sorge sal wegneem. Waarom worstel hy deesdae so daarmee? Hy probeer om hom los te maak van die wêreld, van alles om hom, maar verniet.

Kort voor skemer gaan bêre Kaleb die twee skoffelpikke en ander ge­reedskap in die klein stoorkamertjie in die een hoek van die grensmuur. Hy loop terug na die olyfboord, drink ’n paar slukke water en spoel sy gesig met die laaste bietjie in die kleipot af. Daarna gooi hy sy bokleed wat oor ’n laaghangende tak hang oor sy skouers en knoop sy hoofbedekking oor sy hare vas. Met die wynsak se band oor sy skouer en die kleipot toegeknoop in die doek wat Miriam daaroor gegooi het in sy hand, kry hy koers huis toe.

Toe hy die houthekkie in die grensmuur toemaak, is dit met ’n gevoel van tevredenheid oor die werk wat hy en Tomas uitgerig het, en dan begin hy aanstap in die stad se rigting.

Daar is heelwat minder voetgangers op die pad en hy rek sy treë. Dis later as wat hy besef het. Die hekwagte by die stadspoort weier gewoon­lik om die swaar houtdeure vir laatkommers oop te maak.

Toe hy ’n rukkie later in die nou straatjie loop wat na sy huis naby die stadsmuur lei, brand ’n fakkel of twee reeds hier en daar by ’n deur of ingang na ’n huis se binnehof.

Hy hou sy oë oop vir vreemdelinge. Gerugte doen deesdae die rondte van mense wat op straat deur rowers oorval en beroof is. Al is hy ’n groot en sterk man met breë skouers en stewige voorarms, weet hy dat dit moeilik sal wees om hom teen drie of vier aanvallers tegelyk te verdedig.

Toe hy later die swaar houtdeur wat na sy huis se binnehof lei ag­ter hom toetrek, skuif hy die dik dwarsbalk wat die deur van binne af beveilig in posisie. Hy neem die brandende fakkel uit die houer aan die binnekant van die muur en hou dit omhoog sodat dit sy pad kan verlig. By die deur van sy huis doof hy die fakkel in die kleipot met water wat vir daardie doel langs die trappie staan voordat hy die deur oopstoot en binnegaan.

Die aangename geur van kos en speserye begroet hom, so ook die vriendelike glimlagte van sy huisgesin. Kaleb is veral bly om sy geliefde Milka se verwelkomende glimlag te sien, want dit beteken dat sy beter voel.